Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 1 - Tryna du Toit - Страница 8
ОглавлениеHoofstuk 5
Op die plaas Wag ’n Bietjie is alles in rep en roer. Die tyd vir Barry Retief se jaarlikse waatlemoenfees, wat al feitlik ’n instelling op Saailaagte geword het, het weer eens aangebreek.
Ou Janewarie, vanaand baie haastig, kom op ’n vinnige drafstappie met die melkemmers van die kraal af na die huis toe. Vanaand sal dit weer lewe op Wag ’n Bietjie en hy wil tog niks van die gedoente mis nie.
Barry, tot nou besig om die laaste reëlings te tref vir die fees vanaand, vertoef nog ’n oomblikkie buite.
Tevrede gaan sy oë oor sy erfenis van veld en rant, bly dat Wag ’n Bietjie in ’n feesgewaad van kleur en geur sy besoekers kan ontvang. Wag ’n Bietjie is soos ’n mooi vrou vanaand, dink hy, in die volle bloei en krag van haar lewe met die geur van rose en kanferfoelie aanloklik om haar heen. ’n Meer ideale aand vir die fees kon hulle nie begeer het nie en as die volmaan netnou sy blink, goedige gesig bokant die slapende rante uitsteek, sal skoonheid en volmaaktheid weer eens hoogty vier.
Maar hy moet ’n begin maak as hy nog gou in die dam wil spring om die stof en warmte van die dag af te spoel, of sy eerste gaste betrap hom onklaar. En terwyl hy na die dam stap wat so ’n entjie van die huis geleë is, wonder hy weer waarom Annie so botweg geweier het om vanaand saam met Johan de Kock te kom.
“Nee, dankie, Barry,” het sy ewe snipperig gesê toe hy vir haar sê dat sy saam met Johan moet kom. “Ek sal maar saam met Piet kom.”
En toe hy haar sê dat hy alreeds vir Johan gevra het om haar te bring, het sy ’n oomblik geaarsel en toe meer beslis gesê: “Nee Barry, jy het nie die reg gehad om dit te doen nie. Piet sal my bring. Vra vir Kobie Louw, sy sal graag saam met hom kom.”
Hy moes toe maar die saak gewonne gee en vir Johan sê dat Annie klaar reëlings getref het om uit te kom, en alhoewel Johan niks gesê het nie, het hy seker gewonder waarom Annie nie saam met hom wil ry nie. Hy het toe tog vir Johan in ’n onnutsige oomblik gevra om vir Kobie en ’n ander paartjie te bring.
Annie is reg. Kobie sal dit baie geniet om saam met die nuwe hoof te kom en hoe gouer Johan sy vuurdoop met Kobie deurmaak, hoe beter.
Piet en Kobie het ’n lang tyd saam uitgegaan, tot Annie sy aandag getrek het en toe was Kobie se kerk uit. Dit lyk asof haar moed ook terselfdertyd gebreek is, want in die afgelope maande was Kobie stiller en besadigder as ooit tevore.
Maar sou Annie nou waarlik waar ernstig word oor Piet Grové? Sy aanvallige niggietjie met haar sonnige opgewektheid, wat grootgeword het in die liefderike maar streng atmosfeer van ’n ouerhuis waar dissipline en gehoorsaamheid nog geken word; en Piet Grové, wêreldwys, tot in die afgrond bederf van sy jongste jare af, gewoond dat geld alle struikelblokke uit die weg ruim!
Dit is ondenkbaar. Kobie en Piet, ja. Hulle is voëls van eenderse vere, twee poue wat graag pronk met hul skitterende gewaad. Maar nie Piet en Annie nie. Tog kan hy die vreemde bekoring wat ’n man soos Piet vir ’n jong meisie soos Annie het, goed begryp. Hy is so anders as die gewone jong manne wat hier op Saailaagte te vinde is. Daarby blink hy nog uit in sport – hy is veral ’n kranige tennisspeler – maar wag maar, hy sal nog sy rieme styfloop met Johan. Hyself kan vir Piet opdraande gee met tennis as hy die geleentheid daartoe het. Maar, besluit Barry, Johan wat vars van die puik bane van die Boland kom, sal hom laat les opsê.
