Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 11

7 “Antwoord my, mevrou Dorfling.”

Оглавление

Sy moes regop aan die slaap geraak het. “Ek kan nie onthou wat jy gevra het nie.”

“Ek vra: wanneer het jy vir die eerste maal vermoed daar is fout met die kind?”

Net een maal vantevore was sy in die dorpshospitaal, die tyd toe haar bors toegetrek het van vlieëspuitgoed. Meer van ’n huis as ’n hospitaal. Besoekure bestaan nie. Loop rond soos sy wil. Teresa en Zettie kom tydig en ontydig in en uit. Gesellig en informeel, die dorpshospitaal.

Daarom het sy lank voor die geboorte al vir Dawid gesê sy gaan soos die ou mense maak en agt dae in die hospitaal bly. In haar hart het sy dit bedoel, want sy wou nie gedurig regstaan met tee vir almal wat Alexander wou bad en optel en droogmaak nie. In die hospitaal sou sy goed kon uitrus. Lees, slaap wanneer sy wou. In die winterson op die hospitaalstoep sit en na die spreeus in die Kaapse kanferfoelie luister.

Maar toe werk die realiteit nie só nie.

Op die oggend van die tweede dag het Alexander begin skree. Onophoudelik en traanloos.

Een oomblik het sy nog in ’n tydskrif geblaai. In die gang was die skoonmaker met die poleerder besig. Iewers het teekoppies gerinkel. Die volgende oomblik het sy haar skoon uit die bed uit geskrik vir die onaardse skree wat die kind gelos het. Toe sy oor die babawiegie buk, was hy rooi in die gesig, sy tong het soos ’n soplepel in sy mondholte gestaan. Hy het sy hande onder die komberse uitgewriemel, wild in die lug gegryp met sy benerige vingertjies. Verwilderd van skrik het sy die klokkie gedruk vir iemand om te kom help. Sê nou hy was besig om te verstik?

“Nee wat,” het die verpleegster gesê nadat sy hom opgetel en sy doek omgeruil het terwyl hy eenstryk deur skree, “hy is seker bang vir die poleerder. Ek sal sê hulle moet dit afsit. Tel hom by jou onder die komberse in. Dalk soek hy warmte.”

Toe sy hom optel en by haar in die bed neerlê, het sy gedink hy gaan hom doodskree. Deur die dun vellagie oor sy slape het ’n ragfyn netwerk van aartjies uitgeswel. Klein soos hy was, het hy sy lyf agteroor getrek, sy nek stokstyf. Heeldag het sy hom gesus en gepaai, tevergeefs. Die verpleegpersoneel het hom probeer stilkry. Ook vrugteloos.

Dit was ’n eienaardige huil. Nie soos sy gewoond was ’n baba huil nie. Iets in sy stem het vir haar gesê hy het nie seer nie; hy is bang. Sy het hom toegedraai en die flenniekombers om sy kop gevou. In ’n beskutte sonhoekie op die hospitaalstoep gaan sit. Haar pinkie in die waterglas gedruk en dit by sy lippies gehou. Hy het dit dorstig afgesuig en sy klaaglied voortgesit. Hoe sy ook probeer het, aan haar bors wou hy nie drink nie.

Ná netbal het Teresa en Zettie met hul fietse daar aangekom, ná ’n kort rukkie onseker rondgetrap en na mekaar begin kyk.

“Hoekom huil hy so baie?” het Zettie gevra.

“Ek weet nie, miskien het hy seer.”

Hulle was skaars tien minute daar, toe vlug hulle voor die deurkliewende klank. Mirna en Lida en Hannah het ingekom, drie vrolike gesigte. Toe verstar in die deuropening vasgesteek.

“Hoe lank huil hy al so?” het Mirna fronsend gevra.

“Heeldag.”

“Goeiste, Ingrid, dis erg. Het Oudokter al na hom kom kyk?”

“Oudokter is vir die dag weg, hy kom eers vanaand terug. Hy sal kom kyk sodra hy kans het, dalk eers môreoggend.”

Staan rond. Niemand kan mekaar hoor nie. Hannah het hom opgetel en op die voetenent gaan sit, hom probeer sus en iets by sy oortjie gesing. Toe skree hy eers. Draai sy kop rond teen Hannah se skouer. Hulle hou dit nie lank uit nie. Moes nog gaan klaarmaak vir ’n vergadering.

