Читать книгу Die seders van Libanon - Adriana Faling - Страница 16

Pascale

Оглавление

BEIROET, LIBANON. DESEMBER 2014

Die woonstel waar daar tans nege mense woon, toets Pascale se karakter meer as wat sy wil toegee. Dalk moet sy tog terugtrek na die gerief van haar ouerhuis? Almal is binne ingehok omdat die dae so koud is. Klein Sandra wat met haar ’n kamer deel, is alomteenwoordig, of so voel dit. Sy is ’n liewe kind, maar aap amper alles na wat Pascale doen. Sy kam haar hare soos Pascale s’n, wil haar grimering gebruik en kyk knaend op haar foon wanneer daar ’n boodskap inkom. Boonop volg sy Pascale oral rond. Pascale wou haarself al in die badkamer toesluit vir ’n blaaskans, maar dit is veral ’n gewilde plek aangesien daar so baie mense is wat dit deel. Buitetoe kan sy nie vlug nie, want dan jaag die koue haar weer binnetoe.

Saans wanneer die dogtertjie in kinderlike onskuld lê en slaap, val Pascale op haar knieë neer. Here, help! Miskien maak dit die lewe vir almal makliker as sy uittrek? Maar sien sy kans vir die spanning by haar ouerhuis?

“Ek kan nie verstaan dat ’n talentvolle kind soos jy, met skitterende resultate, nie wil studeer nie!” Haar pa se netjies versorgde rekenmeestervingers tik gefrustreerd op die tafel.

“Dit is nie dat ek nie wíl studeer nie, Pa. Net nie nou al nie. Ek is nie heeltemal seker wat ek wil studeer nie, en ná Adeline se dood wil ek iets sinvols met my lewe doen. Ek wil ’n verskil maak. Daarom voel ek regtig gelei om eers die diensjaar by die kerk te doen.”

“Gelei deur die Heilige Gees?” Haar ma is skepties gebore.

“Ja, Ma.” Sy kan self hoor hoe belaglik dit vir haar ouers moet klink.

“Ek moes jou nooit saam met Adeline na daardie Evangeliese Kerk toe laat gaan het nie.” Hoeveel keer het haar pa dit al herhaal? “Wat is fout met ons kerk?”

Sy gaan nie antwoord nie. Hierdie gesprekke loop altyd op ’n dooie punt uit. Dit is aaklig om haar ouers teleur te stel. Met hulle sterk Franse agtergrond het hulle ’n fyn opvoeding, hoëgehalte-opleiding en ’n stabiele toekoms vir haar beplan. Om hulle oudste dogter toe te laat om met die laagste van die laagstes in die samelewing, die vlugtelinge, te werk, was ’n buitensporige versoek. Sy was egter vas oortuig dat dit was wat sy moes doen.

Uiteindelik het haar pa bes gegee: “Een jaar. Net een jaar, dan skryf ons jou in by die universiteit.” Pascale besef dat sy nie ’n woord moet sê nie, en ook nie te bly moet lyk nie. “En moenie by my kom huil oor die arm kindertjies in die kampe nie, ek het nie geduld met hierdie armlastige nasie nie,” kry hy die finale woord in.

Daarmee was die toutrekkery afgehandel en sy het ’n jaar gewen. Die atmosfeer in die huis was ontoegeeflik. Niemand het haar ooit gevra hoe haar dag was, wat sy gedoen het of wie sy ontmoet het nie. Haar diensjaar was die olifant in die kamer waaroor niemand gepraat het nie. Sy is in wese geïgnoreer. Verduur. Die kind wat hulle teleurstel. Sy moes wegkom by die huis. Dit was onuithoudbaar.

Hier kan sy nog uithou. Môre gaan dit weer beter. Sy kry troos uit Romeine 15: Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.” Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.

Sy het nie bedoel om af te luister nie, dit was bloot dat sy die hele gesprek kon hoor. Saleh en Ashraf het seker aanvaar dat sy saam met Yana se gesin uit is. Intussen is sy so verlig oor die oomblik van vrede dat sy ’n rukkie stil op haar bed gaan lê het.

