Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 6
2
ОглавлениеJanuarie
Bloemfontein
“Alicia! Kom terug!” roep Mia. “Asseblief!”
“Vlieg hel toe en pluk bliksems,” mompel Alicia. Sulke vriende het sy nie nodig nie.
Hoekom het Mia haar nie lankal gesê nie? Dis tog wat vriende doen. Stilbly oor die waarheid is net so goed soos lieg. Dis verby. Sy wil Mia nooit weer sien nie.
Alicia se poniestert swiep heen en weer in die draf. Haarslierte plak aan haar gesig vas. Met die agterkant van haar hand vee sy vererg oor haar nat neus, haar kakebeen. Sy moet die tweede periode toets skryf, onthou sy skielik.
Whateveeer!
Pythagoras kan liegbek-Mia vergesel op die trip hel toe. Juffrou Klopper ook. Sy kan vir haar ’n ander “ster” gaan soek – in die flippen melkweg as sy wil. Verrassing! Selfs die sterre brand uit. Eventually.
Niks wat is, is regtig nie. Nie mense nie. Nie eens die verdomde sterre nie. Sterretjie flonker verwoed, meanwhile is hy ligjare gelede al uitgebrand. ’n Koue stuk klip.
Selfde met mense. Net skyn. Niks eg nie. Bo blink, onder stink. Jy kan die lieg nie in die donker vaskeer nie. Dis soos die dood – die enigste sekerte in die onsekerheid.
Sy vee weer oor haar oë en kyk op. By die hoek draai sy links. Net nog dié stukkie opdraand, dan is sy by Oliewenhuis. Sy stap stadiger teen die opdraand uit. Snuif hard en vee met haar hande oor haar oë. Dan rol die trane weer.
“Flippit, Alicia, stop dit! Jy’s nie ’n baba nie,” praat sy met haarself. Sy snuif weer. Sy kan nie by Oliewenhuis aankom en soos ’n lekkende kraan lyk nie. Sy sal moet trane afvee, voorgee, besef sy. So flippen what? If you can’t beat them, join them!
Langs haar stop ’n motor. ’n Swart BMW. Die ruit aan die passasierskant rol af. ’n Ouer man leun half na haar kant toe oor, druk met sy linkerhand op die passasiersitplek, sy gesig laag. Sy ignoreer hom; stap verder. Laat hy nét iets sê omdat sy skool bunk. Dit het boggerol met hom uit te waai.
“Hi. I’m on my way to Heuwelsig. Do you need a lift?”
Pedofoes. Kry vir jou ander geselskap! Sy byt die woorde agter saamgeperste lippe vas en beantwoord nie sy vraag nie. Sy skud net haar poniestert vererg en hou die motor uit die hoek van haar oog dop. Dit kruip stadig vorentoe.
“Haven’t I seen you before? At a hockey festival at Saint Nicholas, I think?”
Sy kyk na die man, maar antwoord nie. Sy frons. Hy lyk vaagweg bekend. Donker hare, grys teen die slape, blas vel, plooie om die oë. Waar het sy hom al gesien? Sy weet sy het hom al gesien. Waar? Waar?
Nou weet sy! Hy was in die Courant, of Bloemnuus. Een van daai. Genomineer as Bloemfonteiner van die Jaar of so iets. Saam met entrepreneurs, dokters, ’n middestad-predikant en so aan. Sy is seker dis waar sy sy foto gesien het. Sy en haar pa het onlangs deur al die foto’s en name gekyk om te sien of hulle vorige buurman, ’n kardioloog, ook genomineer is. En hy was toe wel genomineer, maar die toekenning het uiteindelik – dank die hemele! – aan iemand anders gegaan. ’n Vrou. Solank die kardioloog-buurman dit tog net nie gekry het nie, het sy en haar pa saamgestem. Ná hulle ondervinding met die hartslagter weet sy nou ook wat “anaal” beteken. Wat ’n pyn in die gat! Agteraf het hulle hom Aarbei genoem. Eintlik “aambei” bedoel, maar haar ma het gesê dit klink darem net te kras.
“Okay, if you don’t need a lift …” Die ruit begin oprol.
“Wait.” Moet sy? Of nie? Haar stem is skor en sy voel na haar stel huissleutels in haar skoolbaadjie se sak. In plaas daarvan om heeldag in haar Hoërskool Oranje-klere onder ’n boom by Oliewenhuis te lê, kan sy netsowel ’n geleentheid kry na Dan Pienaar. Huis toe. En dis glad nie uit die man se pad nie.
Die motor kom langs haar tot stilstand. Alicia klim in, maar stel haarself nie voor nie. Die man vra ook nie. Hy vra net waar hy haar moet aflaai. Alicia gee haar adres.
“Do you have daughters attending Saint Nicholas?” vra Alicia twee blokke verder net om iets te sê.
“No. I have two boys at Saint Francis. Both of them play hockey.” Die man glimlag. “One of my sons recently got Free State colours, you know? His name is Jimmy. Maybe you have heard of him?”
Sy skud haar kop. Sy hokkie en gimnastiek gereeld teen leerlinge van ander skole, maar sy meng nie eintlik met die Saint’s-seuns nie. Die Engelse seuns lyk altyd vir haar bietjie wild.
“No, I haven’t heard of him – or met him.” En in hierdie stadium gee sy ook nie eintlik ’n hel om nie. Hy moet haar net aflaai. As sy geselskap wou hê, het sy dit op Facebook gaan soek. Of Instagram. Sy beduie waar hy moet afdraai na hulle huis toe.
Huis.
So onvanpas.
Flippen glaspaleis aan skerwe, maar sy kan nie dink waarheen anders om te gaan nie. Toe hulle by die afdraai na haar huis kom, versnel die motor effens.
“We’ve got to turn around. You missed my street.”
Die man glimlag en knik. Uit die kant van die deur haal hy ’n voorwerp. Swart. Blink. Met ’n loop.