Читать книгу Die seders van Libanon - Adriana Faling - Страница 12
Pascale
ОглавлениеBEIROET, LIBANON. OKTOBER 2014
Miskien was dit nie die slimste plan om sonder ’n man na hierdie swakker deel van Beiroet te kom nie. Pascale byt haar lip. Nee wag, sy moet ’n ontspanne gesig opsit, netnou jaag sy Saleh die skrik op die lyf. Sy loer onderlangs na die Egiptiese vrou voordat sy weer by die vensters uitkyk. Sy deursoek die omgewing vir ’n bekende landmerk. Niks. Nie dat sy die gebied danig goed ken nie. Boonop is hulle laat. Dit is al weer haar skuld. Ag hemel, as sy haar net soggens vroeër uit die vere kan lig.
Wel, daar is nie nou kans vir omdraai nie. Kyk noord en gaan voort, sussie! Om haar moed te gee, draai sy die radio ’n bietjie harder en beweeg ritmies saam met die Hillsong-liedjie se dromme terwyl sy saam sing:
“Saviour, He can move the mountains –
My God is mighty to save, He is mighty to save!
Forever Author of Salvation –
He rose and conquered the grave, Jesus conquered the grave!”
Saleh glimlag vir haar.
Oukei, Here, ek het U asseblief nodig om my kalm te hou en te help om die adres te vind in hierdie doolhof van straatjies. Sy stuur die skietgebedjie op en laat haar krampende skouers sak om ontspanne te probeer lyk. Uiteindelik herken sy ’n landmerk. Halleluja! Dankie, Here! juig sy stilweg. Die vorige keer toe sy saam met mense van die kerk hier was, het hulle in hierdie omgewing parkeer en is toe te voet verder. Waar kry sy ’n parkeerplek in dié miernes? Kyk hoe oorvol is die strate. Wag, daar is een! Sy swenk na regs. Saleh gryp aan die deurhandvatsel vas. Gits, dis ’n piepklein parkeerplek dié! Sy moet nou net nie die kar stamp nie, sy het nog nie lank haar bestuurslisensie nie. Sy mik, draai en skuur net-net in. Dankie tog, sug sy binnetoe.
“So ja,” glimlag sy vir Saleh. Hopelik lyk sy nie so verlig soos sy voel nie. “Van hier af stap ons verder.”
Beskerm asseblief die kar, Here?
Sy wil uithop, maar Saleh se hand keer haar. “Sal ek vir ons bid?” vra sy vriendelik.
“Ja, asseblief.” Saleh is miskien nuut hier, maar nie onnosel nie.
“God ons Vader, ek bid vir ons beskerming en dat die Gees ons sal lei in wat ons hier moet kom doen. Ons bid dit in die Naam van Isa, ons Verlosser.”
Hulle maak seker dat die kar gesluit is voordat hulle die strate met die swaar inkopiesakke aandurf.
Saleh kyk gespanne om haar rond.
“Lyk asof jy selfversekerd is en tuis voel hier,” gee Pascale raad en gooi haar kop agteroor. Saleh se rug trek dadelik meer regop.
In die smal straatjies sit winkeleienaars voor hulle bont stalletjies waar jy enigiets van selfoonlaaiers, plastiekbakke en speelgoed tot vrugte en groente kan koop. Elektriese drade wat op die oog af losweg aanmekaar gekoppel is, hang soos reusespinnerakke oor die vuil strate en verbind vervalle woonstelblokke met mekaar. Saleh kyk op en haar oë rek.
Pascale lag met haar: “Praat van vuurwerke, nè?”
“Ek het al baie dinge gesien, maar dít vat die koek,” sê Saleh. “Een vonkie en die hele woonbuurt is daarmee heen!”
Pascale moet ’n paar keer aanwysings vra by die nuuskieriges wat hulle aanstaar. Hulle word gewillig met groot handgebare aangehelp en stelselmatig maak hulle vordering tot hulle in ’n vuil stegie beland. Verlig herken sy die plek. Hulle klim met die smal trappe na die eerste vloer; party trappe is stukkend en daar is geen trapreling nie.
Pascale klop aan een van die deure. ’n Netjies geklede vrou maak oop. Sy is ligter van gelaat: Siries.
“Bonjour, Yana.” Pascale sit die pakkies neer en gee die vrou ’n drukkie. “Dit is Saleh van wie ek jou vertel het.”
“Sabalge, kom binne,” groet sy vriendelik.
