Читать книгу Die seders van Libanon - Adriana Faling - Страница 14
Pascale
ОглавлениеBEIROET, LIBANON. NOVEMBER 2014
Pascale kom vervaard aan, net-net betyds voor die diens begin en word deel van die los gemaal soos die gemeentelede na binne stroom.
“Bonjour, Pascale.”
Emile! Sy struikel oor die trappies en hy gryp haar elmboog om haar regop te hou.
“O, skuus! Dankie … Haai, Emile,” stamel sy. Flip, hoekom het sy die snooze-knoppie van haar wekker oor en oor gedruk vanoggend? Nou kon sy haar weer nie behoorlik grimeer nie! Sy word rooi tot in haar haarwortels.
Emile glimlag net skeefweg en stap gemaklik verder na binne.
Hoekom kan sy nie meer grasieus wees nie? Sy verander in ’n jellierige pappery nes Emile naby kom – sý, wat gewoonlik manlike belangstellendes se attensies kan aflag. Ruk jou reg, Pascale Nassar. Jy het ruggraat.
Die gemeente hou hulle dienste in ’n ou ondergrondse bomskuiling wat dateer uit die jare lange stryd tussen Libanon en sy bure Sirië en Israel. Plastiekstoele staan styf teenmekaar gepak in die middelslagsaal, en omdat daar nie vensters in die skuiling is nie, kan dit bedompig raak. Op die klein verhogie staan musikante en instrumente gereed vir lofprysing. ’n Houtkruis met lappe gedrapeer is die enigste versiering. Twee elektroniese skerms vertoon die liedere se woorde sodat die gemeente kan saam sing.
Yana, haar man en drie kinders staan heel voor. Hulle loof die Here uit volle bors, met arms hoog gelig. Pascale moet eers die knop in haar keel afsluk voordat sy verder kan sing. Sy hou Emmanuel sommer nog ’n bietjie stywer vas. Hy wriemel los en pyl reguit op Ashraf af waar hy saam met die musiekspan kitaar speel. Pascale drafstap agterna en vang Emmanuel net betyds voor hy op die verhoog klim. Sy het al haar dae om hom weer by hulle sitplek te kry. Gemeentelede glimlag simpatiek.
Huis. Emmanuel is reeds geliefd, al is hulle gesin nog nie lank deel van die gemeente nie. Sy pas vir Emmanuel op omdat sy vir Saleh ’n blaaskans wil gee. Verlig gaan gee Pascale hom later af by die vrywilligers wat die kinderkerk behartig. Nou kan sy darem ook na die preek luister. Ashraf kom sit langs Saleh en sy steek haar hand in syne toe pastoor Youssef begin praat. Sal Emile ook eendag so langs haar kom sit? Hy neem egter ’n sitplek in die voorste ry in en sy donker hare is al wat sy van hom kan sien.
“Ek wil julle vandag weer aanmoedig om Jesus voor oë te hou en ons kerk se roeping in hierdie wêreld te besef en op te neem.”
Oukei, Pascale, vergeet nou eers van jou trouplanne met Emile en fokus!
“Wanneer daar ’n oorlog in Sirië uitbreek en honderd duisende, nou al amper ’n miljoen vlugtelinge oor die grens kom op soek na veiligheid, dan moet ons verstaan dat God nie daardeur onkant gevang is nie. Ons is miskien, maar nie Hy nie. Net die Almagtige God van die heelal kan dit regkry om ’n terroristeorganisasie soos ISIS te gebruik om as evangelis vir die kerk op te tree. ISIS het hierdie mense reg in ons arms ingestuur. Ons moet onvoorwaardelike liefde aan hulle bewys, daarteen is niemand bestand nie.”
Dit is so anders as wat haar eie Libanese familie daaroor dink. Hulle is baie negatief oor die vlugtelinge en kan nie verstaan waarom sy haar lewe aan hierdie saak wil wy nie.
