Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 13

As is verbrande hout – om terug te kyk, bring jou niks in die sak nie

Оглавление

“Daar is te veel Professional Dry Cleaners en Professional Motor Dealers,” het ons vir mekaar gesê op ’n konferensie toe ons ná PAG se verkoop op ’n nuwe naam moes besluit. Die afkorting van Professional Securities Group, PSG, het aanvanklik “lig in die broek” geklink in die woorde van Leoné Rouillard en (nou wyle) Gavin McSweeney, ons raadgewers by die kommunikasiemaatskappy Graphicor. Toe is besef hoe waardevol dié voorvoegsel by ’n verskeidenheid van ondernemingsname sou kon wees. En, soos kollega Chris Otto gesê het, die aandeelnaam sou op dieselfde plek in die JSE se aandeellyste kon bly.

Ek sê altyd Dana het haar lewe lank my ’n bietjie maniere en styl probeer leer, en op professionele vlak het die openbare-betrekkinge-maatskappy Graphicor dié rol gespeel. Chris Otto was vroeg in 1996 Graphicor se voorsitter en op dié manier het die groep betrokke geraak by die ontwerp van ons embleem. Johan van der Westhuizen, PSG-vennoot in Kaapstad, was voorbrandmaker vir ’n uil en sy wysheid, maar dit sou nie die multikulturele toets in Suid-Afrika slaag nie omdat ’n uil dikwels die dood simboliseer.

Graphicor het ’n bietjie probeer speel met die gravitas van ’n Hugenote-afkoms, maar die Mouton-mutton-skaap-afleiding wou uiteraard nie werk nie! Ek het in hul oor gefluister dat my Stellenbosch-koshuis, Simonsberg, die fleur de lis as embleem gehad het. Dié het hulle met ’n moderne aanslag in ’n ovaal sirkel staangemaak en siedaar.

Ons het die een ná die ander onderneming begin uitsnuffel waaraan ons dié nuwe naam en kenteken kon verbind: die institusionele batebestuurder Escher, die lewensversekeraar Anchor Life en mikrolenings was van die eerstes. Ons het ook bankpraatjies begin maak. Die platform was voorberei vir die multimiljardrand-maatskappy wat ons uiteindelik sou uitbou.

As ’n mens vandag terugkyk, is dit merkwaardig wat PSG se mense tot stand gebring het. As jy in 1995 R100 000 se PSG-aandele gekoop het en mettertyd al jou dividende herbelê het (en dieselfde gedoen het met die Capitec-aandele wat aan PSG-aandeelhouers uitgekeer is), was dit einde Desember 2010 R88 miljoen werd.

Die maatskappye waarin ons ’n wesenlike belang het, is altesame R61 miljard werd, maak winste van R4,3 miljard en verskaf aan nagenoeg 38 000 mense werk.

PSG was met sy tiende verjaardag Business Times se nommer een in sy “Top 50 over Ten Years”-ranglys en ek was in 2006 Wes-Kaapse Sakeman van die Jaar. Capitec was eweneens in 2010 dié bylae tot die Sunday Times se Maatskappy van die Jaar. Hoeveel werk het die maatskappy nie geskep nie! Soos Jack Welch, voormalige uitvoerende hoof van General Electric in die VSA, sou vra: Wat is die belasting- en dus ook maatskaplike bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie?

Sukses is nie die sleutel tot geluk nie. Geluk is die sleutel tot sukses, het ons in ons 2000-jaarverslag geskryf.

Chris Otto sê PSG moet een van min maatskappye wees wat al operasang op ’n jaarvergadering gehad het, en dan praat ek nie eens van die konserte wat ons vir mekaar opgevoer het nie. Van die anekdotes in die maatskappy het al legendes geword.

Ons het natuurlik ook vele terugslae in die eerste vyftien jaar van die maatskappy se bestaan beleef, en skouspelagtige foute gemaak. Wat by mCubed skeefgeloop het, is ’n sakeles; hoe ’n mens ’n tameletjie soos Pioneer Foods se onderonsie met die Mededingingsraad hanteer ook; en waarom dit nodig was om oënskynlik meedoënloos onder die voormalige KWV-direksie in te klim.

Ons moes in ons kort leeftyd die Asiatiese krisis trotseer, die A2-bankkrisis, die oorskakeling van die JSE se Jet-stelsel, 11 September 2001 oorleef, nuwe rekeningkundige standaarde begin toepas, vereistes vir notering is verskerp en die einde van boetiek-finansiële dienste het aangebreek. En ek ken eintlik nog net die Maatskappywet van 1926!

As ek so terugdink, was 3 Augustus 1995 dié gebeurtenis wat die gang van my lewe verander het. Die Engelse noem dit ’n defining moment. Ek kan dit so nimmer as te nooit vergelyk met die ander hartseertye in my lewe nie, soos toe die kanker Dana binne vyf maande ná dertig jaar saam kom vat het, of toe my suster Santi en my ouers gesterf het; niks kan ooit by daardie verplettering kom nie. So ook Dana se een tweelingdogter uit haar eerste huwelik, Rita van Zyl (née Nel). ’n Allerskrale troos vir my was dat sy en haar twee kinders, Jason en Catherine, eers ná Dana se afsterwe saam in die motorongeluk omgekom het.