Barry was terug in die huis, net klaar aangetrek, toe die eerste motors met ’n toeterende lawaai voor die deur stilhou.
Buite op die grasperk voor die mooi gewelhuis, op stoele en banke en reisdekens, vergader die klomp, uitbundig en opgewek, lus vir die aand se plesier. Net gou-gou ook laat een van die laerskoolonderwysers, Jannie van Zyl, sy trekklavier praat terwyl die luimige bankklerk, Gysbert Jansen, met ghitaar en mondfluitjie saamgesels. Die tergende musiek lok gou die gaste binne na die ruim voorkamer waar hulle eers ’n bietjie dans, en Barry word noodgedwonge saamgesleep met die stroom. Met Letty Rossouw, die mooi dogter van een van sy bure, as maat, doen hy so jolig mee as wat sy pligte as gasheer toelaat. Terwyl hy met die een oor luister na Letty se lughartige gesels en sy voete foutloos tyd hou met die musiek, dwaal sy oë deur die kamer. Annie, so fris soos ’n blommetjie in ’n wit rok, is in Piet se arms, maar Barry se blik rus met alles behalwe goedkeuring op hulle. En Johan kyk glimlaggend af in Kobie se koketgesiggie … en snaaks genoeg verskaf dit ook nie vir Barry baie plesier nie.
Toe, so halfpad deur die aand, net voor die waatlemoenslagtery begin, vra Barry vir Annie om vir hulle te sing. Sy het ’n mooi stem en willig gewoonlik geredelik in. Vanaand stribbel sy ’n bietjie teë.
“Die mense wil liewer dans, Barry. Ek kan later sing.”
“Later sal jy weer kla jy het te veel waatlemoen geëet. Toe kom, Rita sal jou begelei. Ek het haar al gevra.”
En omdat dit Barry is wat gevra het, laat sy haar tog eindelik ompraat.
“Wat sal ek sing?”
“Enigiets. Jy weet mos waarvan ons hou.”
Sy staan nog onbeslis voor hom toe Rita by hulle kom. Rita is Frank Steyn, Barry se naaste buurman, se vrou. Hulle het saam grootgeword en skoolgegaan en is nog steeds baie goeie vriende.
“Wat gaan jy sing, Annie?” vra sy.
“Brahms se wiegeliedjie,” besluit sy opeens.
Hulle vind die musiek tussen die klomp boeke in die musiekstoel, meestal boeke van Barry se ma en ook ’n klompie wat hy self aangekoop het omdat Annie nie altyd sonder musiek kan sing nie. Toe gaan sit Rita voor die klavier en begin sag die begeleiding speel.
Slaap my kindjie, slaap sag,
Onder rose vannag.
Eers die armpies om my nek,
En dan warmpies toegedek.
Môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek;
Môre vroeg, as God wil, word my kindjie gewek.
Slaap my kindjie, slaap sag,
Onder eng’le se wag;
Hulle toon jou in ’n droom
Kindjie Jesus se boom.
Slaap nou soet, hulle wys jou ’n droomparadys;
Slaap nou soet, hulle wys jou ’n droomparadys.
Johan, wat naby die deur staan en gesels, kyk met die eerste note van die klavier op en sien dat dit Annie is wat gaan sing. Lief en bekoorlik sien sy daar uit in haar eenvoudige wit rokkie en met haar fraai gesiggie en pragtige bruin oë. Haar soet, suiwer stem is ’n algehele verrassing vir Johan en onafgebroke rus sy oë op haar terwyl sy sing. Ook daarna, toe sy kopskuddend weier om weer te sing en met ’n woordjie van dank aan haar begeleidster wegstap van die klavier af, volg sy oë haar nog. En voor hy besef wat hy doen, is hy besig met iets wat hy gesweer het hy nie sou doen nie … hy staan voor haar en vra haar vir die volgende dans.