“Shukran,” glimlag Saleh met Yana.
Pascale groet die seuns met ’n high five. Hulle dra die pakkies binnetoe en bondel saam agter hul ma. Die dogtertjie gee haar ’n stywe druk. Die kind laat altyd haar hart smelt.
“Sandra, het jy al weer jou vinger in die kragprop gedruk?” Sy pluk speels aan ’n kurktrekkerkrul.
“Ag, Pascale!” lag die agtjarige verleë.
Saleh laat Pascale die leiding neem. Hulle volg Yana deur die eerste klein vertrekkie, ’n kombuisie wat na die enigste woonvertrek lei. Die matrasse staan opgestapel teen die muur – vanaand sal dié vertrek in ’n slaapkamer omskep word vir ’n gesin van vyf. Daar hang komberse voor die vensters om te verhoed dat die bure in die woonstel inkyk. ’n Paar glasbekers staan gereed op ’n plastiektafeltjie met ’n tafeldoek van blink materiaal. Hulle gasvrou het die besoek van die kerk verwag. Hulle neem plaas op die plastiekstoele. Die drie kinders kom een-een in. Sandra kom klouter dadelik op Pascale se skoot, maar die twee ouer kinders gaan sit bedeesd-nuuskierig op die grond.
“Gaan hulle nie skool toe nie?” vra Saleh vriendelik.
“Lla,” – nee – skud Yana haar kop. “Ons kan nie die skole hier in Beiroet bekostig nie. Boonop is die kinders te bang om te gaan. Die ander kinders treiter hulle omdat ons vlugtelinge is. Hulle sal hulle slaan omdat hulle Siriërs is. Die mense van hierdie land haat ons.”
Pascale skud haar kop “Ai, ek is so jammer dat julle so behandel word,” vra sy namens haar landgenote om verskoning.
“Dis vir ons ’n baie groot probleem. Junaïd help ons deur los werkies te doen.” Yana wys na haar oudste seun en glimlag vir hom.
“Hoe oud is jy?” vra Saleh.
“Ek is sewentien,” sê die seunslyf met ’n manstem.
“Hy was laas in die skool toe hy in graad nege in Sirië was,” sug sy ma. “Teen daardie tyd het die skoolstelsel heeltemal uitmekaar begin val. Hy het selfs gesien hoe een van sy vriende verkrag is. Dit het hom geruïneer.”
Junaïd laat sy blik sak.
Dis nogal vreemd dat Yana so openlik voor die kinders praat. Pascale voel sommer namens hom verleë.
“Daardie seun is later dood toe ’n bom op hulle huis geval het,” voeg Junaïd by, asof dit algemeen is dat kinders opgeblaas word.
“Ja, ek onthou, die arme mense.” Yana skud haar kop. “Die laaste tyd is kinders in Sirië boonop ontvoer,” gaan Yana voort. “Dit is nie meer veilig om hulle skool toe te stuur nie. Niemand kan meer vrede in die stad handhaaf nie. Almal het wapens. Ontvoerders maak hulle gesigte toe en vat die vroue en meisies. ’n Mens hoor ál meer daarvan. Dan moet gesinne groot bedrae aan lospryse betaal, soms met goud. Selfs wanneer hulle betaal, kry hulle nie noodwendig hulle geliefdes terug nie. Die polisie kan nie meer hulle werk doen nie, daarom doen almal net wat hulle wil. Ek kon nie die gedagte dat een van ons kinders ontvoer kan word, verdra nie. Maar wag, kom ons drink eers tee. Kan ek vir julle skink?”
Hulle drink die soet tee uit die klein glasbekers.
“Hoe lank is julle nou hier?” vra Saleh.
“In Beiroet? Nog maar ’n paar maande. Ons kon nie langer in Aleppo bly nie, want ons het geweet Junaïd, wat binnekort agttien word, sou by die weermag moes aansluit. Ons het nie ons kinders grootgemaak om soldate te wees nie en het liewer gevlug; om die jongeres se onthalwe natuurlik ook.” Sy wys met haar kop na Sandra, wat steeds op Pascale se skoot sit.
“Watter soort lewe is dit om jou kinderjare in ’n oorloggeteisterde land deur te bring? Die kinders was voortdurend bang en moes in bomskuilings wegkruip. Om die waarheid te sê, die skole was dikwels die teiken van die aanvallers.”
“Agge néé, dit is verskriklik!” sê Pascale.
