Читать книгу Die seders van Libanon - Adriana Faling - Страница 11

Ilizabith

Оглавление

RAKKA, SIRIË. OKTOBER 2014

Op 29 Junie 2014 het Ilizabith en die kinders die stad Rakka saam met Khaled binnegery. Hulle het saam aan die geskiedenis geskryf. Die stad Al Raqqah in Sirië is as hoofstad van die kalifaat verklaar. ISIS het reeds op 14 Januarie 2014 hier beheer geneem en sy lede het dit kom beset. Dié helder somersdag was die hoogtepunt van hulle jare lange stryd. Dit was ’n tentpen van die kalifaat wat ISIS diep in die grond kom inslaan het.

Dit was op sy dag mooi – dié stad uit die ou Abbasid-era aan die oewers van die Eufraatrivier, met sy hoefystermure en die bekende poort van Bagdad wat waarskynlik in die agtste eeu gebou is.

Dit was ’n ontsettende verligting: ’n stad! ’n Stad met mense. Ná drie en ’n half jaar in die woestyn was die bekende gesig van strate, verkeersligte en stukkende geboue so welkom dat Ilizabith se mondhoeke effens gelig het. Daar was iets bekends aan die onbekende. ’n Stad. Soos Kaïro.

Aanvanklik was daar nie werklik sprake van mense nie. Angstige asems het in die verflenterde geboue geskuil, gevange geneem in hulle eie tuiste deur ’n vyand wat hom op hulle afdwing. Bevreesde harte wat klop agter mure, gordyne wat behoedsaam weggetrek en haastig weer laat val word voor versplinterde vensters. ’n Reusetronk. Mense, gevangenes soos sy. Sy was tuis!

Die swart Al-Kaïda-vlag was oral sigbaar: voor vensters gehang, oor lamppale en teen mure gedrapeer. Die buitekant van die Daesh-hoofkwartiere was ook swart geverf. Verse van die Koran is bo-oor die swart verf aangebring, verse wat mense herinner aan Allah en sy oordeel. Swart, soos ’n stad in rou, hoewel dit nie die bedoeling is nie. Vir Daesh is swart nie die kleur van die dood nie, maar wit. Swart is Daesh se spesiale kleur. Dit was blykbaar die kleur van die profeet Mohammed se vlag gedurende sy vroeë oorloë. Daarom dra die kalief, Abu Bakr al-Bagdadi, ook net swart. In afgeluisterde gesprekke verklap die Daesh-manne dat hy ure voor die spieël deurbring om sy swart jas en tulband perfek te skik. As sy nie so vreesbevange vir hom was nie, sou sy gedink het hy is verspot.

Daar is geen vlae of foto’s meer van die Siriese president Bashar al Assad te sien nie. Die standbeelde is ook verwoes in direkte opdrag van die kalief. Rakka dra ’n nuwe swart baadjie. Nuwe beheer.

Asof Khaled self die nuwe burgemeester was, het hy hulle begelei en ingelig. Sy en die kinders was die enigste gehoorlede van die gratis toer. Op so ’n dag was hy amper aangenaam. Amper.

“ISIS het die stad kom verander. Ons gebruik Rakka as ’n vertoonkas om ons doeltreffende en welwillende beheer van ’n gebied uit te beeld,” het hy gespog. “Ons het ’n relatiewe hoë vlak van plaaslike dienste gehandhaaf deur so min as moontlik aan die regering te verander. Dit beteken dat die meeste van die staatsamptenare in hulle ou posisies aangebly het, mits hulle natuurlik lojaliteit aan ISIS gesweer het. Ons het wel ons eie lede oor bestaande instellings soos skole of die munisipale hoofkwartier aangestel om seker te maak dat werknemers ISIS se nuwe reëls gehoorsaam. Ons is nie onnosel nie. In ander sektore is die enigste beduidende verandering dat werknemers hul werk moet onderbreek om gebedstye te akkommodeer.”

As buitelandse rekrute is hulle gesin goed behandel en het hulle ’n mooi blyplek gekry in die splinternuwe hoofstad van die kalifaat. ’n Groot drieslaapkamer-wooneenheid was nou hulle tuiste. Die Islamitiese Staat en beter lewe waarvoor Daesh veg, het gestalte gekry en die soldate is daarvoor beloon met goeie behuising. Eers moes die bloedspore skoonmaak word van die vorige eienaars wat met geweld daar uitgesit is. Sy het die herinnering aan die onbekende mense saam met die bloedspatsels afgewas en die woonplek na Khaled se vereistes ingerig.

