Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 9
5 Die beknopte kantoor by Moord en Roof ruik na deurslagpapier en stempelink en sigaretstompies. Die venster is toe en die gebrek aan ventilasie maak haar naar en swewerig.
ОглавлениеWanneer het sy laas geëet? Gisteroggend? Sy kan nie onthou nie. Gister lê ligjare ver. Miskien sal hy vir haar koffie en ’n stoel gee as sy na sy sin antwoord. Nee, hy sal nie. Heeltyd nog gee sy al die antwoorde wat sy ken en hy bly ontevrede.
Die man kyk op van die vaalbruin lêer. Sy turksvyvingers tik met ’n potlood op die lessenaarblad. Ta-tate-ta, ta-tate-ta. Hou in hemelsnaam op! wil sy roep. Moenie maak soos Alexander met die F-kruis gemaak het nie!
“Mevrou Dorfling,” en hy sit die potlood neer, lê agteroor op die draaistoel. “Jou kind is dood, maar jy wys geen hartseer nie.” Hy kruis sy hande agter sy kop, kyk haar bevraagtekenend aan.
Ag, Here. As sy net nie so dodelik moeg was nie. “Ek ís hartseer. Maar julle gee my nie kans of tyd om hartseer te wees nie. Hoe moet ek …?”
Hy hou sy hand in die lug. “Nee, mevrou Dorfling, ek praat nie net van nóú nie. Toe ons vanmiddag by jou huis opgedaag het, was daar geen teken dat jy gehuil het nie.” Ta-tate-ta. “Sê my, is jy hartseer?”
Sy is lighoofdig. Daar is ’n doodse verlamming in haar armholtes. “Ek dink nie ek kan meer huil nie. Die laaste nege jaar het my verhard. Ek kan nie onthou wanneer laas in my lewe het ek gehuil nie. Ek wíl, maar ek kan nie.”
Ta-tate-ta, ta-tate-ta.
Die moegheid van baie dae se min slaap, en die vorige nag toe sy byna heeltyd wakker was, begin aan haar kragte kou. Hoe lank kan sy regop bly só sonder ’n stoel? Van een voet na die ander rondstaan. ’n Onsigbare hand rem haar ooglede af. Sy sweer sy gaan op haar voete aan die slaap raak. Rondom haar word die kantoorruimte en die man se gesig in ’n dun tonnel opgesuig. Dit sing in haar ore. Sy woorde verbuig tot ’n vae agtergrondgeluid.
Toe haar lyf begin kantel, skrik sy regop.
“Kan ek asseblief ’n stoel kry? Ek is moeg en laas nag het ek niks geslaap …”
Hy kom skerp en skielik op haar af. “Nee, mevrou Dorfling, nou stem jou oggend- en aandpraatjies hoegenaamd nie ooreen nie. Tot nou toe beweer jy dan jy was aan die slaap toe die kind verdrink het. Hoe rym dit?”
Vasgekeer. En dít oor ’n klein woordspeling. “Ek bedoel, dit was te kort om as slaap gereken te word.”
“Jy sê dan in die verklaring jy weet nie hoe lank jy geslaap het nie. En nou sê jy dit was kort.”
“Ek … ek … kan ek ’n stoel kry?”
Hy sit die potlood op die bruin lêer neer, staan op en kruis sy arms voor sy bors. Stap dan heen en weer agter die lessenaar. “Kom ons begin van voor af, mevrou Dorfling. Héél voor. En ons gaan elke keer van voor af begin tot jy die waarheid praat.”
“Ek praat nog heeltyd die waarheid. Ek weet nie hoekom glo julle my nie.”
“Uit die feite tot my beskikking kán ek jou nie glo nie, mevrou Dorfling. En ek sal aanhou tot ek die volle waarheid by jou hoor.”
“Kan ek nie asseblief huis toe gaan en eers gaan slaap voordat julle my verder …?”
Hy gee haar nie kans nie. “Hoe dink jy, mevrou Dorfling, hóé het die kind in die bad vol water beland?”
Deur die venster sien sy dit raak skemer. ’n Oneindige moedeloosheid oorval haar. Want sy sien hy gaan waaragtig van voor af begin.
