Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 9

Vat jou goed en trek, Mouton – ek word in die pad gesteek

Оглавление

Ten spyte van hoogte- en laagtepunte was daar ’n ander aspek wat ek vreeslik geniet het by SMK, en dit was die sosiale atmosfeer van die firma. Ons het in ’n groot oopplankantoor gewerk en sommer daar ons oggendvergaderings gehou.

Die span het soggens saam koffie gedrink en nadat die beurs vir die dag gesluit het, dalk ’n iets sterker. Ons het dikwels die swaar verkeer as verskoning gebruik om ’n bietjie langer te bly. Daar was ’n baie sterk netwerk en ons het geweet daar sal altyd iemand ná werk in die kantoor wees om saam te kuier.

Soms het die span verder vasgehaak en dalk iets gaan eet. Dit klink soos ’n groot partytjie, maar die gesprek was altyd lewendig en dikwels vrugbaar. Ons het heerlik planne beraam.

Baie van ons het ook oor en weer by mekaar aan huis gekuier. Ek was nou die besturende direkteur en daar was negentien vennote, almal smart ouens.

Ons het reusagtige suksesse behaal en uitstekende winste gemaak. Rand Aksepbank en Richemont se noterings was hoogtepunte, en my kinders onthou nou nog my foto op Beeld se voorblad met Naspers se notering.

Toe SMK begin het, was ons posbusnommer 42, wat aangedui het dat ons die 42ste grootste firma was. Nou was ons onder die topvyf, dalk topses. Vir ons was dit ’n uitmuntende prestasie. Ons navorsingsafdeling was onder die topsewe en ons administrasie en korporatiewe finansiering het seker onder die topdrie getel. Die grondwerk was daar vir die bou van ’n finansiële reus.

Maar in sake werk die dinge nie altyd uit soos ’n mens dit voorsien nie. Die dag vroeg in Augustus 1995, wat soos enige ander begin het met die roetine van skool toe en werk toe, sou nie net nóg ’n dag op kantoor wees nie, altans nie vir my nie.

Soos by enige ander makelaarsfirma het SMK ’n daaglikse oggendvergadering gehad om die sake van die dag en marktoestande te bespreek. Ek was niksvermoedend besig om saam met my kollega Jean du Plessis vir dié vergadering voor te berei toe Jannie Grobbelaar van korporatiewe finansiering ons kom roep na die voorste konferensiekamer.

Dit was ’n onverwagse versoek … Het ek dalk ’n spesiale vergadering vergeet?

By die vergaderplek aangekom, was ek nogal verras om Mof Terre’blanche, Kaapse vennoot van SMK, daar te sien. Ek het hom nie in Johannesburg verwag nie. Hy en die ekonoom Louis Geldenhuys, Pierre Brink van die effekte-afdeling, James Bredenkamp en Henk Klopper van die aandele-afdeling en Jannie Grobbelaar het vir ons gesit en wag. Ietwat verbaas het ek my plek ingeneem, want ek kon onmiddellik die gewigtige atmosfeer aangevoel – ná jare se saamwerk en sosialiseer met kollegas sal jy jou nie oor so iets misgis nie. Hier was iets aan die gang.

Toe trek Mof los: “Ek is die oudste en sal die praatwerk doen.” Hy het na my gekyk en gesê dat hulle sewe vennote die meerderheid in die firma verteenwoordig. En toe, uit die bloute: “Daar is besluit dat jy met onmiddellike effek moet bedank.”

Jy kon my met ’n veer omtik. My eerste reaksie was skok, verbystering en ongeloof, noem dit wat jy wil. Jou kop verlaat jou eers vir ’n oomblik, en dan is jou denke ’n warspul: Droom ek? Hoor ek reg? Dit kan mos waaragtig nie wees nie!

Hy het begin om die redes vir hul besluit uiteen te sit, maar my konsentrasie was nul. Ek het sy woorde gehoor, maar ook nie gehoor nie. Dit het net drupsgewys begin deurdring dat dit die werklikheid was, ’n nare, knypseker werklikheid.

