Читать книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste - Страница 21

18

Оглавление

Agter die toe deur sak Fransien in ’n verdrietige bondeltjie neer. Haar liggaam ruk van ingehoue snikke.

Haar lewe lank loop sy met die vrees dat haar vroulikheid eendag geweeg en te lig bevind sal word. Op skool het die seuns nooit in haar belang gestel nie, want sy was te “mannetjiesagtig”. Sy het nooit laat blyk hoe seer dit haar gemaak het nie.

In die stad het sy wel met mans uitgegaan, soms selfs in ’n hewige vryery betrokke geraak, net om ook soos ander meisies te wees. Altyd was sy die een wat halt geroep het, die een wat koelkop gebly het.

Sy het boeke gelees – selfs hygromans – en na elke romantiese rolprent gaan kyk. Diep in haar onderbewussyn het die twyfel geknaag. Miskien was meneer De Lange en Tessa en Chris reg. Miskien ís sy mannetjiesagtig. Miskien is sy nie vrou genoeg om ’n man lief te hê nie.

Selfs nadat sy haar voorkoms verander het en vrouliker begin aantrek het, het die twyfel gebly. Hoekom is sy nie soos ander meisies nie? Hoekom raak sy nie ook verlief soos ander nie? Is daar nie dalk regtig iets fout met haar nie? Sy was wel nooit aangetrokke tot ’n ander vrou nie, maar sy was ook nog nooit aangetrokke tot ’n man nie.

Tot Jans Jansen in haar lewe gekom het. Hy het haar vroulikheid laat blom. Vir ’n klein rukkie was sy werklik vrou, met al die begeertes en emosies waaroor sy al so baie gewonder het. Nou kan sy nog twee emosies by die lysie voeg: sy weet hoe dit is om verraai en verwerp te voel.

Toe Fransien oplaas opstaan, is sy moeg gehuil. Die trane het reeds droog geword op haar wange en haar lyf is koud en stram. In die sitkamer staan haar inkopies van die oggend vir haar en lag. Inkopies wat sy gedoen het met Jans in haar gedagtes, so verlief en verspot …

’n Skielike opwelling van woede laat haar die paar goed wat sy al uitgehaal het, terug in die sakke bondel. Met ’n vasberade trek om haar mond maak sy die deur oop en smyt die sakke met inhoud en al buite langs die vullisdrom neer. Sy wil niks hê wat haar aan vandag kan herinner nie.

Môre sal sy soos ’n wetsgehoorsame burger vrae beantwoord oor ’n moord waarvoor sy die hoofverdagte is en waarvan sy niks weet nie. Sy sal haar kop hoog hou en haar hormone in toom.

Maar vanaand … vanaand sal sy saggies en lank in haar kussing huil, want haar gemoed is rou en haar hart so bitter seer. ’n Lewe sonder Jans … Hoe gaan sy dit regkry om aan te gaan? Daar is ’n amper fisieke pyn in haar binneste. As sy hom maar liewer nooit leer ken het nie …

Dis ’n diep ongelukkige Jans wat by sy chalet aankom. Hy het al voorheen gewonder of die polisie die regte loopbaan vir hom is, maar dis die eerste keer dat hy sy beroep met sy hele hart verwens.

Hoe langer hy Fransien ken, hoe sekerder raak hy dat sy nie in staat is om ’n moord te pleeg nie. Die sogenaamde getuienis teen haar hou nie steek nie. Sy was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek, maar om dit in sy seniors se koppe te kry is ’n ander saak.

Moedeloos bly sit hy op sy donker stoep en probeer sy malende gedagtes orden. Iewers is daar iets wat hulle miskyk, iets wat Fransien se onskuld sal bewys. As hy dit net kan opspoor!

Boonop dink sy nou hy het ’n speletjie met haar gespeel om inligting uit haar te kry, en hy kan haar seker nie kwalik neem daaroor nie. Hy kan homself gerus skop. As hy sy afstand gehou het soos wat hy moes, was alles nie nou so ’n groot gemors nie. Hoe gaan hy ooit weer haar vertroue terugwen?

