Читать книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste - Страница 19
16
ОглавлениеFransien is weer vroeg wakker. Ten spyte van die onrustige nag wat sy agter die rug het, tintel ’n aangename gevoel van afwagting deur haar. Jans gaan by haar kom koffie drink.
Verder as dit wil sy liewer nie dink nie. Sy is besig om haar hart te verloor en dit maak haar bang. Sy kan nouliks glo dat ’n man soos Jans werklik in haar sal belang stel. Al wat sy weet, is dat dit ’n baie lang dag sonder hom gaan wees.
“Kom by, Fransien. Jy het jare sonder hom oor die weg gekom, maar nou skielik wil jy nie eens dink aan ’n dag nie. Pateties, sussie, pateties, sê ek jou!” spreek sy haarself streng aan.
“Wat trek ’n mens aan as jy weet die man van jou drome kom by jou koffie drink?” wonder sy desperaat voor die klerekas. Sy kan tog seker nie slaapklere aanhê soos gister nie. ’n Sweetpak is weer te onvleiend, ’n rok te formeel, ’n kortbroek te uitlokkend …
Haar probleem word opgelos deur die klop aan die deur terwyl sy nog probeer besluit. Aangesien sy nie tyd het om iets anders aan te trek nie, hou sy maar haar slaapklere aan en trek net ’n handdoekstofjapon bo-oor aan.
Selfs met sy hare in alle windrigtings verslaap en ’n dag oue stoppelbaard op sy gesig, is Jans die mooiste ding wat sy nog ooit gesien het. Soos die vorige oggende het hy net ’n ou oefenbroekie aan, en die spel van spiere onder gladde, bruingebrande vel laat allerhande onbehoorlike gedagtes by Fransien opkom.
“Môre. Het jy lekker geslaap?” Haar stem klink darem normaal, al is die res van haar liggaam besig om haar skaamteloos te verraai.
Jans het ook sleg geslaap. Hy kan nie sy aangetrokkenheid tot hierdie vrou ontken nie, maar sy werk was nog altyd die belangrikste prioriteit in sy lewe. Dis sy passie, sy manier om ’n verskil te maak, om onreg te beveg.
Daarom durf hy nie by Fransien betrokke raak nie; sy is immers ’n verdagte in die moordsaak wat hy ondersoek. Hel! Wat help dit om homself om die bos te probeer lei? Sy is dié verdagte in die moordsaak! Sy vaste voorneme om haar voortaan eerstens as verdagte en daarna as ’n begeerlike vrou te sien, verdwyn egter soos mis voor die son toe hy in die skaam bruin oë kyk.
“Mmm … ja. Wonderlike drome gehad.”
Die stout kyk in sy oë laat die bloed in Fransien se gesig opstoot, en skielik kan sy ook nie meer haar stem vertrou nie. Verbouereerd vlug sy kombuis toe om die koffie te gaan haal, met sy sagte laggie in haar ore.
Dankbaar dat hy haar nie volg nie, spoel sy haar gesig sommer by die opwasbak met koue water af en dep dit met die mou van haar japon droog. Teen die tyd dat sy klaar is met die koffie, gloei sy nie meer so erg nie en is haar asemhaling weer onder beheer.
Jans het intussen op die stoepie gaan sit en sy neem hulle koffie sommer soontoe. Dis ’n pragtige, helder oggend en daar daal ’n diepe rustigheid oor Fransien terwyl hulle in stilte sit en koffie drink. Dís hoe dit hoort. Wat ook al verder gebeur, dit was so bestem dat hulle mekaar hier moes raakloop. Hierdie pragtige oggend saam met hierdie wonderlike man was van die begin af in haar lewensplan ingeweef.
Jans rek hulle tydjie saam so lank moontlik uit, maar eindelik is hy verplig om op te staan. “Sal jy so sewe-uur reg wees vir ontbyt? Ek kan nie later as agtuur aan die werk spring nie.”