Mense sal baie keer vir my vra of ek bly is dat SMK gebeur het, selfs by implikasie asof ek leedvermaak sou hê dat ek seker op die ou end baie hoog uitgestyg het vergeleke met van die vennote wat destyds by SMK agtergebly het.

Ek is ongetwyfeld baie trots oor wat PSG tot stand gebring het. En ja, die skop onder die agterent wat SMK my gegee het, is seker iets waarvoor ek moet dankbaar wees. Dit het my ’n kans in die lewe gegee. Ironies genoeg het Steve Job, Apple se stigter, dieselfde gesê nadat hy op 30 deur dié maatskappy in die pad gesteek is voordat hy later terug is, soos blyk uit ’n Business Day-rubriek in Desember 2010 wat aanhaal uit sy beroemde Stanford-toespraak in 2005.

Met PSG se tiende verjaarsdag het ek selfs gesê dié verpligte vertrek is die beste ding wat ooit met my gebeur het. Dit het my goed voorberei vir soortgelyke omstandighede later in my lewe.

Vandag weet ek as ek ’n PSG op SMK kon staangemaak het, sou ons veel verder gewees het. Op grond van die mensemateriaal wat by SMK verenig was, sou die maatskappy veel vinniger kon groei tot een van die bestes tot nog toe op die JSE.

Ek sou PSG opgerig het op die skouers van reuse.

Sukses maak dit sekerlik makliker om terug te kyk. As dit nie met my goed gegaan het nie, sou ek dalk wrokkig kon gedink het dit het my iets in die lewe gekos.

Dana het eendag lank daarna baie ordentlik vir een van die oud-SMK-vennote gevra hoekom hulle my so behandel het, want sy moes sluk hoe teen die grond haar man was. Dit is mos dikwels vergelykenderwys erger vir die persoon lángs die siekbed.

Wat ek wel van die gebeure oorgehou het, is dat ek nooit weer in ’n posisie wil beland waar ek nie beheer oor ’n maatskappy het nie. En selfs in onderliggende ondernemings waarin ons ’n belang het wat dit regverdig, wil ek minstens op direksievlak inspraak hê.

Dit sal duidelik blyk uit wat ek wil vertel oor hoe PSG sy suksesse aanpak en mislukkings ervaar het. En dit is hoekom ek Markus Jooste van Steinhoff ewig dankbaar sal wees dat hy ingespring het toe daar in 2002 vanuit die Absa-stal ’n vyandige oorname by PSG gedreig het. “Maar dis nie sommer vir kom vat nie!” het hy gesê en saam met ander vriendskaplike partye aandele begin koop dat dit klap.

Ek is nou baie meer gewillig om aan korporatiewe beheer volgens die King-kode te voldoen, maar die sakemedia het dikwels geskryf hoe hardekop ek oor die kwessie van onafhanklike uitvoerende voorsitter was. In die sakereus Christo Wiese se woorde: Hy gee om hoe die tuin by Lourensford lyk, hy wil daar bome en rose plant – ’n mens koester jou eie. Miskien is ek van die laaste mense op aarde wat gedink het uitvoerende bestuur en voorsitterskap hoef nie geskei te word nie omdat ek op die duur manier geleer het hoe belangrik beheer is.

Dit is miskien ook een van die redes hoekom ek so ’n gulsige koper van PSG-aandele is, maar nog nooit ’n enkele aandeel verkoop het nie. Raadgewers vir lesers van finansiële blaaie sal die stuipe kry, maar ek léén dikwels geld om nóg PSG-aandele te bekom.

Sedert daardie tyd het ek heelwat kontak met my oudkollegas by SMK gehad. Sake het vir hulle ook goed uitgewerk en ons het lankal reeds die strydbyle begrawe. Die lewe het ook harde klappe onder ons almal uitgedeel, en hul hartseer is my hartseer en hul vreugde is my vreugde.

Begin 2010 het meer as die helfte van die vennote vir ’n reünie bymekaargekom, en dit was heerlik om almal weer te sien en loslit oor die ou dae te gesels. Johan Schoeman, hoof van ’n PSG Konsult-kantoor op Stellenbosch, het PSG in elk geval al ’n SMK Old Boys’ Club genoem vanweë al die oudkollegas wat weer saam is en ook was. Saam met iemand soos Pierre Brink wil ek nooit die pad ophou stap nie.

Tyd genees baie wonde. As ’n mens ouer word, is dit baie lekkerder om brûe te bou as om hulle af te breek. ’n Mens wil dan meer vriende hê en minder vyande.

Vandag weet ek dit was een van die beste skuiwe wat ek in my hele lewe gemaak het toe ek terug na Stellenbosch getrek het. En ek weet dit is nie die einde van die lewe as jy jou werk verloor nie. Vir my was dit ’n begin.

Jannie Mouton: En toe fire hulle my

Подняться наверх