Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 15
11 Die name en telefoonnommers van haar huisvriende. Wat moet sy vir die man sê?
Оглавление“Vroeër het ons baie vriende en kennisse gehad, veral my man. Dis onmoontlik om hulle almal op te noem. Ons het baie mense geken en met baie mense omgegaan. Maar ek het drie besonder goeie vriendinne gehad wat baie ná aan my was.”
“Begin by dié drie se besonderhede.”
Sy ignoreer hom; ’n naamlose hartseer wel in haar op. Mirna. Lida. Hannah.
Tennismaats. Huilmaats. Lagmaats. Dikwels vir ’n Saterdag in een motor uit die dorp weggeglip en op die naaste groot dorp gaan inkopies doen. Mekaar se hare gekleur. Naaldwerklap uitgekies en saam-saam op die groot geelhouteetkamertafel in Mirna se huis uitgeknip. Gefilosofeer oor kinders grootmaak. Laataand by mekaar tampons geleen. Ooievaarstees gehou. Rondom een kombuistafel sit en afpak oor infeksies en skoonma’s. Mekaar se kinders opgepas, en tee geskink by die Nagmaal. In een kombuis Kersfeeskoekies gebak. Mekaar se susters gewees wanneer die swartsiekte een van hulle beetvat.
Hóé het Alexander se koms nie alles vernietig nie. Sterk brûe wat ná ’n tyd soos droë sandkastele inmekaargestort het.
“Hulle was soos my bloedsusters. Ná Alexander se geboorte het die vriendskappe geleidelik doodgeloop. Eers was ek hartseer en kwaad daaroor, maar later het ek besef dit was ’n natuurlike verloop van omstandighede.”
“Gee net hulle name en adresse en huistelefoonnommers. Dié van hulle werksplekke ook.”
Terwyl sy die besonderhede gee, roep sy hulle gesigte terug. Mirna wat vooroor buk by die bedding inkalelies, haar heuningbruin hare tuimelend oor haar skouer. Lida by die materiaaltoonbank, besig om wydtes en meters en pryse te bereken. Hannah met haar oorgroot kombersbaadjie wat weggetrokke en toe-oë na harpmusiek sit en luister.
En ín haar wil dit breek.
Tot daardie eerste lente, toe Alexander omtrent drie maande oud was en sy nog met kraamverlof was, het daar nog heelwat kuiermense by haar huis gekom. Maar sy kon aanvoel hoe hulle terugdeins voor sy deurborende geskree, en sy kon hulle nie verkwalik nie. Hier en daar het iemand aangebied om hom ’n bietjie vas te hou, maar hom gou weer in haar of Miriam se arms teruggebondel. Soms was hy tóg vir ’n uur of wat stil, en sy kon die teegoed met minder van ’n bewerasie in haar hande regsit.
“Bring hom Saterdagmiddag vir my,” het Mirna aangebied. “Ek sal regkom, dis mos nie vir lank nie. Dan gaan speel jy ’n slag tennis. Toe?”
Sy het. Toe sy hom vyfuur gaan haal, sit Mirna doodswit op die tuinbank; kla oor ’n kloppende hoofpyn.
Of Lida het gesê: “Ek sal Sondag in kerktyd na hom kyk, dan gaan jy in vrede Nagmaal toe.”
Toe sy ná kerk by Lida kom, sit Lida met ’n wriemelende Alexander op ’n kombers onder die perskeboom. Haar man wil die krieket op televisie kyk, het sy verleë gesê en een van haar kinders gestuur om te gaan tee maak en dit sommer buitekant toe te bring.
Hannah wat kom sê as Dawid wil gaan poker speel, sal sy by Alexander bly terwyl die biduur aan die gang is. Lê Alexander op ’n kussing op die sitkamervloer neer en steek ’n hele ry kerse op die kaggelrak aan. Speel Mozart se Elvira Madigan oor en oor.
“Ek dink nie hy hoor die musiek nie, Ingrid, maar hy sien die kerse,” het Hannah gesê toe sy terugkom van die biduur af.
“Sy oë lyk so ongelukkig, Ingrid, so anders …”
Hulle hét haar gehelp. Hulle hét. Daardie eerste tyd.
In die begin het tannie Koekoes gereeld oorgeloop om hom te kom bad. Uit die goedheid van haar hart. Sy kon sien die tannie was senuweeagtig, en gedaan na die tyd. Verbete trek om haar mond, asof sy vasberade was dat ’n baba se eiesinnigheid haar nie sou onderkry nie.
