Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 12

8 Vandat sy vanoggend op die dorp met ’n gesukkelte haar bene oor die lorrie se tralies gesit het om saam met die spul wynasems uit te ry kloof toe, het sy al baie spyt gekry. Elkere grootkerk is dit dieselle storie. Sy wis nie waar sit die mense se Kristelikheid dat hulle sonder skaamte in so ’n toestand op die lorrie klim nie. En dit in die Naam van die Heiland. Sy moes haar nie ingelaat het in ’n grootkerkhouery nie. Haar tyd van lorrie ry is verby. Daarvoor is haar twee bene te jiggerig. Om ’n kroon op alles neer te sit, het sy vooraf toe-oë geweet dit gaan op ’n groot gesuip uitdraai.

Оглавление

Dis koud agter op die lorrie en vir ’n bietjie bakstaan uit die wind moet hulle styf op mekaar bolling. Waar was haar kop dat sy nie haar werksambreel gevat het vir as dit kom reent nie? Maar aan die ander kant was sy slim, want anders wou elkere geverkluimde siel weer onder háár sambreel kom skuilte vat het. Buitendien, wanneer skep die wind haar nie met sambreel en al oor die lorrie se tralies nie?

Die drywer dryf ook nie soos ’n man wat ordentlik wis waar loop die pad nie. Kort-kort tuimel hulle almal op mekaar soos hy die draaie sny. Die jimmele weet, sy moes liewerster by die huis gebly het.

Dis oor hierdie verdomde dronk drywer dat haar maaghelm haar vanoggend so sleg vasgevat het. Haar voorspraak was kant en klaar gemaak, maar sy het haar ore toegedruk vir die Stem. Nog by alles ’n paar maande se godsbotteltjiegeld vir Jeremia agtergelos. Sy weet nie vir wat sy hom opgestuur het na miss Ingrid toe nie. Skone verniet, dié lopery. Want die skaduweeding in haar maag is nie oor miss Ingrid nie, dis al die tyd oor die lorriedrywer. Vandag gaan hy hulle verongeluk.

“Het ant Miriam vir my ’n vuurhoutjie?” vra een van die blinkgedrinktes.

Sy erg haar stink. “Jy weet mos ek rook nie, vir wat sal ek vuurhoutjies met my saamdra vir jou gemak? En jy beter jou gat plat op die lorrie se bak kry, voor jy jou ander oogbank ook stukkend val.”

Skaars was die woorde tussen haar lippe uit of die drywer kerf die draai so skerp dat die hele bolling gillende mense met soetkyste en al hooplê. Genadiglik het sy die draai sien kom en haar met al twee hande aan die bakreling vasgeanker.

As die Here nie sy hande vandag selwers op die stuurwiel sit nie, sien sy nou al nie een van hulle kom hierdie naweek by die grootkerk uit nie. Behalwe as hulle straks in ’n ry onder wit lakens daar neergelê word om oor gerou te word.

Pleks sy eerder haar bidde sommer vir haarselwers agter die hoenderhok loop bid het. Min verskil tussen die hoenderhok en onder die grootkerk se dak. Maar agter die hoenderhok sou haar lewe nie in die hande van ’n onvas drywer neergelê gewees het nie. Sou veel meer duurte vir haar siel gehad het. En Jeremia sou alte graag geloop het om ’n bottel Nagmaalwyn te gaan koop. Sou ewe graag saam met haar wou Nagmaal vat. As dit al manier is hoe sy die stem van die Here in sy kop kan inkry, sal sy dat hy die hele bottel opnagmaal. Die Here sal verstaan dat sy nie ’n ander pad met Jeremia gehad het nie.

Tersellertyd kon sy vir miss Ingrid gaan hand uithou het. Al is dit net vir ’n uurtjie. Heelweek al sien sy dinge lyk verkeerd met miss Ingrid en dit bring ’n swaarte oor haar hart. Lyk glads en geheel soos ’n glasmens. Smaak jou as die wind haar omwaai en sy val, sal sy soos vrot gevrete hout uitmekaarkrummel. Daar’s bloedmin kos in die kaste en miss Ingrid se lyf is net ’n skone visgraat. Laastere week het sy ’n erge skuld aan haar lyf gevoel toe miss Ingrid ’n groot pak suiker en ’n sakkie ertappels en ’n boerpampoen saamgegee het huis toe. As sy als op ’n hoop sit, sou dit meer is as wat daar alles tesame in miss Ingrid se hele huis se koskaste was. Maar miss Ingrid het gesê sy moet dit vat, omdat daar nie aldag kookkos in die huis gemaak word nie. Dan hoes miss Ingrid nog by dit alles dat dit nes ’n blik vol klippers raas.

Die Vader daar bo wis, as dit haar hierdie naweek geluk om lewend by die grootkerk te kom, wil sy miss Ingrid gaan opdra. Sodat Iemand kan help om miss Ingrid regop te hou. Vir Boetatjie ook. Meer as twee weke al dat hy met ’n loopneus rondloop. Blaas die waterigheid in sy hand uit en maak snotborrels daarmee. Lag soos ’n opwenspeelding as hy die grote borrel teen die son hou. Moet seker vir hom mooi is as die son sulke allerhande kleure op die snotborrel uitskyn.

Sy gaan hulle uit haar hart uit opdra, vir miss Ingrid en Boetatjie. Anders weet sy nie wat gaan word nie.

Toe die lorrie op die volgende draai afpyl, plant sy haar voete wyd en klou vas. Laat die Here die stuurwiel vat en die lorrie om die draai stuur, bid sy toe die klomp bevreesde mense eenkant toe beginte steier.

En moenie dat dit kom reent nie. Nie voor die lorrie botstil op die grootkerk se werf staan nie.

Raaiselkind

Подняться наверх