Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 7

By Coetzenburg loop ’n waterstroom – ek word ’n student

Оглавление

Miskien het ek begin 1996 gekies om van alle plekke na Stellenbosch te trek omdat my studentejare op dié dorp so gelukkig was.

Ek het in 1966 begin BCom studeer en in die Simonsberg-koshuis gewoon. Die lekkerste van alles was die vriende wat ek gemaak het. Party loop nou nog die pad saam met my – ’n hele klomp ook as kollegas.

Van die koshuislewe het ek ontsaglik baie gehou en voluit daarvoor gegaan. Ek is ’n sosiale mens, soos my pa was. In Johannesburg het ek later jare ’n bond vir oud-Simonsbergers begin. Dit is lekker om tradisie lewend te hou. Ons het met gholfdae via die oud-Matie-gholfklub geld ingesamel vir sportbeurse vir ouens soos Hennie Bekker en Robbie Blair.

My seun Piet is vandag op die Simonsberg-bond se bestuur, maar sy broer, Jan, wat meer na sy ma aard, het eindelik in sy finale jaar meer stilte vir sy studies verkies as die raserige koshuis.

Simonsberg weet dit dalk nie, maar ek het ook eenkeer sy eer gered deur te sorg dat ek by die atletiekbyeenkoms vir eerstejaars twee keer te vroeg wegspring en só gediskwalifiseer word. Ek was dalk die vinnigste ou in die koshuis, maar ek het mos op Carnarvon in die koerant gelees watter soort tye die ouens in die Kaap hardloop. Ek dink Gert Muller en Andy van der Watt, wat later albei Springbok-vleuels geword het, sou my seker met minstens agt tree geklop het, en daarvoor het ek darem nie kans gesien nie.

Later het ons studentepret ’n keer of wat daarop uitgeloop dat ons ’n polisiemannetjie ’n les moes leer, maar vandag se studente sal dit moeilik kleinkry. Daardie jare se stout sal vandag seker onskuldig of selfs kinderlik lyk.

Probeer ook vir ’n jongmens vertel dat jy tussen jou ouerhuis in Pretoria en Stellenbosch geryloop het om die treingeld wat jou pa vir jou gegee het, liewer in jou sak te kon steek. Ek het in die vloot leer ryloop, en dit is verstommend hoeveel geleenthede jy kon kry met jou gestreepte Matiebaadjie oor jou skouer gehaak en jou ander hand se duim uit na die grootpad.

En die kere dat ek wel die trein gehaal het, het ek verkies om van die stasie af voet te slaan koshuis toe. Jy kon ’n kruier kry om jou bagasie by Simonsberg af te lewer, maar ’n rand was ’n ránd! Maar nou is jou bagasie vir ’n hele kwartaal net ’n raps te veel vir een keer se loop. Ek het die twee koffers so honderd meter ver gedra en neergesit, omgedraai vir die koekblik en die wasgoedsak en so honderd meter verby die koffers gestap voor ek weer teruggedraai het vir die eerste klomp.

My kinders dink ek is mal as hulle dié storie hoor. Hulle het ook gedink ek is van lotjie getik toe ek wou aanvoer ’n kind het mos g’n ’n selfoon nodig nie en gevra het wat dit is met ’n alewige televisiekykery. ’n Huis het mos nie ’n televisiestel nodig nie. Dit ís mos lekkerder om ’n Sudoku in te vul as om Pasella te kyk.

Ek het my eksamens skaflik deurgekom, maar vir my was kuier lekkerder as cum. Ek was ook ’n ywerige rugbyspeler – ek het darem Maties se tweede span gehaal. Ook vir die koshuisspan was ek nie ’n te vrot vleuel nie, maar as die enigste eerstejaar in die span het die manne my by die braai by die jaareindgeselligheid deeglik my plek laat ken. Ek moes al die braaiwerk doen, en hulle het drinkgoed in my keel bly omkeer totdat ek later braaf genoeg was om die tokkelok op die huiskomitee voor sy kamerdeur te gaan koggel. Ai.

’n Ander keer toe ek dalk te veel moed aan die dag gelê het, was toe ek ná ’n huisdans in die stadsaal vir ’n rowwe ou met ’n leerbaadjie en lang hare – almal het hom as Zobo geken – gesê het hy moet op ’n ander plek met sy motorfiets gaan raas. Hy het altyd in die kuierplek Tollies kom skoorsoek met die studente en sommer jou drankie of jou sigaret afgevat. ’n Bier het ’n hele 11c gekos! Gelukkig het my pel Burton Fourie, ’n slot, die man op sy motorfiets kom terugdruk toe hy nader staan, of ek sou lekker op my herrie gekry het.

