Читать книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste - Страница 20
17
ОглавлениеMitzi se doktersafspraak was vir agtuur. Toe Fransien net ná nege by haar huis aankom, kan sy sommer sien dit was goeie nuus. Mitzi straal behoorlik en haar blou oë is vol drome en geheime.
“Weet Daan al?” vra Fransien nadat hulle ’n paar vreugdetraantjies gestort het.
Mitzi lag. “Dink jy vir een oomblik hy sou my alleen laat gaan het? Hy is so broeis soos ’n hen met net een kuiken.”
“Ek neem aan ons gaan vandag net babaklere koop?” terg Fransien.
“Nee, wat! Daar is nog baie tyd daarvoor. Kom, laat ons die dorp gaan aandurf. Ek word nogal gou moeg, so ons moet dit maar rustig vat vandag.”
“Ek dog ons gaan dit rustig vat?” verwyt Fransien vier uur later toe hulle by ’n tafel in die naaste koffiewinkel gaan sit. “En ek dog daar is nog baie tyd vir babaklere koop?”
Haar voete brand en sy voel sweterig en geïrriteerd. Daar is net geen einde aan Mitzi nie. Hulle was seker by elke winkel op die dorp in, en haar vriendin het gekoop asof die nuwe baba enige oomblik gaan arriveer. Sy wat Fransien is, het nie ver agtergebly nie.
Mitzi kyk ingenome na die spul pakkies langs haar. “Moenie so ’n sissie wees nie. As ek nie swanger was nie, was ek nou nog volstoom aan die gang. Ek moet sê, ’n ruskansie en ’n drinkdingetjie sal welkom wees. Miskien moet ons sommer nou iets eet.” Sy bestudeer die spyskaart met ’n fronsie.
“Moet jy nie die tweeling by die kleuterskool gaan haal nie?” skerm Fransien, wat nie kans sien vir nog so ’n sessie nie. Behalwe dat sy moeg en warm is, is sy gretig om terug te gaan na die vakansieoord. Miskien, net miskien, het Jans ’n kansie om by haar in te loer …
“Nee. Ek het gereël dat hulle na ’n maatjie toe gaan.” Mitzi se aandag is steeds by die spyskaart.
“En Daan? Gaan hy nie huis toe vir middagete nie?”
“Nie vandag nie. Hy het ’n sake-ete.”
“O, wel, dan kan ons maar net sowel nou eet,” stem Fransien halfhartig in.
“Moenie so benoud lyk nie. Ons gaan rustig ’n lekker lang middagete geniet, en daarna gaan ons huis toe om ons inkopies uit te pak en te bewonder. Ek is veral baie geïnteresseerd in ’n paar goedjies wat jy gekoop het.”
Fransien voel hoe sy bloos. Sy het haar inkopies gedoen met Jans in haar gedagtes, en soos gewoonlik het niks Mitzi se oë ontglip nie.
“Toe, Fransien, uit daarmee. Wat gaan aan?”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie. Ek het myself ’n bietjie bederf, dis al!” probeer sy walgooi.
“Vertel dit vir die man in die maan, miskien sal hy jou glo. As ’n oujongnooi skielik vir haar dáárdie soort bederfgoedjies koop, is daar waarskynlik iewers ’n man wat bederf gaan word.”
“Ek is g’n ’n oujongnooi nie!”
“Jy is. Jy is agt en twintig jaar oud en nie verloof, in ’n verhouding betrokke of getroud nie. Dus is jy ’n oujongnooi,” konstateer Mitzi. “En moenie die onderwerp probeer verander nie.”
“Maar ek het niks snaaks gekoop nie!”
“Twee soorte parfuum, badsout, skuimbad en selfs lekkerruikgoed vir jou hare!” tel Mitzi op haar vingers.
“Dis normaal. Ek hou daarvan om lekker te ruik.”
“Dis waar. Ek ook. Maar wat van die onderklere, slaapklere en japon? Die meeste daarvan baie skraps en verleidelik, moet ek byvoeg.”
