Читать книгу Die seders van Libanon - Adriana Faling - Страница 7
Ilizabith
ОглавлениеPORT SAID, EGIPTE. 30 APRIL 2011
Hy is kwaad. Ilizabith hoor dit aan die gebulder van sy stem. Nie dat hy ooit anders praat nie. Hy is kwaad gebore. Wanneer hy by die huis instap, verander die atmosfeer altyd: almal loop op eiers en dans na sy pype. Nou klink hy egter baie kwaad.
Sy is bang. Om bang te wees is vir haar tweede natuur, soos asemhaal, maar nou is sy banger as gewoonlik. Sy wag met ingehoue asem, hoor hoe hy bevele blaf. Hy storm met die trappe op, harde voetstappe. Dankie tog! Hy gaan na Eboni se kamer. Ruk die deur oop.
“Pak my tas en maak gou!” Sy hoor elke woord wat hy skree.
Die voetstappe draai terug en storm met die trappe af. Hy bars by haar kelderkamer in. Ilizabith se maag ruk. Khaled kyk haar met veragting aan en spoeg op die grond. Sy krimp ineen.
“Pak jou goed, kafir! Jy kom saam met my.”
Sy sit versteen op die bed. Hy pluk haar aan haar arm regop en gooi haar teen die grond. Vloek. “Ek het gesê: pak!”
Hy verdwyn om die hoek van die kamerdeur.
Sy spring op en ruk die kasdeure oop waaragter haar karige besittings is. Waarin kan sy haar goed pak? Sy hardloop op na Eboni se kamer en klop versigtig. Geen antwoord nie. Sy huiwer. Klop weer.
Eboni pluk die deur oop. “Wat is dit? Jy weet tog ek moet vir hom pak!”
“Hy sê ek moet ook pak, Eboni, maar ek het nie ’n tas nie.”
Die ouer vrou kyk haar met soveel haat aan dat sy innerlik ineenkrimp. Eboni stap na die kas, ruk ’n tas uit en slinger dit in haar rigting.
“Shukran,” prewel sy ’n dankie terwyl sy dit optel.
Sy hardloop terug na haar kamer en bondel die enkele besittings in die tas. Sy gryp die swart abaya van die haak agter die deur en bind ’n hijab om haar kop om haar hare te bedek.
“Taal jai, mara!” jaag hy haar aan.
Haar hart klop in haar keel. Fokus, Ilizabith! Sy probeer dieper asemhaal. Dit sal die eerste keer wees dat sy haar buite die gevangenis van die huis bevind. Miskien kan sy wegkom …
Buite staan die motor reeds gereed. Onder die dekmantel van die donkermaan klim hulle in. Sy sit alleen op die agterste sitplek, in die verste hoek van Khaled af. Sy is vreemd bang om die bekendheid wat die huis bied, agter te laat.
Sy probeer die omgewing deur haar venster bespied, maar Khaled gee haar nie kans om te sien waarheen hulle ry nie. “Lê plat!” Sy spits haar ore om die mans se gesprek te volg.
“Wat het gebeur?” Die bestuurder is duidelik net so nuuskierig soos syself.
“Dinge het skeefgeloop.” Khaled is kortaf. “Ek wou my broer se baba skiet, maar toe tref ek ’n buitelander. Hy’s dood.”
Ashraf lewe dalk nog!
“My gesig hang teen al wat ’n lamppaal is soos wat die internasionale media hierdie ding uit proporsie blaas.” Khaled se stem is grof. Hy is nie net kwaad nie, hy is bang ook. Só het Ilizabith hom nog nooit gehoor nie. Sy hoop hulle vang hom en hang hom op.
“Wat gaan jy nou maak?”
“My vriende by die Moslem Broederskap het vir my ’n paspoort gereed. Ek moet vanaand nog oor die Suez en dan sluit ek by die weermag in Sinai aan.”
“Watter weermag?” Die man agter die stuur is net so verbaas soos sy.
“Die MB se weermag. Die rewolusie het vir ons die geleentheid gegee om hierdie land vir Mohammed – vrede en seën van Allah heers oor hom – terug te wen.”
“En die meisie?”
Ilizabith hou haar asem op.
“Die heidense slet hier agter?” Khaled lag lelik en draai effens skuins om na haar te kyk. “Sy gaan saam. Sy is my gyselaar, my menslike skild en my afleiding as die dae te lank raak.”
Ilizabith wil gil, maar dit sal nie help nie. Sy moet dink. As die motor stop, kan sy miskien die deur ooppluk en hardloop. As sy net deur die venster kan sien of daar wegkruipplek is. In die ooptes staan sy nie ’n kans nie. As hulle haar inhaal en vang, sal sy dit sekerlik nie oorleef nie – sy ken Khaled se woede.
Die geselskap het opgedroog. Die mans se sweetreuk, gemeng met dié van haar eie vrees, hang in die lug. Sy sal ’n kans moet vat en uitspring, maak nie saak hoe die omgewing lyk nie. Sy moet hardloop soos sy nog nooit in haar lewe gehardloop het nie; in die see of in die Suezkanaal spring as dit moet. Hulle gaan haar nie weer vang nie.
