Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 6

Die konsert met saalopening – my grootwordjare

Оглавление

Ek het die vel wit lyntjiespapier netjies tot tussen die vilthamers en die snare laat sak en die klavierdeksel versigtig toegemaak.

As hoofseun van die laer- en hoërskool op Carnarvon was dit een van my take om op ’n Maandagoggend die saal oop te sluit. Daar was nog nie ’n ander mens in sig nie, net die stemme van die kinders op die speelgrond, wat al hoe harder opgeklink het met elke nuwe venster wat ek met die lang houtstok oopgetrek het.

Met saalopening het ons kinders plat op die houtvloer gesit. Toe die musiekonderwyser dié môre lostrek met die psalm of gesang of wat dit ook al was, trek daar so ’n z-i-i-i-ng-geluid oor ons koppe en oor die onderwysers op die verhoog. Hy speel toe weer ’n paar note, en weer het die wanklanke pleks van die middelste oktaaf se note opgeklink.

Die onderwyser was so ’n snaakserige ou. Hy het die klavier oopgeslaan, die papier uitgevis en dit triomfantelik in die lug gewaai. Die hele skool het uitgebars van die lag. Toe is die groot vraag natuurlik: “Wie het die papier in die klavier gedruk?”

Ek het maar by die skoolhoof gaan bieg en gebuk – daardie jare was daar nog ’n soort eer daaraan verbonde om slae te kry. Jy was so ’n stille held. Maar ek het nooit pak gekry omdat ek nie my skoolwerk gedoen of stokkies gedraai het nie – dit was maar vir stoutighede saam met die maats.

Daar was so 300 tot 400 kinders in ons hele skool en die atletiekbaan was eintlik die skouterrein se perdrybaan. Die dag toe ons die liggaamsoefeninge-onderwyser help om die baan vir die 220 tree uit te meet (daardie tyd was die afstand nie in meter nie), het ek uiteindelik voorgestel dat ons die wiskunde-onnie se raad vra. Hy wou nie byt aan my aandrang dat almal nie op ’n reguit streep kan wegspring nie omdat die ou in die buitebaan sóveel verder sal moet hol as die ou in die binnebaan.

In my matriekjaar het my pa vir my ’n paar spykerskoene uit die Kaap gebring, maar ek was bang dat die spykertjies sou stomp raak as ek voor die groot byeenkoms op Williston daarmee oefen. Ek het op wit sokkies by die swart skoene besluit, en ook om ’n swart kam, wat daardie tyd hoogmode was, daarby in te druk. Omdat die atletiekbaan daar afdraande geloop het, het ons astronomiese tye op dié buurdorp gehardloop, maar dit is nie hoekom ek dié dag onthou nie. Op pad by die paviljoen verby het ek so half afgekyk om weer my skoene te bewonder, maar wat ek nie geweet het nie, is dat jy met spykerskoene nog ’n entjie moet aanhol as jy by die wenpaal kom en nie net dood moet stop nie. En daar slaat ek, eerste of te not, reg voor die paviljoen neer soos ’n os.

Voordat ons skool uiteindelik ’n bus gekry het, is die rugby- en netbalspanne sommer met skaaplorries na Williston en die omliggende dorpe aangery. Op Fraserburg was die rugbyveld op so ’n bultjie uitgelê. Die twee heelagters kon mekaar nie danig sien nie.

En ons kinders moes ’n paar keer ons eie rugbyveld se gras oorplant as die son en die droogte weer al die lewe daaruit gebrand het.

Ja, Carnarvon was ook so afgeleë dat die kans om ’n nuwe boekhou-onnie in ons matriekjaar te kry, maar skraal was. Toe ons skoolhoof ’n hartaanval gekry het, moes ek met ’n bietjie van my pa se hulp saans as “onderwyser” instaan in daardie periodes. Maar daar was gelukkig nie daardie jaar ’n druipeling nie.

