Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 12

Marilyn Monroe en politieke passie – ’n nuwe geleentheid val in ons skoot

Оглавление

“Pa, maar so iets kan mos nie ’n man soos Pa besig hou nie,” het my seun Piet gesê nadat ek gesê het ek koop en verkoop nou aandele. En doen aansoek om nuwe noterings. En soek dalk nuwe beleggingsgeleenthede. Hy het in sy September-vakansie in 1995 ’n draai in my “kantoor” kom maak en gevra wat ek heeldag doen.

Hy was reg, net soos hy reg was toe hy my teen die einde van die jaar gevra het om al sy sakgeld in PAG-aandele te belê. Dit was net nadat ek vir die kinders in die Saddles-restaurant in Mosselbaai die SMK-sage vertel het en hy nie wou hê ek moet dink hulle het vertroue in hul pa verloor nie. Hulle was verbaas. Ek is nie seker of dit was omdat die storie vir hulle nuus was en of hulle bloot gedink het ek sou net nooit daaroor praat nie.

Piet de Jongh, wie se pa, Theunis, op sy dag as Reserwebank-president al die land se geldnote geteken het, het my gebel oor ’n geleentheid wat hy raakgesien het. Hy het my aan huis kom spreek, en omdat die kinders voor partytjie gehou het, het ek hom sommer die slaapkamer binnegenooi.

“Belowe jy sal nie lag nie, Jannie,” het hy gesê. Ek het geweet Jannie Kitshoff sal nie sy swaer na my toe stuur met nonsens nie en het belowe. “Ons gaan ’n personeelagentskap koop!” was Piet se verrassing.

Ek het na die state van die Professional Assignment Group gekyk en sommer geweet my vier maande lange gewroeg was verby: Die aandeelhouers was in die moeilikheid, maar dit was nie ’n katnes nie. Hier was die klein, reeds genoteerde maatskappy wat ek gesoek het, en dit boonop in die finansiëledienstesektor. Ek en Piet was nie blind daarvoor dat ons te veel verskil om van dag tot dag te kan saamwerk nie, maar ons kon saam belê.

Piet het die 15c-aandeel raakgesien en vasgestel die prys markeer die pas omdat meer as 60% van die aandele as sekuriteit vir die eienaar, Syd Catton, se gelikwideerde eiendomsontwikkeling in Jeffreysbaai gedien het. Die likwidateurs, Absa en KPMG, was maar te bly iemand stel in die aandele belang.

Uit ’n gesprek met PAG se besturende direkteur, Ray Rossi, was dit duidelik dat die 32 kantore ’n wins maak en dit al vir ’n paar jaar regkry. Die sakemodel was eenvoudig – die groep verdien 20% van ’n aanstelling se salaris in die eerste jaar – en daar was nie ’n groot risiko soos met die koop van ’n klomp vaste bates nie.

Omdat die mediamaatskappy Caxton ook in PAG belang gestel het, het die likwidateurs besluit op ’n bodproses. Ek het op my naam ook vir die topbestuurslede en vir Chris Otto finansiering vir ’n aandelebelang by Rand Aksepbank gereël. Toe het Piet de Jongh, ek, Ray en Chris sulke blou dampe gerook soos wat ons ons topprys vir die aandeel bepaal het. Toe Caxton se prokureur sy mandaat op 35c wou gaan hernieu, het Chris beswaar aangeteken en so is die bod op 36c aan ons toegestaan.

Ek wou hê die transaksie moes deur die JSE geboek word en SMK was ons aandelemakelaar. Op dié manier het ’n mens die waarborg dat die aandele wel gelewer sal word, want soms sal ’n maatskappy kleinkoppie trek as hy elders ’n beter bod kry en dan sit jou turf.

Daardie aand het ek ewe windgat vir my ma, Dana en Chris oor die braaivleisvuur gesê: “Ek gaan PAG uitbou tot ’n maatskappy wat skrik vir niks.”

Chris sal jou vertel die maatskappy se naam was oorspronklik Mynkar Beleggings en hy het eers verskuifbare toilette vervaardig en verhuur. Daar was toe ook ’n klankie omdat Syd Catton nog onuitgereikte aandele wou uitreik sodat hy beheer kon behou, maar dit is iets wat die beurs sou moes goedkeur en dit sou uiteraard nie kon gebeur nie. Ons het hulle toe later heeltemal uitgekoop.