Saam met die vreugde dat hy dit as vanselfsprekend aanvaar dat hulle saam ontbyt gaan geniet, is daar weer die ligte stekie wat sy voel elke keer as sy werk ter sprake is. Sy wil nie hê hy moet die moordenaar kry nie, want dit sal hulle tyd saam kortknip.
Jans merk dadelik die skaduwees in haar oë. Dit hinder hom dat sy elke keer in haar dop kruip as sy werk ter sprake kom. Hou sy nie van die werk wat hy doen nie, of is dit die ondersoek na die moord op Chris de Wet wat haar pla? Wil sy net nie aan die moord dink nie, of is daar ’n meer sinistere rede vir haar reaksie?
Die laaste gedagte stoot hy met geweld van hom af weg en vang Fransien onverwags in sy arms vas. “Gee my net gou enetjie vir die pad.”
Hy soen haar hard en besitlik, asof hy daardeur die skielike twyfel in sy gemoed kan uitwis. Maar die sagte lippe wat gewillig oopgaan onder syne en die streling van haar hande op sy kaal vel laat hom vinnig vergeet van aardse dinge soos werk. Wat aan hierdie vrou laat hom in vlamme opgaan elke keer as hy aan haar raak?
’n Uitgerekte fluit en laggende stemme bring hulle terug aarde toe. Fransien se japon lê in ’n bondel by haar voete en sy weet glad nie hoe dit daar gekom het nie. Wat sy wel weet, is dat sy met net haar slaapklere aan ’n gratis fliekvertoning gee vir ’n klomp vakansiegangers in ’n toerbussie.
Verleentheid vlek haar wange rooi en sy kan nie gou genoeg in haar chalet kom nie. Tipies man is Jans nie in die minste verleë nie. Inteendeel, hy het die vermetelheid om ’n geselsie met die busbestuurder aan te knoop, voor hy terugstap na sy chalet.
Deur ’n skrefie in die gordyn kyk Fransien hom kopskuddend agterna.
Sake neem nog voor ontbyt ’n onverwagte wending. Dokter Botha, wat Ferdie de Lange se doodsertifikaat uitgereik het, bel Jans met ontstellende nuus.
“Jammer om so vroeg in die oggend vir jou slegte nuus te gee, kaptein, maar julle het twee moorde om te ondersoek. Ferdie de Lange is nié aan natuurlike oorsake dood nie. Hy is vermoor.”
“Wat bedoel jy? Jy het dan gesê dit was ’n hartaanval.”
“Dis hoe dit aanvanklik vir my gelyk het. Die moord op Chris de Wet het my egter agterdogtig gemaak. Meneer De Lange was my pasiënt en hy het nog nooit enige hartprobleme gehad nie. Ek het weer ’n deeglike ondersoek gedoen en afgekom op tekens dat hy versmoor het. Dit lyk of hy ’n baie harde hou op sy keel gekry het en dat dit toe tot versmoring gelei het. Daar sal natuurlik ’n volledige nadoodse ondersoek moet wees, maar ek is amper honderd persent seker van my saak. Ek het dit reeds by die plaaslike polisie aangemeld.”
Met ’n sinkende gevoel op sy maag bel Jans vir Tony Johnson. Die ander man se antwoord bevestig sy ergste vermoedens.
“Jy besef natuurlik dat Fransien de Swardt nou ons hoofverdagte is vir albei moorde?” sê Tony. “Boonop was sy op die moordtoneel. Ons het net haar woord dat hy reeds dood was toe sy daar aangekom het. Sy sal moet inkom vir ondervraging.”
“Hoekom sou sy hom vermoor het? Ek dink nie ons moet oorhaastig optree nie,” skerm Jans teen sy beterwete.
“Sê dit vir Chris de Wet se pappie. Die storie van De Lange se moord lê al klaar die polisiestasie vol. As dit nog nie by hom uitgekom het nie, is dit net ’n kwessie van tyd voordat dit gebeur,” waarsku Tony.
