Читать книгу Die seders van Libanon - Adriana Faling - Страница 15

Ilizabith

Оглавление

RAKKA, SIRIË. NOVEMBER 2014

Hulle sit weer elkeen met ’n koppie tee toe Saramma die litteken aan Ilizabith se pols opmerk. “Wat het daar gebeur?” vra sy.

Ilizabith versteek haar hande vinnig op haar skoot onder die tafel. Op straat dra sy die abaya en handskoene sodat niemand dit ooit opmerk nie. Tuis sal sy moet waaksamer wees. Daar is ’n ongemaklike stilte.

Voor die twee vroue hierdie week aan die deur geklop het, het sy reeds die sin op papier geskryf. Sy bring dit nou te voorskyn: Wie is julle en wat maak julle hier? Sy kan amper nie glo dat sy so ’n direkte vraag vra nie, maar die tekenwerk het ’n nuwe onverskrokkenheid in haar losgemaak. Boonop kan Khaled enige oomblik instap. Wat dan? Sy het gedink hulle kan verduidelik dat die vroue by ISIS wil aansluit en met haar daaroor kom gesels het. Die vraag is egter of hy dit sal glo.

“Ons wou kom kyk of julle kinders regkom op julle eie, sonder ’n pa of ma wat vir julle sorg. Dis vir ons moeilik om te dink dat julle so allenig hier moet klaarkom.” Elspeth lyk opreg besorg.

Ilizabith skryf: Ons kom reg. Iemand bring vir ons kos en ek kyk na die kleintjies.

“Ja, maar jy is self nog ’n kind!” roep Elspeth uit. “Oorlog maak van kinders oornag grootmense,” voeg sy kopskuddend by.

Ilizabith skraap die moed bymekaar om nog ’n sin neer te pen: Ons is julle vyande. Hoekom hou julle aan om by ons te kom kuier soos vriende?

Die twee vroue kyk eers na mekaar voordat Elspeth die vraag versigtig beantwoord: “Ons is Christene. Ons glo in Jesus en Hy het gesê dat ons ons vyande moet liefhê.”

Soos Ashraf dus.

“Nadat ons jou ontmoet het, het ons gebid en ons glo die Here wil hê ons moet na julle uitreik.”

Wat Elspeth sê, maak nie vir haar sin nie.

“Kyk, dit is nie vir ons maklik nie.” Dis ’n eerlike bekentenis van Saramma. “Ons is vreesbevange vir ISIS. Om te weet jou pa veg vir hulle, maak dit vir ons ingewikkeld. Vandag het ons julle huis ’n rukkie lank dopgehou om seker te maak dat hy nie dalk hier is nie, maar ons wil gehoorsaam wees.”

“Dit is nie dat ons Moslemmense verwerp nie, ons is ons hele lewe lank gewoond om in vrede saam met Moslems te leef. Ons het nooit gedink dat iets soos die ISIS-oorname hier kan gebeur nie. Christene is altyd gerespekteer in Rakka, en nou dít.” Saramma het haar stem gevind.

“Dit was skrikwekkend, daardie tyd kort voordat die ISIS-troepe die stad in Januarie ingeneem het – ’n week van intense gevegte met ander radikale groepe. Ons het in ons huise geskuil omdat almal op straat geskiet is. Ons kon net van die kantlyn af toekyk. Die strate was later gevul met mense wat ‘Allahu Akbar!’ skree.” Elspeth gesels meer onderhoudend namate sy op haar gemak raak.

“Baie Moslemmense in Rakka het ISIS verwelkom, maar hulle is nou spyt.” Saramma klik met haar tong. “Ons is blykbaar gelukkiger as dié wat in ’n stad soos Aleppo woon, want die lewe hier het aanvanklik min of meer gewoonweg voortgegaan. Winkels en restaurante is oop, daar is kos, elektrisiteit en water.”

