Читать книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos - Страница 18

4

Оглавление

Paul Vincent loer in die truspieëltjie. Hy begrawe ’n vuis vol tjips in sy mond en keer met die agterkant van sy hand dat dit nie tussen sy lippe deur ontsnap nie. Hy moet kleiner happies vat; hy mors te veel. Hy kry warm. Die Mercedes se lugversorger is lankal nie meer wat dit moet wees nie. Dis die heel verkeerdste tyd van die dag om op die pad te wees, hy weet dit. Maar hy moet net hier wegkom. Die plek is besig om hom te versmoor.

Hy is veral bang die telefoon begin weer lui. Naamlose dreigemente in ’n Afrika-aksent. Soos dié keer toe hy dit durf waag het om in die hoofberig te noem dat gevestigde belange straks die polisie weerhou van daadwerklike optrede om die slagting op die tuislandpad stop te sit. “What if they threaten me again?” vra hy vir die truspieëltjie, “soos laas met daai taxi that overturned?”

Wat ’n gemors was dit nie! Dit het daardie hele week vir hom gevoel of die ganse polisiemag op hom losgelaat word; hy kon later sweer hulle het almal ’n vinger in daai paai. En eintlik was als meneer Hechter se skuld! Hy wat Paul Vincent is wou net die ligste van skimpe los. Toe besluit meneer Hechter anders. “Call a spade a spade, Paul! This is our calling in life!” Hy het dit toe maar daar gelaat; meneer H is vir hom te veel werd om hom sommer teë te gaan. Maar hy het dit liefs nie gewaag om ’n opvolgstorie te doen nie, al is die stasiebevelvoerder kort daarna verplaas. En Paul Vincent het sy selfoon se nommer verander. Nie dat dit lank werk op ’n dorp soos dié nie.

Watter koers sal hy vat? Beslis nie die een oor die laagwaterbrug nie, nie op ’n Sondag nie. Naweke het die oorlaaide karre en flenterfietse daar voorrang. Tot donkiekarre. Die pad van die dood. Dit is die cliché wat gereeld in Dorp & District opduik: die pad van die dood. Verreweg die meeste doodsberigte wat in die weeklikse uitgawe op ’n Vrydag verskyn is polisieverslae oor die vorige naweek se ongelukke op daardie pad. Dit was ná die publikasie van een van daardie verslae onder die opskrif Death Road/Death Row dat die moeilikheid begin het.

“Shite, Piet!” het hy met sy gesig rooier as gewoonlik by die kafeebaas kom kla, “anonymous phone calls, even threatening to burn down my office! It seems to me overturning taxis are a sensitive issue. Senior policemen seem to have vested interests there. Therefore thou shalt not cast suspicion.”

Die Sondagkoerante lê op die Mercedes se voorste sitplek, die Afrikaanse een heel bo. Dit is steeds oop op die bladsy met adjudant-offisier P.C. van Deventer se stroewe gesig neffens ’n beriggie oor die “Moord by Brug”.

“I never buy the bloody thing!” sê hy vir die polisieman se foto en sy hande klem die stuurwiel vas. “Jou soort is not quite my cuppa tea.”

Saais Vogel het al vir hom gesê die Engelse Sondagkoerante is politiek bedonnerd. “Wié het vir wié aangestel om watter voordeel uit wat ook al te kry?” was Saais se kriptiese opsomming. “Wié wil dít nou lees? Ons Afrikaners verkies ons Sondagkoerante met meer kleur en geur, kan jy maar sê. ’n Gesonde mengsel van doos en trane.”

Hy wat Paul Vincent is het nog altyd politiek verkies. Maar vroeg vanoggend het Piet Paai hom gebel. “Heita, Rooinek! Ek sien jou storie het die Sondagkoerant gehaal! Die Afrikaanse ene, nogal! Jy moet net dat hulle volgende keer jou naam ook bysit, jy weet? Ek meen, ons almal weet dis jy, maar dis hoog tyd dat die res van die wêreld ook kennis maak met ons dorp se eie Engelsman, jy weet?”