“Hy moes self ingeklim het.”
“Was dit maar altyd sy gewoonte om self in die bad te klim?”
“Nee, ek het reeds gesê hy het nie daarvan gehou om te bad nie. Ek dink hy was bang die propgaatjie suig hom in.”
Hy gaan sit en tel weer die potlood op. “Toe besluit hy vanoggend, vir die eerste maal in nege jaar, om daarvan te hou en self in te klim?”
“Dis al oplossing wat ek kan gee.”
“Die speurtak kon géén tekens van geforseerde toegang tot jou huis vind nie, mevrou Dorfling, ook nie vreemde vingerafdrukke nie. Al die sleutels is daar. Daar was dus geen ongemagtigde toegang tot jou huis nie, en niemand anders as jy wat die kind in die bad kon getel het nie.”
“Hy moes self ingeklim het.”
Hy trek ’n laai oop, haal ’n merkpen met ’n neongeel doppie uit, onderstreep iets in die lêer. “Ek waarborg jou, mevrou: hy het nie.”
“Ek verstaan regtig nie hoe jy so ’n bewering kan maak nie. Jy was immers ook nie daar om te kan oordeel nie. En ek gaan my nie laat intimideer om …”
“Nee, mevrou Dorfling,” en hy kom so vinnig regop dat die draaistoel tot teen die muur skuif, “ek was nie daar nie, en die aangeleentheid het niks met intimidasie te make nie. Maar daar is ’n lykskouing op die oorledene gedoen. Lykskouings lieg nie. En Moord en Roof word nie ingeroep vir nonsens nie.” Hy stap om die lessenaar en kom staan byna teenaan haar. “Wat het daar werklik vanoggend met jou kind gebeur, mevrou Dorfling?”
Haar kop wil nie meer reguit dink nie. “Ek weet nie.”
Hy draai na die vrouespeurder. “Maak ’n aantekening dat die verdagte nie behoorlike samewerking wil gee nie.”
Uit die hoek van haar oog sien sy die vrou skryf iets. Sy skrik. Of sy dit wil erken of nie, sy is bang. Nie vir die waarheid nie, maar vir die onbekende terrein waarop sy beweeg. “Kan ek asseblief ’n kopseerpil kry?”
“Teken haar versoek aan,” sê hy vir die vrouespeurder en draai weer terug na haar. “Dis teen polisieregulasies om medikasie te verskaf tydens ondervraging. Antwoord nou my vraag: wat het daar werklik vanoggend met jou kind gebeur?”
Hy gaan nie ophou nie. Waaragtig nie. En haar kop wil bars. “Hy het verdrink. Ek weet niks meer as dit nie.”
“Hoe het hy dan in die bad gekom?”
Sy moet dink; herroep presies in watter volgorde die nag verbygegaan het.
“Alexander was heelnag wakker, besig om pleister af te kap met die beiteltjie. Hy was besmeer met sementpoeier en kaassmeer. Sy lyf was yskoud en ek wou hom probeer bad en by my in die bed tel om te kyk of hy nie tot ruste sal kom nie.”
Stofdroë mond.
“Die badwater was ingetap, maar hy het verseg om te bad voor die kaassmeerpot leeg was. My voete was seer en ek het op die bed gaan lê terwyl hy by die televisie gesit en die kaassmeerpot uitgelek het. Ek wóú nie slaap nie. Toe ek wakker word, het ek hom in die bad gekry.”
Water. ’n Stoel. Asseblief. Haar bene en voete kan dit nie meer uithou nie.
Hy beweeg weg uit haar persoonlike sfeer, kruis sy hande agter sy rug, stap kop vooroor geboë op en af in die kantoor. Toe hy agter haar instap, slaan die hoendervleis teen haar skouerblaaie uit. Hy is gevaarlik, weet sy. Genadeloos. Slim. As daar dan regtig iets in die lykskouingsverslag staan wat háár onder verdenking kan bring, moet sy haarself sterk maak, anders gaan hy haar op ’n onregverdige manier knak, so seker as wat die Here leef. Van almal in die wêreld is sy die allerlaaste een wat Alexander sou skade aandoen.