In ons finale jaar was ek en Rudolf Gouws, later jare Rand Aksepbank se hoofekonoom, sogenaamde demi’s wat onder meer moes help vraestelle nasien. Ons was die twee dommes in die klas.

My vriend Niel Krige krap nou nog kop oor daardie onsimpatieke 74% wat ek destyds op sy eerstejaarsvraestel gekrap het toe hy kom sê het die ding is nie behoorlik gemerk nie: “Maar waaroor kla jy, dis mos genoeg. En moenie windgat wees nie!” Hy sê dit is vandag nog ’n les vir hom, maar hy het natuurlik eindelik sy graad met lof geslaag en later besturende direkteur van Momentum geword voordat hy as proffie aan die Universiteit van Stellenbosch se sakeskool aangestel is.

Vakansies het ek vir ekstra geld gewerk. Gelukkig het my pa my onderwysbeurs terugbetaal sodat ek nie hoef te gaan skoolhou het nie.

Terwyl ek my honneurs in ekonomie gedoen het, het ek ’n klompie BCom (Rek)-vakke bygeloop omdat ek toe eerder rekenmeester wou word. Ek kan ure sit en praat en redeneer oor enige onderwerp, hetsy die olieprys of inflasie of staatsbesteding, maar ekonomie was op die ou end vir my ’n te filosofiese vak en nie eksak genoeg nie.

Nes op skool het ek nooit ’n klas op universiteit misgeloop nie. Gelukkig was my kamermaat in my eerste jaar, Otto Jaekel, van die gedissiplineerdste mense wat ek ken.

My pelle sê ook ek het ’n gestel soos ’n yster, want ook in my werklewe van langer as 40 jaar het ek nie ’n enkele dag siekteverlof geneem nie. Ek het wel ’n paar keer om twaalfuur huis toe gegaan as ek grieperig gevoel het en op my oudag ’n nekoperasie gehad. Maar ’n laatnag-gefuif is nie ’n verskoning om tuis te bly nie.

So is daar die storie van die swart pak voordat ek by die swart toga sou uitkom. Prof. Kobus van Zyl Smit het vir ons rekeningkunde gegee en my gevra om op ’n Saterdagoggend namens hom toesig te hou by ’n buitemuurse klas. Al probleem was dat die vorige aand se partytjie op Malmesbury was; ’n meisie het my na ’n dans daar genooi. Toe is dit balke toe tot in die vroeë ure. Daar was nie tyd om eers my aandpak te gaan uittrek voordat ek, strikdas en al, moes gaan toesig hou nie.

Ek het die toets uitgedeel, voor in die klas gaan sit en dit het stil geraak. Na bewering het ek ingesluimer en met ’n harde slag van die stoel afgeval. Dit moet waar wees, want ek moes ’n bietjie afstof en opstaan, maar ek het nie weer aan die slaap geraak nie. Dié storie het ook by die prof uitgekom, en ai, hy was so ’n konserwatiewe man.

Maar hy het my en my vriend Kleintjie Bellingan nogtans gevra om ons klerkskap by Coopers Brothers (vandag PWC) te gaan doen omdat hy toe pas een van die vennote geword het. Dit was vir my ’n groot eer, want die prof was ’n agtermekaar ou wat GR én LLD agter sy naam kon skryf. Ek en hy het toe ook brugmaats by die Bellville-klub geword. Later jare kon ek kon darem op ’n manier daarvoor vergoed deur hom voor enigiemand anders te nader om ’n direkteur van PSG te word.

Coopers Brothers was ’n Engelse firma, en daar het dit aan die begin darem vir jou bloedsweet gegaan. Die eerste dag het ek vir die man wat die kleinkas hanteer, gevra: “May I please have the small cash records?” Ek onthou hy het net so na my geloer, want die “small cash”-kloutjie kon hy nie by die “petty cash”-oor bring nie.

Voordat ek in Johannesburg sou uitkom, was Kaapstad en al die plattelandse dorpe waar ons gaan oudits doen het dus vir vier jaar my tuiste.