Selfs vandag sing ek en my groot vriend en kollega Pierre Brink nog partymaal die ou skoollied saam as ons kuier. Of liewer, ons sing dit saam met Charl de Witt, want hy kán sing:

Al kom ons uit die droë Karoo

Met hoogmoed kan ons sê

Ons stoei en stry

Met moed en vlyt

En sal oorwinnaars bly

Beroemd om gedrag en eer …

Partytjies of tennis speel op die omliggende plase en op die dorp was ’n gereelde ding en my pa, Jan, was báie sosiaal. As vriende oorgekom het, het hy hulle met “we’ll sommer open ’n few bliks” gesmeek om vir ete te bly, terwyl my ma, Juliana, een was vir warm borde, ’n bottermes en haar teeskinkbord se ore, tuite en lepels in ’n reguit lyn. Ons kinders het ook op ’n Saterdag by die Adelphi Cinema gaan fliek. Om ’n Coke-float by ’n tafeltjie te bestel, was soos Pierre gesê het dalk die hoogtepunt van die aand.

Wat my ouer en my jonger suster, Engela en Santi, ook al aangevoer het, ek hét altyd gewen! Of dit nou in Engela se woorde dambord, skaak, Monopoly, ludo, kanasta, rummy, redenasies en geveggies, tennis of gholf was. Ons hét ons onderonsies gehad, maar die opperste wraak was glo toe ek een aand gebid het: “Dankie, liewe Jesus, vir ’n mooi sussie en ’n lelike sussie.” Engela was die een vir onderskeidings en Santi het later met my maats uitgegaan.

’n Pligsbesef het ons van kleins af gehad, want my pa het ons onder meer oor ’n groot deel van die vakansie in sy winkel laat werk. Ek het eers gedink dit was onregverdig, dié werkery terwyl almal anders op hul dikwielfietse kan kerjakker, maar later het ek besef wat die waarde daarvan was teenoor die nonsens van die sogenaamde oorbruggingsjaar waarop skoliere en studente vandag aandring.

Ek het in standerd 6 (vandag graad 8) in die pakstoor begin, in standerd 7 in die mansafdeling van die algemene handelaar gewerk, daarna het die kruideniersware aan die beurt gekom en in die laaste twee skooljare het ek my deel in die boekhou-afdeling gedoen.

Dit is nie dat ons onbevoorreg grootgeword het nie. Inteendeel. My pa wou ons iets aan die verstand bring. Hy het immers as so te sê ’n weeskind by sy suster grootgeword en eers gaan werk om vir sy BCom te kon betaal. Later jare het ons by haar in Maitland gaan kuier, my pa altyd met ’n iets in die hand, want sy het maar baie swaar gekry.

Hy kon geweldig vinnig somme maak. Hy kon letterlik sy vingers oor ponde, sjielings en pennies laat gly en dan die bedrag neerskryf. Hy was ’n wiskunde- en boekhou-onderwyser voordat hy die winkel gekoop het. Dit is ook hy wat my toe al van aandele geleer het, want hy het elke middag ná werk na die aandeelpryse oor die radio geluister. As hy nie daar was nie, moes ek dit doen.

Oordadig het hy ons nie geprys nie, maar oor ’n swak punt het hy my en my susters ook nie oor die kole gehaal nie.

Ons en my oupa aan moederskant het op ’n dubbele erf gewoon, ons op die een en hy ná my ouma se dood op die ander. Ons het wortels, beet, kropslaai, skorsies en aartappels gekweek. Die lusern was vir die hanslammers en die koei, en ons het ook ’n hoenderhok en ’n windpomp gehad.

Toe my oupa begin vergeterig raak, moes ons kinders beurte maak om snags daar te gaan oorslaap. Ek het dikwels ’n dubbele skof gehad omdat my kleinsussie te bang was – ons het gedink die huis is maar lekker spokerig. En toe my oupa oorlede is, het oupa Karel, ’n man vir wie ons baie lief was en wat hom al die jare versorg het, sowaar een nag sy dreigement uitgevoer en oornag na die “Groot Rivier” verdwyn, waar hy gesê het sy mense vandaan gekom het. Santi het al die jare gesê hy het lekkerder as my ma brood gebak.

Dit klink dalk nou grootpraterig om so te sê van die winkel en die skool en dié dinge, maar onthou, dit was nie moeilik om op ’n klein dorpie op sport- en akademiese gebied uit te blink nie.