Sy maak seker dat die deurknoppie gelig is. Haar hand vou om die deurhandvatsel. Sy visualiseer hoe sy uitspring en rol wanneer sy land. Haar liggaam is snaarstyf gespan. Sy skraap al haar moed bymekaar. As hulle net weer wil praat! Dit voel of haar hartklop en asemhaling die binneruimte vol weergalm.
Die motor rem effens, ry oor ’n hobbel. Nou! Sy pluk hard aan die handvatsel en stamp met haar lyf teen die deur. Dit gaan nie oop nie! Die kinderslot!
Khaled swaai om, ruk haar terug aan haar hare wat uit die kopdoek losgekom het. Sy vuis tref haar kakebeen. Die pyn skiet tot in haar skedel. Sy gil. Haar hande skerm vir haar gesig.
“Jy dink jy sal dit regkry om te ontsnap, hè?” Khaled vloek. “Dink jy regtig dat jy weer na jou pappa en mamma kan terugkruip?” Sy asem is walglik. “Vergeet dit, my meisie. Niemand wil jou meer hê nie. Jy is opgebruik! Jy is niks meer werd nie. Boonop sal ek jou jaag tot aan die uithoeke van die aarde, jy sal nêrens veilig wees nie. My broer het ook gedink hy kan vir my wegkruip en ek het hom uitgeruik. Moenie dink dat jý, ’n onnosele kind, van my sal kan wegkom nie. Maak vrede daarmee dat jy nou aan my behoort.” Hy stamp haar op die agterste sitplek terug.
Daar is bloed in haar mond. Die pyn is verskriklik. Het hy ’n tand stukkend geslaan? Dit voel so. Die trane brand die stukkende plek in die hoek van haar mond. Nee, sy sal nie hardop huil nie! Sy byt met haar seer mond op haar vuis en sluk die snikke terug. Dom, dom, dom, Ilizabith! Natuurlik sou hy die kinderslot aktiveer. Hy sal haar nou soos ’n valk dophou. Haar kans is in die wiele gery.
Uiteindelik kom die motor tot stilstand. Ilizabith durf nie kyk waar hulle is nie. Sy lê doodstil terwyl die hoop stadig uit haar uitbloei. Sy het geglo dat as Ashraf kon ontsnap, hy haar ouers sal kan vertel waar sy is. Indien Khaled haar egter oor die Suezkanaal vat, is die kanse skraal dat hulle haar ooit weer sal vind.
“Waar moet ons wees?” Die bestuurder gee duidelik ook nie ’n snars om oor haar welstand nie.
“Dit is gereël dat ’n veerboot ons oor die kanaal sal neem tot in Port Fouad.”
Ilizabith het dié naam op skool geleer. Port Fouad en Port Said is tweelingstede wat deur die smal Suezkanaal van mekaar geskei word. Hulle verlaat dus nou die Afrika-vasteland en beweeg na Asië se kant van Egipte. Hoe graag wou sy nie op hierdie veerboot vaar en dit beleef nie. Nou het haar droom in ’n nagmerrie ontaard. Elke kilometer wat hulle ry, is nog ’n kilometer verder van haar ouerhuis.
Khaled maak sy venster oop en ’n gedempte stem in die donker beduie waarheen hulle moet gaan. Sy het geen benul meer van tyd nie. Hulle ry stadig tot op ’n onstabiele oppervlak. Die veerboot? Moet wees. ’n Enjin begin dreun en hulle beweeg stadig die onbekende in.
Die bestuurder klim uit en leun teen die motor terwyl hy ’n sigaret aansteek. Soos altyd wanneer sy alleen in Khaled se teenwoordigheid is, trek haar keel toe. Haar saamgeklemde vuiste sweet. Die stilte is dik. Khaled tik-tik met sy vingers teen die paneelbord. Dan ruk hy die motordeur oop en klim uit.
Dankie tog! Sy haal dieper asem. Haar spiere kramp van ineengekrimp lê. Sy strek haar effens uit op die agtersitplek, vat versigtig aan haar gesig. Dis reeds opgeswel en dit pyn genadeloos. Sy het geen verweer meer nie. Haar trane drup stil op die onsimpatieke bekleedsel.
Later voel sy hoe hulle stadiger beweeg en vasmeer. Die mans klim terug in die motor en die enjin draai. Hulle ry die donker in, weg van die lewe wat lank gelede bekend en veilig was. Magteloosheid hang soos ’n kleed oor Ilizabith. Sy ril koulik. Sy knyp haar oë toe en onthou hoe haar ma haar snags kom toedek met ’n warm kombers.
Sy word wakker. Dit is ligdag. Khaled se kop rus skeef teen die sitplek. Hy slaap. Die bestuurder is gefokus op die pad. Sy waag dit om haar effens op te lig en by die venster uit te kyk. Die bestuurder slaan geen ag op haar nie. In die vroeë oggendlig sien sy net bleekwit woestynsand om haar uitstrek.
’n Doodse vrees neem van haar besit. Wat gaan hier van my word? Desperaatheid wurg haar.
Khaled se kop roer en sy val plat.
“Is ons amper daar?” Hy strek hom uit.
“Nog so twintig minute se ry.”
Khaled loer om die sitplek en sien dat sy wakker is. “Ons is amper by ons nuwe huis, my duifie.” Hy lag sarkasties.
Sy knyp haar oë toe.