Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 8

Stad van goud en klatergoud – ek werk in Johannesburg

Оглавление

My vriend Attie Swanepoel, wat saam met my by Federale Volksbeleggings gewerk het, het eenmaal gesê hy het al toentertyd in ons saamryklub geweet ek gaan nie eendag daar aftree nie. Die Wes-Rand en die middestad is ’n entjie uitmekaar en ons het baie lekker gesels op daardie pad. ’n Mens kon nogal ’n ander mens leer ken.

Vir ’n groot deel van my lewe het ek ’n hunkering gehad om eerder self iets te doen, maar intussen het ek soos enige Calvinistiese boerseun my plig gedoen en hard gewerk.

Dat daar dalk ’n ongedurigheid in my was, moet waar wees, want in daardie stadium het GT Ferreira, Laurie Dippenaar en Paul Harris pas met Rand Consolidated Investments (RCI), die voorloper van Rand Aksepbank, begin. Man, ek het hulle beny.

Omdat ons pelle was, is ek in die direksie aangestel. Ek het hul geesteskind hier voor my sien opstaan en was heimlik groen van jaloesie dat hulle die guts gehad het om iets van die grond af te kry.

Maar nou het ’n man ’n vrou, drie kinders en ’n huispaaiement. Ek het ná ’n klompie bevorderings ’n maatskappymotor gery. Die einste motor het beteken dat my saamrymaats my skielik “meneer” moes noem; die simpel, streng hiërargie wat daardie jare gegeld en met jou amptelike parkeerplek saamgekom het.

Dit was die tyd toe almal se grootste droom was “as ek net my húis kan afbetaal”. Om die waarheid te sê, dit is nou eintlik lagwekkend as ek terugdink aan daardie tyd en die soort skemas wat ’n mens bedink het om geld te maak.

GT Ferreira, nie-uitvoerende voorsitter van Rand Aksepbank Beherend, het op my seun Piet se troue met Stephanie, Prop Goosen se dogter, met groot smaak vertel van die bruin woonstelblok wat ons saam gekoop het nadat Prop vir hom gesê het: “Almal dink mos deesdae Jannie is familie van baron Mouton de Rothschild. Vertel ’n storie van toe hy nog arm en sukkelend was.”

So om en by 1980 was dit baie populêr, en partykeer nogal winsgewend, as jy ’n woonstelblok in die geheel kon koop en ingevolge die Wet op Deeltitels in ’n deeltitelontwikkeling omskep met die doel om die woonstelle afsonderlik te verkoop. RCI het met taamlike sukses ’n paar woonstelblokke op dié manier gekoop en verkoop en Jannie het daarvan te hore gekom.

Op ’n dag daag hy by my op met die voorstel dat ons saam ’n woonstelblok in Linden koop. Die gedagte was dat RCI die geld sou verskaf, of ’n verband sou reël, en dat Jannie, wat met die idee gekom het, sy aandeel verniet kry. Daar was niks met Jannie se idee verkeerd nie, want, soos baie mense vandag nog sal sê: “So what’s new? Dit is mos maar die manier hoe PSG nog altyd sake doen, of hoe?”

Die enigste probleem was dat my vennoot Laurie Dippenaar die ouerige blok siersteenwoonstelle net een kyk gegee en iets soos “oor my dooie liggaam” gemompel het.

Ek en Jannie is aan ons eie lot oorgelaat. Ondanks die stand van ons balansstate het ons vol bravade vir mnr. So en So by ’n bekende bouvereniging gaan vertel hoe gelukkig hy is dat ons die transaksie juis na hom toe bring omdat die banke eintlik toustaan om ons te help. Die baksteen-en-klei-waarde van ons projek kon hy insien, die kontantvloei uit huurinkomste nie. Ons moes maar balansstate opstel.