Daar bly net een opsie oor: hy moet die moordenaar opspoor en daardeur haar onskuld bewys. Daarna kan hy al sy aandag aan haar gee. Dis in elk geval wat hy van die begin af moes gedoen het – wóú gedoen het. Dis net so verduiwels moeilik om nugter te dink en sy hande tuis te hou as hy by haar is!

’n Geluid by Fransien se chalet laat hom vinnig opkyk. Hy weet nie wat hy verwag het om te sien nie, maar dis beslis nie hoe sy is om in die middernagtelike ure vullissakke uit te sit nie. Wat sou in die sakke wees wat sy so driftig neergesmyt het? Hy was nog nooit ’n voorstander daarvan om in ander mense se vullis te krap nie, maar uit die aard van sy werk was hy al meermale verplig om dit te doen.

So saggies moontlik sluip hy nader en maak een van die sakke oop. In die donker sukkel hy om uit te maak wat daarin is. Met ’n skuldige kyk oor sy skouer raap hy die hele spul op en dra dit na sy chalet toe. Hy maak seker dat sy gordyne dig toe is voor hy die lig aansit om die inhoud van die sakke te inspekteer.

Dronkgeslaan keer hy die inhoud op die rusbank uit. Die ragfyn onderkleertjies wat heel onder in die sak was, laat uiteindelik ’n lig by hom opgaan: dis die inkopies wat Fransien saam met Mitzi gedoen het.

Die opwinding wat in hom opvlam by die besef dat die verleidelike stukkies kant waarskynlik met hom in die gedagte gekoop is, verander vinnig in ontnugtering. ’n Duideliker boodskap as die weggooi van die klere kan hy nouliks vra. Fransien wil baie duidelik niks verder met hom te doen hê nie.

’n Lang ruk staar hy na die hoop klere voor hom. Dan begin hy dit versigtig opvou en terugpak in die plastieksak, ’n vasberade trek op sy gesig.

“Sy sal julle op ons wittebrood dra,” belowe hy die flentertjies lap voor hy dit in sy kamer gaan bêre.

Vir die eerste keer in jare verslaap Fransien. Haar selfoon lui haar nege-uur wakker en sy sukkel om haar geswelde ooglede van mekaar te kry.

Jans se stem in haar oor bring die gebeure van die vorige aand helder na vore. Haar dapper voornemens ten spyt, moet sy sukkel om die knop in haar keel afgesluk te kry.

“Môre, Fransien. Daar is ’n paar goed in verband met die moordondersoek waaroor ek met jou moet praat. Hoe laat sal jou pas?” val hy met die deur in die huis.

“Hoe laat is dit nou?” Haar stem is hees van al die huil en sy hoop nie hy kom dit agter nie.

“Nege-uur.”

“Is tienuur te laat?”

“Nee, dit pas my. Ek sal in Santie Brink se studeerkamer wees.”

“Goed.”

Sy druk die selfoon dood. Haar kop wil bars. Afgesien van haar geswelde ooglede is daar donker kringe onder haar oë, en haar hare is windskeef geslaap.

“Jy lyk oes, Fransien. Te veel gehuil, te min geslaap en nog niks koffie gehad nie. Jy sal jou vinnig moet regruk, ou sussie, want tienuur moet jy fris en vars en so koel soos ’n komkommer wees. En jy gaan nié weer tjank nie!” praat sy hard met haarself, want die seer gevoel diep in haar bors dreig om haar weer in trane te laat uitbars.

Ná twee koppies koffie, twee hoofpynpille en ’n stort voel sy ietwat beter. ’n Koue, nat waslap op haar oë het die swelsel heelwat verminder, maar sy sukkel ’n kwartier lank om die donker kringe onder haar oë met die karige inhoud van haar grimeersakkie te probeer verbloem. Moedeloos gryp sy naderhand ’n bloedrooi lipstiffie en kleur haar lippe sorgvuldig daarmee in. Vandag moet die helder kleur van haar mond maar die aandag van haar oë aflei.

