Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 9

5

Оглавление

Maart

Vanderkloof, Saterdag

Hy móét opkom vir asem. Sy longe gaan bars. Net vier hale. Probéér. Sy kop breek deur die water. Hy asem diep in en duik weer dadelik af. Kan nie nou kyk waar die boot is nie. Eers wegkom. Paul skop verwoed. Hy hoop maar net hy swem nog reguit. Parallel met die damwal. As hy by die waarskuwingsdobbers verbygaan, is daar net een pad: sluise toe.

Hy kom weer op vir asem, kyk vinnig agtertoe. Nes hy gedink het: die motorboot soek dorp se kant toe. Hulle het nie gereken dat hy in die teenoorgestelde rigting, berg se kant toe, sal swem nie. Idiote!

Paul kyk wal toe terwyl hy water trap. Die dobbers is skrikwekkend naby. Hy draai om, duik weer af en swem effens na regs.

Selfs onder water hoor hy die watermassa donder en dreun soos dit in die Oranjerivier stort.

Hy wonder of die stories oor die reuse-babers waar is? Dié wat so groot soos haaie is en bodemlangs naby die wal lê en wag vir visse om deur die water meegesleur te word. Hulle hou glo net hulle bekke oop en sluk – te lui en te groot om te beweeg. Blykbaar is selfs die polisieduikers bang vir hulle. Nantus sê hulle sal lag-lag ’n mens heel insluk. Paul skop harder. Hy gaan beslis nie vandag Jona speel nie. Baber se kind sal hom moet kom haal as hy hom wil hê.

En Nantus ken in elk geval nie die verskil tussen ’n duif en ’n dolfyn nie.

Paul kom weer op en kyk waar die boot is. Effens nader. Hulle gooi nou groter sirkels op soek na hom. Hy weet hulle het die selfoonkamera se flits gesien. Die klitsgras van sy hemp se bosak hou die slimfoon binne. Nie dat dit enigsins help nie. Dalk moet hy van die foon ontslae raak, dit in die dieptes laat verdwyn. Dis net ekstra gewig. Maar miskien kan een of ander IT-vaalseun nog die foon red. Sy pa paap sweerlik ’n aap as hy nou weer ’n nuwe foon moet koop. Die foto’s kan hy altyd weer van die Cloud aflaai.

Paul kom weer op vir asem. Die motorboot dreun verder weg. Voor hom is die berg. Nog niks nader nie, voel dit. Ongeveer ’n kilometer se swem, skat hy. Genadiglik is die berg laag. Vir Voortrekkertoertjies oor die Drakensberge sien hy nie kans nie.

Paul swem nou bolangs. Hy dwing sy asemhaling meer egalig en ritmies. Hy het in ’n stadium gedink hy gaan verdrink. Nie omdat hy nie kan swem nie, maar omdat hy die vrees toegelaat het om sy asem te steel. Hy hou by borsslag. Vryslag sou vinniger wees, maar as die ouens in die boot ’n verkyker het, wil hy nie te veel water spat nie.

Uiteindelik! Hy lê op sy rug in die vlak water en wil huil van verligting. As daar iewers nog spiere in sy lyf is, kan hy hulle nie sover kry om te beweeg nie. Gelukkig is die dam se water nie koud nie. Hy lig sy kop en kyk rond, sien nie meer die motorboot nie. Met ’n steun draai hy om, staan hande-viervoet in die vlak water. Nou laag lê, tussen die bosse hou.

Links.

Wal se kant toe.

Sweepslag

Подняться наверх