“Vriende, die tyd van slaap is verby, fisies en geestelik. Ons as gesin staan soggens vroeg op en val saans laat gedaan in ons beddens. Ons koop die tyd uit. Ons kan nie bekostig om minute te mors nie. Soms is ek so moeg dat ek net kan huil. Dan gaan huil ek by God. Hy versterk my en gee my nuwe krag dat ek kan bid: ‘Gee my nog een, Vader, net nog een, net krag vir nog een – en nog een en nog een.’ Siele! Siele wat ek kan aanraak met die liefde van die Vader. Dink wat kan gebeur as ons elkeen elke dag begin bid vir net nog één, en nog een? Vriende, ons weet nie of ons nog ’n môre het nie, ons moet die dringendheid van vandag besef.”
Dus raak pastoor Youssef ook soms moeg? Hoe bevrydend om dit te hoor! Soms voel dit of sy sleg afsteek by sy gesin wat klaarblyklik sonder einde aanhou dien.
“Ek verstaan dat baie van ons negatiwiteit in ons harte ronddra aangaande hierdie mense. Ons voel ons moet ons land en ons werkgeleenthede beskerm. Julle sê vir my: ‘Ons sal altyd onthou wat hulle tydens die besetting aan ons en ons vroue en ma’s gedoen het. Ons sal hulle altyd haat.’ Julle sê vir my dat ek hulle nie ken nie: ‘Siriërs het ’n donker kant. Siriërs is selfsugtig. Hulle het so baie kinders, wetende dat hulle moontlik nie vir hulle sal kan sorg nie. Hierdie kinders het geen gesondheidsorg nie, en die meeste sal nooit skool toe gaan nie.’ ”
Ja, dit klink soos van die argumente wat Pascale al by haar ouerhuis moes verdedig.
“Julle sê die Siriese vlugtelinge self bevorder slawearbeid. Hulle stuur nie hulle kinders skool toe nie, maar dwing hulle eerder om in die veld te werk. Die ouers gee dan die geld uit. Hulle steel by ons, hulle vat ons werk af, hulle slaan hulle vroue en behandel hulle kinders sleg.
“Ons moet egter onthou dat God ons ook liefgehad het voordat ons tot bekering gekom en ons lewe in orde gebring het. Hy was vriendelik met ons toe ons Hom gehaat het, Hy het ons liefgehad voordat ons enige liefde in ons gehad het. Dit is God se karakter van liefde wat ons moet openbaar.
“As ons liefdeloos gaan optree, as ons hierdie mense gaan sien as ’n bedreiging, as vlugtelinge en as vyande, gaan hulle vlugtelinge en vreemdelinge bly. Ons kies eerder om hulle te sien as kinders van God, gemaak na sy beeld.”
Pascale kan dit probeer verduidelik aan haar familie, maar sy twyfel of hulle dit so sal insien.
“Daar is reeds sprake dat die grense tussen Libanon en Sirië toegemaak gaan word. Ek glo dat dit slegs ’n vensterperiode is hierdie wat God vir ons as kerk gee om sy liefde aan hierdie verlore geslag te bewys. Die winter is op ons en daar is mense wat in koue tente in die sneeu gaan slaap. Daar is kindertjies wat niks anders ken as hierdie kamplewe nie. O, mag die Here ons genadig wees as ons nie sy hart van medelye vir hierdie mense wys nie!”
Die gesiggies van die kindertjies wat in die stof speel, die vuil handjies in haar hare. Here! Ons moet hulle help.
“Daar is ook mense hier in ons eie gemeente wat groot nood ervaar.” Hy kyk vriendelik na Yana en haar gesin. “Ons wil elke een kan help, ons wil kan uitgaan en gee. Ons het tyd en hande nodig, ons het mense nodig wat opofferend gee. Eer jou broers en susters van Sirië met woorde van seën, seën hulle met geld en met hulp. Ek wil jou verseker dat dit ’n beter belegging is as enigiets anders wat jy met daardie geld kan koop.