Ons huise het groot verbande gehad en ons kon nie ons ongenoteerde aandele vir die bouvereniging insluit nie, maar Jannie het sy teelram, 10 merino-ooie, 10 sybokke en 15 hamels uitgestippel. Mnr. So en So het met ’n frons deur ons voorlegging gelees en ’n streep deur Jannie se hamels getrek: “Hamels is nie teelmateriaal nie en ons kan hulle nie as sekuriteit aanvaar nie!”

Jannie was uiters gebelgd dat die meneer só oor sy geliefde Jansenville-hamels kon praat.

Ons kon net R249 100 van die benodigde R405 000 leen en moes ’n paar pelle bykry. Gelukkig het ons met ons vennoot Paul Harris se insig eindelik dubbel vir die nege motorhuise kon vra, want daar was twintig woonstelle.

Die einste RCI sou ’n groot rol in die stigting van SMK speel.

My gesin en dié van Johan Senekal was in Augustus 1982 saam weg vir ’n naweek na die Buffelspoort-vakansieoord buite Rustenburg toe hy sommer so oor die braaivleisvuur vir my vra: “Sal ons nie ons eie ding begin nie?”

Ek kan nou nog nie glo dat ek binne tien minute besluit het oor iets wat my hele lewe sou verander nie. “Ja, ek wil!”

Johan was ’n makelaar by George Huysamer en goed bevriend met Jannie Kitshoff, wat op die punt was om ’n kapitaalmark-afdeling vir RCI te begin. Dié groep wou deel in die geleenthede wat op dié mark beskikbaar was.

RCI wou só ’n afdeling met ’n aandelemakelary kombineer, maar in daardie stadium mag ’n maatskappy nie ’n buite-aandeelhouding in ’n makelary gehad het nie. Ons moes dié bepaling omseil en ’n selfstandige firma met drie vennote begin, maar die winsdeel van Jannie K, soos ons hom genoem het, sou na RCI gaan. Hy en ek moes ook uit die RCI-direksie bedank.

Johan sou by George Huysamer loop en hom vra om vir ses maande ons nuwe firma se borgmakelaar te wees. Maar ná drie keer se vra, vertel Johan, het George die groot bode aangesê om hom eerder te help om sy kantoor in sy motor se kattebak te kry.

Dit is net soveel makliker om sake te doen as ’n onderneming reeds bestaan. Gelukkig wou Jean Sterianos sy makelary verkoop en só het ons die twee vlieë van ’n borgskap en kantore met een klap verkry.

Sy makelary het R150 000 gekos en vir my derde moes ek R50 000 neersit, wat ek nie gehad het nie. Ek is nou nog dankbaar dat Dana R30 000 erfgeld en my ma die res aan my geleen het – albei sonder huiwering.

Só het die kruppel klein Senekal Mouton en Kitshoff te midde van groot feestelikhede in Oktober 1982 begin.

Die bank wou al die eerste week nie ons vereffeningstjek vir die verrekeningshuis laat deurgaan nie. Jy moet betaal voordat jou kliënt jou betaal, en die bedrae wanneer effekte gekoop word, is groot.

Maar teen Desember 1982 het ons reeds die R1 miljoen-kerf aan winste oorskry. Dit is egter alles in Januarie 1983 uitgewis. Paul Harris, wat vir RCI se geld- en kapitaalmarkbedrywighede verantwoordelik was, en Johan was benoud dat hulle “te klein” gespeel het met verhandelbare depositosertifikate. Hulle wou ná die wins op die eerste R10 miljoen ’n nuwe R10 miljoen waag en op die koop toe “’n ekstra nul” by die posisie voeg, wat hulle gelukkig nie gedoen het nie, want toe beweeg die rentekoerse teen ons.

Ons was jonk en vol planne. Gekoppel hiermee, of dalk omdat ons so jonk was, was ons baie geesdriftig en vir byna niks bang nie. As ek daaraan terugdink, raak ek sommer bleek om die kiewe, want ons het verantwoordelikhede gehad, vrouens, kinders, motors en huise.

Positiwiteit was die sement van ons kameraadskap en ons drie was saam lekker voortvarend. Ons het uitgesien na die geleenthede en nooit aan die probleme gedink nie.

