Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 16

12

Оглавление

Maart

Vanderkloof, Sondag

Die visarend se hoë roep klief deur die lug. Paul sit vervaard regop, vee oor sy gesig en onthou dan van die slang. Hy kyk versigtig rond, eers sonder om sy kop te draai. Sy oë rol in hul kasse totdat hy begin duiselig raak. Behalwe die bossies en klippe sien hy niks.

Die son het sy kop nog nie heeltemal gelig nie. Die visarend roep weer. Die wit kop en uitgespreide swart vlerke sweef hoog bo die water. Skielik swiep hy af, kom op met ’n vis in sy kloue. Paul hoor hoe sy eie maag mor by die gedagte aan kos.

Die lug is nog koel. Netnou brand die son weer die hel uit hom uit. Die wind waai heelwat sterker as die vorige dag. Dis nou juis wat hy nié wou hê nie. Of miskien is die wind tog tot sy voordeel. Dis nou natuurlik as hy nié nodig het om te swem nie.

Hy het al baie in die veld in ’n tent geslaap, maar ná gisteraand kan hy wragtig kwalifiseer as die ertjie-prins. Elke takkie en klip is in sy rug ingeëts. In 3-D.

Hy krap ’n muskietbyt op sy linkerhand. Die grond is so gelyk soos die Andes en die muskiete het hulself heelnag lank trommeldik gesuip – en tog het hy soos ’n baba geslaap. Dis nou seker wat gebeur as ’n mens die ertjie-príns is. Die ertjie-prinsés het blykbaar, volgens die storie, nie ’n oog toegemaak nie. Jammer om van háár probleem te hoor.

Hy wonder hoe sou Hilde-Marié onder sulke omstandighede regkom. Hilde-Marié is taai. ’n Regte wildewragtig. Dis jammer hulle kys is uit. Nie asof dit ooit regtig ’n kys was nie, want dit was uit nog voor dit kon begin. Flippen jammer, want hy ken nie nog meisies wat kan vlieghengel soos Hilde-Marié nie. Hy ken eintlik ook nie nog meisies wie se ma’s Springbok-vlieghengelaars is nie.

“Die see is vol visse, Paul. En Hilde-Marié woon in Pretoria en ons in Bloemfontein. Dis nie vir julle moontlik om mekaar gereeld te sien nie, daarom kan jy nie verwag dat ’n verhouding moet werk nie,” het sy ma probeer troos.

“Ja, Ma. Ek weet. Dis net, ek ken nie nog girls wat vlieghengel nie.”

“Gaan dit vir jou oor Hilde-Marié, of oor vlieghengel, Paul?”

“Uhhm … Eintlik … Seker albei, Ma.” Dis vir hom moeilik om met sy ouers oor sulke goed te praat. Sy ma het aan hom kom torring. Sy wou weet hoekom sy kakebeen op sy voete sleep. En as sy eers snuf in die neus gekry het, is sy soos ’n kleuter wat ’n selfoon ontdek het: sy weet nie van ophou nie. Hy kon maar netsowel sy storie spin en klaarkry.

“Maar ék vlieghengel nie, Paul, en ek en jou pa is gelukkig getroud. Vlieghengel is nie ’n voorvereiste vir ’n hegte verhouding nie.”

“Ja, maar Ma hou van avontuur en Ma gaan altyd saam, al kan Ma nie vis nie.”

“Ek is te vrek bang ek kry ’n baber aan die lyn, Paul. Ek gril my morsdood.”

“Ma sien, dis waar Hilde-Marié anders is. Sy gril vir niks. Sy kan selfs vis slag. En sy kan vlieë bind. Hoeveel ander girls kan dit doen?”

“Nou voel jy jy gaan nooit weer só ’n meisie kry nie?”

“Jaaaaaa. En sy is mooi. En cool. Sy lag altyd. Hilde-Marié het nie hang-ups en strooi nie.”

“Wat van Samantha van die muurbal? Dit lyk of sy van jou hou. En sy woon in Bloemfontein.”

Samantha Simon is in Eunice. Hy het haar deur die muurbalwinterliga leer ken. Haar bynaam is “Flame” omdat sy rooi hare het, maar dit lyk nie asof dit haar enigsins pla nie. Waar sy kom, vat sy oor. ’n Ekstrovert soos min en die siel van enige partytjie! Hy dink haar mond gaan net toe wanneer sy slaap.

“Ja, Ma. Sam is ’n yster, maar Sam kan nie vis nie.”

“Paul, dan léér jy haar vis … uhhh … vlieghengel.”

“Dink Ma sy sal wil?”

“Nooi haar een naweek saam, my seun, dan vind jy uit.”

Sam hou van uitdagings, maar sy hou niks van vis nie, het hy toe agtergekom. Soos sy ma sê, Hilde-Marié kan weer nie muurbal speel nie.

