Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 12

8

Оглавление

Maart

Vanderkloof, Saterdag

Paul voel in sy broek se klitsgrassakke. Hy kry ’n pakkie grondboontjies-en-rosyntjies wat hy vroegoggend in sy sak gedruk het. Yes! In die ander sak is ’n vakuumverpakte pakkie biltong. Hy kyk na die biltong en grondboontjies. Sy mond water. Moet hy of moet hy nie? Hy druk dit terug in sy sak. Net ingeval hy langer op die berg is as wat hy graag sou wou wees.

Sy kakiehemp en -broek is reeds droog. Hy kyk af na sy skoene. Swart Vibram FiveFingers Maiori, nommer elf.

As hulle vlieghengel op die dam, skop hy net sy Maiori’s uit en trek paddavoete aan vir hengel in die sloepe met die opblaasband. Sy opblaasband is selfaangedrewe. Hy is die “self”-deel in die aangedrewe-storie. Groot voete het voordele.

Hy kyk weer af. Gelukkig het hy nie vandag sy Simms-vlieghengelstewels aan nie. Hulle sou hom soos lood laat sink het, maar sou beslis beter gevaar het hier oor die berg se ongelyk terrein en rotse. Nou ja. Soos sy ouma altyd sê: “Spoeg in jou een hand en wens in die ander een en kyk in watter een het jy die meeste.”

Daar moet ’n manier wees. Paul staar na die water en wonder weer hoe wyd die dam is van hier na Vanderkloofdorp. Twee kilometer? Dalk drie? Hy is aan die Vrystaat-kant van die dam en hy moet aan die Noord-Kaap-kant kom. So naby en tog so flippen ver.

Dalk kom soek Baardman en Rooies hom vandag weer met die boot. Dan wil hy liewer nié in die water wees nie. As hy teen môre nog nie raad het nie, sal hy swem.

Sy onmiddellike plan is om berglangs verder met die dam langs te stap. Die niet in. Dis ’n plan wat grootliks berus op baie gebed. ’n Dam vol genade.

Paul kyk op boontoe. Die klippe blink in die son. Die sonbesies gil steeds waansinnig. Hulle gatte brand seker op die grond.

Hy staan op en begin tussen die bossies en rotse deur stap. Hy wil voor donker by die eerste sloep uitkom. Hulle het al daar gehengel. Dis windstil in die sloep. Die aande is nog laatsomer-warm, maar dit kan binne ’n oogwink verander, daarom soek hy skuiling.

Sy naam is Paul Rudman. Nie Racheltjie de Beer nie.

Sweepslag

Подняться наверх