Soos Johan dit stel: Dit was die dae toe jy nog by Volkskas en nie by Standard Bank nie moes gebank het, en definitief nie vir Parks en Crusaders moes rugby gespeel het nie. Ons het dus gedink as ’n Afrikaanse firma gaan ons gaan lekker sake kry van die Sanlams van die wêreld, maar ons het gou agtergekom ’n Afrikaner wil nie sommer hê die son moet op ’n ander skyn nie. Die Joodse ondernemings, die Liberties, het ons baie beter ondersteun.

Eenmaal in die hysbak by die beurs het ek vir so ’n Joodse omie gevra of ek ’n posisie waarop ek besig was om geld te verloor, moet “average” of “meer eweredig versprei”. Dit is ’n term waarvolgens jy nog aandele koop as die prys daal omdat dit die gemiddelde prys van die aantal aandele afbring in die hoop dat jy ’n swak posisie verbeter. Sy antwoord was ’n les wat my vandag nog bybly: “Averaging has killed more Jews than Adolf Hitler.”

Van die ander Afrikaanse firmas het nogal ons lewe moeilik gemaak. Jannie K onthou as hy tussen ons en RCI beweeg het, het ons hom gevra om asseblief sy stoel se handvatsel by ons ’n rukkie vas te hou. Daar was al weer ’n ondersoek omdat iemand lont geruik het oor RCI se belang in SMK. Hulle het uiteraard anders daaroor gevoel, maar ons het dit beskou as jaloesie onder ons mede-makelaars, wat hul posisies wou beskerm.

Daar was twee afdelings. Ek was aan die aandelemakelaarskant en Johan en Jannie K het na staatseffekte omgesien. Laasgenoemde was ’n massiewe mark van groot munisipaliteite soos Durban tot by Eskom en Transnet. Daar is ’n baie klein marge op só ’n effek, maar omdat dit staatseffekte is, was die risiko bitter klein. Johan was ’n absolute kundige en hy, Jannie K en my skoolpel Pierre Brink het ’n reuse-onderneming met dié nisgeleentheid opgebou. Dié effekteverhandeling was ’n nuwigheid in die mark en kort voor lank was ons die grootste in die land.

Sommige weke was ons effekte-omset tot R1 000 miljoen. Op grond daarvan het ons bankier by Volkskas sommer by ons kom intrek, want ons was ’n groter kliënt as Anglo American sowel as (toe nog) General Mining wat omset betref.

Van 1986 tot 1987 het ons seker sowat 40 maatskappye op die ontwikkelingskapitaalmark, een van die voorlopers van vandag se AltX, genoteer. Lonend was dit nie, maar baie opwindend, en ons het verskriklik baie geleer oor private ekwiteit en hoe om ongenoteerde aandele raak te sien en te waardeer. Van ons grootste suksesse was die notering van M-Net.

Ons kliëntebasis het sterk uitgebrei. Dit het goed gegaan en ons was nogal tevrede met onsself. Die manne het ook met mening ingeklim in ons noterings as hulle sien ek klim in met my persoonlike geld – ons het gróót posisies ingeneem.

Johan Schoeman het toe al by ons aangesluit en hy vertel die vroue het begin gekla oor die laatwerkery daardie tyd. Hulle moes toe kies om “óf elke oggend toebroodjies te pak en ons sal met die fietse stasie toe ry, met die trein werk toe gaan en elke middag om halfses tuis wees, óf ons sal lang ure werk en hulle sal deel in die suksesse”. Hy sê nie een van hulle het toebroodjies gepak nie.

Met ons eerste groot transaksie, Pep Stores, het kollega Pierre Brink laataand hospitale begin bel omdat Dana in die dae voor selfone bekommerd begin raak het oor waar ek bly.

Ons het ongelooflike transaksies gedoen en die geld het gerol. Daar was noterings soos bossies. Ons het groter huise en mooier motors gekoop. My vriend Markus Jooste, uitvoerende hoof van Steinhoff International, onthou hoe ons een jaar op my verjaarsdag met my splinternuwe afslaankap-Mercedes al om die parkeerterrein van die Linger Longer-restaurant in Johannesburg gery het.