Hoe leer jy ’n meisie vlieghengel as sy gril vir vis? Hy weet ’n mens kan seker nie alles in die lewe wil hê nie, maar wie soek nou ’n meisie sonder woema? En dan is Sam en Hilde-Marié nog albei flippen mooi ook, op verskillende maniere. Hilde-Marié is blond, sportief en bruingebrand. Sam het wortelrooi hare en sproete, en sy is gebou om te hou.

Paul sug. Dit help nie hy wonder oor enige een van die twee nie. Hilde-Marié het ’n nuwe ou – in Pretoria. En Sam sit veilig in Bloem.

Hy strek sy lyf en swaai sy arms en stap dan af water toe. Dit is redelik klipperig teen die waterkant. Die Oranjerivier se water is skoon. Hopelik kry hy nie jippo guts nie. Hy kniel op die klippe en drink bakhand water; sluk soos ’n kameel wat die laaste oase in die woestyn gemis het.

Onthou dan skielik van die man wat op die dambodem lê en ontbind.

“Yuck! Disgusting!” Paul ril. “Aaaah … yeeeeeghhhh!”

Hy spoeg langs hom op die grond. Hy wil-wil naar word en sluk ’n paar keer. Die water het hy nodig, al gril hy hom dood. Hy wens hy het seep gehad om sy hande te was. Sy ma wou hom shrink toe neem omdat sy gedink het hy is bietjie OCD, maar hy het haar oortuig hy hou net van skoon hande. En hy drink nie uit iemand anders se bottel of glas nie, dis gross verby. Sy vriende dink hy’s vreemd, maar vreemd is awesome.

Sy muurbalmaats het hulle eers stukkend gelag oor sy pienk muurbalraket en pienk kuitlengte kompressiekouse. Nou is almal deel van die kompressie-cult, al is almal nog nie deel van die pienk rewolusie nie. Dan is hy maar die gewillige voorloper van alles wat pienk is. “Anders” is in elk geval ass-kicking. As Copernicus nie “anders” was nie, het die breindooies in hulle stiksienigheid nou nog geglo dat die son om die aarde draai.

Hoe lank sal dit ’n lyk neem om in die koue, donker dieptes te ontbind? Yuck! Hy is baie beslis nie meer dors nie. Gelukkig het hy klaar water gedrink. Dalk het die babers al aan die man se ooglede begin eet … Die naar stoot weer in sy keel op.

“Stop dit, Paul!” praat hy hardop met homself. Hy ril weer. Visarend, dink visarend. Enigiets – net nie aan die lyk in die dieptes nie.

Hy kyk oor die water om te sien of die visarend nog in die omgewing is.

’n Ent voor hom spat water. Dis ’n vis wat spring. Dan begin hy stap, met die sloep langs na die groot water toe. By die punt van die sloep klim hy effens hoër, hou aan die buitekant sodat hy die dam kan sien.

Hy neem stelling in op ’n groterige rots soos ’n bobbejaantrop se brandwag, haal die pakkie biltong uit sy hempsak en skeur dit oop. Sy maag reken al sy keel is afgesny.

Hy druk ’n stukkie biltong in sy kies. Nog. Hy’s so honger hy versluk homself amper. Flip, dis lekker.

Druk weer sy wysvinger en duim in die pakkie. Niks. Die bleddie pakkie is wragtig leeg. Hierdie voorafverpakte biltong is soos ’n koshuisbrak se middagete: dis min, maar dis in.

Hy lek sy vinger nat en vee die laaste spesery-krummels onder in die pakkie op. Lek sy vinger af en suig totdat al die smaak weg is. Sy maag kramp, skree vir nog. Hy’t lus om te huil. Van moedeloosheid én honger.

Enige hengelaar wat sy sout werd is, moet nou al op die water wees. Die vraag is: waar is hulle? Links van hom roer iets. ’n Dassie op ’n klip.

Paul verkyk hom so aan die dassie dat hy aanvanklik nie die enjin hoor nie. Die dreuning word harder en dan registreer dit skielik.

Jippie! Jippie!

Hy spring op en begin waai. Dink dan aan Baardman en Rooies. Miskien is dit net weer dié twee. Hy laat sak sy arms en tuur oor die water. Dis ’n kleiner motorboot as die twee polisiemanne s’n. Die boot kom nader. Die wind waai nog redelik sterk. Hy hoop dis hengelaars wat sloep toe kom om in die windstilte vis te vang – want dis hoekom hy sloep toe gekom het: om die hengelaars in te wag.

Hy staar na die boot. Dis nie Baardman en Rooies nie. Hy spring op en af en roep en waai. Daar is twee mans en twee seuns op die boot. Laerskoolseuns. Tien of elf, skat hy. Gaaf. As daar kinders is, is dit seker veilig. Mens pleeg tog nie moord met kinders op sleeptou nie. Die boot draai effens. Hy waai weer. Hulle waai terug.

Dankie tog.

Hulle het hom gesien.

Hy roep weer en swaai albei arms.

Sweepslag

Подняться наверх