Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 7

3 Daar binne.

Оглавление

Here van alle heres.

Hét sy nog iets daar binne? Alles wat sy ooit was of kon wees, het doodgegaan. Stadig en moeisaam, nege helse jare lank. Sel vir sel. Weefsel vir weefsel. Tot by die senupunte. Dit wat Alexander nie oor nege jare heen afgekerf het nie, het die dorpsmense afgekerf.

Nou is Alexander dood.

As sy nie sy slap lyfie vanoggend met haar eie hande uit die badwater getel en in die stilheid van sy glasblou oë vasgekyk het nie, sou sy dit nie geglo het nie.

Wat gaan sy maak as hulle agterkom sy is werklik onskuldig en hulle neem haar terug dorp toe? Waar daar niemand is aan wie se deur sy kan klop of by wie se kombuistafel sy kan gaan sit en huil oor haar kind nie. So seker as God leef, die dorpsmense gaan nooit ophou skinder en gis nie. Die enigste mens op die dorp wat iets vir haar en Alexander oorhet, is Miriam. Moederhen wat hulle onder haar bruin vlerkvere ingedruk het; haar vlerke kloekend om hulle toegevou het waar en wanneer sy kon. Miriam, wat op somber dae ’n bakhand vol vertroosting uitgedeel het; gesê het die son sal hulle nie in die heldere dag steek nie, ook nie die maan in die nag nie. Sou iemand al daaraan gedink het om vir Miriam te gaan sê van die verskriklike ding wat gebeur het? Nee, Miriam is mos nie die naweek by die huis nie. Sy het Vrydagmiddag met uitvaltyd gesê sy ry Saterdagoggend vroeg saam met die lorrie om te gaan grootkerk hou by haar skoonmense agter in die kloof. Die nuus sal nie so gou tot agter in die kloof trek nie.

Behalwe vir Miriam is daar net een sterfling wat ooit ná aan haar siel gekom het.

Gunter.

En so ná as wat hy aan haar was, net so ver en onbereikbaar was hy. Man met die stilbruin oë wat alles sê en terselfdertyd niks sê nie. Man wat met die saal op sy skouer aangestap kom om die hondmak perd vir Alexander op te saal, die stiebeuels klingelend terwyl hy woordeloos werk. Sweetvlekke aan sy kakiehemp, al teen sy rugbiltonge langs. Man wat die stof met die sonverbrande rugkant van sy hand van sy voorkop wegsmeer, sy knipmes uithaal en die lem teen sy broekspyp skoon vee. Wat baie middae saam met haar op die kraalmuur sit terwyl die kanferboswind oor hulle waai.

“Jy moet Alexander se voete beter versorg, Ingrid.” Hy het knipmes in die hand gekniel waar Alexander op sy rug op die stalvloerstrooi gelê het. “Kyk hoe lyk sy voete van die dorings en sweerplekke.”

Sy was moeg daardie dag. Dawid se dood het nog aan haar gekleef. Niemand in die dorp het haar reguit in die oë gekyk nie. Sy ook nie in hulle s’n nie. Want sy was bang hulle kyk mekaar middeldeur.

“Ag, Gunter, hy weet nie eens daar is dorings in sy voete nie.”

“Hy gaan in ’n geroeste ding trap en bloedvergiftiging kry. Jy móét sy voete beter versorg, Ingrid. Anders moet jy hom leer om skoene te dra.”

“Hy weier om skoene te dra, en dit help nie ek probeer sy voete versorg nie, hy skop in my gesig.”

Karring met die mes sonder om op te kyk. “Hoekom lê hy dan stil as ek die dorings uitkrap?”

“Omdat jy nie ek is nie. Hy staan my teë in alles.”

Gunter het na die blik melksalf op die hekpaal beduie. “Hou op nonsens praat en gee die blik aan, sodat ek sy voete kan insmeer.”

Elke Sondag wat sy Alexander geneem het om te gaan perdry, en Gunter met die saal en stiebeuels aangestap kom, het Alexander op sy rug in die stal gaan lê. Asof hy besef het hy mag eers ry as Gunter sy voete skoongekrap en ingesmeer het. Nooit na Gunter geskop of vir hom gegrom nie. Vir daardie vreedsame twintig minute of ’n halfuur kon sy haar lossny van Alexander. Kon sy hom in Gunter se hande neersit.

In die begin was sy senuagtig wanneer Alexander aan die perd se maanhare swaai of die perd se lippe ooptrek en aan haar tande krap. Op die grond lê met sy voete al trappende teen die perd se maag. Elke keer dat Alexander agter die perd inbeweeg en aan haar stert hang, het sy die geringste beweging van die perd gespanne dopgehou.

“Ek is onrustig as hy tussen die perd se bene lê. Wanneer trap sy nie op hom nie, of skop hom?”