Op ’n keer is ek en Kleintjie vir Okiep se dorpsrugbyspan gekies, maar toe is die oudit by die kopermyn verby en moes ons terug Kaap toe. Maar nie voordat ek en hy die aand in die fliek in die donker nie kon sien waar die twee mooi meisies gaan sit het nie. Een van ons pligte was om die kaartjieverkope van die mynklub se rolprentteater te balanseer, en toe maak ons ’n plan. Die fliek is gestop en die ligte aangesit sodat ons “kon seker maak die kaartjieverkope en aantal fliekgangers klop”. So kon ons uitvind waar die meisies sit en stil-stil in die donker gaan handjies vashou vir ingeval hulle alleen voel. Ek dink ’n ou kan ons toegewydheid seker kreatiewe rekeningkunde noem.

Kleintjie onthou ook die keer toe ons op ’n Vrydagmiddag as deel van die voorraadopname sulke wit jasse moes aantrek om te gaan hoenders tel by ’n braaikuikenonderneming in Kuilsrivier. Ek het glo kliphard vir die derduisende hoenders geskree asof hulle wafferse rekrute was: “Hoenders, aandag! En nommer!” En nadat hul vreeslike gekekkel bedaar het, het ek glo vir hom gesê: “Ek dink daar is 35 000 troepe.” Dit was ook die einde van ons tellery.

Ons het ook in die Kaap rugby gespeel, eweneens by die Bellville-klub, en dit is waar ek die bynaam Plankie gekry het omdat ek ouens glo so met die skouer geloop het. En die naam Mol het ek gekry ná ’n Matie-wedstryd op Worcester, toe ek die bal reg voor ’n oop doellyn op my kop gekry het – my bril en die lae spreiligte was nie ’n lekker kombinasie vir raakvat uit die lug en duik nie.

Dit is ook by dié klub en die gekuier op ’n Saterdagaand waar ek my vrou Dana ontmoet het. Sy was ’n nooi van Clanwilliam en het in die plaasskool in Agter Pakhuis standerds gespring sodat sy op 15 by Rustenburg Girl’s High in Kaapstad gematrikuleer het. Sy is nes my ma na ’n Engelse skool weggestuur. Sy is daarna vir ’n jaar as uitruilstudent van die American Field Services na die VSA. Op Stellenbosch het sy ’n BSC behaal en skoolgehou by Wynberg Girls’ High toe ons mekaar leer ken het.

Uit haar eerste huwelik het sy tweelingdogters gehad, Rita en Carine. Sy het later toe ons kinders klein was, haar BProc deur Unisa behaal, die topstudent in haar klas. Ons het steeds die foto waar sy op grond daarvan by die destydse minister van justisie afgeneem is. Rita het as volwassene in haar ma se voetspore gevolg en advokaat geword, en Carine het vandag nog ’n toppos in die Rand Aksepbank-stal.

In die Kaap het ek ook ’n jaar vir Federale Volksbeleggings gewerk voordat ek na Johannesburg verplaas is.

Ook Johannesburg was goed vir my, vir ons. Ons het 22 jaar daar gewoon.

Dit is waar ek weer huis gekoop het, waar my kinders grootgeword het, en ook ’n plek waar ons wonderlike vriende gehad het.

Maar Johannesburg is ’n stad waar mense verder uit mekaar woon. Dit is op ’n manier ’n geslote gemeenskap. Ek weet vandag dat ek ook om ’n ander rede in 1996 na Stellenbosch moes teruggaan: Ek sou dit nooit op my eie in die stad gemaak het toe ek Dana in 2004 verloor het nie.

Praat van ’n lewensveranderende ervaring.

Dit is ook maar goed dat ’n mens nie vooraf weet wat die lewe vir jou inhou nie. Die dag 3 Augustus 1995 het begin soos enige ander dag. En soos enige ander dag het die frustrasie van die Johannesburgse verkeer vir my gewag. Ek het my dogter Charité skool toe geneem in Linden en die verkeer aangedurf om teen agtuur op kantoor te wees.

As jy die strate van Johannesburg aanvat, sit en dink ’n mens soms oor die dag wat vir jou voorlê, jou familie, jou toekoms, jou verlede – enigiets om jou gedagtes af te lei van die motors en die toeters en die soveelste rooi lig. Ek kan nie met sekerheid sê waar my onwillekeurige gedagtes daardie dag was nie, maar ek weet net ek was vir die eerste keer in my lewe heeltemal onvoorbereid vir wat om die draai gewag het.

Maar laat ek die storie by die begin gaan haal, by SMK se begin.

Jannie Mouton: En toe fire hulle my

Подняться наверх