Читать книгу Sweepslag - Annerle Barnard - Страница 8
4
ОглавлениеVilla Persephone
Alicia laat sak haar kop teen die diefwering. Die nag is swart agter die venster. Sy kan die straatligte deur haar kamervenster sien. En die heining, so naby en tog so ver. Die sterre lyk verder as ooit. Onbereikbaar ver. Dan hoor sy ’n dreuning, ’n enjin wat aangeskakel word. Die hek teen die straat gly oop en ’n motor ry uit. ’n Rooi Mercedes. Sy voel weer aan die venster se knip. Die ding wil nie wikkel nie.
Nie eens amper nie.
Wat help dit sy skree? Wie sal haar hoor? Net die monster wat in die gang sit.
Bullet.
Dalk moet sy die ruit breek en gil. Hoop iemand hoor haar, kom tot haar redding. Sy weet net sy kan nie meer nie. Wil nie meer nie. As Bullet tog net nie …
Daar is ’n klop aan die kamerdeur. Alicia voel hoe haar hart opspring in haar keel. Wie soek haar? Sy is vasgekeer.
Die handvatsel draai.
Die deur gaan stadig oop.
’n Kraaines Rastalokke glip geruisloos om die deur, druk dit saggies toe.