Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 11
Buffett boor ’n aar raak – hoe ’n mens opstaan ná ’n terugslag
Оглавление’n Negatiewe mens het nog nooit iets positiefs begin of staangemaak nie. Die mense by PSG weet ook hulle moenie vir my sê iets kan nie werk nie – hulle moet ’n alternatief voorstel.
Ek is ’n ruk terug op ’n KWV-direksievergadering lekker uitgelag oor my skalkse oplossing vir ’n dividenduitbetaling in spesie terwyl daar terselfdertyd ’n brandewyn-oorskot was. (PSG se belang in Zeder het dié inspraak op direksievlak verseker.)
“Nou maar gee vir elke ou met ’n sekere aantal aandele ’n kis brandewyn,” het ek gesê. En toe die direksie klaar gelag het, voorgestel dat hulle dan kom met werkbare oplossings wat die oorskot-brandewyn-probleem uit ’n nuwe hoek benader.
My vrou het daar in 1995 gesê ek kan nie net so rondsit en niks doen nie, dit bekommer haar. Dan sê ek maar ek dink.
Niemand in ons vriendekring was meer onder die illusie dat ek self by SMK geloop het nie en my selfvertroue was aan flarde, maar ek het ook besef ’n getob gaan my niks in die sak bring nie.
Dana het my gehelp om ’n kantoor by die huis in te rig. Ek het elke oggend opgestaan, geskeer, behoorlik aangetrek met ’n langbroek en sokkies en kamstig om agtuur ingeval.
Maar ’n oproep na ’n makelaar oor die stand van die beurs duur nie veel langer as ’n paar minute nie. Ek het net mooi niks gehad om te doen nie.
Ek en Dana het later vir ’n rekenaarkursus ingeskryf en op dié manier het sy haarself op ’n sleutelbord kon help en e-pos en die internet baasgeraak. Ek het pateties gebly tot einde 2010, toe ek ’n iPad present gekry en vir die eerste keer begin google het.
Om alleen plaas toe gaan, het ook nie gewerk nie, want daar het ek my net gesit en verknies. Eenkeer is Johan Sekenal saam plaas toe en ons het gaan bome plant vir Afrika. Maar toe die bome nie een wil groei nie, het Dana gevra of ons ooit die swart plastiek om die wortels afgetrek het. O aarde.
“Ag, Jannie, kan jy nie eens ’n boom plant nie?” was haar reaksie.
Maar toe bring my oud-SMK-kollega François Gouws, vandag globale hoof van ekwiteite van UBS in Londen, vir my ’n boek van die beleggingskoning Warren Buffett. Tot op daardie punt het ek nie juis sakeboeke gelees nie, maar die boek het van my ’n bekeerling gemaak. Oor die jare het ek van al die snuffel in boekwinkels ’n nuttige biblioteek opgebou.
Ek het Buffett se boek opgesom en Dana het dit vir my oorgetik. Op Exclusive Books se rak het ek ook op Napoleon Hill afgekom: “Knowledge paves the road to riches – when you know which road to take.”
Toe ek so ’n ent weg gelees het, het ek op ’n SWOT-ontleding vir myself besluit en volgens dié Engelse akroniem die sterk punte, swak punte, geleenthede en bedreigings begin uitstippel. Ek het besef my en Chris Otto se gereelde (en al hoe langer) middagetes by Late Night Al’s in Auckland Park is nie ’n langtermyn-oplossing nie en dat ek nog nie op vyftig gereed was vir aftree nie.
Ek moes myself oortuig dat ek iets nuttigs doen, dat ek planne uitdink en geleenthede uitsnuffel. Ek het geweet ek moes veg teen die bedreiging van stagnasie.
Die persoonlike ruimte in die kantoor het my gedwing om oor my toekoms en dié van my gesin te besin. Om te dink, sou my nuwe projek wees, en dit was ook glad nie die kinderspeletjies waarna dit op die oog af gelyk het nie. Ek wou weer met ’n onderneming begin, en daarvoor moes ek ’n sleutel soek.
Ek het toegewyd begin lees en gefokus op boeke in die beleggingswêreld, van Warren Buffett en sy filosofieë tot die bestuursbenaderings van suksesvolle sakelui.
Wat ek gelees het, het my aan die dink gesit. Ek het baie van die boeke in Afrikaans opgesom om my denke te orden. Nie elke boek verander by wyse van spreke jou lewe nie, maar daar is altyd ’n idee of twee wat ’n mens kan inspan.
Vir my het dié studie benewens die werk- en akademiese voordele ingehou dat ek myself georiënteer het.