“Dis ook normaal. Ek dra altyd sulke onderklere – jy kan in my kas kom kyk. En ek het lankal nuwe slaapklere en ’n japon nodig.” Fransien begin ontspan. Miskien kan sy haar nog hier uitwikkel.
“Goed, ek aanvaar dit. Dan is daar heelwat nuwe klere ook. Dis net vir my eienaardig dat jy, wat uit die stad se winkels kan kies en keur, skielik hierdie geweldige behoefte aan nuwe klere het.”
“Ek kry min tyd om inkopies te doen. Vandag het ek tyd gehad, toe koop ek maar ’n paar goedjies.”
“Mmm. Lieflike aandrok wat jy gekoop het.”
“Is dit nie? Ek wil dit Saterdagaand aantrek, daar is ’n dans by die oord.”
“So, jy gaan Saterdagaand stoksielalleen na ’n dans toe? Met ’n rok aan wat nie alleen ’n ou oom met ’n kierie se tong sal laat uithang nie, maar die kierie self ook opgewonde sal maak?”
Hierteen het Fransien geen verweer nie. Mitzi weet maar alte goed dat sy nooit alleen na ’n dans sal gaan nie. Sy het netjies in die strik getrap.
Mitzi pen haar vas met haar blik. “Die vaalseun-polisieman, neem ek aan?”
Fransien knik gelate. Sy laat gedwee toe dat Mitzi al die inligting wat sy wil hê uit haar trek. Op ’n manier is sy verlig dat haar vriendin bly karring het, want nou kan sy haar vrese met haar deel.
“Jy gaan net nie saam met hom bed toe nie!”
“Mitzi!” Fransien voel of sy in die aarde kan sink.
“Ek bedoel dit, vriendin. Ek ken jou: as jy eers so ver gegaan het, is dit verby. Jy sal hom nooit weer kan vergeet nie.”
“Dis nie nodig nie. Ek dink dis klaar te laat,” erken Fransien sag.
Daar is soveel weerloosheid in haar oë dat Mitzi ’n knop in haar keel kry.
Fransien kom heelwat later as wat sy verwag het by die oord aan. Haar plan om te gaan swem laat vaar sy dadelik toe sy die swetterjoel mense in en om die swembad sien. Dan maar liewer die bosse in vir ’n bietjie oefening.
Sy het egter nie rekening gehou met die hitte van die somersmiddag nie. ’n Uur later strompel sy rooi in die gesig en sopnat van die sweet by haar chalet in.
Sy kry lag vir haarself toe sy deur haar inkopies snuffel vir haar nuwe badsout. Daar is ’n paar goed wat Mitzi gelukkig nie raakgesien het nie en waaroor sy nou behoorlik giggel. Kerse, ’n kompakskyf met die titel Romantiese Liefdesliedjies en gegeurde lipglans! Hoe op aarde sou ek dit verduidelik het? proes sy.
Met ’n dooie kers op die bad se kant (sy het vergeet om vuurhoutjies te koop), Romantiese Liefdesliedjies saggies in haar kamer aan die speel en ’n skuimbad vol kwistig gegeurde water, verdwyn die vrese wat sy die hele dag in haar rondgedra het. By gebrek aan wyn het sy vir haar ’n wynglas vol vrugtesap saamgevat bad toe, en sy klink op haar eentjie ’n glasie op die aand wat voorlê. Die lang dag sonder Jans is amper verby en netnou sien sy hom weer.
Sy skrik toe haar selfoon lui. Dis ’n vreemde nommer en haar hart spring in haar keel toe sy Jans se stem herken.
“Hallo. Staan die winkels nog?”
Sy stem is warm en tergend en sy druk die selfoon styf teen haar oor vas, asof dit hom nader aan haar sal bring.
“Net-net! Waar is jy?”
“Nou net by my chalet aangekom. Kan ons so agtuur gaan eet? Ek het nou eers ’n stort dringend nodig.”