Khaled was die koning van sy mishoop. Sy het die hoofslaapkamer vir hom gereed gemaak. Mohammed het die kamer van die vorige inwoners se seun vir homself gekry, en sy en Leila deel die dogter s’n. Dit was ’n seën dat sy ’n kamer met Leila moes deel. ’n Baba wat huil in die nag staan Khaled nie aan nie, en daarmee was sy snags van hom ontslae. Leila was haar eie menslike skild. Hy sou nog inkom en bars beveel dat sy die baba moet neerlê en stil kry, en dan weet sy wat kom, maar ten minste het hy hom daarna op die groot dubbelbed in sy eie kamer gaan uitstrek. Wat ’n verligting om nie meer ’n bed met die monster te deel nie.

Die tienerdogter se kamer waarin tienerdrome gedroom is, was soos ’n plek uit die verre verlede. Die klere het haar selfs gepas! Sy het haar verflenterde ondergoed verruil vir die dogter se klere, sonder dat sy Khaled hoef te vra. Mag die dag nooit kom dat sy moet bedel nie!

Daar was nog voordele. Dit was hemels om ná drie en ’n half jaar nie sand van jou matras en by jou kinders se neusgate of mondhoeke hoef weg te vee nie. Bygesê: haar standaarde van die hemel het drasties verlaag die afgelope jare. As jy so naby die hel leef dat jy daagliks die vlamme met jou lyf moet afweer, is dit nie moeilik om te dink dat ’n woonplek in ’n stukkende stad hemels is nie.

Khaled was in die sewende hemel, of hoeveel daar ook al mag wees. Hy was steeds selfvoldaan, arrogant en grootbek, maar in die oortreffende trap. Sy het geweet sy gaan weer deurloop en het so vinnig moontlik kos voorberei en die kinders versorg in die hoop om nie sy gemoedelike bui te bederf nie. Groot oorwinnings moet egter gevier word en sy was die feesmaal.

Haatlike, haatlike man!

Dit was sowat drie maande ná hulle aankoms in die stad, terwyl die manskappe weer een aand by hulle aan huis vergader, dat sy die nuusberig hoor. Een van die manne het die radio daar aangebring. “Na aanleiding van die video-opnames van die gruwelike moorde op die Amerikaanse joernaliste James Foley en Steven Sotloff, het president Barack Obama van die Verenigde State sy soldate teruggestuur na dié streek.”

Haar hart juig toe Khaled grootbek aankondig dat hy weer ’n tyd lank weggaan om te gaan veg: “Ons is reg vir hulle. Die Amerikaners moet ’n ding of twee gewys word.” Sy hoop dit is andersom.

Daar was dikwels tye in die Sinai-kamp toe hy ook langdurig saam met die bendes weg was. Salige, afgesonderde tye waartydens die duiwel hom op ander onsigbare onskuldiges kon gaan uitwoed. Om egter die woestyn in te vlug en te ontsnap, het vir haar onmoontlik gelyk om deur te voer. Hier in die stad is die moontlikhede beter – steeds moeilik en gevaarlik, maar beter. Sy moet haar planne agtermekaar kry.

Leila is koorsig en huilerig. Ilizabith loop op en af en probeer haar sus, maar Leila kalmeer nie. Wat sou haar makeer? Sê nou dis iets ernstigs? Al is sy die tweede baba, verskil sy inherent van Mohammed. Hy was ’n vegter sedert sy geboorte. Sonder medisyne en genade het hy sterk geword in die woestyn. Soos sy pa.

Mohammed was van kleins af die vergestalting van sy pa en sy haatlike gedrag teenoor haar. As hy sou doodgaan van die koors waarmee hy luidrugtig elke tand gesny het, sou dit haar wraak teenoor Khaled wees. Hy het nie.

Die probleem is dat sy meer vir Leila omgee. Leila is anders. Sy is broos en ’n skrikkerige baba.

Die gehuil voel of dit haar kop wil laat ontplof! “Toemaar, toemaar!” Wanneer kom die vroue wat die inkope bring? Sy moet hulle vra om medisyne te gaan kry. Sy het reeds ’n nota geskryf op die enigste stukkie papier wat sy in die huis kon vind. Sal hulle dit dadelik gaan haal of haar tot môre laat wag? Genade is skaars by Daesh.

Leila is ontroosbaar en Mohammed voer al hoe harder oorlog. Hy storm om die hoeke van die sitkamer en skiet die kussings, rol om, skiet weer luidrugtig. ’n Gil van frustrasie en paniek stoot in haar keel op.

