Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 11

Оглавление

4

Pretoria, 1977

In haar eerste jaar, op sewentienjarige ouderdom, sien Jo vir die eerste maal ’n televisiestel. Dit lyk anders as die monitor in die eetkamer van die Laeveld-motel op haar Laeveldse dorpie. Eerstejaars word toegelaat om die Woensdagaand van ontgroeningsweek die aandnuusprogram op die kabinet-TV in die sitkamer van Huis Witklawer te kyk. Hulle mag kyk tot die aandgodsdiens afgehandel is, die Driekleur wapper, “Die Stem” speel, en die SAUK se toetspatroon op die skerm verskyn.

Niemand kan glo dit is al nie. Jo wag ’n rukkie om te kyk of daar nie dalk nog iets gaan gebeur nie, maar niks versteur die uitsaaikorporasie se programskedule nie. Nog ’n week se wag. Dis al.

Op die Donderdagoggend van ontgroeningsweek val Jo se oog op Huis Witklawer se komiteelid vir kuns en kultuur. Muriel Weber lyk boheems en afwesig. Daar is iets verborge aan die derdejaarkunsstudent se skoonheid. Iets abstraks, wat op Jo se sensors registreer. Muriel verwyder ’n opgevoude bladsy uit die dubbelgestikte sak van haar wit kaasdoekhemp. Die beweging laat die hempsak teen haar kaal bors opry. Skrams glimp van ’n borsronding onder dun materiaal. Jo voel benoud. Onder die ienks se huisgesange skuif sy haar stoel oor die blink houtblokkiesvloer nader aan die saaluitgang.

Die ouer student vroetel met die opgevoude bladsy. Teen die tyd dat haar beurt aanbreek om kuns- en kultuursake te bespreek het Muriel die bladsy platgestryk gekry.

“Môre, ienks.”

“Môre, juffrou Muriel.”

“Ek soek vrywilligers om my te help dekor skilder, meisies. Dié wat wil, kan my vanaand seweuur hier in die saal kry.” Beleefd. Daarmee mik sy deur toe, met ’n glimlag na die skynbaar permanent omgesukkelde primaria van Huis Witklawer.

Jo kan dit nie tussen die bedompige asems uithou nie. “Juffrou, mag ek gaan piepie?” Nederiger as ’n invertebraat.

Die primaria wuif haar weg.

Jo sluip by die voordeur uit, in Prospectstraat af. Sy is nie gepla oor hoe sy haar ontsnapping gaan verduidelik nie. Haar oë soek na die kunsstudent. Muriel klim in ’n afgeleefde wit Fiat. Jo diep die sleutel van haar motorfiets uit haar sak, draf parkeerterrein toe. Sy druk haar lang hare onder die valhelm in, skop die motorfiets aan die brand, koers agter die Fiat aan. Die son is in haar oë. Sy weet nie wat haar besiel nie, maar sy hou aan ry. By die Skip langs, Sunnyside se kant toe, verby Magnoliadal. Die Fiat se enjin mis ’n paar slae. Die rookwolke uit die uitlaatpyp laat Jo stik.

Met Koningin Wilhelmina langs oor George Storrar sukkel die Italiaanse motor met sy enigmatiese insittende, vermoedelik op pad Groenkloof toe. By Langestraat draai Muriel sonder waarskuwing links, Nieuw Muckleneuk toe. Wie de fok gebruik ’n flikkerlig? Die motorfiets se agterwiel gly in die gruis. Jo kry dit met moeite onder beheer. Betyds om die Fiat by die oprit van ’n huis met reusevensters te sien indraai.

Die voorstad lê stil in die voormiddagspits. Eers ry Jo verby die moderne wit huis. By ’n oop stuk veld draai sy in en los die motorfiets op die staander, haak die valhelm oor die spieël. Hair by Kawasaki. Sy kam die kraaines met haar vingers plat, slenter in die sypaadjie af. Iets dryf haar, iets wat sy moet weet, al weet sy nie wat sy moet weet nie. Die aansig van die huis lyk verlate. Niks roer in die straat nie. Jo loop verby die ingang. Met die terugloop glip sy by die oop motorhek in. Sy koes agter die leë motor langs na die voorkant.

