Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 16
12 Die drywer knyp die stuurwiel met sy knieë vas en skroef nog ’n bottel oop. Goddank kan sy die grootkerk se wit stippel al in die verte voor haar oë sien lê. Voor die bottel te diep in sy lyf sit, sal hulle by die grootkerk stop. Sal beter is as sy haar kop kan losmaak van die lorrie en die drywer af. Van miss Ingrid en Boetatjie ook. Die mense moet maar alleen verder sing.
ОглавлениеSy wonder of Jeremia die brood goed deurgebak het. Sou hy onthou het om die boonste korse ’n smeerseltjie botter te gee vir safte? Anders saag hy die kombuisvloer vol krummels om deur die klipharde korse te kom. Solank hy nie vergeet om die hoenders te laat uitkom nie. Hulle is nie gewend heeldag in die hok opbolling nie. Lê min eiers as hulle so opgedruk is, want hulle senuwese is onrustig. Vir al wat sy wis, laat hy die hoenders aan die genade oor tot sy môreaand t’rugkom. Korte kop wat Jeremia het.
“Dis van brousels drink wat jou verstand so weggevreet is,” het sy knap laastere week vir hom gesê toe hy by die huis aankom met ’n pak bruinbroodmeel. Sy wou suikerkoekies bak, en hoe moet sy nou suikerkoekies bak met bruinbroodmeel?
“Die Here is my getuie, Jeremia, een oggend is een oggend gaan jy nog wakker word sonder binnegoed in jou kop. Is lankal tyd dat jy jou laag buig voor die Here en vergiffenis …”
“Ag gottatjie, Miriam, my kop makeer niks! Oppas eerder dat jou kopnate nie oopbars van te veel Kristelikheid nie.”
“Nou vir wat loop staan en koop jy bruinbroodmeel? Ek het mos uitdruklik vir jou gesê koekmeel.”
“Die winkel was uitgeverkoop van koekmeel.”
“Dit lieg jy, Jeremia! Waar’s my kleingeld?”
Hy’t sy broeksak uitgedop en die losgeld op die tafel neergeplak. Meer as vyf rand kort. Die engel van goedheid wat elkere dag om haar rondvlieg, het haar gehelp om haar lippe opmekaar te hou. Want as sy toe aan die skelle moes gaan, het sy hom ingesê tot verby sy voormense se sondes.
Slegte helsem, Jeremia, fyne liegter. Dink sy’s te onnooslik om te weet wanneer hy lieg. Sy weet hy gaan die godsbotteltjie se geld wat sy by Esegiël agtergelos het, loop uitmors op sondegoed. As dit nie op domino’s is nie, sal dit op ’n suipsel is. Die jimmele weet, sy sukkel met Jeremia. Meer as dertig jaar al dat sy hom deur die lewe moet trek. Kan hom nie eens met ’n vredige hart dorp toe stuur vir ’n pakkie suurdeeg nie.
Sy kan selwers loop, maar haar twee bene is by gedaan verby. As sy t’rugkom van die dorp af, smaak dit haar die jigpyn trek tot in haar heuppotjies. En Jeremia kan net sowel die winkelsake vir haar loop doen. As hy nie met dominospeel besig is nie, sit hy tog net heeldag in die son teen die huis se voormuur en waai die vlieë van sy gesig af. Rook, gesels met almal wat verbyloop. Skoon sku vir werk. Lig nie sy vinger om ’n boontjierank op te lei of ’n hoendereier uit te haal nie. Laat staan nog houtkap. Wragtig, manvat is moeilikheid vat. Is waar wat haar ma doerie tyd gesê het: as jy met akkies speel, moet jy nie kla as jou hande stink nie.
Maar Jeremia was ’n mooie man in sy jonkjare. Witte ry tande en sterk in sy skouers. Goeie werk gehad by die meubelfabriek. Elkere maand genoeg geld huis toe gebring om baie krikkels reguit te stryk. Dié dat sy haar aan haar ma se bemaninge afgevee het. “Hy’t ’n manier om skeefweg oor sy skouer agtertoe te kyk,” het haar ma gesê. “Nes of daar iets op sy spoor is. En sy oë kyk nie reguit nie. Jy vat vir jou moeilikheid, Miriam.”
Sy wou nie hoor nie. Nou sit sy met hom.
Maar die evangelis het doerietyd gesê dis for better or for worse. Pleks sy gevra het wat maak jy as jy net die for worse sien. Vier tjinners wat sy vir Jeremia gebore het. Vyf, as sy Letjie wat nooit grootgeword het nie, bytel. Katrien, wat eerste gekom het en ’n maklike tjint is. Enigste meisietjint. Reguite kop op haar lyf. Verste geleer van al vier. Nooit eens ’n voortjint gehad nie. Dunne wit netrok gedra die dag toe sy ge-eg is. Dik geplooide veil wat verby haar boude gehang het. Glads die dorpskerk se wit orrelis gebetaal om die goorgat orreltjie in die bruin kerk te speel. Op die troumars ingestap, die een wat met die baie eenderse note beginte. Staan al jare lank in dieselle werk by miss Marí se hairdresserplek. Katrien sê sy weet net soveel van koppe kleur en kam en sny en indraai soos miss Marí. Was dit nie vir die geld wat Katrien elke maand afstaan vir haar grootwordhuis nie, wis sy nie hoe sy die bonte laslappe van haar lewe in een kombers saamgeryg sou kry nie.
Dan’s daar Sakkie en Evert en Josef.