Hulle kan beweer wat hulle wil.
Sy sou nie.
“Jy sê die badwater was klaar ingetap. Beteken dit jy het die krane toegedraai voor jy aan die slaap geraak het?”
“Ja, ek het.”
“Die huis is oorstroom, mevrou Dorfling. Wie het die krane weer oopgedraai?”
“Alexander het graag met krane gespeel. Hy kon dit self oopgedraai het.”
“Sy geboorte, mevrou, was dit ’n normale geboorte?”
“Ek het vroeër gesê: twee weke vroeg, andersins normaal.”
“Hy is gebore toe jy reeds drie-en-dertig was; tien jaar ná jou twee ouer dogters. Wóú jy die kind gehad het?”
Die Vader weet hoe graag sy en Dawid ’n seun wou hê. Veral Dawid. Hy het nooit ’n geheim daarvan gemaak nie. Toe sy swanger word, was dit Dawid wat die nuus deur die dorp gesaai het.
As posmeester op ’n plattelandse dorpie het hy elke dag met baie mense omgegaan. Die poskantoorstoep was een van die dorp se gewilde geselsplekke. En mense het van Dawid gehou, hom maklik vertrou. Hy het altyd ’n oor gehad vir andere. Raad gegee met jaggewere, visstokke, boomhuise. Lief om saam met die manne poker te speel vir geld. Party Saterdae sy klompie rande op die perde verwed. Soms nog vir die dorpspan rugby gespeel. Flank. Ywerige ondersteuner by die gholfklub. Nie ’n groot drinker nie. Nie tóé nie. Dopmaak is een ding, het hy altyd gesê, suip is ’n ander ding. Erg oor geselskap en stories en grappe. Kon met so ’n aansteeklike dreun uit sy maag uit lag dat al die koppe in sy rigting draai.
Eintlik wou sy wag tot haar twaalfde week verbygaan voor sy die nuus uitlaat. Maar Dawid sou dit nooit tot dan kon stilhou nie. Sy het nie omgegee dat hy vertel nie, want sy was ewe bly. Teresa en Zettie ook. Hulle was toe nege en elf, en nog nie skaam oor ’n verwagtende ma nie. Het dit by die skool uitgeblaker, en voor haar agste week van swangerskap het die hele dorp geweet. Almal wat by die bank ingekom en met hulle deposito’s en banksake by die toonbank kom staan het, het uitgevra oor haar datum, of sy kon aanvoel of dit ’n seun of ’n dogter is. Kousies en gehekelde borslappe aangedra. Rate gegee oor sooibrand en rekmerke en borsvoeding, en die groeiende ronding van haar maag bekyk.
“As jy in jou boude dra, soos jy, is dit ’n seun,” het tannie Koekoes van langsaan gesê toe sy een laatmiddag met ’n paar jong skorsies uit haar groentetuin oorgeloop het. “Seuns los lelike rekmerke op mens se bobene. Jy moet jou bene saans ná badtyd met lou olyfolie invryf. Laat die botteltjie in kookwater lê.”
Jeremia van Miriam het al die pad van die lokasie af geloop om te kom sê as dit ’n klongtjint is, sal hy hom leer draadkarre maak en boomgom tap. En hy sal hom wys hoe om hoender te slag.
“En sê nou dis ’n meisiekind, Jeremia?”
Hy het gelag en sy kop gekrap. “Nee gottatjie, miss Ingrid, dan wis ek nou nie helemal so mooi nie. Miskien kan Miriam haar leer modderkoekies bak. Rondetjies wat mooigemaak is met seringbessies, soos die kloggoed daar by ons bak.”
Rosie van die koshuiskombuis, voorste vroedvrou van baie lokasiebabas, wat altyd Teresa en Zettie se klein geworde klere oorgeneem het, het ’n bottel boegoeasyn gebring.