“Nie dat ons gedwing is om in die nuwe kalifaat te bly nie,” verras Elspeth haar. “ISIS het ons voor drie keuses gestel: ons kon na die Moslemgeloof oorgaan en ’n normale lewe in Rakka lei, ons kon Rakka verlaat, of ons kon die jizya-belasting betaal en aanbly. Ons het besluit om aan te bly.”

Is hulle stapelgek?

“Ons ouers is oud en kan nie meer reis nie,” sê Saramma asof sy haar gedagtes kan lees.

“Boonop glo ons steeds dat dit sekerlik net tydelik is. Assad en sy regeringsmagte sal aanhou veg om Rakka terug te wen.” Elspeth klink of sy haarself probeer oortuig.

“Die aanpassing was vir ons moeilik. Ons moes byvoorbeeld hierdie klere koop.” Saramma vat aan die lap van die abaya. “Kyk ’n bietjie na die sjampoebottels en boksies haarkleur,” vertel sy. “Enige beelde van vroue is met swart pen toegekrap. Toe ek vir die winkelier vra hoekom, het hy geantwoord dat vroue gesluier moet wees.”

“Ons is maar voortdurend waaksaam en kyk nooit in iemand se oë wanneer ons op straat loop nie; altyd bewus van wat om te sê en nie te sê nie.” Elspeth maak groot oë.

“Toe word dinge stelselmatig erger.” Saramma skuif die teelepel dat dit presies in lyn is met die streep op die tafeldoek. “In dieselfde week wat die Islamitiese Staat Rakka tot hul hoofstad verklaar het, het hulle die binnekant van drie kerke vernietig.”

“Hulle het alles gebreek – die ikone, die preekstoel, alles. Hulle beskou mos verteenwoordigende kuns as afgodery en as gevolg hiervan het kunswerke by museums, moskees en kerke teikens geword van hamers, byle en bomme. Een kerkgebou is selfs nou ’n hoofkwartier vir ISIS.” Elspeth se wange gloei van ontsteltenis.

Ilizabith weet van die gebeure. Khaled het baie trots daarvan kom vertel.

“Stadigaan het mense besef dat dinge radikaal verander het. ISIS het begin om mense tereg te stel wat hulle vermoed het ondersteuners van die president was of wat saam met ander rebellegroepe teen ISIS geveg het.”

Ilizabith kan Saramma ’n brief gee dat dit nog net die begin is.

“Ons het gou gesien hoe daar met diegene afgereken word wat nie hulle reëls gehoorsaam nie,” fluister Elspeth. “Daar word elke Vrydag mense tereggestel. My man was daar toe hulle die eerste man in die openbaar onthoof het. Hulle kon hom nie met die eerste sny onthoof nie. Hy het soveel gely dat hulle hom uiteindelik geskiet het. Later het ons verby die heining gery waarop honderde soldate van die Siriese weermagbasis se koppe vasgepen is. Ek was naar op my maag. Van die mense het selfies by die koppe geneem. Dis skokkend, nè?”

Niks wat Daesh uitdink, skok Ilizabith meer nie. Sy verwag altyd die ergste.

“Omdat ons die jizya-belasting betaal het en die verklaring daarvan altyd by ons hou, kan niemand ons seermaak nie.” Saramma troos haarself. “Dank God, geen Christene is tereggestel vir hulle geloofsoortuigings nie. Wel omdat hulle teen die ISIS-weermag geveg het, maar ons het nog nie gesien dat Christene mishandel word as gevolg van hul geloof nie.”

Ilizabith wil hulle waarsku. Hulle moenie gerus wees nie.

“ISIS het egter Christene se huise afgeneem – en natuurlik enigiemand anders s’n wat Rakka verlaat het.” Saramma skud haar kop hartseer. “Ek kan nou nog nie help om te wonder wat hier gebeur het nie. Ek kan nie glo dat Rosarita oornag sou vertrek sonder om ons te groet nie.”

Ilizabith staan op en skink weer vir hulle tee in. Haar hande bewe liggies.