“Agtuur is reg met my. Ek is in elk geval al klaar. Sê maar as jy iemand nodig het om jou rug te kom was,” terg sy waaghalsig.
Hy lag saggies. “Grootmond … Sien jou netnou!”
Met die spreekwoordelike lied in haar hart en romantiese liefdesliedjies in haar ore wag Fransien dat dit agtuur word. Die versoeking is groot om haar deur te sluit en solank na Jans se chalet te stap, maar ’n inherente skugterheid hou haar terug.
Die uitdrukking op sy gesig is genoeg beloning vir die ekstra moeite wat sy met haar voorkoms gedoen het.
“Ek dink ons moet die etery los en net hier bly. Jy lyk in elk geval goed genoeg om te eet!” Die erns in sy oë weerspreek die skerts in sy stem.
“O nee, ek is flou van die honger. Dis harde werk om mooi te lyk!”
“O? Ek dog dan inkopies doen is harde werk?”
“Dit is,” verseker sy hom ernstig. “Veral as jy dit saam met Mitzi doen. En toe moes ek my nog kom mooimaak ook. Ek is gedaan. Ek sal gou kos moet kry, voor my kragte my heeltemal begewe.”
“Dan moet ons dadelik loop, want wat sal die mense dink as ek met jou oor my skouer daar aankom?”
“Maar net dat die Neanderdalman-taktiek nog steeds werk.”
“Dis goeie nuus. Kom hier, vroumens!” Jans kom dreigend met bakarms nader.
Fransien probeer hom laggend ontwyk, maar hy keer haar maklik in ’n hoek vas. “Groet my eers mooi, dan gaan gee ek vir jou kos,” belowe hy.
“Ja, baas, goed, baas.”
“’n Gehoorsame vrou se waarde is ver bo korale,” mompel hy teen haar mond.
“Mý Bybel sê deugsame vrou.”
“Dis seker ’n drukfout. Hou nou op stry en soen my.”
Gehoorsaam vleg sy haar arms om sy nek en skuif haar mond onder sy wagtende lippe in. Jans soen haar sag en talmend, versigtig om nie haar grimering te laat smeer nie.
Dan druk hy sy gesig in haar hare en adem die vars geur diep in.
“Mmm, jy ruik wonderlik. Smaak jy ook so lekker?” Hy knibbel aan haar oor.
“Jans! Moenie!”
“Hoekom nie?” tart hy moedswillig.
“Jy gee my hoendervleis.”
“Dis gaaf, want ek kry hoendervleis as ek net aan jou dink,” fluister hy voor sy aandag weer na haar mond verskuif.
Fransien voel hoe sy holderstebolder deur die ruimte begin tuimel. Sy land met ’n slag op moederaarde toe Jans haar ferm wegstoot. “Kom, ek het jou kos belowe.”
“Ek moet eers vars lipstiffie gaan aansit.”
“Jy is perfek net soos jy is. As ons ’n minuut langer hier bly, is jy vanaand sonder kos,” waarsku hy haar.
Hy uiter ’n gedempte verwensing toe sy selfoon begin lui net voor hulle by die restaurant instap. “Gaan solank in. Ek is nou by jou.”
Die restaurant is vol en Fransien kan nie in ’n hoek gaan sit soos gewoonlik nie. Onwillekeurig vang haar ore stukkies van gesprekke by ander tafels op. Langs haar sit twee ouerige mans. Fransien spits haar ore toe sy hoor hulle praat oor Ferdie de Lange.
“… harde man, maar om darem op so ’n manier aan sy einde te kom!” sê die een.
“Hulle sê dit sou die volmaakte moord gewees het as die doktertjie nie snuf in die neus gekry het nie,” antwoord sy tafelgenoot.
Fransien frons. Sy het seker verkeerd gehoor. Dit kom nou daarvan as jy ander mense se gesprekke afluister!
Jans bly lank weg en sy begin kriewelrig voel. Om sake te vererger, raak sy nou bewus van ’n bekende stem naby haar. ’n Versigtige blik oor haar skouer bevestig haar vermoede: Tessa de Villiers en ’n vriendin sit reg agter haar.