Dieselle vleis aan hulle bene as hulle pa. Sy liegtery en agtertoekykery ook geërwe. Knaend uit die werk vir eendagsiekte. As dit nie ’n kop is wat wil oopbars nie, dan’s dit ’n hygbors of ’n rug of ’n kruppel voet of tandpyn. Of ’n loopmaag. Wyl die eintlike moeilikheid is dat hulle die vorige aand gesuip het tot die nete op hulle koppe bars.
Môre, voor sy die Nagmaalglasie by haar lippe sit, wil sy met die Here praat oor haar drie versondigde tjinners. Veral oor Evert. Enige dag dat sy vrou ’n bybie moet kry en sy’t vir Jeremia gesê dis of sy nou al toe-oë kan sien hoe sit Evert een van die dae met sy agterent in die tronk. Skottels vol skaapvleis wat aldag by sy tafel geëet word. Wat hy waarvandaan kry? En dít wyl hy op deurgetrapte skoene loop, en by háár kom geld afbedel vir ’n sakkie ertappels.
“Ek sê jou, Jeremia, ek sien ’n dikke moeilikheid aankom met Evert,” het sy gesê wyl sy die lamptong opgedraai het sodat sy kon sien om die tafelbrood mooi dun te sny.
“En hoe sien jy dit nogal, Miriam?” het hy al kouende gevra. Eet mos haar bord huistoebringkos sonder skaamte op, die enkelte kere as sy kos huis toe bring. Krap die slaaiblare eenkant toe en sê hy’s nie ’n haas of ’n hoender nie. Kla met lang lippe oor die skrapse stukkie vleis. “Sien jy Evert se moeilikheid met jou godlike maaghelm?”
Sy het die engel van goedheid gevra om haar te help om stil te bly. Beter om liewerster nie met hom ’n baklei op te tel nie, want sy wou hom vra om ’n klomp van die hane se stertvere op te tel en in bossies te bind vir Boetatjie. Ure lank dat Boetatjie op een plek stilsit om die vetterige drade van die stertvere van mekaar losgetrek te kry. Dan kry sy vinnigter klaar met die Brassogoed en die strykwerk.
Die lorriedrywer hou die bottel vir die man langs hom. Daar is skaars twee vingerhoogtes oor. Toemaar, dis nou naby; sy kan al die haan op die grootkerk se toring sien.
Vanmiddag wil sy haar eenkant hou daar by Jeremia se mense; die kamerdeur toehou en in haar kop lysmaak van wie sy almal moet opdra. Sal beter is om met Evert te beginte. Want sy’t baie dinge om voor die Here uit te pak oor Evert.
Skaars ’n maand t’rug gewees dat sy haar oë ampers uit haar oogkasse uit geskaam het vir haar eie maaksel. Loop hou toe mos begrafnis by master Siegfried agter op Klipfontein. Hele naweek se storie. Ry kanne wyn op die lorrie saam soontoe. Kitare ook. Mens sou nooit kon raai hulle gaan om ’n laastere eer te bring aan ’n afgesterfde mens nie.
Toe die begrafnis die Saterdagoggend moet beginte, toe reent dit sleg. Gladde modderpappery rondom die graf. Sal Evert se voet wragtig op die graf se rand gly. Val binne-in die graf, bo-op die kisdeksel, en die doodsruiker van wit krisante aan flarde. En ant Maria, wat almal se doodsblomme doen, het juis so duur gebetaal by die blommewinkel vir die wit krisante. Só vertel ant Maria vir haar hoedat die ander gangers gesukkel het om Evert uit die graf uit te kry. Maar verdomp. Die mense was blinkgesuip en die graf se kante so snotterig soos botterboom. Later glads drie van hulle wat in die graf ingeneuk het. Toetentaal niks oorgebly van die doodsruiker nie. Dit het ant Maria se man gekos ’n tou loop soek om die spulle uit die graf uit te katrol.
Die Maandag agter werkstyd het sy selwers met haar jigbene afgeloop na Evert se huis toe. Lê toe al van agter sonop af met ’n pyn op sy maagkrop.
“Evert,” en aan die trek op sy gesig kon sy duidelik sien hy gaan hom aan haar afvee, “jy’s ’n grootmens. Maar ek sê vandag vir jou: ek sal ’n riem vat en ek sal jou uitneuk soos ’n tjint.”
“Dit sal meer as Ma kos om my uitgeneuk te kry.”
Haal dieperder asem. Moenie dat Evert se kwaad háár kwaad word nie. “Vir wat loop staan en neuk jy Saterdag in die graf in van dronkigheid?”
Snork deur sy neus. “Dronkigheid? Waar was ek dronk?”
Eers weer asem optrek. “Heretjie, Evert, moenie my vir ’n bobbejaan aankyk nie. Ek is jou ma, en ek sê vandag vir jou dis van dronkigheid dat jy in die graf geneuk het. Van niks anders nie.”
“En ek sê vir Ma dit was nié van dronkigheid nie. Dit was van bewoëndheid.”
Bewoëndheid se maai. Sit eerder haar lippe op slot. Want sy sou haar tot in ’n beroerte in gevererg het vir die klein kakgat.
Ja, sy beter met Evert beginte as dit by die opdraslag kom. Wyl haar kop nog vars is.
Die lorriedrywer slaan gly-gly brieke aan om af te draai by die uitgeryde pad wat tot op die grootkerk se werf loop. Sy lig haar oë wolke toe en sê dankie vir die engele wat gestuur is om hulle te help om dit tot hiertoe te maak. Toe die engele hande vat vir t’rugvlieg kloofkant toe, sien sy Boetatjie weer tussen hulle.
As dit nie was vir die ongekamde agterkant van sy kop nie, sou sy nie gewis het dis hy nie.