Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 17

13

Оглавление

Villa Persephone

Die deur gaan oop. Paul skrik vervaard wakker, begin regop kom.

“Eina, eina,” steun hy en sak terug teen die kussings. Hy’t vergeet. Van al die pyn. Hy’t pyne op plekke waar hy nie geweet het hy het plekke nie.

Maria se pille sal ’n renosterbul uitsit. Hy drink dit wragtig nie weer nie. Hy wou nie, maar hy het. Die pyn was te veel. En hy was by omgee verby.

“Hi, Paul,” sê die vrou met ’n vriendelike glimlag. Dan ’n bekommerde frons. Dis nie Maria nie, dis die baie mooi girl, die een met die blonde hare. Cindy.

“Hmmm,” mompel Paul. Wat soek sy? Hy wil haar vra, maar sien nie kans vir die effort nie.

“Ek wou darem net kom kyk hoe dit met jou gaan.”

“Uhhhhm.”

“Het jy iets nodig?”

“Water.”

Cindy lig hom effens, skuif die kussings agter hom reg sodat hy kan sitlê en help hom water drink. Flip, sy is mooi. As hy geweet het mens kry soveel aandag as jy beseer is, het hy lankal ’n besering gefake. Die real McCoy is egter nie so cool nie.

Paul sak terug teen die kussings. “Dankie.”

“Jis, dude, vandag lyk jou make-up éérs cockeyed. Dis darem net die linkeroog. Die res lyk heel fine.”

“Voel of ’n trein oor my is.” Paul probeer doodstil lê. Hy dink darem nie iets is gebreek nie, maar sy ribbes en een skouer pyn vreeslik. Iewers, tussen Bullet se houe deur, het hy geval. Sy moer suur geval.

“Check’it uit, dude,” sê Cindy en hou ’n spieël voor sy gesig.

“Swart,” sê hy.

“Jou ooglid is pikswart, ja. Ons moet die ander een ook swart inkleur en jou swart laat dra. Seriously Goth,” giggel sy.

“Hmmm …” Paul is nie eintlik beïndruk nie, maar hy het ook nie asem om te mors nie.

“Loop lig vir Bullet, Paul. Trap in jou spoor. Maar as mens eers weet hoe sy kop werk, is hy nie so bad nie.”

“Huh?” Dis nuus vir Paul. Hy kan nie glo die girl verdedig vir Bullet nie. Wat’s fout met haar? Sy’s lekker mental!

“Ja, ek weet … ek weet. Bullet se outoppie was in die army. Die ou het gedrink en sy humeur was kort. Hy’t Bullet halfdood geslaan. Elke dag. Bullet se sussie was als en hy was niks. Maar Bullet het ook sy soft spots. Mens moet net weet hóé.”

“Uhmm.” Paul het nie veel meer te sê nie. Ook nie die energie om iets te sê nie. Hy weet net hy háát Bullet. As Bullet en een van sy pa se cash-heist-kliënte albei op die grond lê en doodgaan en hy móét een red … Dit sal nie Bullet wees nie.

“Jy wonder oor my, nè?” Cindy leun vorentoe, streel met haar vingers oor sy arm.

“Uhhhm,” antwoord Paul.

“Ek het niks besonders om te vertel nie. Geen sad storie nie. My ouers was albei onnies. Hulle woon nou in ’n aftreeoord. Is al veertig jaar lank gelukkig getroud. My broer is in Australië en my sus in die Kaap. My broer is ’n rekenmeester en my suster ’n onnie. Ek het argitektuur studeer en toe recruit iemand my vir ’n part-time job by ’n club. Die res is geskiedenis. Ek stem nie altyd met Mister D se werkswyses saam nie, maar ek verdien baie meer as meeste ander mense. En ek hou van my werk.”

Paul frons. Stomgeslaan.

“Dis net ’n kwessie van perspektief, Paul. Bullet, aan die ander kant, sou sy outoppie vrekmaak as hy kon. Probleem is, die ou herken nie eers meer vir Bullet nie. Bullet sê deel van die joy sal wees dat die ou man moet besef dis hý, sy seun, wat hom stadig doodwurg. Maar as die ou man se Alzheimerbrein nie eers meer sy enigste seun herken nie, waar is die joy?”

Paul maak sy oë toe. Hy dink nie hy wil verder hoor nie.

“Hoe’t hulle geweet?”

“Wat geweet, Paul?”

“Dat ek …?”

“Dat jy die pad wou vat?”

“Ja.”

“Jy moet versigtig wees wie jy vertrou, sweetheart. Dis about net ek in hierdie plek wat mens kan vertrou. Die res is almal ewe … agterbaks. Alicia ook. ’n Regte rugsteker. Onthou dit maar.”

Paul sluk. Hy kan nie glo Alicia sou hom verraai nie. Sy was al een wat geweet het hy gaan probeer wegkom. Al een. Dis net nie moontlik nie. Of is dit?

“Bye, love. Ek sal weer inloer,” sê Cindy, buk vooroor en soen hom op die voorkop. Paul se oë hang halfmas, maar hy kyk haar agterna toe sy by die deur uitstap. Sy het die mooiste bene. Haar mini stop net onder haar sitvlak. Flippen stunning!

Maar iets voel nie reg nie. Is sy wie sy sê sy is?

Of is sy Satan se sussie?

Sweepslag

Подняться наверх