“Is vir later as miss Ingrid se voete aan swelle gaan. En miss Ingrid moenie op missus se hurke in die tuin sit en werk nie. Juis die ander dag toe ek met die taxi hier verby is koshuis toe, toe sien ek miss Ingrid sit op missus se hurke doer by die rosebedding. Is ’n ding wat maklik miskraam maak om só te sit. Die Xhosavrouens het my geleer ’n mens sit nooit só voor die dag dat die kleintjie moet gebore kom nie. As die pyne styf opmekaar kom en dis druktyd, gaan hurk hulle teen ’n binnemuur, of sommer teen ’n boomstam, en ek sê miss Ingrid, net twee goeie drukke, dan’s die kleintjie uit.”
Almal weet alles van almal op die dorp.
Klompe kuiermense wat kom tee drink het; gebreide goedjies aangedra het. Dikwels was sy naar en sooibranderig, maar sy kon nie die VLV of die leeskringklub of saans se wyksbiduur mis nie. Die dominee en sy vrou het kom huisbesoek doen en gelees van Abraham en Isak en die offerlam. Agterna tot laat gekuier. By die tennisklub het hulle gespot dat sy ’n dubbelpaar uitmaak en gediskwalifiseer behoort te word.
Almal was bly.
Ná alles, die nuus van ’n laatlam was nuus vir ’n halfdooie dorp. Handjie vol mense saamgebondel in die bakarm van die berg wat soos ’n oervader agter die dorp uitgetroon het. En al het sy en Dawid nog net drie jaar op die dorp gewoon, was hulle reeds spontaan opgeneem in die hart van die gemeenskap. Dawid was op elke kommissie en raad en komitee, in elke span. Ook voorlagter en voordanser by elke bymekaarkomplek.
Hoe absoluut normaal was hulle nie.
Vleis gebraai. Vrolike karavaan-naweke by die see saam met Mirna en Lida en Hannah en hulle mans en kinders. Hegte kring gevorm, sy en Mirna en Lida en Hannah. By elkeen het sy iets anders gevind om haar te verryk.
Mirna was iemand vir aardse goed. Ryk geërf. Pragtige grasdakhuis met ’n swembad teen die rivieroewer. Boomryke tuin vol mosbegroeide klippe. Weglooppaadjies van ronde boomstompskywe waartussen die peace-in-the-home ’n sagte tapyt vorm. Skadukolle begroei met skelrooi begonias. Plate varings. Swart lelies. Binne die huis alles uitgelê soos ’n Oos-Kaapse jagtershuis. Aardse interieur in strooikleur, roomwit, goiing. Los kussings van diervelmotiewe; buffel- en koedoekoppe gemonteer teen modderkleurige mure; los kwaggavelmatte. Altyd Mirna se kennis wat ingeroep is as een van hulle ’n gasvroutafel moes dek vir ’n vrouetee.
Lida het in die vierkantige huis oorkant die bank gebly. Spesialeklasonderwyseres by die skool. Die intellektuele een onder hulle. Nie veel erg aan tuinmaak en kuns en fynhede nie. Weet alles van politiek en effektetrusts. Voorsitster van die leeskringklub en kenner van skrywers. ’n Hele vertrek in haar huis net vol boekrakke. Eerste vrou in die gemeente wat tot die kerkraad verkies is.
Hannah was die sielsmens. Dromer met ewige wysies in haar kop. Vergeet maklik soggens om haar hare te kam. Gaan kaalvoet kafee toe met ’n bont romp wat teen haar enkelringe swaai. Kook roosblaarkonfyt en bak rogbrood. Gaan grawe modder om haar huis se deurkosyne in Xhosapatrone te versier. Sit eiehandig ’n rietdakplafon in haar kombuis. Knaend ’n hartsgedig wat sy vir hulle wil voorlees.
Baie kere het sy gewonder hoe dit gekom het dat sy in dié kring opgeneem is. Sy wat vaal en alledaags was. Sit om die kombuistafel en werk saam met Dawid om hulle begroting te balanseer. Stuur die kinders vroeg bed toe, en sit tot ounag by die verwarmer en krabbel speel, met die pot moerkoffie op die verwarmer. Gaan stap op broeiende somersnagte om af te koel voor slaaptyd. Vroetel smiddae ná werk in die tuin. Sy tussen haar daglelies en bokbaaivygies en primulas in bonte van geel-rooi-pers. Pluk bosse langsteelpronkertjies wat die huis na soetheid laat ruik.