Stemme uit die huis laat Jo agter ’n stoeppilaar wegduik. Sy wag tot die stemme wegsterf voor sy by die dubbelglasdeure inloer. Die ruim ontvangsvertrek is gevul met art deco-meubels. Massiewe abstrakte skilderye hang teen die mure. Op ’n verweerde houtdeur met bokpote staan kunsvoorwerpe wat uit hout gesny is, ander wat in brons gegiet is. Beelde wat uit marmer gekap is, vorm deel van die ingangspilare. Sy kry die reuk van terpentyn. Dit laat haar dink aan die kunsstudent wat haar kop kaal geskeer het. Sy (of een van haar medestudente?) het rooi skedelnate op die eierkop ingeskilder. Die koshuismoeder het afgelei die kop is ’n kaart van Rusland of (nog erger) ’n hamer en sekel, en ’n stokkie voor dié kommunistiese twak gesteek. Die student moes die kaartwerk afwas en ’n kopdoek dra tot die hare teruggegroei het.

Jo loop gebukkend verder om die huis. Platgedruk teen die gepleisterde wit muur wag sy dat die hartgesuis in haar ore bedaar. Sy voel muurlangs tot by die volgende venster, waag dit om in te kyk. Lig uit twee dakvensters omgewe die jong vrou in die middel van die vertrek. Muriel knoop die kaasdoekhemp los. ’n Manstem wat naby die venster opklink, laat Jo op haar hurke terugsak.

Ná ’n ruk waag sy dit om weer te kyk. Die wit hemp gly oor Muriel se kaal skouers, oor die vol, gepunte borste. Sy glip uit die Levi’s. Geen las van onderklere nie. Netjiese donker vag waar die dye bymekaar kom.

’n Ouerige man met ’n bokbaardjie en ’n poniestert hou ’n glas rooiwyn na Muriel toe uit. Hy draai haar na die lig, bevoel die nek en ruggraat. Muriel draai terug, haar borste rus gemaklik in die man se hande. Sy neem ’n teug uit die langsteelglas, draai om en gaan op die dagbed sit-lê. Haar lang bene ’n aks uit mekaar geposeer. Oor haar linkerbors val ’n dik string hare.

Dit is of die tyd stol, asof Jo per ongeluk op ’n wêreld afgekom het wat sy nie vermoed het bestaan nie, asof sy soos Alice agter die wit haas aan in die haasgat ondertoe geval het. Dit is klam op haar bolip, sy kry moeilik asem. Sy knyp haar hande tussen haar bene vas.

Toe dit skemer word, draai sy terug, sluip weg. Die afloerdery suig haar in. Dit plaas haar in ’n omwenteling waaruit sy haar nie kan loswikkel nie.

Jo bied haar dienste as dekorskilder vir die ienkdans aan, al het sy in standerd agt laas ’n kwas in haar hand gehou. Op ’n keer loop Muriel tot vlak by Jo. Sy bekyk die boom en die verwronge takke wat Jo op die wit laken skilder, tik op ’n plek wat Jo oorgeslaan het. Geur van sandelhout en naeltjiesolie. Welgevormde vingers. Kort, ronde met verfbevlekte naels.

“Jy kom goed reg.”

“Dankie, juffrou Muriel,” uit die diep droogte van haar keel. Verder kan Jo nie kwiek of kwaak nie.

Wanneer Muriel gaan bad, sorg Jo dat sy in die koshuis se gemeenskaplike badkamer is. Die intieme kennis van die kunsmodel se lyf, die detail wat sy by die loervenster oplet, hou haar fantasie bloedwarm.

Verlorenkop

Подняться наверх