Die sakke met klere en goed is weg, maar sy is nie verbaas daaroor nie. Die vullisverwyderaars was seker lankal hier. Iewers is daar iemand wat dink Kersfees het hierdie jaar vroeg aangebreek!

In Santie se studeerkamer sit Jans reeds agter die lessenaar. Superintendent Johnson en Gerrie is ook daar. Die erns van die saak tref Fransien meteens soos ’n vuishou in die maag: sy word daarvan verdink dat sy iemand doodgemaak het. Hierdie mense soek ’n skuldige, en sy is die hoofverdagte.

Gisteraand was sy so stukkend oor wat tussen haar en Jans gebeur het dat sy glad nie die realiteit van die situasie ingeneem het nie, maar nou maak vrees ’n naar kol op haar maag. Sê nou hulle kry nie die skuldige nie? Sê nou sy word tronk toe gestuur? Wat sal van haar ouers word? Hulle sal dit mos nooit kan verwerk nie! Wat sal van háár word?

Uiterlik kalm gaan sit sy op die stoel oorkant Jans, maar haar oë staar onsiende voor haar uit. Jans moet drie maal praat voor sy registreer wat hy sê.

“Fransien? Vertel my hoe dit gebeur het dat jy op Ferdie de Lange se liggaam afgekom het.”

“Huh?”

“Ek wil weet hoe dit gebeur het dat jy op Ferdie de Lange se liggaam afgekom het,” herhaal hy geduldig.

“Hoekom?” Sy lyk verward, en dan skemer begrip deur.

“O, ek dog julle wil my weer ondervra oor Chris se dood. Dus is meneer De Lange regtig vermoor? Ek het gisteraand iemand in die restaurant daaroor hoor praat.”

Sy is so verlig dat sy aanhou babbel: “Hulle sê dis die dokter wat dit agtergekom het. Weet julle al wie dit gedoen het, en hoekom?”

Nie een van die mans antwoord haar nie. Gerrie en superintendent Johnson lyk ongemaklik, terwyl Jans meer verveeld as ooit tevore lyk. Die drie paar oë wat op haar gerig bly en die lang stilte ontsenu haar, maar sy kyk dapper terug.

Jans sê weer: “Vertel ons hoe dit gebeur het dat jy op hom afgekom het.”

“Wel, Estie – dis een van Mitzi se kinders – het seergekry. ’n Swaai het haar teen die kop gekap. Mitzi het my gestuur om vir Daan te gaan haal, en ek het die kortpad tussen die bome deur gevat. Ek en Barnie het altyd daardie kortpad gebruik as ons laat was vir houtwerk. Ek het gehardloop en toe …”

“Toe wat, Fransien?”

“Toe val ek oor hom. Hy was slap en warm en sy oë was oop, maar ek het geweet hy is dood.”

“Hoe het jy geweet?”

“Sy oë was oop, maar hulle was snaaks … leweloos. Toe weet ek hy’s dood.”

Die afgryse wat sy toe ervaar het, wys weer duidelik op haar gesig.

“Wat het jy toe gedoen?”

“Ek het saal toe gehardloop en eers vir Daan gesê van Estie en toe van meneer De Lange. Daan en ’n paar ander mans is toe daar uit.”

“Het jy enigiemand anders in die tuin raakgeloop? Of iets vreemds opgemerk, soos spore?”

“Nee. Ek het te groot geskrik. Ek het net gehardloop.”

“Hoekom het jy nie saam met die mans gegaan om vir hulle te wys waar die liggaam lê nie?”

Fransien is wit in die gesig. Die rooi van haar lippe skreeu teen die bleekheid van haar vel. “Ek was te naar. Daarna het van die vrouens vir my koffie gegee, want ek was koud. En die dokter het vir my ’n pil gegee,” antwoord sy soos ’n outomaat.