Fransien is omgekrap toe Jans ’n kwartier laat by haar aankom. Elke minuut wat hy laat is, is ’n minuut minder in sy geselskap. Maar sy byt die verwyt op haar tong terug toe sy die bekommerde uitdrukking op sy gesig sien.
Die ontbyt waarna sy so uitgesien het, is vir haar ’n fiasko. Jans bly bekommerd en ingedagte. Die twee keer wat sy selfoon lui, gaan hy buitentoe om te praat. Al weet sy dat sy werk van so ’n aard is dat hy dit nie met ander mense kan bespreek nie, laat dit haar tog uitgesluit en eensaam voel.
“Is daar probleme? Jy lyk so bekommerd,” vra sy toe hy die tweede keer terugkom.
Die verlore klankie in haar stem ontgaan hom nie. Hy vee moedeloos oor sy gesig.
“De Wet se pa is baie moeilik. Hy dring daarop aan dat iemand in hegtenis geneem moet word. Ek is nog besig met my ondersoek en ek hou nie daarvan om halsoorkop op te tree nie. Maar hy het belangrike vriende en ek kry baie druk van bo af.”
“O, maar …”
Dit lyk of Fransien verder wil uitvra, en Jans verander vinnig en doelbewus die onderwerp: “Wat gaan jy vandag met jouself aanvang terwyl ek my oor ’n mik werk?”
Niksvermoedend laat Fransien haar maklik van die spoor af lei.
“Vanoggend gaan ek en Mitzi dorp toe. Die tweeling is by die kleuterskool en Daan is by die werk. Vanmiddag gaan ek maar hier rondhang en aan jou dink.”
Jans is verontwaardig. “Net vanmiddag? Hoekom nie vanoggend ook nie?”
“Ek gaan nie tyd hê nie. Dis harde werk om inkopies te doen,” terg Fransien.
“Jy is lekker dapper tussen ’n klomp mense, nè? Onthou net, een of ander tyd gaan ek jou weer alleen kry, en dan gaan jy spyt wees oor hierdie parmantigheid,” grom hy dreigend.
Fransien loer onderlangs na hom en pruil: “Ek kan nie wag nie!”
Jans se gewete kla hom aan omdat hy veel eerder die dag saam met Fransien wil verwyl as om sy aandag aan die ondersoek te wy. Dis waardevolle tyd wat hy mors deur hier met haar te sit en ginnegaap, maar hy kan homself nie help nie. Hy besef maar te deeglik dat hy hom sal moet regruk en afstand tussen hulle moet kry as hy objektief wil bly met die ondersoek.
“Is jy klaar? Kan ons maar gaan?” Hy klink skielik kortaf.
Fransien knik en staan met ’n suggie op. “Ja, kom ons loop maar.”
Hy is nou haastig en sy moet haar treë rek om by te bly. Tot haar verbasing gaan hy saam met haar by haar chalet in.
“En nou? Ek dog jy is haastig?”
“Ek is. Kom groet my gou.”
Hy hou sy arms wyd oop en sy loop sonder voorbehoud in sy omhelsing in. ’n Paar oomblikke hou hy haar net styf vas. Dan soek sy mond hare met ’n desperaatheid wat haar bang maak. Gaandeweg besef sy dat hy hewig ontsteld is en dat sy waarskynlik iets daarmee te doen het.
Toe hy haar laat gaan, kyk sy bekommerd na hom. “Jans? Wat gaan aan?”
Hy skud sy kop met ’n skewe laggie wat nie sy oë bereik nie. “Dis niks. Ek moet nou gaan, maar ek sien jou vanaand.”
Fransien bly agter met gemengde gevoelens. Dis ’n genade dat sy die oggend saam met Mitzi gaan deurbring. Om alleen te wees met haar gedagtes en vrese sal haar vandag mal maak.
Miskien verbeel ek my net, probeer sy haarself troos. Dis maar net sy werk wat Jans so gespanne maak …