Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 11
7
ОглавлениеMaart
Vanderkloof, Saterdag
Verdomp, wat ’n gesukkel! Paul se been brand. Doringtak. Hy vryf vererg om die brand weg te kry, stamp in die loop sy linkervoet teen ’n groot klip. Vreksels. Eers moes hy sy gat af swem om op land te kom en nou veg die berg met hand en tand terug. Hy moet nog hoër, links hou. Sy plan is om tot by die damwal te beweeg, want die teerpad Vanderkloofdorp toe loop bo-oor die wal.
Dalk kry hy ’n geleentheid. Hopelik is daar vandag ook mense wat na die damwal kom kyk.
“Voertsek!” sê hy vererg en klap na die swerm muggies wat in sy oë en neus wil kom broei.
Hy kan nie lekker onthou hoe die wal aan die Vrystaatkant lyk nie. Plaas dat hy gister opgelet het. Dis nou wat gebeur as mens nie water gewoond is nie! Tipiese Vrystater: staar na die digte wit mis by die sluise en vergeet van die res.
Die damwal is stewig in die berg geanker. Dít weet hy. Hy en sy pa het ’n ruk lank daar teen die relings aan die binnekant van die wal gestaan en na die dam gekyk.
Die probleem, as hy reg onthou, is dat ’n stuk van die berg by die damwal weggeskiet is sodat die ingenieurs die wal kon bou – en die berg loop daar gitswart en loodreg na onder. Wat beteken hy sal nie daar kan af nie. Hy kan seker bo-oor die berg probeer klim, maar teen die tyd dat hy anderkant kom, gaan hy verseker al stokoud-grys wees, met hoepelbene en ’n boggel.
Hy weet nie eens wat anderkant die berg is nie. Of hoe ver hy van die teerpad af sal wees nie. Liewer sy kanse vat en damwal se kant toe gaan. Dalk kan hy op ’n manier daar af. Of iemand se aandag trek. Rotse afrol in die pad.
Paul se treë word stadiger. Daar is lood in sy voete.
Hy weet hy is vanoggend met ’n goue lepel oor die kop geslaan. Die koeëls is by hom verby. Hy het die onbeplande swem oorleef. Hy het al op die Gariepdam gesien hoe die golwe meters hoog groei in die wind tot hulle soos berge in die lug optoring en neersteier.
“Dis enige tyd net so hoog soos seegolwe in stormwind. Selfs hoër! Beslis baie hoër!” het ’n hengelaar agterna by die plaaslike winkeltjie vertel.
Die wind is vandag stil. Die dam lê spieëlglad. Gelukkig – anders het hy dalk die bodem gesoen en baberkos geword.
Hy klim oor nog ’n klip, hoor dan ’n motorboot. Dit kom nader. Dankie tog! Hy draai om. Verbaas staar hy na die blou-swart skrif op die wit motorboot.
Dis die beste nuus ooit! Dis so wragtig ’n polisieboot!
Paul klim op ’n massiewe rots. Hy spring op en af en waai.
“Hier is ek! Hieeeer!”
Hy weet hulle kan hom nie hoor nie, want hy is reeds ’n hele ent bergop, die motorboot se enjin raas en die watermassa sluis donderend af in die Oranje.
Lucky fish! Hulle het hom gesien, want die boot swenk in sy rigting.
Derde goue lepel vir die dag, dink hy.
Liné het seker vir sy pa gesê hy is alleen uit op die dam toe sy die whatsapp kry. Klikbek! dink hy vies. Dadelik is hy jammer. As sy nie gaan klik het nie, het hy dalk nog op die berg gefossileer voordat hulle na hom begin soek het. En iemand het waarskynlik die rook en vlamme gesien toe Baardman en Rooies die petroltenk raak geskiet het. Van nou af sal hy gaaf wees met Liné. Hy sal selfs ekstra gaaf wees met Nantus van Atlantis, al dink dié hy is die vonds van die eeu.
Die polisieboot is nou baie naby droë grond. Voor op die boeg staan ’n man in uniform. Paul waai verwoed. Laat sak dan sy hande en kyk weer.
Kán nie wees nie. Dis net nie moontlik nie.
Hy staar stip na die boot, wag dat dit effens draai. Knip sy oë.
So wragtig!
Dis Baardman. Dié waai ewe ywerig terug.
Paul spring af, agter die rots in. Hy sal moet hoër op. Wie sou kon raai dat Baardman ’n polisieman is?
