Читать книгу Jannie Mouton: En toe fire hulle my - Carié Maas - Страница 4
INLEIDING
ОглавлениеDie dag toe ek by SMK as besturende direkteur in die pad gesteek is, is my lewe op ’n nuwe pad geplaas. Ek moes diep delf, baie dink, leer en ook foute maak om te kom tot waar ek nou is.
Met die voordeel van terugskouing kan ek vandag sê dat daardie dag in 1995 eintlik ’n bedekte seën was. Dit was ’n lewensveranderende gebeurtenis wat gelei het tot die ontstaan van PSG. Dit was ook danksy die hulp en ondersteuning van lojale, talentvolle kollegas van wie julle meer in dié boek sal lees.
So teen middel-2010 het NB Uitgewers se Tafelberg my genader om ’n sakeboek oor myself en die wel en wee van PSG te skryf. Ek was eers glad nie te vinde vir só ’n idee nie, want dit het arrogant en verwaand gevoel.
Die uitgewers het egter volgehou dat ek iets te sê het wat ander sal wil lees, en so het my gevoel daaroor mettertyd verander. Miskien kan iemand iets leer uit al die lesse (goed of sleg) wat ek in die lewe geleer het.
Ek het juis ses jaar tevore ’n boek, Gee vir my geleenthede, saamgestel. Dit was harde werk wat ek as ’n liefhebbery gedoen het. Ek het nooit ’n eksemplaar verkoop nie, maar dit uitgedeel aan my vriende wat belangstel. Die boek, die belangstelling en die terugvoering het my baie genot verskaf. Die gedagte daaraan het my ook ietwat aangespoor om in te stem tot ’n boek waarby ek nie finansieel baat vind nie.
Die uitgewers se vraag aan wie ek die boek sal wil opdra, het my lekker aan die dink gesit. Aan wié? Dana, met wie ek 30 jaar getroud was en wat op 11 Mei 2004 oorlede is, het eerste by my opgekom. My kinders op wie ek so oneindig trots is en wat my nog net plesier in die lewe verskaf het, was ook deurgaans in my gedagtes. Op 2 Oktober (my verjaarsdag) in 2010 het ek met Deidré Uys getrou. Ja, sy is nou my sielsgenoot en pel en ons stap die pad dag vir dag saam verder met ’n nuwe lied. Waarom nie aan haar nie? Maar ek het kleinkinders ook, wat mos vir ’n oupa meer as spesiaal is.
Op die ou end dra ek die boek op aan almal wat lojaal en goed was vir my regdeur my lewe, my ouers, familie, vriende, aandeelhouers van PSG en kollegas wat by my gestaan het en wat goed was vir my die laaste paar jaar. So hard as wat ek kan wees, so ’n klein hartjie het ek, en ek wil niemand uitlaat nie.
Lekker lees!
JANNIE MOUTON
Stellenbosch,
31 Januarie 2011