Dawid was iemand vir ’n kostuin. Baie male het Jeremia hom op Saterdae kom hand gee met die groentes wat hulle geplant het. Tiemie, witwortels, salie, kruisement, rooirissies, knoffel. Somertyd rye en rye rankbone, opgerank teen riete. Dratyd, as die oggendkoelte oor alles hang en die berg nog net ’n donker vlek is, is sy en Dawid en die kinders buitentoe om die geil trosse tussen die blare uit te pluk. Saans gekerf terwyl Dawid vir Teresa en Zettie stories vertel van seeskilpaaie wat kan praat en eenoogmonsters met gewebde voete en waterprinsesse met silwerkrone vol bloedrooi robyne.
Hulle het nie geweet hulle normaliteit sou binnekort vlak voor hulle oë verpoeier nie. Hoe sou hulle vooruit kon weet?
Die sonar het gewys dis ’n seuntjie. Dawid was in ekstase. Hy het ’n plakkaat teen die muur bokant die posbusse opgesit: It’s going to be a boy! Sy was ook hartsbly. Veral om Dawid se onthalwe.
“Hy kry my oupa se naam,” het Dawid gesê terwyl hulle een Dinsdagaand sit en krabbel speel het.
Dinsdagaande het Dawid nie uitgegaan nie; ’n selfgemaakte reël. Maandae en Donderdae was vergaderingaande. Woensdagaand en Vrydagaand was dit gholfklub en poker. Saterdae het hulle saam met die dorp se sosiale stroom gedryf.
“Alexander. Net dit. Nie allerhande tweede name nie.” Dawid het sy krabbelblokkies rondgeskuif op die balkie. “Jy moet my belowe, Ingrid, hy word nie in ’n rokkerige ding gedoop nie.”
“Sê nou die sonar was verkeerd en dis ’n dogtertjie, Dawid?”
“Dan noem ons haar Alexandra. Maar dit sal nie wees nie. Ek het self die tottertjie gesien.”
Die koms van haar kraamverlof was ’n verlossing. Ondanks die koelheid van die laatherfs was haar voete opgeswel tot in haar enkels. Snags het haar kuite gekramp; haar rug het haar opgekeil en sy kon beswaarlik heeldag agter die toonbank staan. Die bankbestuurder het aangebied dat sy agter in die kantoor werk waar sy kon sit. Maar sy was nie lus vir ’n verandering in werksroetine nie.
“Dis goed om skoon te kraam, Ingridjie,” het tannie Koekoes gesê toe sy oorgeloop het met ’n bak kaneelpannekoeke. “’n Vrou kan nie met deurmekaar kaste en vuil gordyne en ’n leë vrieskas sit as sy met ’n kleintjie huis toe kom nie. Maak klaar en skoon en vries vóór jy hospitaal toe gaan.”
Daar was hope onafgehandelde dinge wat sy en Miriam moes klaarmaak voor sy kon skoon kraam. Linnekas sorteer, kombuiskaste skrop. Gaar kos vir die vrieskas. Dawid wou nog die kinderkamer verf en sy moes gordyne stik. Snags was haar slaap onderbroke en met elke omdraaislag en kramp was sy wakker. Soggens wou sy nie meer so doodvroeg opstaan terwyl die winter oor die dorp aankruip nie. Boonop het sy daarna gesmag om ’n bietjie in die beskutting van haar huis te verdwyn. Middae vir ’n uur te gaan lê. Goed te wees vir Dawid, want sodra die baba kom, sou haar aandag verdeel wees.
Boweal het sy ’n dringende behoefte aan emosionele rus gehad voor die geboorte. Die swangerskap het aan haar gevreet. Haar liggaam was soveel jonger met die ander twee. Anders as met Teresa of Zettie, was die baba besonder woelig binne-in haar, asof hy benoud was en stoeiend uitkomplek soek. Druk bultende knoppe met sy elmboë en knieë uit; trap op haar blaas sodat sy onbeheers begin lek.