Op die eerste direksievergadering was daar nogal ’n gestoei voordat Piet as voorsitter aangestel is en ek en Chris direkteurskappe gekry het. Gelukkig het ons nie geskrik vir die liggaamsbouer se stemdikmakery in die raadsaal nie. Ek moes tot vir een ou daarop wys dat ’n mens met jou polse bymekaar in ’n paar boeie dalk op ’n ander plek kan beland as direkteur van ’n maatskappy waar sekere ongerymdhede plaasgevind het.

PAG was regtig ’n oulike klein maatskappy met Ray en ’n klomp baie agtermekaar vroue aan die stuur. Ray was eerlik en ’n goeie bestuurder, maar vaal allermins. Dié Italiaanse Kanadees het vir vuurwater nie teruggedeins nie, en sy hele kantoor was uitgeplak met plakkate van Marilyn Monroe. Met die Kerspartytjie het ons monde behoorlik oopgehang. Hy het in ’n wit Rolls Royce opgedaag en al die vroue het in ’n soort erewag gestaan en hande klap terwyl hy soos ’n wafferse Hollywood-pierewaaier met sy wit suit en rooi das op die ewe rooi uitgerolde tapyt afgestap kom.

Toe die aandele begin klim omdat daar ’n opgewondenheid in die mark was oor wat ons met PAG sou doen, het Ray en die vroue gedink ek loop op water. Hy het later sy sowat een miljoen aandele verkoop vir ’n baie stewige wins om sy lewensdroom te gaan uitleef as aanhanger van Sciëntologie. As dank het hy vir my ’n lorrievrag rooi rose laat aflewer – as ek net geweet het wat om met die spul blomme te doen!

Chris en ek het Louis de Waal, ’n koppesneller en voormalige Demokratiese Party-politikus, gebel oor ’n nuwe besturende direkteur vir PAG, maar toe hy opdaag sommer vir hom gesê: “Jy hoef nie hard na ’n kandidaat te soek nie, want jy is ons man!”

Hy was op en wakker, passievol en het ’n baie lekker bydrae gelewer, veral om twee strydende faksies in die bestuur versoen te kry. Om met mense te werk, is ’n rol wat hom soos ’n handskoen gepas het. Ons het ’n finansiële direkteur aangestel om na die geldsake om te sien.

Dit was omtrent ’n performance soos wat Louis op en af in die konferensiekamer se hoefystervormige tafel geloop het om die verkoopsmense weerskante te begeester. Die hardste werker in enige maatskappy, het hy gesê, is ’n dertigjarige geskeide vrou met klein kinders, ’n huisverband en te min onderhoud van haar eks-man.

Intussen het ons met ’n aandelemakelaarsfirma in Kaapstad begin, afsonderlik van PAG, maar in dieselfde genoteerde entiteit.

Toe ek nagedink het oor saam met wie by SMK ek die graagste ’n nuwe onderneming sou wou begin, het ek onder meer aan Jaap du Toit gedink, omdat hy saggeaard is. Op dié manier sou hy my balanseer, waarna ek weer in die volgende deel van die boek verwys.

Ek het hom Desember 1995 in sy vakansiehuis op Hermanus gaan spreek. Hy het laat blyk dat hy en nog ’n paar Kaapse manne wyer as SMK se eng siening van blote aandelemakelary ook aan portefeuljebestuur vir private kliënte en batebestuur dink. Hy het belowe hulle sal kyk hoe hul dinge ontwikkel.

By ’n vennote-vergadering einde Januarie 1996 het hy, Johan van der Westhuizen en Ian Müller besef hulle pas nie meer by die firma in nie. Terwyl die ander manne hulle vir ’n rukkie uitgestuur het, het die “M” van die groot SMK-bord in die ontvangslokaal langs die kantoor waar die drie gesit het, neergetuimel. Jaap se reaksie was: “As dit nie ’n teken is van wat hier aan die gang is nie, weet ek nie!” Hul verskille met SMK was toe onversoenbaar.

Die eerste gesprek met Jaap-hulle was so sensitief dat ons dit met toe deure gevoer het in die woonstel waar hy gebly het terwyl sy huis in aanbou was. Ons senuwees het ons opgekeil, maar daar was nie “medisyne” in die woonstel toe dit amper breekpunt wou bereik nie! Ons het sommer ’n handgeskrewe kontrak geteken en Jaap het die naam Professional Securities Group van die PAG-naam afgelei. En, soos hy spot, nou wil niemand meer sê waarvoor PSG Group staan nie, want dan beteken dit jy sê Group Group.

