Читать книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos - Страница 20
6
ОглавлениеElnatan Wait weet nie watter rigting om in te slaan nie. Hy weet net hy moet hier uit. Besluiteloos staan hy by die pastorie se tuinhekkie.
As dit nie vir die hitte was nie, is ’n Sondagmiddag eintlik die mees geskikte staptyd, besef hy. Dit is eintlik so logies. Spar is lankal toe. Piet Paai het ’n uur gelede sy deure vir die siësta gesluit; hy sal laatmiddag weer oopmaak vir die aand se brood- en melkkopers. Die jonges met die haastige klein motortjies is al lankal met die grootpad langs, op soek na lewe op ’n beter plek. Of oor die laagwaterbruggie. Elnatan skud sy kop, ineens bewus van die effense klopping in sy bors; daaraan wil hy nie dink nie.
Hy vat maar ’n koers. Dis grafstil, daar is nie ’n siel op straat nie. Niemand wat gegroet of te woord gestaan of na geluister moet word nie. Hulle lê agter hulle diggetrekte gordyne, dikgeëet aan vet vleis en rys en aartappels.
Elnatan kan om die dood nie onthou wat hy vanmiddag geëet het nie. Het hy hoegenaamd geëet?
Hy luister na sy sagte voetval, asof dit iemand anders s’n is, iemand langs hom, asof hy droom. Maar die eerste sweetkrieweling in sy nek bring hom terug na die omgewing. Die streperige skaduwees van die ry hoë bloekoms in Kerkstraat.
Dis hélwarm. Hoekom draai hy nie maar terug huis toe nie? Die lafenis van sy studeerkamer; sy kop op die lessenaar se koel blad.
Die toring se kort skadu val skuins oor die plaveisel voor die kerk. Hy kyk op, sien die afskilferende verf teen die toringmuur, die duiwemis wat in strepe daarteen afloop. Oor die duiwemis het ouderling Oosthuizen vanoggend weer sy mond vol gehad. Die ryk boer wat almal in die omgewing behandel asof hulle in sy diens is. Op sy dag was hy glo ook burgemeester. (“Kyk, hier is die sertifikaat teen die muur, hulle het my mos ná vyf agtereenvolgende termyne raadsheer gemaak.”) Nou is hy net ’n bitterbek wat sy frustrasies op die naaste een uithaal. Sondagoggende is die predikant naaste.
Elnatan loop die klompie bekende treë met die geplaveide paadjie af. Voor hom doem Die Muur op, ouderling Raadsheer se troetelkind. Hy onthou elke innuendo in die ou man se toespraak op die kerkraadsvergadering waarop hy sy saak vir die dooies gestel het. “Dit het tyd geword dat ons, soos al die gemeentes in die omgewing, ook ’n muur van herinnering bou. Vir wie moet ons dan wag om die leiding te neem? Daar is reeds hééltemal te lank daarmee gesloer. Geld sal nie ’n probleem wees nie,” het hy gesê, gevat-vat aan sy bosak – almal moet sien waar hy sy tjekboek bêre. Asof iemand in dié dorp dit nie weet nie.
Elnatan vee ’n paar droë grassies van die sementblad af en gaan sit in die smal skadu wat die muur maak. Die bruinrooi sierstene is koel teen sy rug. Die spesifieke soort stene én hulle kleur was die aanleiding tot ’n geveg wat etlike maande geduur het. Dit was nadat die presiese ligging amper ’n skeuring in die kerkraad veroorsaak het. Elke keer het ouderling Raadsheer ten slotte gedreig om sy beloofde skenking aan die projek te onttrek, en elke keer het hy gewen.
Elnatan trek sy bene op sodat sy knieë teen sy bors raak. Sy hele lyf is nou in die skaduwee. Hy is onsigbaar van die straat af, kom hy tot sy verligting agter. Stadig trek hy sy asem in, nog stadiger laat hy dit uit. Dat hy dié plek nou eers ontdek! Die skadu by sy voete sal groei soos die agtermiddag verloop. Oor ’n halfuur sal hy sy bene kan reguit maak. Hy is byna lighoofdig van dankbaarheid. Sy lippe vorm die woord “skuilplek”. Sy oë gaan vanself toe. Feitlik dadelik skuif Krynauw se beeld voor hom in, ongevraag, die platgekamde blonde hare.