Op só ’n dorp was die kerk op Sondae en die winkel op weekdae die hart van die plek. My pa was die voorsitter van die nuwe kerk se boukommissie en van die skoolkomitee. Dit is dié dat hy dit nie oor sy hart kon kry om ons weg te stuur na fensie skole soos my ma nie, wat op haar dag twee keer op vreemde stasies moes oorklim onderweg na die Engelse kosskool op Grahamstad. Hy wou lojaal wees aan ons dorp.

Net so het hy op ’n Sondagaand sy bruin pak aangetrek en die diens in die destydse Sendingkerk gaan bywoon – die bruin mense was ook sy klante. My vriend Franklin Sonn, wie se mense ook van Carnarvon af gekom het, sê hy onthou nou nog daardie bruin pak. En ek en my sussies moes altyd saam as hy die bruin skool se prysuitdeling gaan bywoon het.

Kleintyd het ons maats nie die kleur- en klasverskille raakgesien nie. Miskien was die rugby- of krieketbal die “ryk” outjie s’n en daarmee basta. Hier teen die hoërskooltyd buite die fliek het jou maters van ouds buite gestaan en koggel as jy instap, maar selfs toe was ’n mens amper te dom om mooi die eintlike apartheidsdinamika te verstaan.

My ma het naaldwerkklas gegee en trourokke en hoede gemaak – destyds was dit mos nie sommer net vir gaan koop nie. Op menige Saterdagoggend was sy aan die stuur van kollektes en ander insamelings op die straathoeke van die dorp, soos vir die blindes. Sy was waardig, netjies en fluks, en nogal so ’n ietwat bo die gewone verhewe. Mense het haar raakgesien, want sy het styl gehad.

Waar my pa die humoris was, was sy vurig van humeur en dalk ’n iets naïef. Ons moes dikwels tot almal se vermaak vir haar ’n grap verduidelik.

Haar mense, die Van Wyks, het in die distrik gewoon. My twee ooms was boere sodat ek en my susters so byna met die een voet op die plaas en die ander op die dorp grootgeword het. Dit het daardie jare goed gegaan met die wolprys en die skaapboere was gesiene mense – my oupa was een van die stigterslede van Vleissentraal en my oom in die Wolraad.

My oom Dirk was my held. Ek het oral op die plaas en na naburige dorpe waar hy as rugbykeurder moes waarneem saam met hom rondgery. Hy het ’n geweldige veldkennis gehad, my ’n liefde vir die veld geleer en die kuns van skaaptel verstaan.

My ma was seker die enigste mens op Carnarvon wat kon Engels praat. Ons het dit agtergekom op grond van die Engelse opstel wat ek Maandagoggende by mnr. Hough moes indien. Dit was vir my verskriklik! Ek het dit elke naweek tot die Sondagaand uitgestel. Dan kom daai ding róói gemerk terug, al was ek nie heeltemal die swakste in die klas nie. ’n Mens kon darem die tenses uit jou kop leer.

“Nee, Jannie, so kan dit nie aangaan nie,” het my ma een Sondag gesê en my poging in haar afgeronde privateskool-Engels oorgeskryf. Toe roep mnr. Hough my die Maandag ná skool in om ernstig met my te praat: “Jannie, ek kan nie gló dat jy in een week so agteruitgegaan het nie …” My ma se Engels was nie die taalonderwyser se Ingels nie.

Later jare het my pa ook ’n motorhawe en ’n plaas gekoop.

Dit was vir my ’n voorreg om op so ’n dorp groot te word. Die dorp was goed vir ons. Maar my matriekjaar was ons almal se laaste op Carnarvon.

Terwyl ek weg is na die vlootgimnasium op Saldanha, het my pa as jare lange burgemeester die politiek sien wink. My ma was ’n Sap, hy ’n Nat. Hy het in die benoemingstryd vir Nasionale Party-LV in die Prieska-kiesafdeling gestaan, maar toe uitgeval teen die man wat reeds Lid van die Provinsiale Raad was. Hy was nie meer lus vir die winkel nie, en so is hy en my ma en my suster wat nog in die huis was, sak en pak Pretoria toe.

Ek het ook in my middeljare weggetrek na ’n nuwe woonplek, uit Johannesburg na Stellenbosch, en dít is die storie wat ek wil vertel.

Jannie Mouton: En toe fire hulle my

Подняться наверх