Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 15

11

Оглавление

Villa Persephone

Alicia se kamerdeur gaan oop. Sy ruk die duvet op tot onder haar ken en sit regop. ’n Bos Rastalokke loer om die deur.

“Jolly?”

“Yebo,” fluister die stem. Jolly druk die deur agter haar toe en stap nader in die donker. Sy gaan sit op die rand van Alicia se bed.

“Jy huil. Ek het jou gehoor,” sê Jolly en vat Alicia se hand.

“Ek kan nie meer nie,” snik Alicia.

“Siestog. Sorry, Alicia,” troos Jolly en hou Alicia styf vas.

“Hoe cope jy, Jolly?”

Alicia sien hoe Jolly haar wange afvee. Haar oë blink.

“Jammer. Nou huil jy ook.”

“Moenie worry nie. Dis oukei. Ek huil baie,” antwoord Jolly. “Maar ek wil nie hê hierdie mense moet sien nie. Hulle moenie weet nie.”

“Jy’s beter as ek.” Alicia snuif.

“Nee, nie eintlik nie. My pa is dood toe ek elf was. Longkanker. Ek wens ek kon hom nog een keer sien. Net een keer. Mammie sê ons moet bly wees, want hy dans nou saam met die engele, maar ek weet sy mis hom. Ek ook … Dié plek is soos kanker. Hy eet jou op. Bietjies-bietjies. En net as jy dink jy kan nie meer nie, dan spoeg hy jou uit en trap op jou. En nes jy lê vir dood, dan kou hy jou weer. Hy vreet jou lyf en jou kop. Jy bid later vir die dood, maar hy vat sy tyd. En wanneer jy dink die dood is naby, jy kan nou ophou fight, dan blaas hy bietjie asem in jou, laat hy jou weer kan kou …”

Jolly dink voor sy verder praat. “Ek is moeg, Ally. Ek kan ook nie meer nie. Maar elke keer as hulle my vat vir die mans, weet ek ek wil nie dood nie. My lyf baklei om te leef. My pa het gesê ek gaan eendag ver gaan. Ek wil ’n verpleegsuster word. My pappie kon dinge sien. Ek weet hy het reg gesien. ”

“Jy’s ’n survivor, Jolly. ’n Fighter.”

“Ons sal oukei wees, Ally. Jy moet glo. Moed hou. Ons gaan hier uitkom.”

“En as ons hier uitkom, wat gaan ons wees, Jolly? As jy een keer gebreek is, bly die krake sit. Kanker het ten minste ’n einde – óf lewe, óf dood. Die onsekerheid hier vreet my op. Ek bid. Maar ek is bang ek hoop verniet, en bid verniet. Ek weet nie. Om vir altyd in hierdie hel vasgevang te wees, dis erger as dood. Eers het ek gebid dat ek nie moet doodgaan nie. Nou’s ek bang ek gaan nie dood nie … en ek moet nóg dertig jaar in hierdie plek bly.”

“Kom ek gaan wys jou iets.” Jolly trek summier die duvet van Alicia af en vat haar hand.

“Wat as iemand ons sien?”

“Almal slaap,” fluister Jolly en lei Alicia in die gang af, na haar kamer toe aan die teenoorgestelde kant van die gang.

Jolly druk haar kamerdeur saggies agter hulle toe. “Myne kan oop,” sê Jolly en knipoog toe sy die ruit oopskuif.

“Ja, maar dis bleddie hoog,” sê Alicia. “Ons sal nooit die grond maak nie!”

“Ek weet. Ons gaan nie grond toe nie. Ons gaan hemel toe.”

“Wat …?” Jolly se Rastalokke verdwyn voor Alicia by die venster uit, dan haar voete.

Alicia steek haar kop deur die venster. “Wat maak jy, Jolly?” Jolly klou net buite die venster soos ’n aap aan die geut vas.

“Sien jy? So gaan ons op,” beduie Jolly en skuif-skuif met die geut op boontoe.

Alicia klim halflyf deur die venster. Die geut is koel onder haar hande. Haar hande kramp om die geut saam. Sy trap met haar linkervoet op die vensterbank terwyl haar regtervoet plek soek op die geut. Dan trap sy hard met die linkervoet op die vensterbank en trek haarself op.