“Nee!”
Is dit sy stem? Vinnig kyk hy rond; is daar iemand naby? Iemand wat gehoor het? Hét hy geroep?
Seker nie. Saggies laat hy sy asem uit. Kantel sy kop agter-oor dat dit teen die muur rus. Die wolklose blou lug is vaal van die hitte. Hy waag dit nie om sy oë toe te maak nie.
Toe staan die kerk se toring voor hom. Regop. Dit kyk afkeurend op hom af. Elnatan se oë sukkel om te fokus.
“Now what have we here, brothers and sisters?”
Nou is daar twee torings. En hulle praat met my, dink hy verward. Nee, met mekaar! Die skraal pilare wat oor hom troon. Die twee kyk na mekaar, die son vang hulle gesigte. Hy kan sweer een van hulle skop teen sy voet, die ander een gee ’n tree vorentoe en kom sit langs hom. Steunend maak hy ’n swaar plastieksak voor hom staan.
Toe kry Elnatan die reuk: die lyf wat lanklaas gewas is, die drankasem. Hy druk homself orent, wil opkom, maar die een wat regop staan hou sy hand in die lug. “Peace, brother!” sê hy.
Elnatan besef dis ’n vrou wat langs hom sit. Sy vroetel in die plastieksak en haal ’n hele brood en ’n ronde rooi polonie uit. Dan lig sy haar een knie en Elnatan sien hoe die rok oopval, hoe sy haar hand daar iewers tussen die voue indruk, tot by die elmboog. Hy kyk vinnig weg. Laat hulle tog net weggaan! bid hy. Hulle en hulle stank en hulle gewoontes. Hy voel die naarheid in hom opstoot. Is dit die reuk? Die lang inmekaarsit. Wat het hy vanmiddag geëet?
“Brood en polony, Meester!” sê die vrou opgewek. “Net reg vir die Here se dag. En jy kan maar weer kyk, ek het net gou die wins. Skoon wins.”
Nou word daar iets geskeur. Harde papier, moeisaam soos karton. Hy kyk maar. Iets wat ’n wynboksie moet wees wat sy tussen haar hande vasbyt. Platterig, langwerpig, maar oorhoeks gedruk in die plek waar sy dit uitgehaal het. Sy probeer weer met haar tande; dan die knopperige vingers wat sukkel om die kraantjie uit die karton gewikkel te kry.
“Come now, Lorna!” sê die manstem ongeduldig. “You’re not that old, you still know mos how to handle a piepietol.”
Sy los die boks en dit val op haar skoot. Die vingers lig in ’n obsene gebaar. “Ag fuck you, Frank!”
Frank en Lorna, dink Elnatan. Soos ’n Amerikaanse sitkom, net die geblikte gelag ontbreek. Hier moet hy wegkom. Maar hy bly sit; kyk hoe sy weer die boks beetpak.
Frank het intussen ook gaan sit. Sy oë is op Lorna. Nou het sy die kraantjie met haar mond beet. Met albei hande druk sy teen die wande van die boks, die wyn loop in ’n straal teen haar ken af en by haar hals in.
Haastig leun Frank vorentoe. Toe sy hom probeer ontwyk, vloek hy en gryp. Sy probeer nie keer nie.
Die walging stoot tot hoog in Elnatan se keel op. Hy wil weer opstaan, maar dit is asof sy bene nie wil nie en hy sak teen die muur terug. Sy agterkop kap teen ouderling Raadsheer se stene en eensklaps is die naarheid in sy mond, die spoeg wat onder sy tong uitborrel is warm. Daar kom ’n branderigheid in sy oë.
“Haai shame, Meester! Vir wat huil jy so?”
Die wynasem druk Elnatan nog stywer teen die muur vas.
“Kyk nou wat het jy gedoen, Frank! Jy het die man glads hartseerlik!”