“Ek wens dit was vir my makliker, Ashraf. Ek wil Yana-hulle regtig graag help, maar dit is moeiliker as wat ek gedink het,” bieg Saleh. “By die opleidingsentrum in Egipte was ons gewoond daaraan om heeldag in ander se geselskap te wees, maar ons het die privaatheid van ons eie woonstel gehad om na terug te gaan. Ek mis daardie luukse.”

“Dit is die sterf-aan-jouself-deel waarvan ons die teorie geleer het, wat ons nou in die praktyk beleef,” praat Ashraf haar moed in. “Ons moet vasbyt.”

Moet sy uit die kamer kom sodat hulle kan sien sy is hier?

“Ek weet. Dis net: vir hoe lank nog? Hulle is gawe mense en die kinders is gehoorsaam en hulle bring hulle kant, maar die spasie is regtig net te klein vir ons almal.” Saleh klink moedeloos.

“Hulle hét oulike kinders.” Ashraf hou van kinders. “Maar hier is skaars genoeg plek om van plan te verander, wat nog te sê van speel!” probeer hy ’n grappie maak.

“Net om reguit te dink, is vir my ’n uitdaging, wat nog te sê om van plan te verander.” Saleh se stem breek. “As die kinders bedags kan skoolgaan, sal dit die saak al baie makliker maak.”

Dalk moet sy net hoes of teen iets stamp. Onseker bly Pascale lê.

“Is die gedeelde kombuis die grootste probleem?” vra Ashraf simpatiek.

“Dis nie net om die kombuis te deel nie, dis om die geloof te hê om ons kos te deel! Ek weet Yana en Nizar dra soveel by soos hulle kan, maar dit lyk of die kinders onversadigbaar honger is!”

“Is Salomé se bydrae al inbetaal vir hierdie maand?” vra Ashraf.

Salomé is hulle vriendin uit Suid-Afrika wie se man oorlede is.

“Ja, dank die Here daarvoor! Alles in Libanon is egter heelwat duurder as in Egipte en die geld wat ons uitkry, is aansienlik minder.” Die bekommernis slaan deur Saleh se stem. “Ek weet ons het dit al duisend keer vir mekaar gesê, maar ons sal nog ondersteuning moet werf, anders weet ek nie hoe ons die mas gaan opkom nie.”

“Die Here weet dit ook, my vrou. Ons moet net aan Hom vashou vir ons daaglikse brood en vir geduld en genade. Hy het ons die afgelope paar jaar versorg en Hy sal dit steeds doen.”

“Ek probeer; glo my, ek probeer! Soms raak ek paniekerig, dan wonder ek wat ons aangevang het om ons kind na hierdie land toe te sleep. Gaan ons dalk net soos hierdie vlugtelinge nie skoling vir ons kind kan bekostig nie en op die broodlyn leef? Ek wonder of Emmanuel altyd soos ’n uitlander sal voel. Die taal stem miskien ooreen, maar die kultuur is beslis anders.”

“Ons moenie weer in die ou patrone van bekommernis verval nie, Saleh. Ons loop ’n pad van geloof en dit is wat God behaag. Ons vertrou Hom vir elke dag se brood.” Nou is Ashraf se stem strenger. “Jy bekommer jou verniet oor Emmanuel. Hy is klein en sal goed aanpas. Hy het die voorreg om in ’n Christenomgewing te mag grootword. Dit is baie beter as om in ons eie kultuur groot te word.”

“Ek weet jy’s reg, my man. Dit is net soms vir my regtig oorweldigend.”

“Dan bid ons,” stel Ashraf voor. “Ons bid totdat ons beter voel.” Hy voeg sommer daar en dan die daad by die woord.

Pascale sit regop en buig haar kop. Help vir Saleh ook, Here. Dit is moeiliker vir haar as vir my, wat nie ’n kind het om voor te sorg nie.