Sy kyk af. Die grond is flippen ver. Dit lyk nog verder in die flentertjie maanlig. Haar hart kry amper stuiptrekkings van vrees.

“Kom!” fluister Jolly van bo af. “Moenie afkyk nie, Ally. ”

Alicia kyk op boontoe, hou haar oë op Jolly se Rastalokke en klim-seil sukkel-sukkel op boontoe.

“Gee my jou hand,” fluister Jolly en help Alicia tot op die dak.

“Oukei, Ally, saggies skuif. Die mense sal die elephant march hoor,” beduie Jolly en skuif op haar boude dieper in, weg van die rand af. Alicia skuif agter haar aan.

“Hier kan ons lê,” sê Jolly en strek haar uit op haar rug. Alicia gaan lê langs haar. “Ek het nooit besef die dak is plat nie. Hoe’t jy geweet, Jolly?”

“Ek het nie. Ek het net een aand geweet as ek nie kan uit nie, gaan ek mal raak … begin gil en skree. Dan klap Bullet my weer. Toe check ek die geute. Weer ’n keer. Vir die honderdste keer. Eintlik wou ek af. Ondertoe. Maar die geut stop halfpad teen die muur af. Te hoog vir spring. En ek het geweet, as ek spring en ’n been breek, gaan niemand my dokter toe vat nie. Hulle sal my los om dood te gaan, of my nek omdraai soos ’n mossie s’n.”

“Hoe ver af ondertoe stop die geut?” wil Alicia weet. Sy is nie bang vir spring nie. Mens moet net weet hoe om te val.

“Tussen die boonste twee vloere, Ally. Jy gaan jou gat af val. Al het jy gymnastics gedoen.”

“Hmmm … dis bietjie hoog, ja. As dit een vloer laer was …”

“Glo my, ek het al als uitgecheck. Aan jou kant van die gang is al die vensterknippe mos vasgesweis. Aan my kant van die gang is dit nie, want niemand sal ons aan die agterkant van die huis hoor skree nie en dis te hoog om te spring. En daar is niks waarmee mens kan af nie. As Bullet of Mister D uitvind ek klim op dak toe met die geut, sal hulle die geut laat afhaal, maar dis die minste wat ek sal hê om oor te worry.”

“Het jy al oor die dak geskuif en aan die ander kant gaan kyk?”

“Ja. Meer as een keer. Daar is niks waarmee mens kan ondertoe nie.”

“Dalk moet ons aan die ander kant van die dak gaan staan en ons longe uitskree,” fluister Alicia en begin ywerig skuif. “Iemand sal ons hoor.”

“Ally, dis lank verby middernag,” fluister Jolly en gryp haar aan die arm. “Dis 02:23. Hoeveel mense dink jy gaan ons hoor?”

Alicia draai haar kop en luister. Niks. Die straat is morsdoodstil. “Maar die bure sal hoor!”

“Mister D woon aan daai kant,” wys Jolly met haar vinger, “en aan die ander kant is sy kunsgalery. Agter ons is die watertoring. Die twee huise oorkant die pad is toegerank deur ’n woud. Iemand sal ons moet kan sien om te weet waarvandaan ons roep.”

“En bedags word ons heeltyd opgecheck,” snik Alicia.

“Kyk na die sterre, Ally,” troos Jolly. “By ons mokhukhu in die township was daar altyd die rook van almal se vure. Ek kon nooit die sterre so helder sien nie. Dis net in die donker wat mens die sterre so mooi kan sien.”

“Die sterre help blerrie niks,” snik Alicia en byt op haar vuis om die klank te demp. Die trane loop oor haar vingers.

“Nee, maar die sterre gee my hoop. As ek die sterre so sien, dan weet ek –”

“Have you finished?” hoor hulle ’n stem ver onder praat.

“Ja, Mister D. Lankal.” Dis Bullet se dun stem. Dan word die stemme sagter en verdwyn.

Alicia los die lig in haar kamer aan. Sy kan in elk geval nie slaap as dit donker is nie. Sy gaan sit op die rand van die bad met haar skeermes, haar pols na bo gedraai, en begin sny.

Sweepslag

Подняться наверх