Jans merk met bekommernis haar groeiende ontsteltenis. Hy haat homself vir die volgende vraag wat hy moet vra, maar hy het geen keuse nie.

“Het jy Ferdie de Lange vermoor, Fransien?”

“Nee! Hoe kan jy so iets vra? Ek sal nooit ’n mens kan doodmaak nie! Ek sal nie eens ’n dier kan doodmaak nie! Hoe kan jy so iets van my dink? Hoe kán jy?”

Fransien spring geskok op. Sy laat Jans dink aan ’n wildsbokkie wat in doodsgevaar verkeer, maar wat nie weet watter kant toe om te vlug nie.

“Sit asseblief, Fransien. Ek beskuldig jou nie. Dis ’n roetinevraag wat ons vra vir die eerste persoon wat op die moord afgekom het,” probeer hy haar kalmeer.

“Het julle dit gevra vir die een wat op Chris de Wet se liggaam afgekom het?”

“Nee …”

“Hoekom nie?”

“Dit was ’n groep mense wat op hom afgekom het. Hulle het ’n alibi gehad.”

“As ek geweet het daar lê ’n dooie mens in die skooltuin, sou ek ook ’n alibi gehad het. My alibi sou wees dat ek nie my voete daar naby sou sit nie! En as ek geweet het iemand gaan vir Chris de Wet skiet tien minute nadat ek hom ’n klap gegee het, sou ek daarvoor ook ’n alibi gehad het. Al moes ek ook die rumba op een van die tafels dans sodat almal my kon sien!” Daar het ’n tikkie histerie in haar stem ingesluip.

“Fransien, bedaar asseblief. Jy is nou besig om heeltemal onredelik te raak.”

“Ek sou reken dis nou die perfekte tyd om onredelik te raak! Twee mense is dood. Twee mense, moet ek byvoeg, wat my en ’n hele paar ander mense se skooljare hel gemaak het. Al wat ek gedoen het, was om oor die een te val toe hy reeds dood was, en om die ander een ’n taai klap te gee toe hy nog gelewe het. Maar nou is ek die polisie se hoofverdagte!”

Jans laat sak sy kop ’n oomblik moedeloos in sy hande. Met haar tirade het Fransien haar net dieper in die moeilikheid ingekry.

“Kom ek verduidelik vir jou waarom jy – teoreties, in elk geval – die hoofverdagte is,” probeer hy haar kalmeer. “Eerstens, De Wet se moord. Jy het ’n paar minute voor sy dood ’n argument met hom gehad, jy het hom met die dood gedreig en jy het geen alibi vir die tyd wat hy dood is nie. Dis basies omstandigheidsgetuienis, want jy kan nie direk met die moordtoneel verbind word nie. Die moordwapen is wel gevind, maar dis ’n vuurwapen wat twee jaar gelede al gesteel is en daar was geen vingerafdrukke daarop nie. Daar was ook geen spore in die omgewing nie, die gras is te ruig.”

“Hoekom maak dit mý die sogenaamde hoofverdagte? Chris was stormdronk; hy het waarskynlik ’n hele paar mense daardie aand die duiwel in gemaak. Wat van Barnie, byvoorbeeld? Hy en Chris het ook ’n relletjie gehad, en hy is kort voor my by die saal uit. Maak dit outomaties van hóm ’n verdagte?”

Jans skryf ingedagte iets in sy boekie, voor hy weer na haar kyk. “Niemand het iets daaroor gesê nie, maar ons sal dit opvolg. Is daar iemand wat dit sal kan bevestig?”

“Mitzi sal kan, ons was bymekaar toe dit gebeur het.”

Jans maak nog ’n aantekening in sy boekie en vervolg dan: “Tweedens, meneer De Lange. Die tyd wat jy op hom afgekom het, stem ooreen met die tyd van sy dood. Hy is vermoor met ’n goed gemikte hou of skop teen die keel. Net ’n persoon met deeglike opleiding in aanvalstegnieke kon dit doen. Dis die soort opleiding wat jy ook ondergaan het en wat jy sorgvuldig vir die wêreld wegsteek, Fransien. Daar het nog net ’n motief kortgekom, en dit het jy so pas self verskaf: hy het jou skooljare hel gemaak.”

