Читать книгу Die seders van Libanon - Adriana Faling - Страница 10

Pascale

Оглавление

BEKAA-VALLEI, LIBANON. SEPTEMBER 2014

Pascale Nassar se hart word ligter terwyl hulle met die kerk se halfverslete bussie oor die berg buite Beiroet na die Bekaa-vallei ry. Dit is nie net omdat sy die besige Mediterreense stad en die konflik by haar ouerhuis vir ’n wyle kan agterlaat nie, maar omdat hulle iets betekenisvols gaan doen. Meer as enigiets anders is dít wat vir haar sin in die lewe gee. Dit is waarvoor sy ’n vrywilliger-diensjaar by die kerk kom doen het. Dit is waarvoor sy haar familie se teëstand verduur. Dit is waarvoor sy opstaan in die oggend, wat haar energie gee: om ’n kind te laat voel dat hy of sy belangrik is. Raakgesien word.

Sy wil vandag nêrens anders op aarde wees nie as in hierdie bussie, volgepak met ingesamelde kruideniersware, saam met hierdie besondere mense.

Die feit dat Emile ook hier is, maak dit natuurlik baie maklik om te wil saamkom – ’n hele dag saam met hom! Sy sterk rustigheid agter die stuurwiel het ’n kalmerende invloed op haar. Hy trek sy vingers deur sy dik donker hare, soos sy gewoonte is wanneer hy konsentreer. Sy moet daarop fokus om nie die hele tyd na hom te kyk nie. Sondae as hy tydens die diens as aanbiddingsleier optree, hang die ander jong meisies aan die aantreklike Libanese man se lippe. Sy sal dit haat om soos hulle te lyk. Sy hou haar dus ongeërg in sy geselskap. Hy het klaarblyklik nog nie die regte meisie ontmoet nie, want hy is op die oog af nonchalant en gemaklik met sy enkellopende status. Sou hy meer hou van stil en teruggetrokke meisies? Moet sy haar krulhare dalk reguit blaas, sal sy dan mooier lyk vir hom? O heng, nee. Sy sal altyd laat wees as sy dit soggens eers moet doen! Sy was juis vanoggend weer net-net betyds. As sy maar kon weet wat hy van haar dink. Pascale Haddad … Sy van pas mooi by haar naam.

Emmanuel wip orent op die sitplek tussen sy ouers, Ashraf en Saleh. Hulle is nuwelinge in die groep wat pas vanuit Egipte by hulle aangesluit het. Hulle stoei om die sitplekgordel om sy lyfie te hou. Die lewe is ’n opwindende plek as jy drie jaar oud is; jy wil niks mis nie.

“Emmanuel, kyk hierdie boekie wat ons saamgebring het. Kom ek lees vir jou,” probeer Saleh sy aandag aflei.

Langs Emile sit pastoor Youssef. Hy is ook oorspronklik van Egipte – hy moet omtrent so oud soos haar pa wees. Hy is haar geestelike pa en mentor soos haar eie pa nie is nie.

Eva sit langs haar en is besig om reëlings te tref met haar selfoon. “Sal jy dan vir Eli en Stephanie ná skool by die huis kan gaan aflaai?” Sy is die een wat die praktiese sake van die huishouding aan die gang hou. Pastoor Youssef droom die drome, Eva sorg dat dit uitgevoer word.

Hy het aan Pascale vertel dat hy een van die eerste leerlinge was wat ongeveer dertig jaar gelede die dissipelskapkursus voltooi het by Hassan en Nahed se skool in die woestyn van Egipte. Dit is waar Ashraf en Saleh ook hulle opleiding ontvang het. Van daar het pastoor Youssef geroepe gevoel na Libanon. Sy vriende en familie was sinies oor die roeping. Baie Libanese sien neer op Egipte en verwelkom nie juis mense daarvandaan nie. Wat sou hy in dié welvarende land kom doen en vir die snobistiese nasie kom vertel?

Hy het hom nietemin in Beiroet kom vestig, waar hy met die Libanese Eva getroud is. Die twee het ’n gemeente begin, en mettertyd het mense uit talle oorde hulle by hulle geskaar toe dit duidelik word dat die Gees van God hulle lei en deur hulle werk.