“Nou weet ek dat ek sekerlik vir die bekeerdes preek. Hier is so baie van julle wat alreeds alles gee wat julle het. Julle gee julle lewe. Ek eer julle, ek eer julle toewyding en ek eer die voorbeeld wat julle stel. Ek wil julle aanmoedig om te volhard, ek wil julle bemoedig met die woorde van Psalm 126:5 wat sê: ‘Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring.’ Ek wil julle aanmoedig om hardkoppig te wees, vir die Here. Druk deur, en mag jy nog dieper onder die indruk van die vrees van die Here kom sodat ons nog meer aan onsself kan sterf en dat Hy deur ons kan werk.”
Lank ná die diens verby is, maal pastoor Youssef se woorde nog deur haar kop.
Dit is ’n dag of wat later, toe sy en Saleh tee drink, dat sy die vraag vra: “Pascale, ons wil hoor wat jy dink. Ek en Ashraf het gepraat oor wat ons nog kan doen en kan gee. Yana en haar gesin se omstandighede lê swaar op my hart.”
Pascale kan ook nie ophou dink aan hulle nie.
“Ons wil hoor of jy sal saam bid en dink of ons hulle moet nooi om by ons te kom bly, totdat hulle op hulle eie voete kan staan? Dit sal uitdagende omstandighede wees, maar dit is die enigste manier waaraan ons kan dink om die gesin te help.”
Pascale se hart sink in haar skoene. Nog ’n hele gesin by hulle in die woonstel? Syself het by die Samirs ingetrek kort nadat hulle in Beiroet aangekom het. Pastoor Youssef en Eva het die woonstel beskikbaar gestel vir die gemeente se voltydse werkers. Die spanning in haar ouerhuis was onhoudbaar en sy het die skuif verwelkom.
“Hoe het julle gedink om dit te doen?” vra sy.
“Wel, Emmanuel kan by ons in die kamer slaap, en Yana en haar man Nizar in die kamer waar Emmanuel nou bly. As jy dalk kans sien om met die dogtertjie, Sandra, te deel, kan hulle twee seuns, Junaïd en Mathai, op die banke in die sitkamer slaap?”
Pascale kan nie dadelik antwoord nie. Sy het nog nooit voorheen nodig gehad om ’n kamer te deel nie. Sy het reeds ’n lieflike kamer in haar deftige ouerhuis opgegee. Nog ’n stukkie van haar gerief wat sy moet neerlê. Here, ek kruisig ook die reg op privaatheid. Help my om hierdie offer met blymoedigheid te bring, Here! Ek voel jammer vir hulle, maar die woonstel gaan so beknop wees.
“As julle dink dit is die regte ding om te doen, dan is dit goed so,” sê sy egter. Sy wens dit was vir haar makliker.
So kom dit dan dat Yana en haar gesin tydelik by hulle in die woonstel intrek. “Ek het nooit geweet ’n mens kry Egiptiese sendelinge nie,” sê Yana een aand ná aandete. Hulle sit elkeen met ’n koppie soet tee in die hand. Dis koud en nat buite en gesellig binne met die kinders saam om die etenstafel, ingeryg soos sardientjies.
“Daar is eintlik nou reeds heelwat van ons wat opgelei is en uitgestuur word, veral na die res van die Moslemwêreld. Omdat ons Arabies praat en die kultuur verstaan, is dit vir ons makliker om aanvaar te word as byvoorbeeld iemand uit die Weste,” verduidelik Ashraf.
“Hoe het julle hier in Libanon beland?” vra Nizar.
“Ek en Ashraf kom uit ’n Moslem-agtergrond. Ons het in Egipte tot bekering gekom, nadat ek jare gesukkel het om swanger te raak. ’n Christendokter het vir ons gesê dat daar niks is wat sy vir my kan doen nie behalwe om vir ons te bid. Sy het gebid in die naam van Jesus. Daarna het ek swanger geraak,” glimlag Saleh. “Ons kon nie meer twyfel dat Isa bestaan nie en dat Hy die seun van die ware God is nie.”