Fransien voel vasgekeer. Waar bly Jans dan?
Sy kan haar ore nie glo toe Tessa dieselfde vraag vir haar vriendin vra nie.
“Is die speurder nog nie hier nie? Dis nou ’n oulike stuk mensvleis daardie, maar hy maak asof hy my nie raaksien nie. Dit lyk my mens sal ’n moord moet pleeg om sy aandag te kry!” Sy lag guitig.
Daar is skielik ’n naar kol op Fransien se maag. Dit kan nie waar wees nie! Maar tog …
Noudat sy terugdink, is al die tekens daar. Hy het haar eers glad nie raakgesien nie. Toe begin hy skielik aandag aan haar skenk. Dit verklaar ook sy onwilligheid om die ondersoek met haar te bespreek – dis omdat sy ’n verdagte is!
Sy toenadering was net ’n slim manier om naby aan haar te kom. Soos ’n gek het sy hom ernstig opgeneem – en in die proses vir die eerste keer in haar lewe smoorverlief geraak.
Soos ’n ou mens staan sy op en stap buitentoe. Jans is besig om sy gesprek af te sluit en hy beduie sy moet vir hom wag, maar sy steur haar nie aan hom nie. Die verslaentheid is besig om plek te maak vir woede en sy stap al hoe vinniger. Hoe kon hy haar so misbruik en bedrieg het?
“Fransien! Wag!”
Jans se vinnige voetstappe ’n ent agter haar spoor haar tot ’n drafstap aan. Maar in die tyd wat sy sukkel om die deur met bewende hande oop te sluit, haal hy haar in. Hy vat die sleutel by haar, sluit die deur oop en wag dat sy eerste instap.
“Ek is jammer. Moenie kwaad wees nie,” sê hy boetvaardig.
“Waaroor?”
Jans skrik toe Fransien na hom draai. Haar oë is onnatuurlik groot en donker in haar wasbleek gesig. Dis duidelik dat sy hewig ontsteld of baie kwaad is.
“Omdat ek jou so lank laat wag het. Is dít hoekom jy kwaad is? Of is daar iets anders fout?” vra hy bekommerd.
“Sê my, Jans, is ek steeds ’n verdagte?” Haar stem is dodelik kalm, al wil haar hart in duisend stukke breek.
Jans weet nie wat om te antwoord nie. Die oomblik waarvoor hy bang was, het gouer aangebreek as wat hy verwag het, en hy is glad nie voorbereid daarop nie.
“Daar is ’n hele paar verdagtes,” skerm hy uiteindelik. Maar hy bluf Fransien nie.
“Kom ek stel dit anders: wie is die hoofverdagte?”
Jans hoef nie te antwoord nie, Fransien sien die antwoord op sy gesig.
“Jy is.” Sy woorde is skaars hoorbaar.
“Hoekom? Net omdat ek daardie vark die klap gegee het wat hy verdien het? Omdat ek in ’n oomblik van woede ’n sogenaamde dreigement geuiter het?”
“Daar is ander faktore ook.”
“Soos wat?”
“Ek mag dit ongelukkig nie nou al met jou bespreek nie.”
“Ek verstaan. Loop nou, asseblief. Jy hoef nie meer aandag aan my te gee nie, die speletjie is verby.”
“Fransien, asseblief. Ek het nooit ’n speletjie met jou gespeel nie.”
“Loop! En moenie aan my vat nie.” Sy probeer by hom verbydruk, maar hy steur hom nie aan die dreigement in haar stem nie.
“Luister net, Fransien …”
“Jans Jansen! Gaan speel verder speurder-speurder en los my uit!”
Hy probeer kalm bly. Dis te verstane dat sy omgekrap is, maar sy kan hom darem kans gee om te verduidelik. “Nie voor jy na my geluister het nie!”
Die volgende oomblik trek hy soos ’n vrot vel deur die lug en val dat hy hik op die vloer.