Dit voel of die wolk oor haar brein weggetrek het toe sy die volgende oggend doelbewus vroeg opstaan om Saleh te help ontbyt maak. Saleh kyk verras op en glimlag. “Jy’s vroeg wakker!” Dit lyk of daar vrede in haar hart is. Sy leer baie by hierdie vrou.

“Wat dink jy van pastoor Youssef se Kersfeesplanne?” maak Pascale geselsies.

“Ek weet nie of daar nog iemand leef wat so ’n groot geloof het nie! Ek weet wraggies nie hoe ons gemeente dít gaan regkry nie!” Saleh gee die kaas vir Pascale aan om te rasper.

“Ek hoor jou, maar ek verstaan hoekom hy dit wil doen. Kersfees is ’n spesiale tyd.”

“Kersfees word nie regtig op groot skaal gevier in Egipte nie, in elk geval nie in die kringe waarin ons beweeg het nie,” sê Saleh terwyl sy die koffiekoppies regsit.

“Nie? O, nee, hier in Libanon is dit ’n groot storie, veral onder die Christengemeenskap. Hier in Beiroet hou selfs die nie-Christene daarvan om die glansryke Kerspartytjies in hotelle by te woon. Die uitstallings van poinsettiablomme, Kersfeesliggies en reuse-Kersbome word al hoe gewilder, en die kinders wag natuurlik opgewonde op die besoek van Baba Noël.”

“Het julle gesin ook sulke partytjies bygewoon?”

“Soms, maar net as dit ’n werksfunksie van my ouers was. Ek het grootgeword met die meer religieuse tradisie van klein geboortetonele van Jesus in die krip in die huis gedurende Kerstyd. Die krip is gewilder onder die Maronitiese Christene as ’n Kersboom.”

“Ek het al van die tonele in die vensters gesien. Dit was gebaseer op ’n grot, eerder as ’n stal.” Saleh vryf die glase blink.

“Ja, presies, en dan word dit dikwels versier met gekapte sade soos lensies, hawer en koring, wat ons kinders die weke voor Kersfees op klam watte gekweek het. Dit word beskou as ’n seën vir die huis en ’n plek van gebed vir die meer godsdienstiges.” Pascale gooi die gerasperde kaas versigtig in ’n mooier bakkie.

“Ek sien. Ek weet jou ouers is Maronitiese Christene, maar hoe verskil dit van die Evangeliese Kerk?” Saleh vee haar hande aan die vadoek af voordat sy die tamaties begin opsny.

“In Libanon beoefen omtrent ’n derde van die bevolking hierdie vorm van godsdiens. Dit is ’n ou Siriese vorm van Christendom wat nog met die Katolieke Kerk in verhouding staan. Hulle het byvoorbeeld nog die tradisie om ’n middernag-nagmaaldiens te vier.” Pascale is bly dat sy vroeg opgestaan het. Wanneer laas het sy en Saleh kans gehad om so te gesels? “Jy het nog nie gelééf as jy nie die Kersfees-eetgoed geproe het nie!”

Saleh lag.

“Wanneer mense mekaar oor die Kerstyd besoek, eet jy versuikerde amandels saam met sterk koffie. As kinders het ons altyd ons kieste vol amandels gestop, tot my ouers se groot verleentheid.” Pascale moet lag as sy daaraan terugdink. “Oukersaand of Kersdag, wanneer die hele familie saamkom om fees te vier, word die heerlikste geregte voorberei. My ma en tannies en ouma het ure voor die stoof deurgebring.”

“Jy is gelukkig om sulke wonderlike kleintydherinneringe te hê,” sê Saleh half weemoedig.

“Ja, ek is.” Dit is goed om dit weer te besef. “Op Kersdag wens ons mekaar ’n gelukkige Kersfees toe: Joyeux Noël! Dit is nou weens ons Fenisiese agtergrond. Jy sal dikwels hoor dat enkele Franse frases behoue gebly het hier. Jy kan ook op Arabies sê: ‘Eid Milad Majid’, of ‘Kul’am waa Bi-Khair’.