“Lucy sal nie op hom trap of hom skop nie. Sy ken hom, en sy weet.”

“Hoe kan jy sê die perd weet? Sy het mos nie ’n oog onder haar maag om te sien waar lê Alexander nie.”

“Jy vrees onnodig, Ingrid. Lucy sal nie op hom trap nie.”

Dan het sy na die knielende man gekyk wat so tydsaam met die kind se voet in sy hand sit. Elke dorinkie uitkrap, elke stukkie dooie vel afsny, elke snymerk en sweerplekkie met die vetterige melksalf invryf.

God, het sy al baie daar op die kraalmuur gevra, hoekom het ek ’n outistiese kind gekry? Hoe moet ek hom liefhê en troetel as hy my gedurig wegdruk en vir my grom asof ek ’n inbreker is? Hy hoor of verstaan my nie; kyk dwarsdeur my asof ek ’n glasborrel is.

Altyd antwoordloos.

Tog, vir haar was God in die reuk van strooi en perd en stal en melksalf. In die vreedsame dophou van Gunter en Alexander. Al gebeur dit dan uiteindelik so dat dit ál is wat sy vir die res van haar lewe van Gunter met haar sal saamdra, is dit ver beter as niks.

Sou die veldbrand oor Alexander se dood al tot by Gunter se ore gebrand het? Sal hy haar by haar huis kom soek en agterkom sy is nie daar nie?

“Stap voor my uit.” Die vrouespeurder du haar in die rug.

Gangaf. Op met die trap. Verby toegetrekte deure. Terug na waar die man met die potswart kraletjiesoë haar by sy lessenaar inwag. Reg om haar emosionele skanse stelselmatig aan skerwe te slaan. Here, sy is moeg; sy sien nie kans om sy breë rooi gesig en die hare wat by sy neusgate uitsteek te aanskou nie. As hy haar net een uur lank alleen sal los. Om te huil oor Alexander; om alleen te wees met die beeld van haar dooie kind wat so slap in haar arms hang. Te onthou hoe sy sy waternat lyfie op die bed neergelê het en haar mond oor syne gesit het om die asem in sy lyf terug te blaas. Na hom geroep en geroep het. Keer op keer afgesak en geblaas het. Maar sy oë het stokdood in hare bly vasstaar.

Vandat die man en vrou vroeër vanmiddag by haar huis ingestap het, los die man haar nie een sekonde nie. Vra, vra, vra. Onophoudelik. En elke vraag laat dit meer en meer klink asof hy oortuig is sy het Alexander verdrink. Hoekom wil hy van háár ’n verdagte maak? Hoekom vra hy nie uit oor al die kere toe sy Alexander soos ’n tierkat beskerm het teen die aanslae van die dorpsmense nie? Jare waarin sy hom elke keer opnuut liefgehad het. Snags by sy bedjie gesit en sy voetsole met die skoenborsel gevryf het terwyl hy slaap. Op haar knieë saam met hom in sy tafeldoekhuis gespeel het. Vir hom melkkoffie geneem het waar hy ineengekrimp in die besemkas weggekruip sit. Jare waarin sy haarself verskeur het op soek na antwoorde. Op die rand van bankrotskap gaan draai het oor dokters en nogmaals dokters. Met ’n gehawende motor rondgeswerf het op soek na mediese hulp en kennis. Telkens donkernag deur koedoewêreld teruggekom het van afsprake en doktersondersoeke. Op die anderkantste rand van malword omgedraai het omdat niemand antwoorde kon gee nie.

Maar dís nie die dinge waaroor die man haar onophoudelik onder kruisverhoor neem nie.

As sy geweet het hulle kom haar weer ’n keer ondervra, sou sy nie die slaappil gedrink het nie. Dan sou dit nie heeltyd vir haar nodig gewees het om te veg teen die dronkvaak wat haar wil wegsuig nie.

“Loop vinniger,” sê die vrou agter haar en raak haar teen die niere.

Hulle voetstappe weerklink deur die Saterdagmiddagverlatenheid van die Moord-en-Roof-gebou. ’n Ent gangaf spoel die lig uit ’n oop kantoordeur. Sy sien nie kans om haarself weer voor die man te verdedig nie. Maar immers is die kantoor nie so vriesend koud soos toe sy kaal in die badkamer met haar arms bokant haar kop gestaan het nie.

Miskien neem hulle haar nou huis toe.

Nee, sy moenie haar hoop daarop bou nie.

As hulle beplan om haar te laat huis toe gaan, sou hulle haar nie so deeglik deursoek het nie. Sy kan onthou die man het vroeër iets gesê van ag-en-veertig uur aanhou vir ondervraging. Iewers tussenin moet sy slaap en bad en eet. Here, sê nou hulle sit haar in ’n tronksel tot die ag-en-veertig uur verby is? En sê nou die man dink dan nog steeds sy is die skuldige, wat dan?