“Boonop het ’n ISIS-soldaat ons seun laas week in die straat voorgekeer,” sug Elspeth. “Hy is op ’n bus gedwing omdat ’n ISIS-soldaat nie van sy jeans en sy haarstyl gehou het nie. Hulle het met hom na ’n ondergrondse parkeerarea gery waar daar honderde ander mans was. Hulle het almal geskei: eers op grond van ouderdom, toe volgens kleredrag en heel laaste volgens haarstyl. My seun, met sy skinny jeans en Westerse haarstyl, was in daardie groep. ’n Tunisiese ISIS-vegter het toe ’n passievolle toespraak gelewer en vir hulle gesê: ‘Julle is die nuwe geslag van die Islamitiese jeug. Julle lyk soos Westerlinge en dit lyk of julle van hulle en hulle styl hou, maar hulle hou nie eens van julle nie. Mense in die Weste haat julle. Westerlinge werk altyd om jou weg te kry van die Islamgeloof.’

“Al die mans met die skinny jeans moes toe ’n dokument onderteken waarin hulle belowe dat hulle dit nie meer sal dra nie. Hulle hare is heeltemal afgeskeer. Ons seun het probeer verduidelik dat hy ’n Christen is, maar hulle het hom geïgnoreer. Hulle wou nie eens na die verklaring kyk wat bewys dat hy die belasting betaal het nie. Ek is verskriklik dankbaar dat hy so lig daarvan afgekom het, maar ons het almal groot geskrik.”

“Ja, vertel vir Mara van die soldaat wat jou voorgekeer het en gedwing het om ook ‘Allahu Akbar!’ te sê.”

Saramma se oë skiet vol trane.

Almal in die stad sê dit soos ’n rympie. Ilizabith is vrygestel.

“Dit pla haar vreeslik dat sy dit gesê het.” Elspeth kyk met deernis na Saramma. “Sy wil nie ons God verloën nie, maar sy was so bang. Dit is deurmekaar tye.”

“Ons het dit beleef dat die ISIS-soldate monsters is wat op enige oomblik en om enige rede kan aanval,” sê Saramma.

Hulle ís monsters, dit weet Ilizabith vir seker.

“Maar ons het begin verstaan dat hulle self ook net mense is, soos jou pa,” verras Elspeth vir Ilizabith. “God het ons harte kom verander.”

Nee, nee, nee! Ilizabith wil dit uitskree. As jy in menslike terme aan hulle begin dink, gaan jy jou waaksaamheid laat verslap en gaan hulle jou juis vertrap. Dis of die woorde nie vinnig genoeg vorm aanneem in haar kop dat sy dit kan neerskryf nie en hulle gesels reeds verder.

“My man het van die ISIS-soldate ontmoet op pad werk toe, in die winkels, selfs in die gimnasium. Hy kan gewoonlik gemoedelik met hulle praat. Dit is net wanneer hulle ontdek dat hy ’n Christen is, dat hulle houding teenoor hom verander. Sommige raai hom aan om ’n Moslem te word; ander is aanvallend,” vertel sy, onbewus van die stryd in Ilizabith.

“Eendag het hy op ’n bus een van ons seun se ou klasmaats ontmoet. Hy het ISIS-klere gedra en ’n lang baard en ’n masjiengeweer gehad. Hy het gesê hy wil vir Islam en die Koran veg, vas oortuig dat hy die regte keuse gemaak het. Twee weke later is hy in ’n geveg doodgemaak. ’n Week later het sy broer ook vir ISIS gesterf.”

“Het ek reg gehoor dat hulle die Siriese vegters na die voorste linie stuur?” vra Saramma uit die bloute aan Ilizabith. “Dit klink vir my die buitelanders beklee die leiersposisies en is nie altyd by die gevaarlikste deel van die geveg betrokke nie.”

Dit verklaar dalk hoekom Khaled altyd lewend terugkeer.