Fransien se oë rek. “Jy kan nie ernstig wees nie! ’n Mens maak nie iemand dood oor hy tien jaar terug mislik met jou was nie. As dit die geval was, sou daar ’n ry mense voor my gewees het wat hom eerste wou bykom!”

“Jou vriend Barnie ook?”

“Ja … nee … ek weet nie. Barnie was bang vir hom. Nadat ek begin houtwerk neem het, het hy my laat belowe dat ek hom nie alleen by Langes sal los nie. Ek moes altyd ná klas vir hom wag. Dis waarom ek die kortpad geken het, want die houtwerkklas is eenkant en ons sou gedurig laat gewees het vir ander klasse as ons nie die kortpad gebruik het nie.”

“Hoe bedoel jy?”

“Langes het baie vir Barnie werkies gegee ná klas. Saagsels opvee, die swartbord skoonmaak, gereedskap bêre, daardie soort ding. Dan het ek hom gou gehelp, sodat hy vinnig kon wegkom.”

“Net vir Barnie?”

“Nee, een of twee van die ander seuns moes ook gereeld agterbly. Gewoonlik dié wat die bangste was vir hom. Ek dink hy het dit geniet dat hulle so verskrik was; hy was daardie soort mens.”

“Hoekom was hulle so bang vir hom? As hy hulle aangerand het of so iets, kon hulle hom mos by hulle ouers of by die skoolhoof gerapporteer het?”

“Jy verstaan nie, Jans. Die kinders wat hy die meeste geterroriseer het, was juis kinders wat nie op hulle ouers se ondersteuning kon staatmaak nie. Kinders wat alreeds geknou was deur die lewe. Ek weet nie of hy ooit iemand fisiek aangerand het nie, maar hy was ’n gemene, sarkastiese mens. Ons was almal vrek bang om onder sy tong deur te loop, want hy het die vermoë gehad om jou van jou laaste bietjie menswaardigheid te stroop.”

Dis met ’n swaar gemoed dat Fransien ’n rukkie later stadig na haar chalet terugstap. Die ondervraging het talle ou, onwelkome herinneringe teruggebring. Ook besef sy nou werklik in watter netelige posisie sy haar bevind. En Jans …

Daar is ’n diep seer in haar. Sy het werklik gedink hy voel ook oor haar soos sy oor hom. Sy moes geweet het sy is nie vrou genoeg vir hom nie. Hy sou nooit eens ’n tweede keer na haar gekyk het as sy nie ’n verdagte in die saak was nie. Dít maak die seerste van alles.

Jans kyk die terneergedrukte figuurtjie net ’n oomblik agterna, voor hy vinnig bevele uitdeel.

“Tony, sal jy asseblief vir my afsprake reël met Mitzi Dreyer en mevrou De Lange, sommer vir vanmiddag nog. Gerrie, die vingerafdrukmanne het mos afdrukke geneem van almal wat Saterdagaand buite die saal was toe De Wet geskiet is?”

“Dis reg, Jans. Maar ons kon dit nie gebruik nie, want daar was geen afdrukke op die toneel nie.”

“Stuur die hele spul in elk geval in, dalk kan die slim ouens met die rekenaars vir ons iewers ’n haas uit die hoed trek. Miskien het iemand ’n rekord waarvan ons nie weet nie, of iets dergeliks.”

Hy vryf sy hande teen mekaar. “Ouens, ek is glad nie seker dat hierdie meisie ’n moord gepleeg het nie, maar De Wet se pappie spring op en af omdat ons nog niemand in hegtenis geneem het nie. Sy lyk op die oomblik na die waarskynlike skuldige, dus sal ons ons storie moet ken as ons nie ’n onskuldige mens tronk toe wil stuur nie.”