“ ‘Glorieryke geboortefees en goeie wense toegewens vir elke jaar’ – dit is mooi!” sê Saleh.

“Was julle al in Byblos?” Pascale haal die platbrode uit.

“Nee, nog glad nie.”

“Ons moet vir Ashraf vra, dan gaan wys ek julle!” Pascale se gemoed lig sommer by die gedagte daaraan. “Daar is nie net reuse-Kersbome – tot dertig meter hoog – nie, maar hulle versier ook die strate en die markte. Dit is soos ’n sprokie. Die hele maand lank heers daar ’n feestelike stemming en word die dabkeh oral om dié bome gedans.” Sy en Adeline het altyd soveel pret saam gehad daar.

“Dit klink baie plesierig! Dit is ’n fantastiese idee dat ons almal bietjie hier uitkom.” Saleh breek eiers in ’n pan.

“Ja, maar met die koue, nat weer is die prentjie in die vlugtelingkampe glad nie so vrolik nie.” Pascale vind die gedagte skielik besonder somber.

“As ’n mens boonop van die Moslemgeloof is, wat nie in Jesus as die Verlosser van die wêreld glo nie, is die Kersseisoen allesbehalwe iets om na uit te sien.” Saleh woel met die spaan in die pan.

“Ja, daarom het Youssef en Eva besluit om ’n bietjie van die Kersvreugde met die vlugtelinge in die kampe te probeer deel.”

“Jip, maar om vir al die mense van een van die kampe ’n Kersmaal te voorsien, lyk vir my na ’n onbegonne taak. Om net die geloof te hê dat ons al nege in die woonstel elke dag genoeg kos gaan hê, is al ’n uitdaging vir my geloof,” sê Saleh onderlangs, voordat sy met ’n knipoog uitstap met die eierpan.

Dit is ’n logistieke nagmerrie om vir honderde mense te kook en te sorg dat almal gelyktydig warm kos kry. Die gemeente het ’n saal met ’n kombuis met industriële oonde gehuur. Die kostes daaraan verbonde, om nie eens te praat van die kos wat voorsien moet word nie, is hemelhoog. Vir Pascale, wat die afgelope paar maande geleer het om elke sent om te draai, is dit weer eens ’n saak van geloof in aksie. Hulle kan net die Here vertrou, want hulle as gemeente het alreeds alles wat hulle besit het, vir die behoeftiges gegee. Waar gaan hulle die geld vind vir hierdie projek?

Pastoor Youssef is ’n toonbeeld van inspirasie en ’n man met groot geloof. Hy deel sy getuienis oor die tyd toe hy uit Egipte gekom het en hy en Eva pas die gemeente begin het. Dit was moeilike tye. Hy en sy vrou het soms geen ander keuse gehad nie as om na die woud buite die stad te gaan om daar kos te gaan pluk, net om ’n slaai te kan maak. Hy vertel hoe oorverdowend die stem van die vyand soms was om hulle te probeer oortuig om terug te gaan na Egipte, amper soos die Israeliete in die woestyn. Hoe dankbaar is hy nie vandag dat hy nié teruggegaan het nie, en dat hulle nou die vrug daarvan sien om ’n gemeente te lei wat aan ander mense kos uitdeel.

Dit inspireer Pascale om na hom te luister. Hulle situasie klink soortgelyk aan die omstandighede waarin sy haar nou bevind.

Die hele kerk, oud en jonk, het skouer aan die wiel gesit, en toe gebeur die wonderwerk: ander gemeentes hoor van pastoor Youssef se visie en kom gooi hulle gewig in. Skenkings het ingestroom en hande het kom hulp aanbied. Gemeentes met wie daar net ’n langafstandverhouding was, word vriende en werk saam aan die gemeenskaplike Kersfeesvisie.