Fransien begin hardloop in aller yl na haar slaapkamer. Jans reageer sonder om te dink. Met sy voete swiep hy haar bene onder haar uit en dan pen hy haar met sy volle liggaamsgewig onder hom vas.
“Jou klein helkat! Moet jy handgemeen raak elke keer as jy jou vererg?” Hy is nou self kwaad.
“Los my!” Sy spartel wild om los te kom.
“Nee. Jy gaan nou eers mooi stil lê en na my luister.”
Jans het sy hande vol om haar te beheer. Uiteindelik vleg hy sy bene om hare en vat albei haar hande met een hand bokant haar kop vas.
Haar magteloosheid maak haar net nog kwater. “Los my, jou poot!”
“Eers as jy belowe om jou te gedra en na my te luister.”
Fransien bly koppig stil.
“Dan lê ons maar nog ’n bietjie so. Ek weet nie van jou nie, maar ek is heeltemal gemaklik.”
Fransien voel glad nie so gemaklik nie. Maar die harde klipvloer en Jans se gewig op haar is die minste van haar probleme. Haar liggaam is weer eens besig om haar skaamteloos te verraai.
“Goed, ek sal luister,” jok sy sonder om te blik of te bloos.
“Belowe jy?”
Sy vermy sy blik. “Ja, man! Los my nou net, die vloer is hard en jy maak my seer!” Sy wriemel weer in sy greep.
“Jy jok vir my, Fransien.” Sy stem is hees. “Kyk my in die oë en belowe jy sal nie weghardloop die oomblik as ek jou laat los nie.”
Jans is vinnig besig om sy greep op die werklikheid te verloor. Die sagte vroueliggaam onder syne, haar versnelde asemhaling en die reaksie van sy eie liggaam maak dit vir hom moeilik om te konsentreer. Die aanloklike mond net sentimeters van syne af trek hom aan soos ’n vlam ’n mot.
Al weet hy die aanraking gaan hom brand, moet hy nadergaan. Nader en nader … tot hy die sagtheid onder sy lippe voel meegee, die hitte dwarsdeur hom voel skroei. Met hartstog wat soos ’n hoogoond in hom brand, dwing hy haar lippe hongerig oop, verken hy die satynagtige binnekant van haar mond met sy gretig soekende tong.
Fransien is aan die brand. Jans het sy greep op haar hande laat los en asof vanself beweeg haar hande onder sy hemp in, strelend, dringend, liefkosend. Bewus daarvan dat sy by omdraai verby is, soek die vrou in haar reikhalsend na vervulling.
Waarskuwingsklokkies begin in Jans se agterkop lui. Al brand hy van begeerte, weet hy om haar nou te neem, sal die grootste fout van sy lewe wees. Haar emosies loop hoog op die oomblik en sy sal hom nooit vergewe as hy die situasie uitbuit nie. Sy persoonlike gevoelens en begeertes verander niks aan die feit dat sy steeds ’n verdagte is nie. En dit boonop in twee moordsake …
Met byna bomenslike wilsinspanning rol hy van haar af. Hy staan vinnig op en gaan sit op die bank, sy gesig in sy hande verberg.
Skaamte en vernedering speel wipplank in Fransien se gemoed. Sy was bereid – nee, nie net bereid nie, eintlik oorgretig – om die volle pad te loop, maar Jans het haar verwerp. Sy is nou seker dat hy nooit regtig vir haar omgegee het nie. Daar is geen ander verklaring vir sy optrede nie. Miskien was sy té gretig, miskien te onervare. Miskien net nie vrou genoeg vir hom nie …
Dis hierdie laaste, pynlike gedagte wat haar uiteindelik tot aksie aanspoor.
Stadig kom sy regop en loop na die deur toe. “Gaan, asseblief. Ek sal môre beskikbaar wees vir ondervraging, maar nou wil ek gaan rus.”
Sonder ’n woord staan Jans op en stap uit. Hy hoor hoe sy die deur agter hom sluit. Daar is ’n finaliteit in die geluid wat soos ’n koue hand om sy hart klem.