Emile skakel die flikkerlig aan en trek van die pad af. “Kyk hierdie uitsig.” Van bo-op die berg is die uitgestrekte plase en wingerde in skerp kontras met die besige stadslewe van Beiroet. Die groen olyfboorde, afgeëts teen die vaal landskap, gee hoop. Groot en indrukwekkende villas staan ver uitmekaar tussen landerye geplant.

“Sjoe, dis mooi!” Pascale haal diep asem.

“Ja, van hier bo af, nè?” Hy glimlag vir haar en haar hart smelt. “As ’n mens nader kom, is dit ’n ander prentjie. “Op van daardie plase in die verte is die Siriese vlugtelingkampe,” wys Emile om die nuwelinge se onthalwe. “Daar woon hoofsaaklik Moslemvlugtelinge. Sommige van die omgewing se boere het besef dat dit meer lonend is om die spasie aan die vlugtelinge te verhuur as om gewasse daar te plant, met die gevolg dat baie van die plase in tentdorpe omskep is. Die ander boere wat steeds gewasse plant vir die bevolking wat oornag vermeerder het, maak gebruik van die desperate vlugtelinge se goedkoop arbeid. Met die geskatte een miljoen vlugtelinge wat reeds ’n kwart van die bevolking uitmaak, is almal naarstig op soek na ’n bron van inkomste.”

“Ja, daar is nou baie monde om te voer.” Eva klik met haar tong en haar stem is simpatiek.

“Die winter is egter amper op ons en die werk op die plase is eers klaar vir die seisoen.” Die kommer slaan deur in Emile se stem. “Tot volgende lente lê daar lang dae in koue tente voor vir die vlugtelinge in die kampe. Dae van bakleiery en frustrasie omdat daar soveel mense in ’n klein spasie saamgehok is. Baie van die mans lê en slaap of kyk satelliet-TV, en die verveling lei tot allerhande onheile. Soms het ’n man vier tot vyf vroue, elk met ’n klompie kinders wat versorg moet word. Party vroue wend hulle tot prostitusie met die Libanese mans, wat ongelukkig nie bekend is vir hulle huwelikstrou nie,” voeg hy by.

“Wanneer gaan ons weer ry?” vra Emmanuel verveeld.

“Amper, ons luister net gou,” paai Saleh.

Pastoor Youssef skerm die son met sy hand af, terwyl hy in die rigting van die kampe staar: “Ons weet dat Jesus die enigste antwoord is, maar die rede hoekom ons kom, is om die mense hier te kom dien en nie om die evangelie op hulle af te forseer nie. Omdat hulle omstandighede so moeilik is, mag hulle voel dat hulle verplig is om na hulle weldoeners te luister. Ons is dus eerstens hier om liefde te bewys en verhoudings te bou – opreg, sonder bybedoelings. As hulle vra hoekom ons doen wat ons doen, getuig ons altyd oor Jesus. Indien iemand sou belangstel in gebed, bid ons in sy naam saam met hulle.”

“Ja, dit maak sin,” stem Ashraf saam.

“Die mense is altyd bly om ons te sien omdat ons kom help. Hulle sien ons liefde en hulle sal sê hulle het dit nie by hulle eie imams ervaar nie. Sommige sê selfs hulle hou van ons geloof en sal ook eendag Christene wil wees, maar hulle is waaksaam,” gee Emile meer agtergrond.

“Wel, dit is goeie nuus.” Saleh het ’n opregtheid aan haar waarvan Pascale dadelik hou.

“Ja, maar hulle wantrou nou reeds die mense van hulle eie geloof, en ons as kerk sal eers goeie verhoudings met hulle moet bou as ons wil hê dat hulle ons moet vertrou,” verduidelik pastoor Youssef.

“Verstaanbaar, ja,” sê Ashraf.

“Ons maak staat op God se Gees wat in elkeen van ons woon om deur ons te werk. Ons weet dat hulle wat met die duisternis gekonfronteer word, nie anders kan as om die Lig te sien skyn nie,” sê pastoor Youssef.

Hy bid vir ’n geseënde dag en Emmanuel vou sy hande ook plegtig saam. Pascale knip onderlangs vir hom oog en hy glimlag breed vir haar. Dan ry hulle verder af na die Bekaa-vallei waar die oes ryp op die lande staan.

