Читать книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos - Страница 6

3

Оглавление

’n Saterdag moenie fokkenwil só begin nie!

Adjudant-offisier P.C. van Deventer dwing sy oë oop, probeer op die verligte wekker fokus. Sesuur. Wat ruk so?

Dis Carol wat aan hom skud. “Peesee! Peesee! Word wakker! Daar’s iemand daar buite! Hoor jy? Is daai die asdrom? Daar’s iemand by die asdrom!”

Hy staan op en vat die flits, maar dis reeds helder lig buite. Hy jaag die donnerse hond weg. Een van die skoolhoof se groot dalmations.

Nou is enige poging om verder te slaap in sy moer. Hy maak maar tee. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om sy ysters in die garage te gaan opsoek, maar hy’s nie wakker genoeg vir ’n sweisvlam nie. En dis reeds warm.

Sy eerste sigaret vir die dag. Hy weet hy moenie so vroeg rook nie, en dan nog in die huis. Maar terwyl Carol in die kamer is, sal hy maar die kans vat. Maak maar die vensters oop. Wat anders is daar te doen? Op die voos bank voor die TV lê en rook en infomercials kyk.

Hy moes tog weer aan die slaap geraak het, want dit is asof hy iets van baie ver af hoor. Dit neem ’n rukkie voor hy die deuntjie identifiseer. Dit kom nie uit die televisie nie; dis die selfoon aan die laaier in die gang.

Die stasie. Een van die konstabels by die toonbank. Eers hoor hy nie wat die mannetjie sê nie. Die manier waarop hy praat. “A corpse on the bridge, Sir. A member of the public just phone.”

Hy soek sy horlosie. Dis nog nie agtuur nie, dis naweek, en die gal word reeds deur sy oë gejaag. A cops on de brieds. “Het jy al jou sersant gebel?”

Die stem aan die ander kant huiwer. “There is no … He answer not his phone, Sir.”

P.C. byt amper sy tong raak soos hy hom bedwing. Hy haal asem soos Oudok hom gewys het. Stadig in. Stadig uit. “Jy bel nou vir studentekonstabels Motaung en Beukes, hulle nommers sal daar iewers wees. Nou. Jy sê vir hulle ek kry hulle by die bruggie. Hulle moet hulle gatte roer.”

Hy skeer vinnig. Drie stukke Weet-Bix. Die melk solank in die mikrogolf. Die klere is oor ’n hanger in die gangkas. Sy skoene is onder die bed.

Carol slaap nog. Maak of sy slaap, weet hy.

Ek vra jou niks.

Die melk is in sy moer in oorgekook. Hy stamp die droë koekies ontbytgraan weer terug in die regop pakkie. Hy kom agter sy ore suis.

“Jy gaan dit nie maak nie, Peesee,” het die ou dokter gesê en die stetoskoop weer teen sy bors gedruk. “Nie teen hierdie tempo nie, nie met ’n bloeddruk soos joune nie. En, laat ons nou maar met mekaar eerlik wees, vir wát? Jy moet dit kalm vat, Peesee. Jy gaan nie die polisie regruk nie. Nie in jou leeftyd nie. En beslis nie op ’n dorp soos dié nie.”

Sal hy die oggendprogram se nuus kyk? Die cops on de brieds kan tog nie meer ontsnap nie. Hy gaan lê weer op die bank, maar die nuusbulletin doen niks vir sy bui nie. Al die kak oor munisipale dienste in die townships. Daar is darem iets oor die krieket.

Die Tazz se starter maak dit weer nie. Eendag is eendag, weet hy. Kan die battery ook wees. Carol sê dis van al die buite staan. Oor die ysters wat die garage vol lê. En die sweismasjien se gasbottels. Wat gee hy om. Hy vra haar niks.

Skielik vat die kar. Die petroldampe hang die straat vol soos die Tazz steeks vorentoe beur. P.C. moet konsentreer om wydsbeen oor die reeks slaggate te kom. Agtermekaar geryg soos hempsknope. Wyd-om die twee grotes voor die skool se hek. Regs by die stopteken, af in die hoofstraat. Hierdie tyd van die oggend kyk jy net vinnig. Dis net die paar taxi’s uit die lokasie wat Spar se till-slaners en skoonmakers dorp toe gebring het en nou weer op pad terug is. Met ’n vrag drank vir die sjebiens. Dis naweek. Niemand anders ry nou al rond nie. Net die ou spul by die rolbalbaan; daar staan ’n plaat karre.

Die klompie mense onder by die bruggie gee pad voor sy kar. Dit verbaas hom dat Beukes en Motaung reeds daar is. Hulle beduie iets aan ’n man wat koponderstebo staan. Kort broek. Dun, wit bene. Die predikant. Wat soek dié ou droë drol hier? Hy lyk selfs ellendiger as gewoonlik.

“My magtag, priester!” P.C. maak maar praatjies; die man lyk of hy met die dood deurmekaar is. “Jy kan tog nie nou al kom begrafnis hou nie; ons moet eers die saak ondersoek. Dan die ambulans. Dan die dokter. Dán eers jy.”

“Morning, Sir.” Motaung. Kan Beukes ook wees. Hulle is ’n week by die stasie. Nog vol goeie maniere. Selfs uniforms wat lyk of dit gestryk is. “This gentleman here said he discovered a body.”

This gentleman staan steeds kop in die grond. “Ek het alles vir die twee konstabels vertel, Adjudant,” fluister hy. “Alles.”

P.C. moet hom inspan om te hoor. Is die man siek?

“Kan ek dan maar gaan? Ek voel nie … Ek sal sommer hier bo by die rolbalspelers hoor of een van hulle my nie kan huis toe vat nie. Jy weet tog waar om my te kry as daar nog iets is.”

Bleek, krom. Dit lyk of hy enige oomblik kan omkap. P.C. besluit vinnig: “Beukes. Of wat jou naam ook al is. Loop saam met die dominee tot by die rolbalbaan. Dan kom jy terug. Haastig.”

'n Dorp soos Silwer Streams

Подняться наверх