Dit verg opoffering om gespesialiseerde kennis te versamel, maar dit het my gestimuleer en verryk in my toekomsbeplanning.
Vandag besef ek daar is ’n hele paar punte wat die akker vir PAG, die voorloper van PSG, voorberei het. Ek kan dit opsom as ’n klankbord, selfontleding, ’n droom, ’n aksieplan, ’n positiewe houding, besluitneming en kommunikasie. En ek kan dit nogal aanbeveel vir iemand wat in ’n groef verval het soos wat daardie tyd vir my gedreig het.
’n Mens moet ’n terugslag realisties deurwerk. Jy het iemand nodig wat jou kan help as jou geesdrif jou redelikheid oorheers, maar ’n jabroer kan dit nie wees nie. Dit moet iemand met goeie oordeel wees wat genoeg respek vir jou het om die moeilike vrae eerlik te beantwoord.
Gelukkig was Chris en Dana daar vir my in die eerste dae van my soektog om weer in myself te begin glo. Vir ’n strategiese besluit werk só ’n span veel beter as ’n individu.
Dana het eenkeer gespot ons kuier so lekker saam oor ’n bottel wyn as ons uiteet omdat “jy altyd praat en ek altyd luister”, maar veral daardie tyd was sy ’n wonderlike klankbord. Sy het my verstaan en kon my voortvarendheid temper.
Eerlike introspeksie is nie altyd lekker nie, maar daarsonder sal ’n mens sukkel om na jou goeie punte toe te werk en jou swakker eienskappe uit te skakel. Maar so slim as wat dit agterna dalk klink, is my ou dagboek die getuie hoe ek bloed gesweet en getorring en vernuwe het aan my SWOT-ontleding totdat ek later presies geweet het wat ek wil en kan doen.
Die eenvoudige vraag is wat jou persoonlike missiestelling is, jou doelwit, jou droom. As jy die antwoord weet, ontketen dit ’n krag wat jou na die eindbestemming aantrek.
My plan wat ek in November 1995 neergeskryf en laat tik het, was:
Ek wil vry wees en nie vir ander werk nie.
Ek wil ’n verskil maak aan ander se lewe en empatie met my medemens hê.
Ek wil ’n boek skryf (haai, nou toe nou).
Ek wil iets saam met my kinders aanpak.
Ek wil ’n nuwe wildplaas takel ná Nokonya.
Deur great dinge te doen, is ek gelukkig.
Ek wil ’n nuwe maatskappy suksesvol uitbou.
Baie dinge het al oor die jare verander, maar die raamwerk is steeds geldig.
My aksieplanne moes my droom rig:
Ek wil ’n genoteerde maatskappy beheer.
Ek wil op die finansiëledienstesektor fokus.
Ek wil kapitaal verkry vir ’n sterk kapitaalbasis.
Ek wil gedesentraliseerd en gedelegeerd bestuur.
Ek wil goeie mense betrek.
Ek wil uit Johannesburg na Stellenbosch verskuif.
Ek wil ’n klein, kreatiewe hoofkantoor met ’n ontspanne atmosfeer inrig.
Ek wil meer dink en minder doen.
Die wete dat ek ’n droom en ’n eindbestemming uitgebeitel het, het my positief gestem. Hoog mik verg dieselfde inspanning as laag mik, soos die rympie van Jessie B. Rittenhouse wat ek so dikwels gelees het dit uitdruk:
I worked for a menial hire,
Only to learn, dismayed,
That any wage I asked of Life,
Life would have willingly paid.
Sonder ’n besluit is ’n mens nooit verkeerd nie, en daarom is mense huiwerige besluitnemers. Vir my spruit vryheid en vreugde uit die loop van ’n verantwoordelike risiko. Vandag nog gee ’n suksesvolle sakebesluit soos ’n SMK of PSG of Capitec wat werk my baie meer plesier as die geld wat ek daaruit maak. En as iets nie werk nie, maak die onderneming toe en gaan verder.
Uit al die sakeboeke wat ek daardie tyd gelees het en steeds lees, blyk die enkele belangrikste element van sukses is om te praat. As jy jou drome en planne aan jou vriende oordra, plaas jy druk op jouself om dit te verwesenlik. En dié wet geld regdeur tot in die beleggingswêreld; jou aandeelhouers stel belang in waarheen jy op pad is, jou suksesse en jou mislukkings.
Maar nóg belangriker as praat, is om weer na hulle te luister. En my ore was reg vir wat Piet de Jongh, vandag hoof van Noble Private Portfolios, wou sê.