’n Oomblikkie aarsel sy, onseker wat om te sê, en hy kan sien dat as sy kon weier, sy dit sou gedoen het, maar toe willig sy in. Juis toe val Jannie en Gysie weg en die volgende oomblik is Annie in die nuwe skoolhoof se arms.
Hulle praat nie terwyl hulle dans nie. Annie voel gewoonlik asof haar keel wil toetrek as sy met Johan oor iets anders as skoolsake moet gesels, en dit ten spyte van die koel, saaklike manier waarop hy, wel deeglik bewus van haar ongemak, haar gewoonlik behandel. Boonop is sy nog altyd bewus van die feit dat sy hom ’n verskoning skuld, veral met Kobie se woorde nog vars in haar geheue, maar sy is oortuig daarvan dat sy niks van sy outokratiese maniere hou nie en sy kan eenvoudig nie ontslae raak van haar stroewe gevoel teenoor hom nie.
Hy dans goed, hoewel nie so goed soos Piet nie, en Annie is so lig en grasieus soos ’n bloeisel wat waai in die wind. Sonder inspanning volg haar voete syne. In die begin is sy styf en terughoudend, maar toe sy besef dat hy nie van plan is om ’n gesprek met haar aan te knoop nie, vergeet sy alles tot sy weer tot stilstand kom met sy arms nog om haar. Sy kyk op in die diepgrys oë van haar maat en vir ’n sekonde, ’n lang, lang sekonde, kyk hulle so in mekaar se oë. Toe verdwyn alle warmte en gevoel uit sy gesig en koel en ernstig, asof hy die volmaakte oomblik van nou pas wil weerspreek, kyk hy na haar terwyl hy sy arms wegneem.
Saam, nog altyd sonder om ’n woord te sê, stap hulle na buite waar die waatlemoenslagtery nou ’n luidrugtige aanvang neem. By die deur wag meneer Kriek hulle in en meteens sê Johan vir hom: “Meneer Kriek, ek het nog ’n appeltjie met jou te skil. Waarom het juffrou Celliers nie met die opening van die skooldebat vir ons gesing nie?”
Meneer Kriek het met die grootste sorgvuldigheid ’n mooi klein program opgestel vir die eerste aand en hy het vir Annie gevra of sy nie vir hulle sal sing nie. Maar sy het verskoning gemaak, gesê hulle moet eers die kinders kans gee om te wys wat hulle kan doen, en hy het dit daar gelaat.
“Ek hét haar gevra,” protesteer hy nou.
“So? En sy wou nie!”
“Nee, sy wou nie.”
En dit alles asof sy glad nie aanwesig is nie.
Die maan is op, maar Annie sien niks raak van die skoonheid van die maanverligte velde nie. Kwaad, gekrenk en hartseer tegelyk en nie in staat om ’n woord tot haar verdediging te sê nie, verwens sy meneer Kriek en Johan de Kock albei in haar hart. Toe struikel sy oor die kant van die grasperk en as dit nie vir Johan se reddende arm was nie, het sy gewis geval. Met ’n byna onhoorbare “dankie” maak sy haarself ongeduldig los en stap van hom weg. Netnou dink hy nog dat sy met opset gestruikel het sodat hy haar kan help.
Heerlik smul hulle aan die smaaklike waatlemoene en sweer dat dit die lekkerste waatlemoene is wat daar nog ooit op Wag ’n Bietjie gegroei het.
“In die hele land,” verbeter Abie Greef grootmoediglik.
“In die hele wêreld,” sê Gysbert, besig om so effentjies-effentjies te proe aan ’n heerlike stuk kroon wat hom heeltemal baasraak en wat hy tog ook nie kans sien om te laat staan nie.