“Haar ouers en broer was reeds oorlede, maar my familie was woedend toe hulle uitvind dat ons tot die Christendom oorgegaan het,” sê Ashraf. “Hulle het ons gevange geneem om ons te oorreed om terug te draai na Islam.”
“Ashraf het my help ontsnap, maar hy is nog maande lank deur hulle gevange gehou terwyl ek weggekruip het,” vervolg Saleh. “My vorige werkgewers was buitelandse Christene en hulle het my versteek. Dit was ’n aaklige en onseker tyd in ons lewe. Ek het nie geweet wat van Ashraf geword het en hoe ek en ons kind sou oorleef nie. Hy was nie seker waar ek was en of ek veilig was nie. Ons kon albei net op die Here vertrou.”
Pascale ken reeds die storie, maar word nooit moeg daarvan om dit weer te hoor nie. Die kinders luister ook aandagtig.
“My broers het my ná maande se aanhouding vergiftig en in die Nyl gegooi vir dood.”
Yana trek haar asem skerp in. “Dis aaklig! Jou eie familie?”
“Ja,” antwoord Saleh. “Ons bekering tot die Christendom was ’n baie groot skande vir die familie. ’n Vriend van ons wat op die luukse Nylbote werk, het dit gelukkig sien gebeur en Ashraf se lewe gered. Hy het my ook vroeër help ontsnap – ons is albei ons lewens aan Farouk verskuldig. Hy het Ashraf versorg tot hy sterk genoeg was om te reis.”
“Ek het toe uiteindelik by Saleh aangesluit by ’n Christen-dissipelskapsentrum in die woestyn waarheen haar werkgewer haar geneem het. Ek was nog verswak, maar oorstelp om betyds te wees vir Emmanuel se geboorte kort daarna,” vul Ashraf aan.
Yana skud haar kop verstom. “Genugtig, dit is genade!”
“Dit was ongelukkig nie die einde nie.” Ashraf se gesig versomber. “’n Paar weke later het daar ’n rewolusie in Egipte uitgebreek met die Arabiese Lente.”
“Ja, ons weet daarvan,” knik Nizar.
“Wel, ek wou opsluit deel hê daaraan. Saleh het my gesmeek om dit nie te doen nie.” Hy kyk na Saleh terwyl hy die bekentenis maak. “Ek het soos gewoonlik my eie kop gevolg en is uiteindelik Kaïro toe, waar my broers my raakgesien het en weer gevange geneem het.”
“Agge nee! Wat het hulle gedoen?” vra Junaïd meegevoer.
“Hierdie keer het hulle ons seun geëis in ruil vir Ashraf se lewe,” sê Saleh. “Toe ons weier, het hulle ’n groot losprys gevra.”
“Dit klink soos ’n fliek,” sê Yana. “Wat het toe gebeur?”
“Saleh en Emmanuel was saam met Christene uit Suid-Afrika per bussie op pad terug na die sentrum in die woestyn,” Ashraf se stem is skor. “My broers het die groep in ’n lokval gelei.”
“Hulle het aangedring op Emmanuel in ruil vir Ashraf se lewe,” neem Saleh oor. Emmanuel self sit grootoog en luister. Sy sit haar arm om hom voordat sy verder vertel: “Toe ons steeds weier, het hulle skote afgevuur. Die vriend uit Suid-Afrika het voor Emmanuel ingetree en is doodgeskiet.”
“Petrus het sy lewe vir my seun gegee.” Ashraf se donker oë lyk waterig.
Die stilte is tasbaar. Selfs al ken die kinders hierdie tipe geweld, is Pascale oortuig dat ’n mens dit nooit gewoond raak nie.