Die tentplase, met die Verenigde Nasies se kenmerkende wit seile wat gebruik word om die tydelike skuilings te bou, doem langs die pad op: tuisgemaakte tente wat een-een besig is om soos wit sampioene uit die stof te verrys. Daar is groter kampe waar duisende mense saamwoon. Hulle ry egter na een van die kleiner kampe waar sewentig tot honderd gesinne verskillende tente huur. Kinders speel in die stof; kinders wat net ’n tenthuis ken. Die ouers is onsigbaar agter die wit seile waaraan pale met satellietskottels vasklou. Motorbande, emmers en selfs ou banke hou desperaat sinkplate en ander dakstrukture in plek. Wasgoed hang verwese aan geprakseerde waslyne buite die tente. Grys watertenks staan tussen die wit tente. Wilde kosmos groei vreemd uit plek tussen die grys gruis buite die tente. Groot groen vullisdromme op wiele staan rond in die middel van die selfverklaarde speelterrein waar ’n geroeste swaai staangemaak is.

Die bussie kom tot stilstand en die kinders kom aangehardloop. Sodra die deure oopgemaak word, glip hulle vrolike gegroet na binne. Hulle is duidelik gemaklik met die idee dat die kerk se mense die kamp besoek. Ouer gesigte loer by die tentdeure uit en van hulle kom nader om die kinders te beheer.

Pascale is voorbereid. Let the games begin! Sy haal diep asem en stuur ’n skietgebedjie op: Gee my krag, vreugde en entoesiasme vir vandag, asseblief, Here. Sy klim uit en die kinders wat haar ken, drom om haar saam.

“Hallo, Pascale!” Dun armpies om haar middellyf, vuil handjies wat haar hande vasgryp, ’n deurmekaar gebondel van stemme wat almal hul nuus met haar wil deel.

Sy groet en druk vas en vryf oor hare en word saamgesleep deur die groep. Ná die aanvanklike deurmekaarspul neem sy die leiding en begin ’n bekende kinderliedjie sing. Emile val ook in en die kinders volg hulle voorbeeld. Hulle maak ’n sirkel en sing met lawwe handgebare wat almal verspot laat lyk. Kort voor lank weerklink die goddelike klank van kinders wat gil en lag. Daarna speel hulle met die kinders groepspeletjies en later ook balspeletjies.

Saleh en Ashraf, met Eva se hulp, laai ’n opslaantafel af en kry al die benodigdhede gereed om kos te bedien. Die gesigte staan een-een nader om te kom kennis maak. Van die mans bring plastiekstoele wat voor of binne-in hulle tente staan en kom sit om te gesels. Ashraf en pastoor Youssef bepaal hulle aandag by die mans, vra uit en maak geselsies, terwyl Saleh en Eva met die kosgoed skarrel en op ’n afstand luister.

Van die vroue staan later skamerig nader. Kort gesprekke volg: Wat is jou naam? Waar kom jy vandaan? Hoe lank is jy al in die kamp? Hoeveel kinders?

Pascale ken die stories van verlange na huise en familie. Stories van siekte en dood omdat hulle nie mediese hulp kan bekostig nie; van die oorlog en hoe hulle gevlug het. Die leë dae terwyl hulle in die kampe sit en hoop om te kan teruggaan huis toe. Met elke berig uit Sirië raak die hoop minder.

Elke dag wat verbygaan, daag nuwe gesinne op en die kampe word ál voller en voller; die kinders wat gevoer moet word, ál meer en meer. ’n Generasie wat nie skoolgaan nie. Die alternatief is egter oorlog, dus is die tentkamp seker tog beter.

Bekommerde ma’s gesels oor tienerkinders wat op plase en soms twyfelagtige plekke werk om die pot aan die kook te hou. Aan die begin het die Verenigde Nasies nog gehelp met melkpoeier en doeke, maar die hulp word nou net aan die armstes van die armes toegewys.

Soms woon ’n vrou in dieselfde tent as die ander vrou wat haar man gevat het en moet hulle die nuwe hiërargie uitwerk. Dit lei tot naywer, bitterheid, woede.

Met al hierdie dinge in haar agterkop speel Pascale en Emile vrolik met die kinders tussen die reusevullisdromme. Regtig! Kan iemand nie die goor goed na ’n beter plek skuif nie?

Later sit hulle sommer net en gesels met die kinders. “Mag ons weer met jou hare speel?” vra van die dogtertjies – dit is elke keer dieselfde storie. Hulle maak beurte om haar bos swart krulhare te probeer vleg, en dan weer pynlik met hulle vingers uit te kam en oor te vleg. Sy laat hulle begaan.