Dawid het kom dagsê ná werk. Die dominee en sy vrou met ’n babadagboek. Haar kollegas. Die bankbestuurder se vrou. Niemand kon ’n woord inkry sonder onderbreking nie. Tot sy uit radeloosheid vir die verpleegster gevra het om die babawiegie vir ’n rukkie uit te neem.

“Krampe,” het die suster gesê toe hy laataand steeds skree.

“Maar suster, krampe is tog iets wat kom en gaan, en hy hou dan eenstryk deur aan.”

“Miskien is dit jou melk.”

“Watter melk? Hy het vandag net ’n paar druppels water van my pinkie afgesuig.”

Dwarsdeur die nag. Soms het sy huil oorgegaan in ’n moeë kweelgeluid en het sy geglo hy gaan aan die slaap raak. Dan het sy met haar vingerkop die sweetlaag van sy puisierige wangetjies en bolip afgevee, haar kop laat agteroor sak teen die kussings. Weggedommel. Ingegly in vlak waters van kortstondige rus. Net om maar weer regop te skrik as die geskree van voor af uitbars.

Anders as Teresa en Zettie wat gulsig gedrink en maklik teen haar bors aan die slaap geraak het, het hy aanhou verseg. In dieselfde asem wat hy honger gelyk het, het hy weggebeur, asof hy wou versmoor as sy haar bors naby sy gesig bring. Sy kon nie glo daar is soveel krag in sy klein lyfie nie. Hy wou ook nie uit ’n bottel drink nie. Keer op keer het sy haar pinkie in die glas water gedoop en gebid dat hy nie sou verstik wanneer hy asem optrek vir ’n volgende skree nie. As dit moontlik was, het hy meer deurpriemend geskree terwyl sy hom bad. Homself in ’n boog op sy hakskene en agterkop gespan terwyl sy hom droogmaak.

“Moet jou nie die huilery te veel aantrek nie, Ingrid,” wou Oudokter haar paai terwyl hy die grypende baba ondersoek. “Hoe rustiger jy is, hoe gouer sal hy rustig raak. Jy moet onthou dat die geboorte vir hóm ook ’n skok was. En skok kan hom heeldag laat slaap, óf abnormaal laat huil.”

Maar aan die manier waarop sy tastende vingers die lyfie ondersoek het, die frons op sy voorkop terwyl hy die stetoskoop oral druk, kon sy sien hy soek vir meer as krampe.

“Liewe bliksem, Ingrid, hoekom skree hy so?” het Dawid die middag gevra toe hy ná werk kom inloer. Hy het paniekerig van die een voet na die ander rondgetrap. “Drink hy darem?”

“’n Paar druppels water van my pinkie af, met ’n gesukkel.”

“Kry hy nie dalk koud nie?”

“Met soveel komberse oor hom? En ’n verwarmer in die kamer. Die kamer is al klaar so warm dat die sweet op my uitslaan.”

“Kry hy nie dalk te warm nie?”

“Ek weet nie.”

“Kom ons sit die verwarmer af. Dan tel ek hom op. Dalk kry ék hom stil.”

Dawid kon ook niks uitrig nie en hy is daar weg sonder dat hulle tien sinvolle woorde met mekaar kon praat.

Op die vyfde dag het daar geen besoekers opgedaag nie en die tamheid en melancholie het haar beetgekry. Toe Oudokter op oggendrondtes kom, het sy gevra of sy nie eerder kon huis toe gaan nie. Net so bekommerd as wat sy oor die huilende kind was, net soveel het sy verlang na haar eie kamer en bed en toilet en teepot. Na Miriam. Toe Dawid van die werk af kom, het sy gepak en is hulle met Alexander huis toe. By die huis sou dit anders wees, het sy geglo. Snags sou Dawid daar wees. Sy sou haar eie roetine kon bepaal, minder van ’n geskarrel rondom haar hê. Miriam sou wel raad hê.

En wonderbaarlik, op pad huis toe het hy ophou skree. Een sekonde het dit nog geëggo in die motor, die volgende sekonde was dit onrusbarend stil. Sy het omgeswaai en gekyk of hy nie ophou asemhaal het nie. Hy het botstil gelê met groot oop oë, asof hy na iets luister. Sy oë was té groot oop vir ’n baba van vyf dae en daar was iets in die grysblouheid wat vreemd was. ’n Raaiselagtige skynsel, asof hy na iets moois kyk wat net hy kan sien.