Hulle werk deurnag om alles gereed te kry. Dit is ’n miernes van bedrywigheid. Party helpers dek tafels en die kinders help om te versier en stoele in te dra. Drie honderd kalkoene word voorberei, bedruip met speserye en oondgebraai tot goudbruin. Rys met kruie word in groot potte gekook. Die reuk het almal honger, maar hulle fokus op die mense wat maande laas daarvan kon droom om selfs net ’n hoender in ’n oond te kan gaarmaak. Haar eie vingers is yskoud waar sy besig is om bestanddele vir die slaai op te kap. Die geselskap met Yana en die ander jong vroue om haar is vrolik en die atmosfeer uitbundig vanweë die opwinding om hierdie projek in vervulling te sien kom.

Eva skarrel soos ’n moederhen rond terwyl Youssef met sy hande saamgevou voor hom rondloop. Hy het ’n reuseglimlag op sy gesig en knik voortdurend om sy goedkeuring met die proses aan te dui. Hy gesels hier en daar, en vee soms trane van dankbaarheid en sekerlik van uitputting ook uit sy ooghoeke. Pascale is self doodmoeg van die lank staan, maar sy sal nou nêrens anders wil wees nie. Sy wil veral nie by die woonstel wees nie. Sy is bly hulle kon uitkom.

Emile kom elke nou en dan verby, dra goed aan en skuif tafels rond. Hy korswel met die vroue om die kospotte en almal het ’n geselsie met hom aan te knoop. Sy loop ook deur: “Nee, Pascale, jy moenie jou vingers ook opsny in die slaai nie, dit sal die gaste sooibrand gee!”

Die ander lag. Sy staan nie gewoonlik met ’n mond vol tande nie, maar wanneer hy haar terg, is haar mond skoon stom. Sy trek vir hom ’n gesig.

Sy betrap Saleh se blik ’n oomblik lank op haar. Pascale probeer ongeërg glimlag. Agge nee, staan haar geheim oor haar hele gesig geskryf? Sy sal versigtiger moet wees. Sy beduie met haar kop na Emmanuel wat snoesig op ’n matras lê en hoop dat dit die aandag van haar sal aftrek. Hy en van die ander kleintjies het gelukkig ’n groot deel van die nag geslaap terwyl die volwassenes gewerskaf het.

Yana se twee oudste kinders help ook. Vlugtelinge wat ander vlugtelinge bedien. God se Koninkryk is ’n verstommende plek wat haar aanhou verras. Die kinders gaan miskien nie skool nie, maar met hierdie uitreik-aksies leer hulle dalk baie meer.

Pascale is gedaan tot in haar wese toe hulle laatnag op Oukersaand met swaar bene by die trappe na die woonstel opstap. Ashraf dra die slapende Emmanuel na sy bedjie toe. Yana se kinders strompel ook elkeen na hulle lêplek. Sandra, haar kamermaatjie, se krulle raak skaars die kussing, toe slaap sy reeds. Pascale wag vir almal om klaar te maak in die badkamer voordat sy gaan stort. Sy kry koud, sy is moeg en haar weerstand teen die eensaamheid, wat dreig om haar te oorweldig, is min.

Sy wens sy kon laat slaap die volgende oggend, maar sy moet Kersdag saam met haar familie gaan deurbring. Sy sien op daarteen en voel dadelik skuldig. Saleh en Ashraf het geen werklike familie nie. Ashraf se familie haat hulle. Sy moet die tyd saam met haar gesin waardeer. As sy net nie so lewensmoeg was nie. Sy het geen weerstand teen hulle verwyte nie. Miskien moes sy Emile saamgenooi het, maar dit sou sekerlik te voor op die wa wees.

Dalk moet sy tog maar terugtrek na haar ouerhuis, eerder as om in die oorvol woonstel te bly. Daar hoef sy nooit laatnag in die koue te wag om te stort nie.

Dankie, Here, dat U my die geleentheid gee om ander te dien en dat ons ’n gesin onderdak kan bied. Ek is nou tot die dood toe moeg, Here. Help my om kop te hou en dit wat U van my vra, met blymoedigheid te doen. Sy raak aan die slaap voordat sy “amen” kan sê.

Die seders van Libanon

Подняться наверх