Dan tel hy twee en twee bymekaar: Baardman moet die stasiebevelvoerder wees. Sy pa het gisteroggend by die polisiestasie gaan aanmeld. Wetsgehoorsaam. Vóór hulle uit is op die dam. Gisteraand het hy gaan terugrapporteer. Ewe ordentlik. Die polisie moet weet om te gaan soek as iemand vermis word. En as mens nie aanmeld nie, kry jy ook nie die kode om die hek mee oop te maak nie. Maar hy het vanoggend tot by die hek gedraf en bo-oor gespring, daarom het hy nie die kode nodig gehad nie. Die boot was mos reeds op die water.
Sy pa het nogal gesê die nuwe stasiebevelvoerder is “van formidabele statuur”.
Understatement. Seriously so!
Sy pa is bekend vir sy diplomasie – wanneer dit hom pas. Binne die hof is hy blykbaar genadeloos.
“Ek hoor jou pa is soos daai celebrity-advokaat op TV. No mercy. Hy laat jou later wonder of jy nie miskien ’n bruin koei met ’n pienk posbeer verwar het nie,” het Ockert onlangs vertel. Ockert is sy gunstelingneef, al is hulle pa’s glad nie mal oor mekaar nie. Sy ma sê dis omdat hulle aan verskillende kante van die gereg werk en nie mekaar se werk wíl verstaan nie.
Sy ma se broer, oom Schalk, probeer die kreatiewe wetteloses in die tjoekie kry en hou. Hy werk vir die Valke. Sy pa, Mark, verdedig die kriminele in die hof.
Paul en sy ma was eendag op pad huis toe ná muurbal, toe oom Schalk bel. Sy ma wou weet hoekom oom Schalk-hulle nooit meer kom kuier nie. Toe verloor oom Schalk dit heeltemal. Hy het nie geweet Paul is in die kar nie, toe gee hy gas oor die Bluetooth-konneksie. Vaar uit teen sy pa en sy “kriminele werk, want hy pleit kriminele vry”. “Ek werk my gat af om die klomp skelm en moorddadige helsems te vang en van die straat af te hou. En dan pleit Mark hulle met mooi woordjies en slim argumente los, sodat hulle verder kan steel, moor, lieg en bedrieg!” Sy ma het duidelik nie haar broer se reaksie verwag nie. Die wind was uit haar seile.
Iewers het sy pa en oom Schalk darem die geslypte byle in die kas gebêre. Soort van, maar hulle praat nooit oor werk nie. Soos ’n boetie in die tronk: jy’s dalk lief vir hom, maar jy praat nie oor hom nie. Anders het hy en Ockert mekaar maar min gesien – soos in die verlede.
Baardman is nie net groot nie, hy’t ’n hele crèche opgevreet. Flip! Hoe beweeg die man? Hy is amper so breed as wat hy lank is – en lank is hy beslis. Sy pens is trekker-tyre-grootte. Big & Tall se moses! Hy sal ’n sirkustent na “Minute & Small” laat lyk.
Paul loer om die rots. Rooies, ook in polisie-uniform, stuur die motorboot. Hulle het seker gedink daar staan “onnosel” op sy voorkop. Asof hy ewe goedvertrouend teen die SAPD-logo sou vaskyk en nie hulle vieslike gevrete sou raaksien nie.
Dís nou ’n gemors.
Baardman sal beslis nie agter hom aan probeer bergklim nie. Swaartekrag is sy vyand.
Maar Rooies is skraal. En Rooies het nog nie vanoggend ’n nuwe Olimpiese swemrekord probeer opstel nie. Paul vermoed Rooies se kiewietbeentjies is in dié stadium heelwat varser en flukser as sy eie.
Die volgende groot rots is naby. Paul spring agter die rots uit, hou laag agter die bossies en struike en val plat agter die volgende rots. Dan die volgende een.
Op. Boontoe.
Die boot se enjin word stil. ’n Diep stem dreun oor ’n megafoon. Dis Baardman.
“Paul, ons is hier om jou te help. Jou pa het ons gestuur. Dinge is nie soos dit lyk nie. Kom ondertoe. Jou ouers wag … by die stasie.”
Die ding klink hol en blikkerig.
“Vet kans, pel. Daar staan beslis nie ‘duh’ op my voorkop geskryf nie. Ook nie ‘empty’ nie, jou onnosel idioot!” Die rots voor hom sê niks. Dis maar beter so. Hy’t lus om iets te klap. Of iemand.
Hy weet wat hy gesien het en hy weet dit was nie oë-verblindery of kulkuns nie. Geen Houdini of Dynamo nie. Hy loer weer agter die rots uit. Die motorboot is nou teen die kant, ’n armlengte van die droë grond af.
