Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 14

10

Оглавление

Maart

Vanderkloof, Saterdag

Die damwal is saans helder verlig. Hy het gisteraand na die ligte gestaar terwyl hy gebraai het. Karootjops en varkribbetjie. Dis ’n flippen dom tyd om aan braaivleis te dink. Sy maag draai en kramp van die honger. Sy kop klop soos ’n studenteparty. Hy is oneindig moeg.

Hoe hou Imraan dit tydens Ramadaan? Hoe leer hy en skryf hy toets terwyl hy vas? Geen kos of water na sonop of voor sononder nie. Vir ’n hele flippen maand lank! Word hy nie moeg nie? As hy Imraan weer sien, gaan hy hom vra. Die ou het guts.

In hierdie stadium sal hy selfs sy ma se blik moerasgras skoon eet. Sonder water, net so uit die blik. Barley-iets? BarleyLife? Ja, hy dink dis die naam. Whatever. Blykbaar vreeslik gesond. Sy drink dit elke oggend, come hell or high water. Good for her! Maak nie saak hoe jy dit sugar-coat en in smoothies probeer verdoesel nie, dit lyk en ruik soos moeras in ’n glas en dis vrek sleg. Sy maag brand. Hy’s so honger, daai moerasgras sal nou soos gebraaide Sondagskaapboud smaak.

Wat kan hy eet? Sy pakkie grondboontjies-en-rosyntjies is lankal geskiedenis. Hy kou aan ’n grasspriet.

Hy moet eerder op die ligte fokus. Van waar hy in die sloep skuil, sien hy nou slegs die skynsel van die ligte wat in die naghemel optoring.

Paul sak terug teen die bossies en staar na die sterre. Hulle lyk vanaand vir hom vreeslik ver.

“Kophou, Paul. Mens se geld mag opraak,” sê sy pa altyd, “solank jou planne net nie opraak nie.”

“Chill, Paul,” praat hy homself moed in. Baardman en Rooies het ’n man sommer net oorboord gegooi. En toe op hom wat Paul is, geskiet.

Hy ril en die bang draai ’n gat in sy maag.

Nóú is beslis nie die tyd vir vasval in ’n gat nie. Nou moet hy dink. Plan maak. Hy wens sy pa was hier. Sy pa skrik nie vir die duiwel nie, en hy kan planne maak soos min. Hy is net soms bietjie streng. Woes baie, eintlik.

Weet sy pa se kliënte ooit hoe rigied hy kan wees? Preek hy vir die klomp kriminele ook oor wet en orde en reg en geregtigheid? En verantwoordelikheid? Seker nie. Anders het hy geen kliënte gehad nie.

Hy dink sy pa het die konsep van oorsaak en gevolg só by hom ingeprent dat hy nooit weer daarvan sal kán vergeet nie, selfs al trek hy maan toe en word 900 jaar oud.

“Never give in. Never yield to force.” Sy pa se motto.

Dis maklik om te sê as mens soos Churchill ’n hele weermag agter jou het. Hy wat Paul is, is geen Churchill nie, maar hy gaan beslis ook nie sommer opgee nie.

Wat presies het die man gesê oor diamante?

Wat maak hulle met diamante? Waar kry hulle dit? Dit moet onwettig wees, anders sou hulle mos nie sommer net iemand vermoor het nie?

Hy gaan Baardman en Rooies bust sodra hy ’n manier gekry het om van die berg af te kom. Maar die Vanderkloof-polisie is waarskynlik almal ’n spul siek rotte, nes die stasiebevelvoerder.

Dan rev sy moermeter in die rooi.

Sodra hy van die berg af is, gaan hy sy oom Schalk bel. Die Valke sal graag wil weet van die diamante.

Dis nou ás hy van die flippen berg afkom en terug is in die beskawing.

“Nie ás nie, Paul, wannéér.” Sy stem klink vreemd in die stilte.

Die bossies se fyn takkies is stekelrig onder sy blaaie, maar dis die maklikste om op sy rug te lê. Die graspolle steek in sy nek.

Hy skuif rond, maak sy oë toe en tel geelvis in sy kop. Sy spiere voel swaar.

Dan ritsel die gras saggies.

’n Koue lyf gly oor sy linkerbeen.

Hy wil opspring en klap.

Bedink hom. Vries.

Die lyf gly oor sy regtermaermerrie. Op met sy knie. Half oor sy regterbobeen.

En af.

Paul hou asem op. Sy longe wil ontplof. Sterretjies dans in sy kop. Sy asem wil by sy keel uitspring.

Dan’s dit weg.

Slang. Likkewane het pote en naels. Dit was nié ’n likkewaan nie.

Rustig asemhaal, Paul, maal dit deur sy kop.

Pofadder of geelslang?

Paul draai sy oë sonder om sy kop te beweeg. Trek skeeloog om die grond regs van hom te probeer sien. Dis donker. Hy sal nie kan uitmaak watter tipe slang dit is nie.

Hy dwing homself om stadig in te asem. En weer uit.

Luister fyn.

Hoor hy blare en gras ritsel? As sy hart net sagter wil raas. Dan hoor hy dit weer.

Hy is nou so wakker soos ’n kleuter op Red Bull. Heeltemal hyper. Hiperbang en hiperwakker. Maar as hy roer en die slang is naby, is dit tickets met hom.

Dalk het hy hom verbeel? Nee. Dit wás ’n slang. Hy sal sy lyf die res van die nag trapsuutjies moet hou: vasgeplak aan ’n tak.

Sy neus jeuk.

’n Klip druk in sy rug.

Hy dink hy moet pie. En hy is dors.

Hy wil wriemel en krap, maar dwing homself om stil te lê. Dit gaan ’n lang nag wees – flippen verskriklik baie lank.

En hy mag nie slaap nie, want hy weet nie waar Eva-en-die-appel se maatjie is nie.

Sweepslag

Подняться наверх