Читать книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste - Страница 22
19
ОглавлениеOp ’n afstand sien Jans Fransien op die stoep sit. Teen sy beterwete stap hy soontoe.
“Fransien?”
Sy hart bloei vir die mistroostige gesiggie wat opkyk na hom. In die helder sonlig is die donker kringe onder haar oë wat sy so hard probeer wegsteek het, duidelik sigbaar. Soos sy daar sit, lyk dit asof haar gees finaal gebreek is.
“Oor gisteraand …” Jans weet nie regtig wat om te sê nie. Hy kan verstaan dat sy bang is omdat sy verdink word van twee moorde, en kwaad omdat hy nie met haar oop kaarte gespeel het nie. Maar hier is iets meer fout. Sy lyk nie bang of kwaad nie, net vreeslik hartseer en verslae.
“Vergeet daarvan. Dit maak nie saak nie.”
Haar stem is so sag dat hy sy ore moet spits om te hoor wat sy sê.
“Nee, Fransien, ek wil met jou daaroor praat. Gee my net kans om te verduidelik wat –”
Nog steeds met daardie sagte, doodse stem val sy hom in die rede: “Dis nie nodig om te verduidelik nie. Dit was nie jy nie, dit was ek.”
Jans is nou heeltemal dronkgeslaan. “Waarvan praat jy? Jy het niks verkeerd gedoen nie!”
“Nee, ek het nie, nè? Ek was maar net … ek. Moenie jou verder kasty nie, Jans. Dis iets wat ek nie vir jou kan verduidelik nie, en wat jy in elk geval ook nie sal verstaan nie.”
Jans voel soos iemand wat vir ’n geskiedeniseksamen geleer het en toe ’n wiskundevraestel gekry het. Hy is so deurmekaar, hy verstaan nie eens die vrae nie, laat staan nog die antwoorde!
Daar bly vir hom niks anders oor as om ’n groet te mompel en na sy motor te stap nie. Sy gedagtes is nog steeds by die eienaardige gesprek toe sy selfoon lui. Dis Tony Johnson. Hy het vir Jans ’n afspraak gereël met mevrou De Lange vir oor ’n halfuur.
“Dankie, Tony. Kon jy al vir Mitzi Dreyer in die hande kry? Ek is nogal gretig om met haar te praat.”
“Sy’s net so gretig om met jou te praat. Julle afspraak is vir drie-uur. Pas dit jou?”
“Ja, dankie.”
Terwyl Tony vir Jans verduidelik hoe om by die Dreyers se huis te kom, ry hy stadig in die skool se rigting. Dis nog ’n rukkie voor sy afspraak met Ferdie de Lange se vrou, maar die groot veiligheidshekke gaan dadelik oop toe hy voor hulle stilhou.
’n Klein vroutjie met ’n geblomde laphoed op die kop en ’n tuinvurkie in die hand kom hom tegemoet.
“Kaptein Jansen, neem ek aan?” Sy vee selfbewus ’n modderige hand aan haar langbroek se agterkant af voor sy dit na hom uithou.
“Dis reg. Noem my Jans, asseblief. U is seker mevrou De Lange?”
“Noem my Grietjie, asseblief. Ek hou ook nie van formaliteite nie, al was my oorlede man nogal gesteld daarop. Sal jy omgee as ons sommer hier in die tuin sit? Die huis druk my vas.”
Sy beduie na die netjiese houtbankies en tafeltjie onder ’n reuse-treurwilgerboom.
Grietjie de Lange is nie wat Jans verwag het nie. Sy laat hom dink aan ’n voëltjie wat lank in ’n kou was en skielik vrygelaat is: opgewonde oor haar vryheid, maar bang vir elke beweging.
Toe hy simpatiseer met haar verlies, maak sy ’n afwerende gebaar.
“Kaptein … ek bedoel, Jans, dit was nie vir my ’n skok nie. Eintlik is ek verbaas dat so iets nie al jare gelede gebeur het nie. ’n Mens kan die noodlot ook net só ver tart en nie verder nie. Die arme, arme seuns … van wie baie nou al mans is. Een of ander tyd moes een van hulle knak.”
Jans praat nie, kyk haar net afwagtend aan.
“Deesdae hoor ek mense praat van ’n pedofiel. Vir my was hy ’n blote kindermolesteerder. ’n Wrede, gemene mens wie se lewe net om sy eie gerief en genot gewentel het. O, hy kon baie sjarmant en vriendelik wees as hy hom daarop toegelê het – dis hoekom ek met hom getrou het. Dis hoekom baie van die sogenaamde hooggeplaastes so ’n hoë dunk van hom gehad het. Dis hoekom niemand my – of enige van daardie arme kinders – sou glo as ons met die waarheid sou uitkom nie.”