“Dit was ondenkbaar om te dink ons offer ons kinders op vir ’n oorlog waaraan ons nie eens glo nie! Ons as Christene het nie meer ’n keuse gehad nie. Ons moes óf die wapen opneem om vir ons eie behoud te begin veg, óf vlug.”
Dit klink of sy ons probeer oortuig, dink Pascale. Een van ’n miljoen met so ’n verhaal, maar weer eens een wat vra vir ruimte en begrip.
“Ons stad is flenters geskiet, verwoes. Dis moeilik om te glo Aleppo is eens die Midde-Ooste se Parys genoem. Ons het snags, selfs in die winter, op matrasse in die trapskag geslaap. Ons was bang ons gebou word getref. Daar was ’n tronk naby ons wat voortdurend gebombardeer is in ’n poging om die politieke gevangenes te bevry. Ons was so moeg vir die bomme.”
“Ons ken die verskil tussen ’n bom, ’n vuurpyl en ’n motorbom, net op die geluid daarvan,” sê die twaalfjarige middelkind, Mathai, skaam-trots uit die hoek.
Pascale wonder of sy hom moet gelukwens of simpatiseer. Sy weet sowaar nie. “Sjoe!” is al wat sy uitkry.
“Ja, dis waar,” knik Yana. “Ons het dit so dikwels gehoor.”
“Dit klink aaklig.” Saleh kyk na die seuns.
“Daar was later niks oor nie – nie brood nie, nie ’n ryding nie en geen toekoms nie. Dit was ’n moeilike besluit, want ons het nie geweet wat hier vir ons wag nie. As ek geweet het hoe swaar ons in Libanon sou kry, wonder ek of ek dit weer sou doen, maar ons het nie meer ’n keuse gehad nie.” Yana praat half met haarself.
“Ons moes ’n verspotte prys vir ons woonstel aanvaar. Ons het die geld gebruik om die belaglike hoë kostes te betaal om landuit te kom. By elke kontrolepunt waardeur ons gegaan het, moes ons omkoopgeld uithaal.” Sy kyk af en weg. “Ekskuus, ek kry nou skoon skaam. Dit klink of ek kla, maar ons gesin is darem nog bymekaar. Ek het die mense wat ek die heel liefste het, hier by my. God het ons beskerm en daardeur gedra. Soms moet ’n mens net probeer uitmaak hoekom jy een hel vir ’n ander een verruil het.”
“Moenie jou bekommer nie.” Saleh se stem is gerusstellend. “Ons hoor graag julle storie. Dit klink of julle tussen die duiwel en die diep blou see vasgekeer was.”
“Ja. Hier aangekom, het ons besef dat Siriërs glad nie welkom is nie. Elke week is ’n stryd om oorlewing. Elke week wonder ons hoe ons gaan oorleef in hierdie harde land, maar dan kom Sondag en dan voel ons weer welkom en geliefd in die gemeente.”
Sy vee die trane wat oor haar wange rol sonder seremonie af, asof huil bloot deel is van die lewe. “Dis nie net omdat julle ons help om te oorleef nie, maar sommer net omdat julle vriendelik is met ons. Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen die gelowiges en die res van die mense van hierdie land. Maar dis nie net die mense nie – ons beleef God se teenwoordigheid, ons leef naby Hom, al is ons ver van enige gemak en gerief. Hy het ons alles geword. Dit is wat die verskil maak.”
Pascale kan aan haar stem hoor dat sy dit werklik bedoel.
“Die groot probleem is om werk te vind. My man het vroeër ’n fabriek besit en het selfs vyf werknemers gehad. Hy was die baas. Hier is ons gelukkig as hy ’n dagloon verdien. Hy is vandag op die vullistrokke aan diens. Dit is vernederend. Ek het ’n rukkie as ’n haarkapper gewerk. Ek was so dankbaar toe ek die werk gekry het, net om ’n week later uit te vind dat die eienaar meer as net haresny vir my in gedagte gehad het.”
Die vroue snap die insinuasie.