“Dis ’n ou ding van babas om hulle rûe so styf te trek as hulle wurms het, Ingridjie,” het sy met die haakspeld tussen haar lippe gesê terwyl sy worstel om die langmoufrokkie aan die beurende kind se lyf te kry. “Daar’s ’n gekrioel in hulle magies wat hulle wil stilkry. Het jy al kasterolie probeer?”
Sy wou-wou haar vererg. “Hy kan nie wurms hê nie, tannie, want hy eet nie vaste kos nie. Waar sou die wurms vandaan kom?”
“Jy moet hom onder ’n ander dokter kry, Ingridjie. Oudokter is van altyd af treurig met diagnoses maak. As jy op die geraamde papier bokant sy lessenaar kyk, sal jy sien sy geleerdheid kom doer uit die 60’s.”
“Hy het darem jare se ondervinding aan sy kant.”
“Nogtans dink ek jy moet jou kind onder iemand anders kry. Ons trek al by die jaar 2000 en Oudokter glo nog vas in soetolie en naeltjiebande en samboksalf. So gaan jy nie jou kind gesond kry nie.”
Die ergerlikheid het teen haar nek uitgevlam. “Wat bedoel tannie met gesond kry? Alexander is mos nie siek nie.”
“Magtig, Ingridjie, ’n gesonde kind gaan nie so tekere nie. Daar móét ’n fout wees.”
Daar het ’n droë dikheid op haar tong saamgepak. “Tannie Koekoes, tannie moenie kom …”
“Ek sê nog steeds hy’t wurms.”
So geheg as wat sy aan tannie Koekoes was, het sy die bloed in haar kop voel opstoot. Sodat sy vergeet het om haar tong in te toom. “En ek sê tannie praat die grootste klomp stront op aarde!”
“Haai, Ingridjie, hoe kan jy só …?”
“Liewe Here tog, tannie! Dit voel al vir my of almal dink ek verwaarloos Alexander. Julle dryf my malhuis toe met julle simpel rate en belaglike oplossings! Mens sou sweer niemand het nog ooit ’n skreeuende baba gehoor nie. Ek weet nie vir wat los die dorp se bleddie skinderbekke nie my kind uit nie!”
“Haai, Ingridjie, die mense bedoel dit nie so nie.”
“Dit skeel my nie wát hulle bedoel nie! Ek is dik vir ’n donnerse klomp beterweters rondom my ore.”
Die histeriese botoon van haar ál skriller wordende stem het vermeng met Alexander se oorverdowende geskree.
Tannie Koekoes het ongemaklik rondgetrap, die baba-room gebêre en die badhanddoek opgevou. “Dan loop ek eers, Ingridjie. Praat maar as jy iets nodig het.”
“Ek het niks nodig nie, tannie Koekoes, niks! Behalwe stilte … en privaatheid!”
Daardie nag, terwyl sy met die kwelende kind in die kombuis gaan skuiling soek het sodat Dawid kon slaap, het sy die behoefte gehad om haarself gesig eerste teen ’n muur dood te hardloop omdat sy so ongeskik was met tannie Koekoes van alle mense. Maar haar senuwees en kragte was op. Sy kon nie met Alexander én ’n spul raadgewers sukkel nie.
Tannie Koekoes het nooit weer vir Alexander kom bad nie.
Die dag met die dooptee was daar nie sitplek vir almal in die sitkamer en by die eetkamertafel nie. Sy en Miriam het al vroeg die Vrydagoggend begin bak, en sy was dankbaar dat Miriam soveel sin vir ’n resep gehad het. Kon dadelik sien as die deeg te slap of die tertkors te krummelrig is.
Haar kollegas was daar. Ou karavaanvriende, bankkliënte, die vrouebiduurkringlede, die wyksouderling en -diaken. Kinders wat deur die huis gehardloop en met ’n bal op die stoep gebons-bons-bons het. Toe die teedrinkery in volle gang was en die huis deurtrek was van ’n roesemoes van stemme en klanke, was sy spyt sy was so dom om nie die dooptee eerder in die kerksaal te hou nie. Want die vertrapping in haar huis, tesame met Alexander se geskree, wou haar kelder.