Jans onderbreek haar nie, luister net ontsteld terwyl sy vertel van haar ontnugtering ná die troue, van seuns wat onder die voorwendsel van ekstra klasse na die goed toegeruste houtwerkkamer gelok is, waar daar die vreeslikste dade met hulle gepleeg is.
“Ek het geweet daarvan. Hy het geweet hoe dit my ontstel, en daarom het hy ’n duiwelse genot daaruit geput om my elke keer te vertel.”
Sy kyk reguit in sy oë. “Jans, kom ek vertel jou hoe dit was om met hom getroud te wees. Hierdie huis was my ouers s’n, wat ek geërf het ná hulle dood. Dit was voor ek Ferdie leer ken het. Op ’n tyd toe ek niemand anders gehad het nie, het hy in my lewe gekom. Hy het my behoorlik gestoomroller om met hom te trou. Hy het my nie eens ’n ordentlike troue gegun nie. Daar was geen blomme op my troudag nie, maar ek het darem gedink hy het my lief.”
Sy lag ’n bitter laggie. “Ek het baie gou besef dit was eintlik my ouers se huis en geld waarop hy verlief was. Dit het hom ook gepas om getroud te wees. Mense raak gou agterdogtig as ’n man ongetroud bly en te veel aandag aan seuns gee. Maar as hy ’n vrou het en hulle is kinderloos, is dit ’n ander saak. Dan is dit sy vaderinstink, of wat ook al, wat na vore kom. Dan kry hulle hom jammer. Arme man, hy het nie kinders van sy eie nie, nou moet hy maar sy liefde op ander mense se kinders uitstort!
“Ek gaan ’n nuwe begin maak. Een van daardie arme kinders het uiteindelik geknak, en hoewel my hart bloei vir hom, het hy my vrygemaak. Vanmiddag gaan ek vir my eerste bestuursles. Volgende week het ek ’n afspraak met ’n eiendomsagent en ’n motorhandelaar. Ek gaan sy groot motor verkoop en vir my ’n kleiner motortjie kry. Hierdie huis gaan ek ook verkoop, want dis lankal nie meer vir my ’n tuiste nie. Dis ’n verheerliking van Ferdie de Lange se selfsugtige begeertes en behoeftes. Feitlik alles wat hier binne is, was daarop gemik om die lewe vir hom gemakliker te maak. Dis net my tuin … Ek gaan my tuin so baie mis!”
Vir die eerste keer huil Grietjie de Lange, terwyl sy na haar mooi tuin, haar toevlugsoord, kyk. Jans haal ’n sakdoek uit sy hempsak en bied dit vir haar aan.
“Ek is jammer dat ek so uitgepak het, Jans, maar ek het nog nooit voorheen met iemand oor hierdie dinge gepraat nie. Ek was te bang vir hom.”
Nadat Jans weg is by Grietjie de Lange, ry hy reguit polisiestasie toe. Tony Johnson is alleen in sy kantoor toe hy daar kom. Gerrie, wat elders in die gebou besig was om vuur te maak onder die vingerafdrukmense, stap net na Jans in.
Lank nadat Jans klaar gepraat het, onderbreek superintendent Johnson die stilte.
“Ek is stomgeslaan. Reg onder ons neuse was hy jare lank met sy onheiligheid besig en niemand het iets vermoed nie.”
Hy kyk na Jans. “Dit verander natuurlik die hele situasie met die moordondersoek. Daar was talle mense wat ’n beter motief vir die moord gehad het as Fransien de Swardt, en ’n hele paar van hulle was waarskynlik op die skoolterrein ten tye van die moord.”
Jans leun selfvoldaan agtertoe in sy stoel. “Ek het julle mos gesê sy kan nie die skuldige wees nie.”
Die ander twee kyk na mekaar en lag.
Jans kyk fronsend na hulle. “Wat is nou so snaaks?”
Gerrie grinnik. “Ons is net baie bly dat jy darem nou ’n bietjie inligting gekry het om daardie stelling te staaf. Jy sien, ons het vroeër so ’n bietjie gesels, en ons het saam tot die skokkende gevolgtrekking gekom dat dit óf jou hart óf jou hormone is wat jou so seker maak van Fransien se onskuld.”
“Eintlik is dit beide,” neem Jans met ’n breë glimlag die wind uit sy seile. “En nou gaan ek kos soek. Ek was vanoggend nie honger nie, maar nou is ek rasend!”