Sy het gewéét iets in sy oë is nie reg nie.

Here, iets was verskriklik verkeerd.

Sy sou nie vir Dawid sê nie, het sy besluit.

“Bliksem, dankie tog,” het Dawid gesê, “ek hoop dis nou oor en klaar. G’n regsinnige mens kon dit uithou nie.”

Dit sou drie en ’n halwe jaar neem voor sy die betekenis van die skynsel in Alexander se oë begin verstaan het. En selfs tóé kon sy dit nooit ten volle verstaan nie.

Outisme.

Vervloekte siekte wat aanhou tot in lengte van dae.

“Mens kom geleidelik agter daar’s fout. Ek weet nie presies wanneer ek dit agtergekom het nie.” Haar tong voel dik op haar mondvloer. Die kantoor kantel skeef, die man se gesig draai uit fokus. “As baba het hy baie gehuil.”

Dit voel of daar ’n hommelby in haar kop vasgekeer is. “Hy was altyd klein en tingerig, want hy het die absolute minimum geëet.”

Daar is ’n oormaat spoeg in haar mond. Sy is naar. Sy kyk om na waar die vrouespeurder agter haar sit en wil haar hand na die vrou uitsteek. Maar die vrou se oë bly neergeslaan op die knypbord op haar skoot.

“Dit was my eerste seuntjie en … almal het vir my gesê seuntjies is meer geneig tot … koliek.”

Toe voel sy hoe sy omval. Skrik regop toe koue water haar gesig tref. Lek die nattigheid van haar lippe af. Oor haar buk die vrouespeurder met ’n koppie in die hand.

“Asseblief, mevrou Dorfling, ek het jou samewerking nodig,” sê die man en gaan sit op sy draaistoel, plant sy elmboë op die lessenaar.

“Ek is verskriklik moeg.”

“Jy sal later tyd kry om te rus, mevrou Dorfling. Ons is hier besig met ’n ondersoek na die onnatuurlike dood van ’n kind. Boonop ’n gestremde kind. Dis ’n prioriteitsmisdaad en dis my werk om …”

“Alexander het verdrink. Wát moet jy ondersoek?”

“En ek waarborg jou, mevrou Dorfling,” en hy kyk op, reg tot in haar oë, “hy het nié verdrink nie. Ons het alle rede om te vermoed dat jy ’n verduideliking daaromtrent kan gee.”

Hoe, hóé kan hulle haar verdink? Sy wat elke spaarsekonde en spaarsent van haar lewe vir Alexander gegee het. Wat hom liefgehad het in soverre hy haar ooit toegelaat het om hom lief te hê. Hoeveel nagte het sy saam met hom deur die huis gedwaal terwyl hy met die beiteltjie kap-kap-kap? Hoeveel kere het sy die voet wat haar opsetlik in die gesig geskop het, vasgegryp en sy voetsool gesoen en gesoen? Moenie, Xandertjie, moenie Mamma skop nie. Dis seer, Xandertjie. Kyk, Mamma het vir jou nuwe sokkies gekoop. Bloues. Net vir jou. Kom, Xander, kom ons trek jou sokkies aan.

Here van genade. Gister was sy nog by die werk. Gisteraand het sy nog vir Gunter gevra of hy Lucy sal koop. Hoe is dit moontlik dat sy nou in Moord en Roof se kantore sit en besig is om haarself te verdedig teen aantygings wat sy nie verstaan nie? “Asseblief, ek is oormoeg, ek kan nie meer reguit dink nie.”

“Ou storie, daardie. Jy sal nie by my daarmee wegkom nie.”

“Ek sweer.”

“Baie mense het al valslik gesweer in hierdie kantoor. Om maar net agterna ’n bekentenis te maak. Party mense neem langer as ander om by daardie punt te kom.”

Vra, vra, vra.