Ons het Terry Human se klein makelaarsfirma gekoop – ek het kans gesien vir die kleinste onderneming wat rééds werk – en in Maart daardie jaar begin sake doen. Sonder ’n meubelstuk in sig het ek en Jaap-hulle begin sake doen. In die eerste jaar het die bates onder bestuur R1,75 miljard bedra en ons nabelaste wins was R1,8 miljoen. Ek het hulle verniet op die vingers getik oor al die ekstra ruimte op die vloer wat aanvanklik leeggestaan het.

Johan van der Westhuizen onthou al die aantygings teen hulle in die begindae, hoe hul integriteit bevraagteken is en gerugte versprei is dat hulle bankrot was, maar, sê hy: “Ons het net stilgebly en harder gewerk.”

Vyftig persent van die nuwe makelaarsfirma het aan PAG behoort en die res was in die hande van die bestuur.

Die nederige makelaarsmaatskappy het later in drie ondernemings ontwikkel – ’n makelaar wat net aandele verhandel en die platform daarvoor verskaf, PSG Online; die privatekliënte-welvaartbestuur wat PSG Konsult geword het; en ’n batebestuurder wat PSG Fund Management geword het.

Met behulp van François Gouws, ’n voormalige vennoot by SMK wat toe by UBS in Suid-Afrika gewerk het, het ons ’n regte-uitgifte vir R21 miljoen gedoen. François het later gebieg ons was eintlik te klein om te help. UBS doen nie ’n regte-uitgifte as hy nie minstens R1 miljoen se gelde kan hef nie.

Jaap het gemeen die maatskappy het amper vinniger gegroei as wat hulle kon hanteer. Hulle het derduisende kliënte gebel en so het ’n vloedgolf van belangstelling opgebou – en elkeen van daardie kliënte moes op die hande gedra word op grond van die beloftes wat gemaak is. Die kliënte verdriedubbel dalk, maar dit beteken nog nie jy kan ewe vinnig kundige mense aangestel kry om te help met die lading nie. Nogtans is ons, soos Jaap vandag sê, “deur daardie drif”. “Dis hierdie nuwe bleddie selfone,” was glo waaraan ’n mededinger hul sukses toegeskryf het. Jaap meen daarsonder was hulle dood.

Die mark het gelóóp en Professional Securities Group het ’n baie sexy naam gehad.

Toe, een en ’n half jaar nadat ons PAG se personeelplasingsafdeling vir seker R7 miljoen gekoop het, het Educor met ’n aanbod van R107 miljoen gekom. Daar was daardie tyd ’n vlaag van oornames van personeelagentskappe en ons kon ons geluk nie glo nie.

Arme Louis, wat skaars ses maande vantevore by ons aangesluit het, was met rede ontsteld. Ná ’n vreeslike mooipratery en onderhandelinge het hy gemeen ek het nooit Dale Carnegie se How to Win Friends and Influence People gelees nie, want ek het hom op kantoor gaan spreek en gesê: “Ek gaan hierdie besigheid verkoop … en geen f***** ou gaan in my pad staan nie!”

Synde ’n voormalige politikus is Louis ’n man wat weet hoe om dinge gedoen te kry. Ná ons gesprek waarin sy uittreepakket onderhandel is, was ek al op die lughawe en ín die vliegtuig toe ’n lugwaardin my kom roep vir ’n “dringende oproep”. Hy wou nog verder onderhandel, en hy het geweet ek sou omdat ek dit haat om iemand te laat wag.

Die werkerskorps was ook nie baie gelukkig oor die oorname nie. Party het eintlik trane uit die oë gevee, maar ek dink ons het ondanks die ongelukkigheid mooi na almal gekyk. Die aandeelprys het die waarde weerspieël wat geskep is.

PAG was dalk die eerste maatskappy wat ons oorgeneem en verkoop het, maar beslis nie die laaste nie.

Louis het op die ou end vir ’n ruk by ons kom aansluit in die Ou Kollege-gebou in Kerkstraat, Stellenbosch, waar die PSG Group se hoofkantoor intussen nesgeskop het. Ja, ek was terug in Stellenbosch; nog een van die boustene van my uitgestippelde droom was besig om opgerig te word.

Jannie Mouton: En toe fire hulle my

Подняться наверх