Baardman gee vir Rooies ’n wapen aan. ’n Pistool of ’n rewolwer; Paul kan nie mooi sien nie. Hy skreef sy oë, maar dit help niks. ’n Pistool, vermoed hy. Wat hulle ook al vroeër vanoggend gebruik het, dit het ’n knaldemper op gehad.
Dink hulle daar’s ’n teiken op hom geverf? Die standaard 9mm is nie akkuraat op hierdie afstand nie. Gelukkig vir hom! Hy val verder terug.
Hoër op.
Hou laag tussen die struike en beweeg van rots na rots.
Rooies is dalk skraal en meer beweeglik as Baardman, maar hy wat Paul is, is fiks. Rooies lyk na ’n bleeksiel. So sportief soos ’n witgeverfde muur.
Paul hoor Rooies roep. Hy ignoreer dit en duik weer agter die bossies langs na ’n groot rots toe. Dan klap ’n skoot. Flentertjies rots skiet die lug in. Regs na bo sien hy ’n baie groot rots. Paul haal diep asem, spring weg, hol soos ’n vlakhaas, duik en koes weg agter die rots.
Dan trek hy weer sy asem in. Trap vas. Nael soos die wind.
Hy vorder ’n hele ent voordat hy dit waag om weer om ’n rots te loer. Rooies se bleek lyf is nou baie ver agter.
Paul kyk weer om. Hy is besig om Rooies af te skud.
Dan fokus hy weer. Hy moet weg. Nog meer na regs. Nog hoër.
Sy longe brand.
Skielik hoor hy weer die motorboot se enjin dreun. Hy loer deur die bossies om seker te maak Rooies en Baardman is albei op die boot. Rooies het seker besef sy kiewietbeentjies gaan dit nie maak nie. Paul wag totdat die boot in die verte verdwyn, gaan sit dan met sy rug teen ’n rots om te rus en sy strategie te heroorweeg. Hy staar na die water. Dan na die wal. Flip! Hulle weet nou hy was berglangs op pad damwal toe. Sy enigste plan het pas verdrink.
Plan B? Hy wens hy’t een gehad. Hy weet net hy kan nie damwal toe nie. Hulle sal hom daar inwag. Twee jakkalse voor ’n hoenderhok.
Bo-oor die berg gaan ’n leeftyd en ’n half neem. En anderkant toe – berglangs weg van die damwal – lei na nêrens. Die berg en die dam strek so ver soos wat die oog kan sien. En selfs nóg verder die vergetelheid in.
Hy is nie seker wat die omtrek van die dam is nie. Nie dat dit enigsins ’n verskil sou maak nie. Een ding is seker: om berglangs van die wal af wég te beweeg en te hoop op beskawing, is ’n oefening in futiliteit. Hy kan netsowel die see met ’n penneblikkie probeer leegskep. Hy staar na die water. Dalk moet hy liewer weer meermin speel. Deur die dam terug dorp toe swem. Vir vrek van die honger op die berg sien hy nie kans nie. Ten minste sal hy in duisend jaar nie kans kry om dors te raak nie.
Hoe wyd is die dam hier?
Midmar is ’n myl. Een myl is gelykstaande aan 1,6 kilometer. So sê Secretariat wat vir hulle skeinat gee. Sy van is eintlik Van der Klashorst, maar hy is ’n Engelse Van der Klashorst. Toe word hy “ ’n perd van ’n ander klas”. En toe “Secretariat”. Secretariat het juis so ’n galopperige stappie soos iets waarvan die wielsporing gegroet het. Hy lyk eintlik meer na ’n kameel as na ’n resiesperd, maar hy is flippen briljant – Paul se gunsteling-onnie.
Een komma ses kilometer is darem nie óm die aardbol nie. En hy het al twee keer Midmar geswem. Verlede jaar toe hy in graad nege was, en weer in Februarie hierdie jaar. Eintlik net omdat Liné geneul het dat hy saam met haar moes swem. Nantus se voete sal mos nat word as hy probeer.
Die golwe was rof hierdie jaar. In ’n stadium het hy gedink hy gaan verdrink, maar met Midmar is daar ten minste medeswemmers, bote en lewensredders. Hier is dit net hy en die diepte – en die visse wat sal swyg oor sy lot.
Paul strek sy bene en probeer helder dink.
“Kalm bly, Paulie. Kalm soos ’n daggawalm,” terg Liné altyd voordat hy ’n muurbalwedstryd moet speel. So asof sý weet van dagga.
In sy Orvis-vlieghengelhemp se een bosak het hy ’n verdrinkte selfoon. In die ander bosak het hy ’n platterige knipmes. Lig. Klein.