Ek het windgat geraak. Ek onthou hoe ek Kango Beachbuggies gebel het om te vra in watter kleure hulle die voertuig beskikbaar het, en toe gesê het ek neem een in elke beskikbare kleur – vyf altesame. Vandag kan ek maar net my kop meewarig skud as ek daaraan terugdink.

Dit was moeilikheid soek om so selfversekerd te wees met hefboomfinansiering tot barstens toe. Soos elke borrel het hierdie een gebars op 22 Oktober 1987. Baie van ons het hard terug aarde toe geval en finansieel ’n lekker skop in die bek gekry. Man, daar was bloed aan die mure. Dit wás die markslagting van alle slagtings – die daling van seker 30% was die grootste daling op een dag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Ek was so byna onderdeur.

En die vennote wat saam met my ingeklim het, het ook krokodiltrane gehuil. Jy kan jouself indink – solank dit goed gaan, is jy die held, maar toe die mark val, toe is ek ’n groot skurk. As ’n mens amper uitgewis word, moet iemand die skuld dra, en om geld te leen vir beleggings in ’n vuurwarm mark was ’n hárde les, ook vir my. Dit was iets verskrikliks, want ons het nie belê in gevestigde maatskappye nie. Uiteraard het dit spanning geskep.

Van die grootste lesse waarvoor ek myself moet blameer, is private-aandele-beleggings soos in die skoolklerevervaardiger Veka en die verpakkingsmaatskappy Alfa Packaging. Quantum Properties, in daardie stadium ’n krag in die swartbehuisingsmark, was eweneens ’n hartseerverhaal weens swak korporatiewe beheer en onegte syfers. Oor Harties het Christo Wiese, voorsitter van Shoprite, later jare vir my gesê: “Dit is eenvoudig: As jy met twintig winkels ’n verlies ly, gaan die verlies met tweehonderd winkels net veel groter wees.”

In deel drie sal ek weer iets daaroor sê, maar oor die restaurante en eiendomsagentskap swyg ek maar liewer. En van al daardie maatskappye wat ons gehelp het om te noteer, het seker net enkele goeies die slagting oorleef. Die een dag was ons nog die konings van die ontwikkelingskapitaalmark, die volgende dag nederige knegte.

Ek moes soos sovele ander kere in my lewe na Dana geluister het, want sy het altyd gesê as ek begin wysgeer speel, en dit is net “ek” voor en “ek” agter, dan is die einde in sig. Dit was profetiese woorde.

Maar gelukkig is dit ook so dat ’n mark herstel. Soos wat ons ego’s en beursies beter begin lyk het, het die gemoedere gekalmeer.

Teen hierdie tyd was Jannie K ook nie meer met ons nie – hy is reeds in 1984 terug na RCI toe die groep beheer oor Rand Aksepbank verkry het. Hy was ’n bondel energie, ’n mens met passie wat vir alles kans gesien het.

Ek en hy en Johan Senekal het later saam ’n wildplaas, Nokonya, gekoop en daar het ons heerlik gekuier en die soet en die suur van die lewe saam as vriende gedra. Ons het saam sake gedoen, gholf gespeel, geboer, gesing – en saam gehuil (Jannie K se dogtertjie Ester het tragies verdrink).

Teen 1988 was Johan nie meer lus vir die spanning nie en het voltyds gaan boer. Hy is by uitstek die mens wat my lewe die meeste verander het. Hy het my omgepraat om die korporatiewe wêreld vaarwel toe te roep en ’n entrepreneur te word. Ek het by hom geleer dat jou mense en jou kliënte jou belangrikste bates is. Hy was ’n nederige leier met visie, waagmoed en kalmte in sy pylkoker.

Hy is ook die eerste mens wat ek gebel het nadat ek by SMK weg is.

Jannie Mouton: En toe fire hulle my

Подняться наверх