’n Dringende klop. Dankie tog, die vroue is hier! Sy loer deur die gaatjie na buite. Daar is twee vroue, gesluier. Leila skree oorverdowend. Sy behoort die abaya aan te trek voor sy oopmaak, maar hoe gemaak met Leila?

Ilizabith twyfel nog ’n oomblik en maak dan tog die deur oop net soos sy is.

Drie vroue kyk ’n oomblik verbaas na mekaar. Dis nie die gewone Daesh-vroue nie. Wie sou hulle wees? Wat maak hulle hier? Hulle het duidelik ook iemand anders verwag, want hulle lyk net so verbaas soos wat sy voel.

“Hallo,” groet een van die vroue met ’n vriendelike stem, maar loer kort-kort oor haar skouer.

Ilizabith knik.

“Ons is op soek na die inwoners van die huis?” vra die ander een. Sy praat vinnig.

Ilizabith knik weer. Hulle is die inwoners. Leila skree steeds. Sy sukkel om op die vroue te fokus en raak verbouereerd.

Die twee vroue kyk vraend na haar en dan na mekaar.

“Is jy familie van Rosarita?” vra die eerste vrou weer. Haar stem is warm.

Ilizabith skud haar kop. Bo in die straat draai ’n oop bakkie in met ISIS-mans agterop. Haar hart mis ’n slag. Haar sluier! Hoekom het sy die deur daarsonder oopgemaak? Aanvanklik kon die vroue in die stad nog hulle gewone oorrokke of abayas dra en het hulle nie nodig gehad om swart handskoene te dra of hulle oë toe te maak nie. Sy het hulle nie beny nie. Sy was die swart mondering al so gewoond en dit het haar gepas om so min as moontlik aandag, veral manlike aandag, te trek. Elke week ná die Vrydaggebede is daar egter nuwe reëls deurgegee. Stelselmatig is vroue verplig om van hul kroon tot hul kleintoontjie swart te dra, net soos sy. Later het vroue geen regte meer gehad nie, ook nie tuis nie, soos sy ook al gewoond was.

Ilizabith begin die deur toemaak, maar sien dan die vroue se gesigte. Hulle lyk ook bang. Sy weet hoe gevaarlik dit vir vroue buite op straat is. Wat moet sy doen? Daar is nie tyd vir dink nie, sy beduie impulsief dat hulle moet inkom. Sy retireer ’n tree en druk die deur haastig toe.

Hulle drie staan ’n oomblik met ingehoue asem na mekaar en kyk. Gaan die bakkie stop of verbyry? As Leila net wou kalmeer; geen mens kan iets hoor terwyl sy so droewig huil nie. Sê nou dis Khaled wat terug is? Asseblief, net nie dit nie!

Die bakkie ry verby. Die vroue kyk verlig na mekaar. Die ouer een steek haar hand na Leila se voorkoppie uit. “Foei tog, sy’s vuurwarm. Is sy siek?”

Ilizabith knik en voel weer die paniek in haar opstoot.

“Tande dalk?” vra die dame.

Ilizabith trek haar skouers op, moedeloos.

Die vrou steek haar hande na die baba uit. “Mag ek?”

Dit kan seker nie kwaad doen nie. Hemel weet, syself het geen idee wat om te doen nie.

Met ’n geoefende vinger voel die vrou aan die tandvleis. Leila bedaar ’n oomblik verbaas voor sy weer haar geskree hervat. Gou sit die vrou weer haar vinger in die nat bekkie. Leila gryp haar vinger vas en suig en suig, snik weer en suig verwoed.

“Sy is nie honger nie, nè?”

Nee, skud Ilizabith haar kop. Sy wou niks drink toe sy haar wou voed nie.

“Kom ons gee vir haar iets kouds om aan te suig en kyk of dit verligting bring. Haar tandvleis is geswel.” Dit klink of sy weet waarvan sy praat. “Soms kry hulle oorpyn van die sinus wat opbou. Jy moet vir haar ’n bietjie pynstroop gee. Het jy iets?”

Ilizabith wys met haar handpalms na bo: Nee.

Die een kyk vir die ander. “Kom ons gaan kyk in Rosarita se kaste, dalk het sy kindermedikasie.” Sy praat met gesag, asof sy die huis ken.

“Ek twyfel, haar kinders is al groot.” Die ander vrou lyk of sy wil vlug.