In die kerk het Alexander al soos ’n slagvark geskree, maar Miriam het agter by die konsistorie gewag en hom ná die seremonie in die stootkar huis toe geneem soos hulle afgespreek het. Solank teewater gekook en die eetgoed oopgemaak, soutterte warm gemaak, melkterte gesny.
Die dooptee was ’n fiasko. Miskien vir háár meer as vir die gaste. Hoe meer mense hom wou vashou en bekoer en bekyk, hoe verskrikliker het hy getier. Asof hy met elke nuwe asem wat hy intrek en uitskreeu, wou sê: moenie aan my raak nie, moenie naby my kom nie! Los my, gaan weg van my af!
Dawid en die mans het bier in die hand onder ’n boom aan die suidekant van die huis saamgedrom. Agterna kon sy nie onthou of hulle iets te ete gehad het nie. Heeltyd het sy die ontstellende gevoel gehad dat Dawid nie wou hê die ander mans moet Alexander sien of hoor nie.
Wat agterna die helderste van die doopseremonie in haar gedagtes gebly het, was hoe Dawid kort-kort voor die kansel sy sakdoek uitgehaal en sy voorkop drooggevee het terwyl hy uit die hoek van sy oog die skoppende kind dophou. En toe hy hardop moes ja antwoord, het hy net sy kop geknik.
Arme Miriam het herwaarts en derwaarts tussen die kombuis en die sitkamer en eetkamer gesystap met koppies en koekvurkies en tee en skoon servette. Geen kans om Alexander te vat en onder die olienhoutboom te gaan wegkruip vir ’n paar minute se vrede nie. Sy was alleen met die chaos rondom haar. En ín haar. Sy het haar ongemak en paniek desperaat weggesteek onder ’n glimlag.
Teresa en Zettie het Alexander ’n tydjie buite in die straat rondgestoot, maar hom gou weer by haar aangebring. En al waarna sy heeltyd gesmag het, was om die bondel kletsende vroue uit die huis te jaag en Alexander in Dawid se arms te prop. Te sê hy moet met hom rondry sodat sy ’n uur se slaap kon inkry. Dan op haar bed neer te val en niks meer te hoor nie.
“Kwaai mannetjie,” het een vrou gesê en die wriemelende kind in ’n volgende een se hande gestop. “Skree sommer vandag dominee se stem botstil in die kerk.”
“Ja,” het iemand anders valse suswoorde uitgedeel, “manne met sulke stemme draai uit as groot sprekers.”
Sy wou histeries begin lag van opkropping, die vrou toesnou dat sy besig is om die grootste bondel stront onder die wolke te praat. Dawid! Dawid! het sy in haar binneste geroep, kom help my, Dawid, voor ek mal word. Maar sy het geweet hy sou haar nie kom help nie. Nie eens al het sy langs hom onder die boom gaan staan en die woorde hardop in sy gesig uitgeroep nie.
“Het miss Ingrid al ’n koppietjie tee gehad?” het Miriam kom fluister.
“Nee, nog nie.”
“Ek bring vir miss Ingrid. Dan los ek alles net so hier in onse sitkamer en vat Boetatjie uit buitentoe. Mens kan sien hy hou nie van bollings mense rondom hom nie. Dan kan miss Ingrid op missus se tyd sit en tee drink en gesels.”
Op daardie doopdag, tussen die babbelende vrouens wat geen benul gehad het van die tamheid in haar liggaam en gees nie, was sy met afsku vervul oor Alexander se koms. Wou sy vir Miriam sê: vat hom, en gaan gooi hom oor die rand van die aarde. Lê hom onder ’n bos neer om dood te gaan. Maak met hom net wat jy wil.
Moet hom net nooit weer terugbring huis toe nie.
“Daar is niemand anders wie se besonderhede ek kan verskaf nie. Net Miriam s’n.”
“Dis my werk en plig om jou vriende te ondervra, mevrou Dorfling. Hulle verklarings kan moontlik tot jou voordeel wees.” Ta-tate-ta. “Of weet hulle dalk iets wat jy nie wil hê ek moet hoor nie?”
“Ek hét nie meer huisvriende nie. Dis al.”
“En dié Gunter, was hy nie jou vriend nie?”
Sy skrik. Wat weet hulle van Gunter? Wat het hy oorvertel van die baie woorde wat sy oor al die tye heen met hom op die kraalmuur gepraat het? Kere toe sy haar opkropping en hartseer op hom omgekeer het. Nee, Gunter sal haar op geen manier verraai nie. Nooit. Al weet sy niks, weet sy dít.