“Sjoe, dit lyk mooi!” Te oordeel aan die vonkel in Emile se oë is die teendeel sekerlik waar. Sy glimlag onderlangs, haar binneste warm. Sy sal vanaand die kinderhandjies uit haar hare was, maar tot dan speel sy model.

“Weet jy wat het ons gister gedoen?” vra ’n oopgesigseuntjie van ongeveer agt jaar oud vir Emile.

“Nee, vertel vir my?”

“Ons het klippe voor die tente gepak vir die modder wat kom as dit begin reën.”

“Sjoe, regtig? Het julle al daardie klippe gedra? Ek het nie gedink jy het sulke sterk spiere nie!”

“Ja, ek het die meeste gedra, my boetie wou nie help nie.”

“Is nie, ek hét gehelp!”

Albei is kaalvoet, ten spyte van die koue wat reeds begin byt.

“Ek het die meeste gedra.” Hulle stamp aan mekaar.

“Dit is ’n slim plan om klippe te gebruik,” probeer Emile ’n bakleiery afweer. “Help dit vir die sneeu ook?”

“Ja, maar net tot die sneeu begin smelt, dan begin die water deur die tente loop. Dan word alles nat en koud,” antwoord die ouer seun.

’n Dogtertjie van ongeveer tien jaar oud kom staan langs Pascale, raak sag aan haar skouer. Sy kyk op en glimlag.

“Ja, poplap, kan ek iets vir jou doen?”

Sy knik.

“Wat kan ek doen?” vra Pascale.

“Sal julle vir ons kom skool gee?” vra die kind.

Alle ander geluide word uitgedoof en dit is asof net sy en die dogtertjie in die oomblik bestaan. Die intelligente oë wat haar vraend aankyk, ruk aan Pascale se hart. Sy het geen antwoord en geen verweer teen die vraag nie. Sy druk die kinderhandjie ’n oomblik vas en belowe: “Ek sal kyk wat ons kan doen, reg so?”

Die dogtertjie glo haar. Sy knik en stap weg.

Here! Hierdie kinders! Wat kan ons doen?

Eva roer die groot houers bredie terwyl sy dit opwarm op die gasplate. Saleh sny en smeer ’n magdom broodjies en pak bekertjies uit om gaskoeldrank te skink. Pascale staan op om hulle te gaan help.

Op pad hoor sy hoe ’n man ’n opdrag skree: “Jaag daardie lastige kinders weg!” ’n Seun kom buitetoe, tel sonder seremonie een van die dogtertjies wat by die tentflap speel aan haar hare op en slaan haar met die vuis in die maag. Die kind val huilend in die stof; die ander dogtertjies laat spaander.

Pascale steek vas en gluur die seun verontwaardig aan. Hy gee haar ’n minagtende kyk en gaan weer die tent binne. Pascale drafstap nader om die dogtertjie te troos.

“Die seuns maak ons altyd seer,” huil die kind.

Pascale se voete en bene pyn van die lank staan toe hulle met die pad oor die berg terugry. Emmanuel slaap op Saleh se skoot en sy wens sy kon dieselfde doen. Die massiewe potte kos en broodjies het blitsvinnig in vuil handjies verdwyn. Volwassenes wat in rye staan vir hul daaglikse brood. Here, wat gaan van hierdie mense word? Here, Here! Mag hulle U hier ontmoet, sodat al hierdie swaarkry die moeite werd is.

Die dogtertjies se woorde spook by haar. “Sal julle vir ons kom skool gee?” “Die seuns maak ons altyd seer.” Die ontsettende nood dreig om haar te oorweldig. Hoe gaan hulle handvol mense ooit by almal uitkom? Soms dink sy dit sal makliker wees om terug te gaan na die gerief van haar ouerhuis en ’n sorgvrye student te wees.

Here, is dit wat ons doen ooit die moeite werd? Help my om sterk te staan en te doen wat U van my vra. Soms voel dit te veel gevra.

Nee, die vet weet, sy is te jonk om so depro te raak. Die lewe is ’n goeie plek – sy kan iets beteken.

Sy herken die liedjie wat oor die radio speel en begin saam sing. Emile draai dit harder. Sy sien in die truspieël hoe hy glimlag. Die ander wat dit ken, val ook in. Hulle is ’n moeë, maar vrolike groep wat laataand in Beiroet aankom.

Die seders van Libanon

Подняться наверх