“Ek sal jou aanraai om jou samewerking vir kolonel Herselman te gee. Moenie dit vir jouself moeilik maak nie,” praat die vrou op haar hakke. “Die kolonel is nie ’n geduldige man nie; ook nie ’n sagte man nie. Baie verdagtes kry later spyt omdat hulle nie uit die staanspoor hulle volle samewerking gegee …”

“Asseblief,” en sy stop viervoet in die swak verligte gang sodat die vrou byna teen haar vasloop, tol om en smeek: “Kan ek nie maar huis toe gaan nie? Ek is ontsettend moeg. Ek het die laaste twee weke omtrent nooit geslaap nie. Julle maak ’n verskriklike fout om my te beskuldig van …”

“Ons beskuldig jou nie, mevrou Dorfling. Jy is ’n verdagte en al wat ons doen, is om jou te ondervra.”

Here, laat die vrou asseblief na haar luister en haar huis toe neem. As die stilte en mensloosheid in die huis te veel raak, kan sy uitry na Gunter toe. Alleen op die kraalmuur gaan sit; na God soek in die bekende reuke van die stal.

“Hoe kan ek ’n verdagte wees? Julle behoort tog self in te sien julle maak ’n fout om my te verdink.”

“Mevrou Dorfling, jou kind se dood was beslis nie ’n ongeluk nie.”

“Hoe kan jy so ’n ongegronde aantyging maak? Julle was nie daar om te sien wat gebeur het nie.”

“Presies. Maar uit die feite in die lykskouingsverslag weet ons daar het iets abnormaals gebeur. Dis ons werk om uit te vind wat dit was.”

Sy moet die vrou oortuig. Vannag wil sy in haar eie bed slaap. “Wat bedoel jy met abnormaal?”

“Dit wil ons by jou uitvind, mevrou Dorfling.”

Moenie ophou pleit nie. “Hoekom by my? Ek is sy ma, hoekom sou ek …?”

Die vrou vat haar aan die elmboog, druk haar weer met die ander hand in die rugholte. “Jy kan jou saak vir kolonel Herselman stel. Stap.”

“Asseblief, ek …”

“Stap, mevrou Dorfling.”

Sy stap.

Dis nodeloos.

Hoe verwoord ’n mens nege jaar se marteling en hel? Die man stel in ieder geval nie belang om van haar hel te hoor nie. Hy soek net heeltyd na ’n deurkomplek om haar skuld te bewys. Sou sy die slag stilbly om die wanorde in haar kop reg te skommel, jaag hy haar aan om te antwoord. Skiet haar antwoorde skoot vir skoot uitmekaar met ’n ander goed gemikte strikvraag.

En nog een.

En nog een.

Totdat sy dink iets in haar verstand gaan versplinter.

Die dorpsmense het nooit uitgevra oor Alexander nie. Eerder sy bestaan soos ’n aansteeklike siekte behandel. Weggehol, die rug gekeer, anderpad gekyk. Ewigdurende kwarantyn. Miskien sou hulle beter verstaan en meer uitgevra het as sy die naam van die siekte vroeër vir hulle kon uitspel: Alexander is outisties; iewers in sy gene skort die skakel met liefde en gewete.

Maar sy kon nie, want sy het self nie geweet nie. Teen die tyd dat sy geweet het, was die brûe rondom haar lankal afgebrand. Toe sy dit kón uitspel, het niemand meer belanggestel om te weet nie. Net padgegee voor Alexander se bisarre gedrag en hul ornamente en katte en kinders en potplante teen hulle bors vasgedruk voor hy hulle kon beetkry.

Gunter het ook nooit in haar sake rondgedelf nie. Miskien sou dit gehelp het ás hy dit gedoen het, want dan sou sy tydsaam daar by hom op die kraalmuur kon leer om sin te maak uit die wanorde; sou die antwoorde en gebeure helderder in haar kop aangeteken staan. Maar Gunter was nie ’n sielkrapper nie. Inteendeel, party Sondae het hulle beswaarlik gepraat. Net in stilte op die kraalmuur gesit, gekyk hoe stap Lucy in sirkels met Alexander op haar rug. Soms het Alexander stadig vooroorgekantel en op die perd se rug aan die slaap geraak. Sodra hy slaap, het die perd opgehou met loop en hangkop gaan staan en nie ’n voet versit voor Gunter nie die slapende vrag afgetel het nie. Baie Sondae as sy Alexander en die perd sit en dophou het op hulle sirkelpad, het sy gewens sy kon regkry wat die perd kon regkry: om Alexander te dra en te dra tot hy slaap, om sy verkeerdom ritmes te verstaan.