“Dit is vir ons erg dat hierdie jong seuns die leuens glo en hulle lewe daarvoor gee, om uiteindelik in die ewige hel te beland en nie in die paradys, soos hulle dink nie.” Elspeth klink opreg jammer vir hulle.

Ilizabith haat hulle bloot. Sy skryf op die papier: Hoekom bly julle hier? Julle moet vlug terwyl julle nog kan!

Elspeth kyk na Saramma, asof vir toestemming, voordat sy antwoord. “Ons glo God het ons hier geplaas met die oog op hierdie tyd. As dit so donker word in die wêreld, moet ons sy lig helder laat skyn, anders is daar geen hoop meer nie.”

“Ons is sterk in Christus, dit help ons om hier te bly,” stem Saramma saam.

Ilizabith skryf in groot letters: Julle moet wegkom terwyl julle kan! Hulle is te gerus. Hulle ken nie hierdie mense nie.

“Ons seun wil nie weghardloop nie. Hy glo ons het die reg om ons land terug te neem. Hy is bereid om daarvoor te veg.” Elspeth glimlag half hartseer.

Ilizabith skud haar kop heftig. Sy sal wat wil gee om weg te kom, en hulle wil hier bly! Dis malligheid!

“Dit is die lang antwoord hoekom ons hier is,” glimlag Elspeth.

Syself is ’n groter vyand van ISIS as wat hulle is! Hulle begin te gewoond raak aan die situasie.

“Wat kan ons vir jou doen? Waarvoor kan ons vir jou bid?” vra Elspeth uit die bloute.

Bid? Wat gaan dit help?

Sy kyk lank na hulle. Moet sy dit waag? Kan sy hulle vertrou? Iets moet sy doen. Sy skryf terwyl haar hart in haar keel klop: Ek kan vir julle inligting gee, baie inligting, alles wat julle wil weet van Daesh en waar hulle gaan aanval, wat hulle gaan doen. Dit sal hulle ondergang beteken. In ruil daarvoor help julle my en die kleintjies om te ontsnap? ASSEBLIEF!

Die vroue lees wat sy geskryf het en kyk geskok na mekaar. Ilizabith staan op en haal die vuurhoutjies uit die laai. Sy verbrand die briefie tot as in die wasbak.

“Mara, ons kan dit nie doen nie.” Elspeth is uit die veld geslaan. “Ons is net gewone mense. Ons het nie kontakte met die regeringsorganisasies of iemand wat jou sal kan help nie.”

“Buitendien, dit is jou pa! Hy sal julle mos nooit laat gaan nie? Ons kan nie net iemand se kinders vat nie. Waarheen sal jy wil ontsnap?” Saramma kyk haar verstom aan.

Ilizabith trek haar skouers op. Enige plek. Verkieslik die verste plek op die aardbol van Khaled af weg. Dalk die Noordpool?

“Ek is jammer, Mara. Ons het nie besef dat julle so ongelukkig is nie,” sê Saramma.

Die klein bietjie hoop wat sy gehad het, verdwyn soos die gebrande papier. Al wat oorbly, is die matelose hopeloosheid waaraan sy al so gewoond moes raak. Hoop is ’n gevaarlike ding. Hoop is ’n ondier – dit laat jou hoop. Ironies, nè? Die teleurstelling daarna is so pynlik om mee vrede te maak; ’n lang, seer pad tot by die neutraliteit daarvan om bloot te oorleef. Dit is waar sy moet bly: neutraal, hooploos. Dit is baie veiliger.

“Ek is regtig jammer, Mara.” Elspeth kyk haar met soveel simpatie aan dat sy simpel en kwaad voel.

Dit was ’n onnosele, impulsiewe ding wat sy gedoen het. Sy draai haar rug op hulle en begin die teekoppies wasbak toe dra. Hulle moet liewer nou gaan. As hulle haar nie kan help ontsnap nie, moet hulle haar uitlos. Dit is te gevaarlik om hulle hier te hê. Khaled kan uitvind, en wat dan?

Die seders van Libanon

Подняться наверх