Frank hoor of sien nie, hy drink met toe oë. Met moeite dwing Elnatan die naar terug. Sy bors is dik, asof dit geswel is. Hy sluk vas teen die geswelde bors.
“Los nou die wyn, Frank! Hierso, vat nou ’n stuk brood ôk!”
Die hand met die brood word ver vorentoe uitgesteek. Met die ander hand het sy die stuk polonie beet wat sy nou tussen haar tande indruk om die omhulsel te probeer afskeur. “Hei, Meester, wil jy ook ’n stukkie brood?” Haar wange staan bol. “Maar jy sal die wyn niks likes nie – dis semi-sweet.” Sy kantel haar kop. “En jy lyk vir my na ’n man vir suur.”
Nou het sy die polonie oop, sy hap ’n stuk af en ruil die res by Frank vir die boks. Sekuur vind die kraantjie sy plek tussen die tuitlippe. Vaardig! dink Elnatan teen sy sin.
Sy sluk en sluk. Dan plak sy die boks op die grond neer en vee haar mond met die agterkant van haar hand af. “Anyways,” sê sy en kyk na Elnatan, “die wyn is die wins en jy weet wat sê die Woord. Terwyl ons nou hier by die godshuis. Die deler is net so sleg soos die steler.” Sy breek ’n wind op. Knoffel en wyn.
Elnatan stoot homself orent, maar Frank se lang arm skiet uit en hy druk hom teen die bors. “Sit down, man! Why are you leaving so soon?” Sy ronde ogies skiet heen en weer tussen Elnatan en Lorna. “Who are you?” vra hy vir Elnatan. “Ek meen, wie’s jy as jy by die huis is?”
Elnatan sluk weer teen die dik naarheid in sy bors. “Wait,” sê hy met ’n sug. Daar is niks aan te doen nie.
“Wait?” Die man sê dit asof hy hom nie glo nie. “Wait for what?”
Vir wát. Vir wie.
“Dis my van,” sê Elnatan oplaas, “my surname. Wait is my surname.”
“O,” sê Lorna.
“And your name?” vra Frank. “Your first name?”
“Elnatan.”
Frank kyk na Lorna, asof hy wil seker maak dat hy reg gehoor het. “El … tan?” vra hy huiwerig.
“El-ná-tán!” help sy hom reg.
“El-na-tan,” herhaal Frank stadig, gryp dan na die boks en vat ’n paar slukke. Die adamsappel wip op en af. Hy vee sy mond skoon. “What a shitty name.”
“Hoe bedoel jy?” Elnatan kan nie anders nie.
“Hy bedoel,” vertaal Lorna, “waar kry jy so ’n kak naam?”
Elnatan verduidelik met die gelatenheid van iemand wat dit al dikwels moes doen: “Dit beteken die Here het gegee.”
“Gegéé?” proes Lorna. Toe lag sy: “Jou náám?” Dan begin sy stik. Flentertjies polonie beland op haar klere en op ouderling Raadsheer se muur. “Hoe bly is ek nou!” hyg sy uiteindelik. Die trane stroom teen haar wange af. Haar stem is hees. “Ek dog dit kom van jou ma.” Sy vee die water uit haar oë.
Frank sukkel orent. Die polonie se verflenterde omhulsel en die stukke afgeskeurde karton lê rondom sy voete. Hy draai sy rug op die ander twee en vroetel voor by sy gulp. “Die Here het gegee …” mymer hy terwyl die kortstondige straal in die middagson blink.
Elnatan maak sy oë toe; versigtig leun hy terug. Sy agterkop vind een van die gate, die leë nissies waar die dooies se as nog moet kom.
“The Lord giveth” sê die stem bokant hom, “the death taketh away. Blessed be the name of the undertaker.” Frank sukkel. Daar is nat vlekke voor teen sy broek. Maar hy buk flink en raap die leë wynboksie van die grond af op en druk dit teen Lorna se bolyf vas. “And that’s not all!” grom hy. “Thou shalt not steal!”
“Ag fuck you, Frank!”