“Hoe weet jy van haar opleiding, as sy dit wegsteek soos jy sê?” wil Gerrie nuuskierig weet.

Jans grinnik verleë. “Wel, eerstens het ek gesien hoe sy oefen. En ek moet erken, dit was nogal indrukwekkend. En dan … die uwe het self al twee maal onder daardie sagte handjies deurgeloop.”

“Wat? Hoe het dit gebeur? Moet net nie sê jy het ook vatterig geraak soos Chris de Wet nie?” Superintendent Johnson klink bekommerd.

“Wel, die eerste keer het ek na haar gekyk op ’n manier wat haar nie aangestaan het nie. Dit was by die swembad. Toe gooi sy my in die water om te gaan afkoel.”

Die ander twee brul van die lag.

“En gisteraand wou sy iewers heen gaan, maar ek wou met haar praat en toe probeer ek haar keer.” Hy trek ’n gepynigde gesig. “Glo my, ek sal dit nie weer probeer nie!”

Gerrie kan sy ore nie glo nie. Kaptein Jansen is bekend as ’n tawwe kalant, en hier erken hy dat ’n vroumens hom ore aangesit het. Wag tot die ander dít hoor!

“Waag dit net om hierdie storie te versprei en ek sit vir Fransien de Swardt op jou!” waarsku Jans, wat behoorlik die ratte in die jong man se kop kan sien draai.

“Nee, man, Jans!” Gerrie se ooglopende bekommernis oor dié moontlike vernedering is ’n groot bron van vermaak vir Jans-hulle, en op die ou end lag hy maar verleë saam.

Jans raak gou weer ernstig. “Weet julle hoekom dink ek nie sy is skuldig nie?”

Twee paar oë kyk vraend na hom.

“Ons gaan uit van die veronderstelling dat albei mans deur dieselfde persoon vermoor is, nè? Ek meen, dis darem taamlik onwaarskynlik dat hier twee moordenaars op dieselfde tyd sou rondsluip.”

Die ander twee knik instemmend.

“Nou ja, ek sê vir julle: Fransien het nie vir De Wet vermoor nie. Sy het hom geklap toe sy kwaad was en daarmee was dit, wat haar betref, afgehandel. Hy kon bly wees sy het hom nie dwarsoor die naaste tafel of die verhoog gegooi nie. Dis hoe Fransien optree as sy kwaad word: sy doen eers en dink dan. Om ’n vuurwapen te gaan haal en hom in die tuin in te wag, is nie haar styl nie. Waar sou sy in elk geval daardie vuurwapen in die hande gekry het? Dis al meer as twee jaar gelede in die Oos-Vrystaat gesteel. Sy het haar eie vuurwapen saamgebring en soos ’n wetsgehoorsame burger in die kluis laat toesluit. Iets sê my sy sou nooit die kans gevat het om met ’n gesteelde vuurwapen in haar motor hierheen te ry nie. Ek het haar rekord laat nagaan, en daardie vrou het nog nooit eens ’n parkeerkaartjie gekry nie. Sy is silwerskoon. En dis meer as wat ek óf julle kan sê,” eindig Jans sy betoog.

Hy draai na Gerrie. “Nog iets: vind bietjie uit of iemand nie ’n video gemaak het Saterdagoggend by die skool of Saterdagaand hier by die oord nie. Dis vir my snaaks dat Fransien praat van ’n onderonsie wat dié Barnie met De Wet gehad het, maar niemand anders het dit genoem nie. Almal was so gretig om te vertel hoe Fransien hom geklap en gedreig het dat ek vermoed hulle relletjie het die res van die aand heeltemal oorskadu.”

Jans begin stap deur toe. “Nou ja, kêrels, laat ons aan die werk spring. Ons het twee moorde om op te los! Gerrie, gaan sê asseblief vir mevrou Brink sy kan maar haar studeerkamer terugkry.”

Melodie Omnibus 2

Подняться наверх