En toe kom Frank Steyn, Barry se buurman, aan die woord.
“Bolander, dis lekker waatlemoene, nè?”
“Heerlik,” laat Johan hoor van waar hy luilekker, totaal versadig, teen ’n boomstam aanleun.
“Die lekkerste wat jy nog ooit geëet het, nè Bolander?”
Johan weifel ’n oomblik, maar besluit om maar liewer sy land te verraai as om nou moeilikheid te soek.
“Natuurlik,” antwoord hy lui.
“Sommer gemors wat julle daar in die Boland kweek, nè?”
Nee wat, dit is onvermydelik. Die saak is natuurlik vooraf beklink. Dié waatlemoenfees sou maar eindig soos alle waatlemoenfeeste.
“Kyk, nefie,” vervolg hy nou tydsaam. “My vriend Barry kweek lekker waatlemoene. Heeltemal lekker, maar as julle nou wáátlemoene wil sien, dan moet julle darem maar Boland toe kom.”
Soos Johan vermoed het, het hulle hom maar net gesoek. Met uitroepe van diepe verontwaardiging pak hulle hom beet en hy word deeglik toegetakel met die taai, sappige waatlemoenskywe. Hy staan ook nie stil dat hulle hom maar kan bemors nie en is gevolglik van kop tot tone besmeer toe hulle hom uiteindelik loslaat. Maar so was ’n hele paar van sy teenstanders ook, want dié wat nie vir Johan kon bykom nie, lug maar sommer ’n paar ander griewe terwyl die geleentheid hom nou hier voordoen.
“Lekker waatlemoene, nè Bolander?” wil Frank Steyn oplaas weer laggend weet, toe hulle almal weer tot bedaring gekom het.
“Nee, vrot,” sê hy, besig om waatlemoenstukke by sy hemp se kraag uit te haal, en ywerig pak hulle hom weer.
“Doop hom! Doop hom! Doop die parmantige Bolander! Dis al manier wat ons hom sal regkry.”
En gewillige hande dra hom na die dam, met die hele klomp agterna om die dopery te sien. Piet Grové is een van die ywerigstes onder die dopers en meteens merk Barry dat dit by Piet nie alles speel is nie; nee, hy is alte gretig om die vervlakste Bolander te versuip. Barry wag sy kans mooi af en net toe Johan met ’n skouspelagtige geplas die maan se weerkaatsing in die dam aan flenters breek, besorg hy met ’n ongeërgde stamp vir hom ’n maat. Die klomp op die damwal skaterlag. Hulle dink almal dat Piet self ingeval het. En treffend is die verskil tussen die twee in die water. Johan swem na die wal, skud die water uit sy oë, hys homself op en staan op, terwyl die water van sy klere stroom.
“Magtig, mense,” sê hy laggend, “julle kon darem eers my skoene uitgetrek het.”
“Ons was bang jou kouse is stukkend,” spot Frank nog.
Maar Piet Grové is woedend. “Wie de duiwel het my ingestamp?” wil hy weet toe hy ook sopnat op die damwal staan.
“Moenie laf wees nie, Piet,” sê Barry, en met moeite onderdruk hy sy lag. “Jy het natuurlik maar self ingeval!”
Almal stem luidrugtig met Barry saam en Piet moet hom maar sy onverwagte bad laat welgeval.
“Kom dat ek vir julle droë klere gee,” sê Barry nog laggend toe die klomp van die dam af begin verdwyn.
Piet skop sy nat klere in ’n hoek van Barry se kamer en sê: “Daar gaan ’n splinternuwe broek. Jy kan dié maar môre vir jou bediende gee, Barry. Maar ek wonder nog wie so laf was om my in die water te stamp.”
Barry antwoord laggend dat die bediende hoog in sy skik sal wees met so ’n broek en laat die twee alleen om klaar aan te trek.
In stilte droog die twee af en begin Barry se klere aantrek.