“Petrus het ’n vrou met drie kinders agtergelaat. Salomé is haar naam,” sê Ashraf. “Dit is goed om myself daaraan te herinner dat ons die meeste moet maak van hierdie tweede kans, die lewe saam wat God aan ons gegee het. Die prys wat daarvoor betaal is, was te hoog om dit op te mors of nie ten volle te benut nie.”
“Dit het alles vir ons verander,” vervolg Saleh. “Ons kon nie na ons vorige bestaan teruggaan nie. Ons het probeer, maar dit het ons leeg gelaat, en die wind was uit ons seile. Dit was buitendien te gevaarlik. Sover ons weet, het Khaled, Ashraf se oudste broer, uit die land gevlug, maar die res van sy familie was steeds ’n bedreiging. Ons het besluit om voltyds die dissipelskap-opleidingskool by te woon en as sendelinge opgelei te word. Dit was die beste besluit van ons lewe, naas om Isa te volg.”
“Dit is wat ons die afgelope drie jaar gedoen het. Dit was ’n wonderlike tyd en terselfdertyd moeilik – ’n tyd waarin ons die Here moes leer vertrou vir elke ding wat ons nodig het. God is getrou en Hy doen wonderwerke! Hou altyd aan Hom vas.” Ashraf se stem dra gesag.
“Ons glo dit ook.” Yana vou haar servet in kleiner blokkies. “Dis net party dae so moeilik wanneer ons na ons omstandighede kyk.”
“Ek hoor jou.” Saleh druk haar hand.
“Ek weet nog steeds nie hoe julle in Libanon beland het nie?” vra Yana.
“Ja, genugtig, ons het die storie nou ver gaan haal,” grinnik Ashraf skeefweg. “Nadat ons klaar was met die opleiding, het ons gehoor van die gemeente wat hier werk onder die vlugtelinge. Ons was aangespreek deur die nood, maar ons het nie geweet hoe ons in Libanon sou kom nie. Dit was duur en het onbereikbaar gelyk. Ons het gebid en gevas en die Here het ons toe met pastoor Youssef en Eva in kontak gebring.”
“Hulle het ons gehelp om hierheen te kom en ons voete te vind. Nou werk ons nog uit presies hoe ons moet help,” sluit Saleh die vertelling af. Sy glimlag vir Pascale. “Soos jy, Pascale.”
“Jy is oorspronklik van Beiroet, nè?” vra Yana.
“Ja, ek het hier grootgeword.”
“Is jou hele gesin by die kerk betrokke?”
Juis die vraag wat Pascale nie wil antwoord nie! “Nee, my ouers is Maronities.”
Die stilte wat daarop volg, laat haar verplig voel om te verduidelik: “Ek het destyds saam met my beste vriendin ’n diens kom bywoon en tot bekering gekom. Sy is kort daarna deur ’n bus raakgery en is op slag dood.”
“Dis vreeslik!” Yana klap haar hand voor haar mond.
Adeline wat in ’n poel bloed lê, haar kop stukkend teen die sypaadjie, die lewe weg uit haar oë. Pascale sidder. Gaan daardie beeld nooit weggaan nie?
“Ja, dit was. Alles het daardie dag vir my verander. Die lewe is kort en ’n mens moet elke oomblik laat tel vir die Koninkryk. Ek doen daarom nou eers ’n diensjaar by die kerk en sal dan kyk wat die toekoms inhou.”
“Ons is gelukkig om iemand soos jy te hê. Dit is nie elke jong mens wat bereid is om sy lewe toe te wy nie,” probeer Saleh troos.
Sy bedoel dit goed, maar dit maak Pascale vanaand ongemaklik. Sy haat dit as die ou wonde oopgekrap word, weerloos voor die intensiteit daarvan. “Kom ons praat weer wanneer die jaar verby is en kyk of ek nie te veel skade aangerig het nie,” probeer sy dit aflag. “Ek stem vir ’n kaartspeletjie, wie wil saamspeel?”