Hulle maak die sluiers los. Nou kan Ilizabith hulle gesigte sien. Die voorprater is bietjie ouer as Ilizabith se eie ma. ’n Vriendelike, ronde gesig; intelligente oë. Die ander vrou is seker ’n dekade of wat jonger: skraal en stiller.

Die ouer vrou stap vooruit kombuis toe en Ilizabith kan nie anders as om haar te volg nie.

Mohammed het die hele tyd agter die pilaar weggekruip, sien sy nou. Hy kom stil te voorskyn en stap nuuskierig saam kombuis toe.

“Is jou ma tuis?” vra die vrou vriendelik vir Ilizabith. Toe Mohammed om die hoek loer, vervolg sy: “O, hallo! Ek sien hier is jou broertjie ook.”

Dink die vrou sowaar Mohammed is haar broer? Ilizabith wil amper lag daaroor. Sy lyk natuurlik soos die ouer suster. Ilizabith hoop nie Mohammed het dit gehoor nie, hy sal die vrou sommer korrigeer.

“Sy praat nie,” antwoord Mohammed voor op die wa, soos gewoonlik. Hy het geleer om haar stem te wees.

“O?” Die vrou kyk opreg verbaas na Ilizabith.

“Sy praat net met kinders. Sy kan nie met grootmense praat nie,” sê Mohammed weer – groot vir sy skoene, maar op sy ouderdom steel dit altyd harte.

Die ouer vrou neem ’n oomblik om die nuus in te neem, dan komplimenteer sy hom: “Sjoe, maar jy praat goed. Hoe oud is jy nou?”

“Ek gaan drie wees volgende jaar.” Hy wys met drie vet vingers in die lug.

“Sjoe, dis yslik groot! Aangename kennis. Ek is Elspeth en dit is my suster, Saramma. Mag ek julle name weet?”

“Sy is Mara,” Mohammed wys na Ilizabith. “Ek is Mohammed en my babasussie is Leila.”

Die kind weet nie eens wat haar regte naam is nie. Hy noem haar Mara – “vrou”, soos Khaled haar altyd toesnou. Hy het só na haar begin verwys asof haar eie naam irrelevant is. Hy ken nie eens haar naam nie, maar dit pla haar nie; dis veiliger om haar ou lewe te vergeet.

Ilizabith kry ’n ysblokkie uit die vrieskas en die vrou neem dit by haar. Sy stryk geoefen daarmee heen en weer oor Leila se tandvleis. Leila weet nie of sy moet lag of huil nie.

“Daarsy,” praat Elspeth met die babagesiggie. “Voel dit beter?” Leila se handjie klou steeds aan haar hand vas.

“Is julle alleen hier?” vra Elspeth belangstellend.

“Ja, my pa het vir ISIS gaan veg, Almadallah,” lap Mohammed uit.

Die vroue se gesigte verstar merkbaar. Soos dikwels in die verlede is Ilizabith bly dat sy nie praat nie, want nou hoef sy nie ’n verduideliking uit te dink nie.

Saramma draai weg en begin die kombuiskaste een ná die ander oopmaak, maar vind nie waarna sy soek nie. “Nee, ek sien geen pediatriese medisyne nie. Jy sal moet gaan kry,” sê sy vir Ilizabith.

Hoe? As sy kon, het sy dit lankal gedoen.

“Weet jy waar die apteek is?” vra die ander vrou, Elspeth.

Nee, skud Ilizabith haar kop.

“Wanneer kom jou ma terug?” vra sy.

“Sy het nie ’n ma nie,” antwoord Mohammed slim.

Die vrou frons en begrip flits in haar oë. “Hm, en jy mag nie alleen uitgaan nie?” Met haar blik op Saramma neem sy ’n besluit: “Ons sal vir jou gaan koop.”

Die ander vrou lyk of ’n bak water oor haar uitgegooi is.

Ag, dankie tog! Ilizabith haal vinnig die nota met die naam van die medisyne wat sy neergeskryf het uit, voor hulle van plan verander.

Elspeth lees dit. “Dis goed so. Kom, Saramma, ons gaan koop dit gou. Die kind kan nie so huil nie.” Sy oorhandig Leila weer aan Ilizabith, stap na die voordeur en sit haar sluier voor haar gesig. Die ander vrou is bleek, maar volg haar voorbeeld.

“Dit is nie te ver nie, ons sal binnekort terug wees,” troos Elspeth.

Hulle kyk eers deur die loergaatjie, dan op en af in die straat, voordat hulle uitglip en straataf verdwyn.

Die seders van Libanon

Подняться наверх