“Gunter, hoe weet die perd Alexander slaap? Ek bedoel, dis tog ’n dier.”

Hy het skeefweg na haar geglimlag. Bruin oë vol warmte. “Diere is anders as mense, Ingrid.”

“Dink jy Lucy het ’n siel soos ’n mens?”

“Wie weet? As sy sielloos was, sou sy nie die instink gehad het om te weet Alexander slaap nie. En as sy ’n instink het, moet sy seker ’n siel hê.”

“Sê nou diere het regtig siele …”

“Moenie krap nie, Ingrid. Dis goed waarop daar nie antwoorde is nie, dis sinloos om daaroor te tob.”

Hy het geweet sy wou met ’n ompad deur die siel van die perd by haar eie siel uitkom; dalk by syne. Soms het hy na haar gekyk soos ’n heilige wat besig was om die paaie van haar verstand na te loop. Woordeloos te soek vir klowe en brûe, langpaaie en kortpaaie. Soms het sy gewens hy wou na haar kyk soos ’n man, haar liefhê. Met sy hart én sy lyf. Haar van die kraalmuur aftel en teen sy kakiehemp laat aanleun. Haar na sy groot wit huis met die groen hortjies toe neem en vir haar tee met warm melk maak. Sy hande na haar uithou en sê: kom na my toe, Ingrid, kom ek gaan wys jou die kamer en die bed waar ek snags slaap.

Maar hy het nie.

En tog, oor baie nagte heen, wanneer Alexander haar aan haar nagrok deur die huis getrek het om kasdeure toe te maak en los vloermatte haaks te skuif of ’n druppende kraan toe te draai, het sy bly hoop dat Gunter haar eendag sou liefhê.

Hierdie man is anders as Gunter. Slu. Kliphard. Soveel ratser.

Hoe oud was jou kind, mevrou Dorfling? Wanneer laas was hy vir ’n mediese ondersoek? Het jy hom al by ’n kinderspesialis gehad? Wanneer laas was jyself vir ’n mediese ondersoek of by ’n sielkundige? So, jy wás dus by ’n sielkundige? By wie, wanneer, hoekom? Hoekom het jy die terapie gestaak? Wat sou jy aanvoer as rede vir jou man se selfmoord? Hoe laat het jy op die bed gaan lê, voor of ná dagbreek? Is jy seker jy het werklik geslaap, mevrou Dorfling? Waar was die kind op daardie tydstip? Het hy gesig ondertoe of boontoe in die badwater gelê toe jy op hom afkom? Watter noodhulpmaatreëls het jy toegepas? Hoe bedoel jy dit het vrugteloos gelyk? Hoe het hy nege jaar lank met jou gekommunikeer as hy nie kon praat nie? Presies wat bedoel jy daarmee dat die kind net gromgeluide kon maak?

Die kind.

Alexander.

Wat het hulle met sy tengerige liggaampie gedoen tydens die lykskouing? Hoekom bly sy die beeld oproep van ’n stukkende kind wie se organe soos los lobbe in sy maagholte ronddryf? Sy wens sy kan die dink uit haar kop losskeur. Dit gaan haar waansinnig maak. Sy wil hom nie dood sien nie. Soos sy destyds gewens het dit was nooit nodig om Dawid se lyk te gaan uitken nie. Want die grusaamheid daarvan het haar ’n knou gegee wat tot in ewigheid met haar sal saamloop.

Laat die man maar vra wat hy wil en stuur waarheen hy wil. Sy sal enduit by die waarheid bly, soos die waarheid in haar kop opgeteken staan. Dit was háár kind. Op ’n wyse wat alle menslike verstand te bowe gaan, hét sy hom liefgehad. Al was hy ’n vuur wat alles en almal rondom hom verswelg het. Op die mees onverwagte oomblikke op haar afgestorm en met sy naels in haar gesig gegrou het. Knielend op die vloer gewieg het terwyl hy sy kop teen haar bene stamp en stamp, tot haar skene blou gekneus was. Met ’n uitdrukkinglose gesig van dagbreek tot skemeraand op die klavierstoel gesit en die swart tand van die F-kruis tot gekwordens toe met sy middelvinger gespeel het. Ritmies. Ta-tate-ta. Ta-tate-ta. Nagskim wat met die beiteltjie in die huis rondloop en pleister afkap. Tot op die kaal steen. Kap en kap en kap. Tot dit voel of die gekap van êrens binnekant haar brein teen haar skedel vashamer.

Kap, kap, kap. Totdat daar nie ’n vesel van haar dink en weet was wat nie flenters gekap was nie. Vandat hy die beiteltjie die eerste maal ontdek het, sewe jare lank. Sonder dat die beiteltjie stomp word.

Die kind.

Alexander.

Raaiselkind

Подняться наверх