“Ek moes loop toe ek weier. Ek is dus nou weer werkloos. Dit alles kan ’n mens nog hanteer. God sal voorsien, ek weet Hy sal. Ons hou aan Hom vas. Die feit dat ons kinders nie vry kan wees soos ons gehoop het nie, is egter ’n groot teleurstelling. Hulle kan nie buite speel nie, want hulle is die hele tyd senuweeagtig. Maar hulle kan tog nie heeldag in die woonstel sit nie? Hierdie is nie ’n lewe nie. Ek bekommer my so oor die kinders. Hulle moet kan skoolgaan en vry wees. Junaïd werk soms by ’n gasverskaffer. Hy moet swaar bottels gas ronddra vir die kliënte. Wanneer hy saans by die huis kom, kan hy skaars loop. Ek kry hom so jammer, maar ons het elke Libanese pond nodig. Die kleintjies sal moet skoolgaan, want watter werk sal hulle kan doen sonder ’n opvoeding?”
Saleh het aandagtig geluister. “Sal julle weer wil teruggaan Sirië toe?” vra sy nou.
Junaïd antwoord onverwags: “Ja, beslis, maar ons kan nie nou nie. As ’n mens teruggaan, moet jy by die weermag aansluit. Die regering sal ons nog vergewe dat ons gevlug het, maar beslis nie die weermag nie. Dit is soos hoogverraad.”
“Ek verstaan heeltemal.” Pascale sê dit met oortuiging. Dit is nodig om hierdie gesin te laat glo dat hulle die regte besluit geneem het.
“Ons hoor in Duitsland en Kanada word die vlugtelinge goed behandel. As daar ’n manier is om daar te kom, sal ons dit doen. Ons weet van dokters en prokureurs wat alles wat hulle besit, gegee het om op ’n roeibootjie na Griekeland te reis.” Yana se kinders kyk hoopvol na haar toe sy praat.
Pascale weet van ’n klompie mense wat verdrink het op see, maar hou dit liewer vir haarself.
“Dit was egter die ryk mense van Sirië! Gewone en arm mense kan nie eens die huur van ’n plek soos hierdie betaal nie. Ons moet volgende week hier uit en ek weet regtig nie wat ons gaan doen nie.” Yana se oë is troebel van bekommernis.
“Nie dat ek eintlik hier wil bly nie. Wanneer die mans in die gebou drink en dwelms gebruik, klop hulle aan die deur en skree vreeslike goed vir my wat die kinders ook kan hoor. Dit maak ons almal baie bang. My man is nie altyd hier nie, want wanneer hy werk, is sy dae baie lank. Hy raak amper van sy verstand af as hy hoor wat bedags hier gebeur.” Sy draai die dun goue pand aan haar vinger om en om. “Hy het nou die dag uit frustrasie sy kop sonder ophou teen die muur gekap en gekap. Dit was verskriklik om te sien, ek kon hom nie laat stop nie. Hy is nie so ’n mens nie, regtig! Dit vreet hom op dat hy nie vir ons kan sorg nie.” Sy raak stil. “Maar dis ten minste veiliger as oorlog. Wel, ek dink so,” voeg sy met ’n ironiese glimlag by.
Die kamer is stil toe sy uitgepraat is. Pascale voel of al die lug uit haar longe gepers is, daardie bekende gevoel wanneer jy magteloos voor iemand anders se kruis staan. Sy het geen antwoorde nie, geen raad nie, en haar geld is self baie skraps – wat sy gehad het om uit te deel, het sy reeds gegee. Sy hoop Saleh is in ’n beter posisie, maar dié sit ook met oë vol medelye na die vrou en kyk. Junaïd en Mathai sit teen die muur afgesak en staar voor hulle uit.
“Ons het niks meer as die bietjie inkopies en Jesus om vir jou te bring nie, Yana,” begin Pascale.
“Ek weet dat God genoeg is, dat Hy voorsien en dat Hy die hoop is,” sê Yana. “Dis regtig die waarheid. Ek weet Hy is genoeg. Dit is soms net goed om vir iemand ons storie te vertel en te weet ons is nie alleen nie.”
“Ek het een ding geleer die afgelope maande,” sê Pascale met oortuiging. “Wanneer ek nie meer weet watter kant toe nie, het God reeds ’n plan. Hy is ’n God van hoop en wonderwerke. Ons gaan Hom vertrou vir julle situasie.”
“Sal ons saam bid?” Saleh wys dat Pascale moet voorgaan.
“Asseblief.” Yana vou haar hande eerbiedig in haar skoot. Die kinders buig hulle koppe en bid saam met die smeekgebed wat Pascale lei.
Vrede, onbeskryflike Godsvrede, daal oor hulle neer. In die klein woonvertrekkie met die plastiekstoele en die opgestapelde matrasse is hulle op heilige grond.