Die gedagte aan ’n ooievaarstee het soos ’n swaard oor haar kop gehang. Sy wou nie rosyntjies uit ’n bak versiersuiker snuif en name raai en rympies lees nie. Daarom kon sy haar verligting aan geen mens beskryf toe sy die laaste maal terugkom van die ginekoloog af en Mirna en Lida en Hannah het in haar afwesigheid, pleks van ’n ooievaarstee, die hele huis se gordyne kom was en stryk en hulle weer opgehang. Hulle het die vrieskas ontvries en volgepak met pasteie en pastageregte en gaar vleis en skons en kolwyntjies wat die gemeentevrouens en die bank- en poskantoorpersoneel in die stilligheid gemaak het.
“Ons het Miriam se huissleutel gebruik; ons wou jou red van die sirkus,” het Hannah gesê.
Die trane het uit haar oë gespring. “Dankie, Hannah …”
Soms het sy haarself betrap dat sy opsien teen die geboorte. Gewens sy kon haar oë toeknyp en alles sal pynloos en sonder sukkel verby en klaar wees.
“Die kind lê mooi,” het Oudokter gesê. “Ek dink hy gaan vroeër kom as wat ons uitgewerk het.”
Twee weke voor die datum wat die sonar aangewys het, het sy Dawid die aand ná tien by die gholfklub gebel.
“My water het gebreek, Dawid, jy moet huis toe kom.”
Sy was godsdankbaar oor die laaste twee weke waarvan sy uitgespaar was. Haar lyf was gedaan.
“Boys!” het sy Dawid bo die agtergrondgeraas hoor roep, “skink ’n rondte! Ek betaal!”
Ewige kindman, Dawid. Eintlik wou sy hom nie anders hê nie. Want tussen sy sosiale lewe en kommissies en komitees deur was hy goed vir haar en die kinders. Goeie pa vir Teresa en Zettie. Fietse reggemaak, netbalring opgesit. Soggens hulle hare help vasmaak. Snags opgestaan om die toiletlig vir hulle aan te sit, of kombuis toe geloop as hulle roep vir water. Slaaptyd by hulle ingekruip en Bybelstories gelees. Saam-saam gejil en die kombuis besmeer met ’n pannekoekbakkery. As hulle koorsig was of nagmerries gehad het, het hulle by Dawid kom inkruip. Wanneer sy vrouebiduur toe gaan, of by Mirna of Lida of Hannah koffie drink en vroumensgoed praat, het hy nooit gegrommel om na die kinders te kyk nie. Solank sy nie sy pokertyd gevra het nie.
Sy was lief vir Dawid.
Hy vir haar ook.
“Voel jy al iets?”
Sy het werklik ’n behoefte aan sy nabyheid gehad. “Effens, maar jy moet liewer huis toe kom. Ek moet nog inpak en bad.”
Halfelf was hy by die huis. Hy het die koffer help inpak en die waterkol op die kombuisvloer drooggevee. Rooibostee gemaak en Oudokter gebel. Halfpad voordag toe het haar pyne dringender begin kom en hy het gery en Miriam gaan haal.
“Jy moet heeltyd by my bly, Dawid.”
“Ek sal.” Hy het haar vasgehou sodat haar geswolle maagbult pynlik teen hom aangedruk het. “Alles sal reg wees, jy sal sien.” Sy vingers deur haar hare laat gly. “Ek is lief vir jou, Ingrid.”
Dertien minute oor ses op ’n verskriklike koue wintersoggend het Alexander met ’n deurborende skree uit haar losgeglip. Volmaak.
Dawid het die vetterige gesiggie gesoen; sy voorvinger oor die slymhaartjies gevee en die bloednat bondeltjie in sy nekholte vasgedruk. Oor die skouertjie na haar gekyk. Sy stoppelwange was nat van trane en geboortevog.
“Ja, ek wou Alexander hê.”
“En toe die moeilikheid begin, wou jy hom toe steeds hê?”
“Ja, ek wou.” Haar voete pyn. Haar mond is taai. Sy wens sy het nooit die slaappil gedrink nie.
“Wanneer het jy die eerste maal vermoed daar is fout met die kind?”