Gee haar nie tyd om klaarheid te kry voor sy antwoord nie. Krap die bietjie rigting wat sy het, deurmekaar; wip verbandloos van die een ding na die volgende. Of miskien lyk dit net so. Sy is leeggetap. Sy wil huis toe gaan en tussen die bekendheid van haar eie lakens inkruip, haar gesig in die kussing vasdruk om te huil oor nege jaar se sielehel. Oor alles wat sy opgeoffer het en nié opgeoffer het nie. Oor Dawid wat nie langer sy weg in die lewe oopgesien het nie. Oor Alexander. Veral oor Alexander wat in ’n lykshuis lê. Kind met die glasblou oë, vir wie sy so magteloos lief was. Al het hy haar nooit liefgehad nie.

As die huil opdroog, wil sy wegsink in ’n wêreld van stilte en nóg stilte. Slaap, slaap, slaap. Dalk moet sy na Gunter toe ry en haar op die strooi in die stal aan die slaap huil. En wanneer sy wakker word, sal sy vir Gunter sê Alexander wás toe veiliger tussen die perd se hoewe as by haar, dat die perd se instinkte suiwerder was as haar eie. Gunter, sal sy sê, help my om op die kraalmuur te klim sodat ek ver kan sien. Vat jou knipmes, Gunter, en kyk of jy die skuldgevoel uit my hart kan wegkerf. En ek vra jou, Gunter, omdat ek niemand anders het om voor te vra nie, om my asseblief te help met geld vir die begrafnis.

Gunter sal haar op die kraalmuur tel sodat sy ver kan sien. Hy sal die geld vir die begrafniskoste in haar hand neersit, omdat sy hande Alexander se voetsole geken het. Omdat daar ’n dag was toe hy háár voete gewas en afgedroog het. ’n Ander, ver dag toe sy geslaap en hy sy baadjie oor haar gegooi het …

Die een of ander tyd het die vrouespeurder vir haar ’n koppie water en ’n stoel gebring. ’n Krakende houtstoel met lendelam pote. Maar dit kon haar nie meer skeel of sy staan of sit of lê nie; of die stoelpote onder haar afknak nie. Haar weerstand was op breekpunt en die man voor haar se nimmereindigende gepraat het soos ’n vreemde taal geklink. Soms het sy lippe klankloos geroer en sy kon sy vrae nie volg nie, sodat hy hulle moes herhaal.

“Hoe laat is dit?” het sy gevra toe sy deur die stof teen die ruitglas sien dis al stikdonker. Iewers het die tyd verstrengeld geraak. Dis Saterdag, dít weet sy. Gister was sy nog sewehonderd twee-en-neëntig rand kort by die toonbank. Gistermiddag het sy Miriam huis toe geneem en daarna Alexander se hare laat sny. Of is dit al Sondag? Miskien weet Gunter nog nie wat gebeur het nie, miskien wag hy vir haar en Alexander hy die stal. Hy sal weet daar is fout as sy nie opdaag nie.

Nee, dit móét Saterdag wees. Want daar het nie ’n nag verbygegaan nadat sy Alexander uit die bad getel het nie.

Vra, vra, vra.

Die afgeremdheid in haar is té groot om bang te wees vir die onverbiddelikheid in die man se stemtoon. Sy kan nie meer omgee of hy haar lewenslank agter tralies sit oor iets waaraan sy onskuldig is nie. Watter verskil sal dit maak? Nege jaar lank was sy opgesluit in ’n tronk wat Alexander steen vir steen, dag vir dag en nag vir nag rondom haar gebou het.

Vensterloos. Ligloos. Liefdeloos. Gewetenloos.

’n Ander tronk kan sekerlik nie meer uitmergelend wees nie.

Stadig, stadig glip sy weg uit haarself, raak sy regop op die stoel aan die slaap. Ver weg in ’n onderstebo wêreld hoor sy die vrouespeurder roep. Mevrou Dorfling! Mevrou Dorfling!

Vergetelheid.

Induik in koel waters. Word ’n nimf met ’n sterk stertvin. Swem gewigloos weg. Roei dieper, na waar sy nie meer Alexander se glasblou oë kan sien nie; ’n plek van geluidloosheid waar sy nie Dawid se laaste maande van verbittering kan herroep nie. Ver, tot op ’n alleenplek wat Gunter vir haar wys. Waar die tand van die F-kruis nie meer ta-tate-ta nie. Tot die beitel te stomp word en sy nie snags die pleisterbrokke op die vloer hoor neerplof nie.

Sy hoor haarself hoes.

Maar sy is nie seker of dit háár longe is wat hoes nie.

Raaiselkind

Подняться наверх