Paul het gedog die man maak weer ’n grap, dat hy sou voortgaan en een van sy eie heldeverhale vertel. Maar hy het nie. En toe lui die foon weer. Saais Vogel: “My ou Rooinek, jy skiet uit! Het jy geweet dis ék wat die predikant huis toe gevat het nadat hy by die bruggie was? As jy genoeg betaal, kan jy die res van die storie by my kom kry.”

Toe het Paul die telefoon doodgedruk, in die Mercedes geklim en kafee toe gery. Piet was nêrens te sien nie en sy assistent was alleen agter die toonbank. En dié het skaars van die koerant wat voor hom oopgesprei was opgekyk.

Paul het om die toonbank geloop en oor Lionel se skouer gekyk. Bladsy ses. Die fronsende gesig van adjudant-offisier P.C. van Deventer. “Shite!”

“Oom?” Lionel het orent gekom, sy oë wyd. “Shoo-whee, Oom, is daar dan ’n foutjie?” Die oop hand het tot by sy mond opgekruip.

Paul het na een van die eksemplare gegryp, en byna die twee Engelses vergeet wat hy gewoonlik neem. In die verbygaan het hy darem ’n arm vol tjips gegryp. En toe vergeet hy om Lionel te betaal – eers toe hy die klein bedelaar by die Mercedes sien het hy onthou en teruggedraai. “Keep the change!” het hy vir Lionel gehyg toe hy die note oor die toonbank stoot.

“Oom?” het Lionel op sy onnabootsbare manier gesê.

Shame, het Paul skuldig gedink. Wat is daar vir hóm op ’n dorpie soos dié?

Daar is net een alternatief vir die tuislandpad, besluit hy nou, en dis suid op die nasionale pad. Nie dat dit juis stiller is nie, juis nie op Sondae nie. Dit is wel heelwat breër, en darem met geel strepe weerskante. Daar is dus ruimte om plek te maak vir die GP’s en veral vir dié sonder nommerplate. En dit is minder as honderd kilometer tot in die stad.

Paul se oog vang weer die oop koerant op die sitplek langs syne. Who is he, this self-appointed correspondent of the doos en trane? wonder hy die soveelste keer, effe verbaas dat sy ontsteltenis steeds so vlak lê. Dit kan tog net Van Deventer self wees wat die koerant met die storie gevoer het. Adjudant-offisier vir die afgelope hoeveel jaar; vir ewig op die rand van bevordering en net so lank oor die hoof gesien. “To be frank, Piet,” het hy iewers verlede jaar vir die kafeebaas gesê, “it has become a bit of a joke. He will never become an officer.”

Paul is lus en steek tong uit vir die onvleiende maar akkurate koerantfoto. Warrant-officer Courageous wat ’n verslag oor sy heldedaad na die Afrikaanse Sondagkoerant toe deurmail (die trane-deel) en ’n ou kop-en-skouers-foto saamstuur. Hero of the laagwaterbrug.

Eintlik voel hy al ’n bietjie beter as vroeër; Piet en Basie se oproepe het hom nie goed gedoen nie. Dit het al die slegte herinneringe weer teruggebring van die keer toe hy werklik vir sy lewe gevrees het. Hy kan nou netsowel terugdraai, op sy eie bed gaan lê, seker maak die telefoon is dood en soos elke Sondag rustig sy koerante lees. Nadat hy van die Afrikaanse gemors ontslae geraak het. Dalk moet hy dit sommer nou doen! By die laagwaterbruggie, die toneel van Van Deventer se heldedaad, dit bladsy vir bladsy gaan opfrommel en aan die brand steek. Net om vir almal te wys presies wat hy daarvan dink.

Hy rem dadelik, kyk vinnig in die truspieëltjie wat nou aansienlik vriendeliker is as ’n halfuur gelede, en krink die stuurwiel. Draai terug na van waar hy gekom het. Toe hy weer behoorlik op pad is, skeur hy die tweede pak tjips met sy tande oop, eensklaps opgewek en vol nuwe vrede.

'n Dorp soos Silwer Streams

Подняться наверх