Tot vandag toe kan ek nie om my lewe te red die uitgestippelde redes onthou nie. Dalk wil ek nie, dalk was ek te ontstig om te luister.

Ek was verpletter.

Reageer moes ek, maar om iets sinvols te kon sê, moes ek eers tyd wen. Ek het gevra of ek alleen kon praat met die ou met wie ek die langste pad gekom het, my skoolvriend Pierre Brink, en of ek twee oproepe kon maak.

As ek vandag daaraan terugdink, amuseer dit my dat ek sowaar toestemming gevra het om te kon bel, so asof ek ’n boef in ’n rolprent was wat vir sy een oproep kon vra.

Pierre het vertel hy is die vorige aand gebel om ’n vergadering by te woon waarop ek gevra sou word om te bedank. Daar is aan hom verduidelik dit is noodsaaklik vir die suksesvolle voortbestaan van die firma. Van die ander vennote is ook gevra om die vergadering by te woon, maar hulle wou nie.

Dit het begin insink hoe die wind waai. Omdat ek ’n trotse mens is, het ek daar en dan besluit om dit soos ’n man te vat en die besluit van die Groep van Sewe te aanvaar. Ek sou bedank.

Ek het Jannie Kitshoff en Paul Harris probeer bel, maar hulle was nie een beskikbaar nie. Dit is ook maar goed, want wat sou ek in elk geval vir hulle gesê het? Ek het wel my vrou gebel en haar gevra om so gou moontlik kantoor toe te kom. Ek wou hê sy moes uit die perd se bek van die bedanking hoor, nie êrens anders nie. En ek kon doen met ’n skouer.

’n Halfuur later het ek ’n tweede keer by die vergadering aangesluit en ingestem: “Goed, ek bedank onmiddellik.”

Jannie Grobbelaar het toe sekere finansiële reëlings voorgelees, maar my gedagtes het weer hul eie loop geneem.

Met vasberadenheid om onder sulke omstandighede kop te hou, is ek om halfnege daar uit om die oggendvergadering as voorsitter waar te neem.

Terug in die kantoor het ek my goed begin inpak. Toe Dana opdaag, het ek vir haar gesê ek het bedank. Ek kon ek dit net nie oor my hart kry om vir haar te sê ek is eintlik gevrá om te bedank nie. Om die waarheid te sê, dit sou eindelik maande wees voordat ek met die hele sak patats by my dogter en twee seuns op universiteit vorendag kon kom.

Oom Bollie Baard, die oudste vennoot, het ewe gelate gesê: “Jannie, wie het nou ooit kon dink dat ek jou by SMK sou oorleef?”

Al wat oorgebly het, was ’n spesiale direksievergadering die middag waarop ek my bedanking amptelik moes indien.

“Goed, jy kan maar gaan,” was Louis – die nuwe baas – se woorde waarmee ek uit die vergadering, uit my vennootskap en uit my firma gestuur is.

Met ’n baie swaar gemoed het ek daar opgestaan. ’n Droom en al my ambisie en ideale was aan skerwe. In die plek van trots het die eerste fladdering van onsekerheid al kruipend aangroei tot sy volle, beklemmende wasdom. Eers onsekerheid, en toe sy ewe ondermynende en uitmergelende maats, twyfel en teleurstelling.

Wat moet ek vir my familie en vriende sê? Wat doen ek môre, volgende week, volgende maand? Hoekom het my vriende op kantoor hul rug op my gedraai?

’n Hand vol ure was die valbyl op my dertien jaar by SMK. Senekal Mouton en Kitshoff het vinnig begin, maar vir my nog vinniger geëindig. Die een oomblik was ek nog die broodwinner, die volgende werkloos. Die een oomblik besturende direkteur, die volgende laer as die bode.

Ek was uit op my blaker.

Jannie Mouton: En toe fire hulle my

Подняться наверх