Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 6

2 Dis nog pikdonkeroggend. Murgkoud. Swaarte gehad om uit die warm kooigoeters op te staan.

Оглавление

Sy moet klaarkry. Die grootkerk se lorrie gaan nie vir haar wag nie. En dis vergete se tyd al dat sy agter in die kloof by die grootkerk wil uitkom om haar te gaan afbuig voor die Here. Oor baie dinge.

Sy vou die broodkombers van die deegskottel af en stoot die moue van die blou trui wat sy nog van oorle’ master Dawid geërf het tot bokant haar elmboë op. Doop haar kneukels in die piering louwarm botter om die brooddeeg af te knie.

Haar maag kramp.

Die Here weet, van wakkerwordtyd af al is iets in haar derms nie soos dit hoort nie. Brommerigheid wat haar binnegoed al in mekaar laat vasknoop. Maak dat daar ’n floute op haar wil kom neersak.

Dis ’n voorgevoelentheid. Sy weet dit.

Lank t’rug, toe haar ma nog geleef het, het haar ma eendag gesê party mense word met ’n helm in hulle mae gebore. En dat ’n maaghelm baie meer praatkrag het as ’n kophelm. Hoeveel kere was daar nie al snaakse dode in hierdie lokasiestraat nie, en elkere keer het haar maaghelm dit vooraf vir haar gekom sê. Soos die keer toe Mannetjie van ant Maria aan ’n hempsknoop doodgeverstik het. En toe Sina se derde voortjint gegly en in ’n twee vinger diepe waterpoeletjie geverdrink het.

Sy wil liewerster nie beginte dink aan al die kere toe die doodsengel se harde stem met haar gepraat het nie. Sleg vir haar kop. Vir die draaierigheid in haar derms ook.

“Miriam!” Dis Jeremia uit die agterkamer. “Is die koffie klaar getrek?”

Sy hou haar doof. Regte luigat, Jeremia. Lê met sy agterent warm toegetrek onder die pisvelle wyl sy met haar sere jigbene in die koue nagwind moet uitsukkel houtkamertjie toe om fynhout te breek vir vuurmaak. Deeg afknie. Panne smeer. Sukkel met die rokerige klamhoutvuur. Sal seker nog Jeremia se broek ook vir hom moet loop aantrek voor sy vanoggend op die lorrie kan klim grootkerk toe.

Haar maag gee weer ’n draai. Miskien moet sy kleinhuisie toe gaan. Nee. Dis nie ’n kleinhuisiedraai nie.

Dis iets anders.

As die Here maar net hierdie naweek tot Maandagoggend met invaltyd by miss Ingrid en by Boetatjie sal bly. Sommer by Jeremia ook, dat hy nie die brood laat oorrys of dit kliphard uitbak nie. Laat hom goed is vir haar hoenders, en moenie dat hy sy hande aan die lê-eiers sit nie.

En seën die grootkerk.

Raaiselkind

Подняться наверх