Johan en Barry is baie eenders gebou, albei lank met breë skouers, en Barry se klere pas vir Johan asof hulle vir hom gemaak is. Maar Piet, ligter gebou en ook nie so lank nie, kom nie so goed daarvan af nie. Vies trek hy hier en plooi daar tot Johan laggend sê: “Los die klere maar so, jong. Jy gaan mos nie trou nie! Kom ons gaan soek koffie.”
Die twee is daarna by die kamer uit, Piet nog altyd ontevrede.
Annie staan by Barry en gesels in die voorkamer toe hulle daar aankom, en met moeite onderdruk sy die spontane laggie wat by haar opkom toe sy Piet sien. Maar die vies uitdrukking op sy gesig keer haar. Hy sou ook heelwat nukkeriger gewees het as hy gehoor het wat Annie en Barry pas gesels het.
Toe Barry uit die kamer kom, stap hy lag-lag reguit na waar Annie staan en sê sag aan haar: “Jou twee ridders is besig om hulle te verklee.”
“Mý ridders,” sê sy verontwaardig, maar Barry lag weer, skynbaar heerlik geamuseerd oor iets. En Annie kyk hom beskuldigend aan terwyl sy sê: “Foei, Barry, waarom het jy vir Piet in die water gestamp?”
Gemaak verontwaardig ontken hy dié beskuldiging.
“Annie! Wat bedoel jy? Ék een van my gaste in die water stamp?”
“Toe maar, Barry, nie so onskuldig nie. Ek het self gesien. Ek het net agter jou gestaan.”
“Jy verbeel jou dit maar, ou niggie. In die maanskyn sien ’n mens wonderlike dinge,” antwoord hy tergend.
Maar sy hou vol: “Waarom, Barry? Sê vir my. Ek sal nie vir hom sê nie.”
“Omdat hy veels te geniepsig was met Johan se dopery. By die ander was dit goedige pret, by hom nie. En dit was met die grootste behae dat ek hom ingestamp het.” Annie praat nie en Barry vervolg: “Daarom sê ek dis jou ridders. Piet hou nie van Johan nie, en Johan hou nie van Piet nie. En waarom? Die antipatie spruit uit daardie eerste ontmoeting buitekant die dorp. Of kan dit miskien wees dat Piet Johan nie kan verdra nie omdat hy hom pak gegee het met tennis?”
“Jy praat nou die allergrootste onsin, Barry. Piet is nie die enigste een wat nie van jou vriend hou nie. Ek hou ook nie van hom nie. En ek is seker daar is nog baie ander mense wat so voel. En jy kan nie nou die dag se tenniswedstryd tel nie. Piet sê hy het die vorige aand te laat kaartgespeel. Wag maar tot die kampioenskappe begin.”
“Ek sal wag. En Piet sal wel weer ’n ander verskoning hê as hy verloor. Ken jy nog nie vir Piet nie? Dit lyk dan vir my of jy die afgelope tyd so ’n deeglike studie van hom maak!”
Sy oë rus meteens deurdringend op haar, maar Annie lag sag, ontwykend.
“Kyk, daar kom die twee, Annie. Kyk ’n bietjie na hulle gesigte. En onthou, hulle was ewe nat – hoe dit ook al gekom het – en Johan het sy bad net so min verwag as Piet.”
“Maar Johan se klere pas beter,” antwoord sy ondeund, maar plooi haar gesig dadelik weer in ernstige voue toe die twee by hulle aansluit.
“Wanneer gaan ons huis toe, Annie?” wil Piet dadelik nors weet.
“Jy gaan tog seker eers ’n bietjie koffie drink, nie waar nie?” antwoord sy kalm. “Wag, ek sal dit vir julle gaan haal.”
Kort daarna is Annie en Piet weg en die res volg op ’n lang streep tot die baas van Wag ’n Bietjie eindelik weer alleen in die maanlig voor sy huis staan.