Читать книгу Raaiselkind - Annelie Botes - Страница 5
1 Die sementvloer van die badkamer is ’n blok ys onder haar voete. Koue prikke skiet deur haar kuite tot in haar knieë. Verbouereerd kyk sy af na haar spierwit lyf, dan op na die vrouespeurder wat hande agter die rug by die wasbak staan. Haar oog glip skrams na die klein matglasvierkant van die toiletvenster.
ОглавлениеNee, dis te klein en te hoog. En al kon sy daar uit, kan sy nie kaal in die strate uithardloop nie. Buitendien, dis ver huis toe; sy sal bosselangs moet hou om ongesiens daar te kom. En kom sy oor twee of drie dae uiteindelik by die huis, wag hulle haar tóg daar in, want hulle weet sy het nêrens anders om heen te gaan nie.
Dalk kan sy voor die dorp wegswaai en op Gunter se plaas in die berge gaan wegkruip. Van bolle en bessies lewe. Iewers in die bergruigtes sal ’n bakkrans of ’n grot wees waar sy die winter van haar lyf af kan hou. Dalk kan sy in die donker bergaf gaan en by Gunter ’n kombers en hoesmedisyne kry. Hy sal vir niemand sê sy kruip in die berge weg nie.
Nee, sy sal nie weet watter bessies is giftig nie. En sê nou sy is te bang om donkernag af te gaan na Gunter se huis toe, of sy kry longontsteking in die nat klowe? Nee, hulle sal Gunter se plek dophou. Sal waarskynlik polisiehonde stuur om haar spoor te vat.
Wat van Miriam se huis in die lokasie? Sweerlik sal niemand na haar kom soek in die houtkamertjie agter die hoenderhok nie. Nee, die lokasie het te veel oë. Dan kom Miriam om háár onthalwe ook in die moeilikheid.
Sy moenie dom wees en probeer wegkom nie. Hulle sal haar orals uitruik.
Buitendien, sy hoef vir niemand weg te kruip nie. Sy weet die speurder dink sy het Alexander verdrink. Hoekom anders sou hulle haar arresteer en hierheen bring vir ondervraging; so ver ondertoe grawe in óú goed van jare en jare terug? Maar hulle dink verkeerd. Alexander was bloed van haar bloed. Al was hy outisties, was hy haar kind. Onbeheerste kind vol wildheid en neuroses en rituele.
Tog.
Sy sou hom nooit skade berokken het nie.
“Sak wydsbeen op jou hurke neer,” sê die vrouespeurder en staan effe tru, draai nie vir ’n sekonde haar oë weg nie.
Wydsbeen op haar hurke neersak? Waarvoor? Is die vrou van haar sinne beroof?
Antwoord nie. Bly stokstyfregop staan.
“Asseblief, mevrou Dorfling.”
Sy moenie gaan sit nie. Sy moenie voor hulle verkrummel nie. “Ek is kaal. Ek kan mos nie … ek bedoel …”
Die vrouespeurder kom ’n tree nader. “Ek moet jou deursoek vir gevaarlike voorwerpe, dis al.”
“Jy hét my al deursoek.” Handpalms na bo gedraai, pleitend. “Ek is kaal; wat kan ek wegsteek?”
“Dis normale prosedure. Jy sal jou verbaas wáár desperate vroue goed indruk en later uittrek om as wapens of ontsnapmiddels te gebruik. Sak asseblief op jou hurke af.”
Vir tydlose sekondes meet sy en die vrou mekaar. Toe sak sy stadig op haar hurke. Vernederd. Gestroop. Toe haar vingerpunte die yskoue badkamervloer raak, ruk ’n hoesbui met ’n rasperklank uit haar borskas los. Sy knyp om haar blaasspiere te beheer en verloor haar balans. Die hoestrane laat alles om haar verwaas. Deur die dun traanlaag sien sy die vrouespeurder se skoene en onderbene nader kom.
“Staan maar op en trek aan. Wat ook al daar binne kon wees, sou teen dié tyd uitgepeul het. Ryg jou tekkieveters uit sodat dit saam met jou ander goed opgeskryf kan word.”
“Julle verneder my verskriklik. Sou jy daarvan hou om op jou hurke te sit sodat ’n vreemdeling tussen jou bene kan inkyk?”
“Dis my werk, mevrou Dorfling, dis iets wat ek elke dag doen.” Onverstoord, sonder selfs ’n stemstyging. “As daar later moeilikheid kom omdat jy wel iets daar binne weggesteek het, moet ek verduidelik.”