Gunter het nooit by haar huis gekom nie. Eintlik het hy selde op enige plek gekom. Al sy besigheid in die stad gaan doen. Was dit nie dat Dawid destyds ’n ander man se pokerskuld afgeskryf het in ruil vir ’n perd nie, sou sy Gunter seker nooit geken het nie. Toe redeneer Dawid dat Gunter se grond die naaste aan die dorp lê en hy gaan vra vir Gunter of die perd nie daar kon loop nie. En of Gunter dalk opsaalgoed het en sal help met die perdryery.
Soos eie broers geword, Dawid en Gunter. Omtrent die enigste plek waar Dawid gekom het in die jaar of wat voor sy dood. Ook Gunter gewees wat Dawid se motor destyds in die bosse by die brug opgespoor het. En wat dit die Maandagoggend vir haar kom sê het.
Nee, Gunter was nie ’n huisvriend nie. Hulle moet hom uitlos uit hierdie ding uit.
“My kind se perd het op sy plaas geloop. Sondagmiddae het ek hom soontoe geneem om perd te ry. Dis al.”
“Al, mevrou Dorfling? Is jy doodseker?”
Sy sluk. “Ja.”
“Hoekom was sy telefoonnommer op die notaboek langs die telefoon neergeskryf?”
Wat weet die man van Lucy? Wíl hy ’n verbintenis sien tussen die verkoop van die perd en Alexander se dood? “Ek ken nie sy telefoonnommer uit my kop nie. Ek het dit neergeskryf nadat ek dit opgesoek het.”
Ta-tate-ta met die potlood se agterkant op die bruin lêer. “Wanneer het jy hom gebel, en hoekom?”
“Vrydagaand. Omdat ek … omdat ek …” Kan dit teen haar tel?
“Jy dink ’n versinsel uit, mevrou Dorfling. Jy gaan jou vaslieg. Los dit. Ons sal later terugkom na daardie vraag toe.” Hy draai stadig in die rondte op die draaistoel, sy vingerpunte teen mekaar voor sy bors. Trek weer die lêer nader, vat die pen. “Kom ons probeer wéér ’n keer.” Daar is ’n afgemetenheid in sy stem. “Die name van ál jou huisvriende, mevrou Dorfling. Dié van jou oorlede man ook.”
Toe breek haar geduld en sy storm op hom af, stamp met haar voorvinger teen sy bors. “Ek hét nie huisvriende nie! Of wil jy hê ek moet vriende en telefoonnommers uitdink wat nie bestaan nie!” Staan hygend, met die hoes wat dreig om oor haar lippe te bars. Asof dit iemand anders is wat in haar vel leef, hoor sy haarself op die man gil. Sy word vaagweg bewus van die vrou wat agter haar inbeweeg. Toe gryp die man haar arm in ’n knelgreep. Buig dit af en af, tot die pyn haar in ’n gebukkende posisie neerdwing.
“Mevrou Dorfling, as jy aan my stamp, neem ek aan ek moet myself verdedig. Jou optrede kan jou later berou.”
Sy wil haar arm losruk, maar ’n steekpyn skiet tot in haar skouerpotjie. Stadig los hy haar arm en draai na die vrouespeurder. “Maak ’n aantekening dat die verdagte aggressief optree, en vul die prisoniers-eiendomsregister in. Ek wil oor twintig minute ry. Hoe gouer ons haar by die polisieselle kry, hoe beter.”
Vingerafdrukke. Palmafdrukke. Duimafdrukke. Kante van haar hande. Gebarste seepsplinter om die ergste swart ink afgewas te kry. Deur kaal gange terugloop na die benouende kantoor. Die vrou dop haar handsak op die lessenaar om, skud alles uit en skryf dit op.
“Kom kyk wat ek opskryf.”
Haarborsel, handspieël. Lipstif. Telefoonkwitansie. ID-boek. Tjekboek, tjekbladsynommers. Kredietkaartnommer en vervaldatum. Pen. Tampons. Twee hoofpynpille. Vier pepermente. Verkreukelde tissues. Tel elke sent in haar beursie. Rits die noodhulpsakkie oop wat sy oral met haar saamdra.
“En dié?” Met geligte wenkbroue hou die vrou die ampul met kalmeermiddel en die naaldlose spuit in die lug.