Читать книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste - Страница 23
20
ОглавлениеFransien se dag verloop nie goed nie. Nadat Jans by haar weg is, bly sy nog ’n hele ruk op die stoep sit. Uiteindelik besluit sy om vir Mitzi te bel.
Sy het vandag ’n simpatieke oor nodig, maar Mitzi se aandag is op ’n ander plek.
“Hoe lyk dit, kan ons vanmiddag Coffee@T se kaaskoek gaan uittoets?” probeer Fransien haar verlei.
“Ai, hoe draai jy my arm nou! Ongelukkig sal dit moet wag vir ’n ander dag. Ek het alreeds vanmiddag ’n afspraak wat ek nie kan kanselleer nie.” Mitzi klink opreg spyt. “Ekskuus, ou maat, maar jy sal my nou moet verskoon. Daar is iemand by die voordeur. Ek praat weer later met jou!”
Fransien bly sit verslae met die selfoon teen haar oor. Vandag van alle dae is Mitzi te besig om met haar te praat! Verlatenheid sak soos ’n grou kleed oor haar. Die vakansie waarna sy so uitgesien het, het in ’n nagmerrie ontaard, sy verlang huis toe en haar beste vriendin het nie tyd om met haar te gesels nie!
Al is sy moeg ná die vorige nag, besluit sy om ’n draai by die swembad te maak. Miskien sal oefening haar beter laat voel.
Daar is nie baie mense by die swembad nie, maar die kinders se skerp gille vererger haar hoofpyn. Ná ’n paar lengtes gaan lê sy eenkant in die son om af te droog. Die kinderstemme word al hoe sagter …
Fransien skrik met ’n ruk wakker. Sy het nie ’n idee hoe lank sy geslaap het nie, maar die skaduwee het heeltemal geskuif en val nou gedeeltelik oor haar.
Nog half deur die blare drentel sy terug chalet toe. Haar kop voel nou regtig of dit wil bars en sy begin wonder of dit nie van honger is nie. Sy besef nou eers sy het gistermiddag laas saam met Mitzi geëet.
Op pad na die stort om die chloor uit haar hare te was, skrik sy toe sy haar spieëlbeeld sien. Haar rug en skouers is bloedrooi verbrand. Gewoonlik is sy so versigtig vir die son, want haar ligte vel brand baie maklik seer, maar vandag het sy op die hitte van die dag gaan swem en toe boonop ure lank in die son lê en slaap.
“Ai, Fransien! Wat het jy nou aangevang?” baklei sy moedeloos met haarself.
Noudat sy die skade gesien het, is dit sommer seer ook. Sy het niks by haar om sonbrand te behandel nie, dus sal sy nou met hierdie seer lyf en al apteek toe moet ry. Die stort sal maar moet wag.
Sy hou haar swemklere aan en gooi die losste rok wat sy het oor haar kop. Sy sit so regop moontlik in haar motor, sodat haar rug nie teen die sitplek druk nie. Die agterkant van haar bobene brand soos ’n kool vuur op die sitplek, maar dit moet sy maar verduur.
Die goedige apteker fluit saggies deur sy tande toe hy haar skouers sien. “As jou hele lyf só lyk, lê daar vir jou ’n baie ongemaklike tydjie voor, juffie.”
Gewapen met room, pille vir pyn en inflammasie, en vitamiene en goed wat haar gestel en immuniteit moet opbou, hou Fransien ’n rukkie later by ’n kitskosplek stil. Die apteker het gesê sy moenie die pille drink as sy nog nie geëet het nie, en sy sal definitief nie binnekort in ’n restaurant kan gaan sit en eet nie.
Terug by die chalet eet sy haar hamburger sommer staanstaan in die kombuis en sluk die pille en vitamiene met ’n hele glas water af. Sy drink daarna ook ’n groot glas vrugtesap. Daarna gaan lê sy in ’n bad koue water tot haar tande amper op mekaar klap van die koue. Haar ma sê altyd koue water trek die brand uit.
Ai, hoe verlang sy nie nou na haar ma nie!
Om net haar ma se stem te hoor, sal ook al troos. Fransien se hand gaan outomaties na haar selfoon toe.
“Hallo, Mamma.”
Sy hoor haar ma se opgewondenheid aan die ander kant.
“Hallo, my kind! Ag, maar dis lekker om jou stem te hoor. Hou jy nog lekker vakansie?”
Dan hoor sy haar pa op die agtergrond vra: “Wie is dit, Mamma?”
“Kom gou, dis Fransie, my man!”
Voor haar geestesoog kan Fransien hulle sien: koppe bymekaar met die telefoon tussen hulle sodat al twee kan praat.
“Naand, my kind. Hoe lyk die kêreltjies in daardie geweste?”
Fransien kan haarself nie keer nie. Sy bars in trane uit.
Deur haar trane hoor sy haar pa meewarig sê: “So sleg, nè?” Dit laat haar tussen die snikke deur lag.
“Wat gaan aan, Fransie? Hoekom huil jy so?”
Sy kan hoor haar ma is ontsteld. Fransien bedwing haar snikke en verduidelik dat die son haar maar net seer gebrand het en dat haar kop seer is en dat sy vanaand baie na hulle verlang.
“Jy moet huis toe kom, my kind. Jy gee jou aan die verwaarlosing oor daar anderkant. Net môre kom jy huis toe, gehoor?”
“Ek het gehoor, ou Moeder Hen!” terg sy om haar ma te kalmeer. “Maar ek sal nie kan nie. My boude is so seer gebrand, ek sal nooit so lank kan sit nie!” verduidelik sy tong in die kies.
“Fransie! Gedra vir jou! ’n Dame praat g’n van boude nie,” berispe haar ma ernstig.
“Jammer, Mam. Moet julle nou nie onnodig bekommer nie, ek het maar net ’n bietjie verlang. Die apteker het vir my goeie medisyne en room gegee. Teen môre sal ek sommer al baie beter wees.”
“Is daar darem iemand wat die room vir jou aan jou rug kan smeer?”
Haar ma se onskuldige vraag bring Jans se beeld so helder voor haar oë dat die woorde uitglip voor sy kan keer: “Wel, ek het ’n baie oulike buurman in die chalet langsaan, ’n polisieman. Miskien kan ek hom gaan vra.”
“Voor die oulike mannetjie enige smeerwerk aan jou begin doen, moet jy hom maar eers hierlangs bring, my kind,” is haar pa die een wat reageer. “Pa wil hom net eers deurkyk, of hy goeie hande vir smeer het en so aan, jy weet?”
Hy lag sy lekker keellaggie, maar Fransien weet hy is ernstig. Frans de Swardt sal nie sommer sy enigste dogter afstaan aan ’n man wat nie “goeie hande” het nie. Dié wete laat haar geborge voel. Maak nie saak wat die wêreld sê of doen nie, hierdie twee mense gee om vir haar en sal altyd net die beste vir haar wil hê.
Sy drink nog twee pynpille voor sy gaan slaap. Haar slaap is onrustig, vol koorsdrome. Sy is nie gewoond daaraan om op haar maag te slaap nie, maar sy durf nie op haar sy of rug draai nie.
Twee keer deur die nag staan sy op om pynpille te drink, want haar hoofpyn wil ook nie bedaar nie.