Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 18

Оглавление

11

Pretoria, vroeë tagtigs

Twee apokaliptiese geweldslae saai verskrikking op die Vrydagmiddag van 20 Mei 1983. Jo sit en sub ’n artikel enkele straatblokke van die Nedbankplein-gebou af toe die Kerkstraatbom ontplof. Die koerantgebou se vensters bol uit en krimp terug van die slag. Twee joernaliste gryp na hulle kameras, hardloop gebukkend uit die kantoor.

Jo draf agterna, deur die onaardse stilte, oor Kerkplein, die chaos in. Die afgesperde gebied lê besaai met verminkte oorblyfsels, makabere legkaartstukke wat nie weer inmekaar wil pas nie. Sy onthou vir ewig die reuk van verkoolde mensvlees. Straf op vergelding en pyn.

Negentien mense dood, meer as twee honderd beseer, proeflees sy ’n leeftyd later.

Death be not proud / thou art slave to desperate men.

Voor die tweeslaapkamerhuis in Arcadia wat Jo en Kerneels sedert hul troue bewoon, word sy die volgende oggend van haar handsak beroof. Haar aanvaller se meslem brand in haar nekholte, die ander hand gly tussen haar bene in.

“I’m gonna fuck you till you’re dead, you dirty white bitch.”

Die aanvaller word afgeskrik deur die geluid van die buurman se garagedeur wat oopskuif. Jo haal die koerant uit die posbus, gooi dit met ’n boog na die stoep, klim in die kar, maak die hek toe, ry weg.

Verskerpte veiligheidsmaatreëls in en om die stad, ook in die township waar sy op ’n Saterdagoggend Engels vir swart matrikulante gee, veroorsaak dat Jo laat by die skool in Mamelodi aankom. Veel later op die dag wat deur intimidasie en geweld ontwrig word, terwyl die groepie personeellede aan witbroodtoebroodjies met dik skywe pienk polonie wurg, bemerk ’n kollega die gestolde bloed aan haar nek. Bloed van haar kokende kontinent, waar geweld oral aan die opvlam is.

Vrees is ’n ketting wat haar en haar landgenote aan mekaar boei. Vrees vir gesag. Vrees vir anargie. Vrees vir die swartes, vrees vir die wittes, vrees vir elke verdoemende apartheidswet. ’n Kollektiewe vrees vir die veiligheidspolisie. Tronkstraf. Ongebreidelde vrees vir God weet wat als. Vrees vir haar gedagtes.

Vrees is haar stapelvoedsel.

Ek neem jou saam, ta’ Christine, op my volgende reis, skryf Jo in haar dagboek nadat sy met die inpak vir die emigrasie vasgestel het die pakkie en die drie geseëlde bokse wat Klein-Knol vir haar aangery het, bevat die plaasjoernale, die kroniek, van haar oorlede groottante Christine Retief se lewe.

Soms, in ’n oomblik van spyt, dink sy aan die verskil tussen haar wat vlug en Kerneels wat die uitdaging van sy navorsingsavontuur aangryp.

Die laaste dae verloop oorhaastig. Hulle moet die onderskeie ouerpare gaan groet. Van almal voel Jo die seerste oor haar pa. Sy oë kla haar aan. Wat is dit met haar en haar blink idees? Het sy ooit aan die gevolge gedink? Hy dink sy is moeg en oorstuur. Vir wat probeer jy vlug, my kind? Sy en haar koppigheid. Jy kan onmoontlik vir Ysterberg saamvat, Johanna. Jo sluit haar ore vir die woord ondankbaar.

Sy stop die laaste afskeidsgeskenke in haar tas: ’n kookboek van Lara, ’n tapisserie van ’n lesende seun van haar ma. ’n Geelkoperhoefyster van die ou man en kinders by die perdeskool.

’n Kompas van haar pa.

Voel haar pa regtig sy het koers verloor? Sy moet vir hom ’n bittere teleurstelling wees. Die oggend ná haar en Kerneels se troue in die universiteitskapel het Isak selfs haar keuse van ’n wittebroodsbestemming gekritiseer. Die woorde het haar deur die jare bygebly: Hoekom Kaap toe foeter? Waar is hierdie Onrusrivier waarvan jy praat, Johanna? Waarom kom julle nie bietjie plaas toe nie?

Dis darem veronderstel om ’n wittebroodsvakansie te wees, het Anna droogweg opgemerk.

Watwou wittebrood hou, het haar pa geantwoord. Hulle het lankal die versiersuiker van die koek afgeëet.

As afskeidsgebaar reël die universiteit vir Kerneels ’n ete by die La Perla-restaurant in die Pretoriase middestad. Jo is verbaas om die redakteur van haar koerant daar te sien. Die wit kiesers van hierdie land is naïef, sê hy vir hulle.

Die probleem is dat ons nie ’n eie oordeel wil vorm nie, antwoord Kerneels.

Sy blaai haar dagboek oop: So fare thee well thou silent house.

Hulle verlaat die land in die jaar ná biskop Desmond Tutu die Nobelprys vir Vrede ontvang. Op pad lughawe toe, op die verbyflitsende lamppale, verkondig die koerantopskrif: Oudarts se selfmoord skok.

Daar is dalk hoop vir dié wat agterbly, maar sy is keelvol vir die koppigheid van haar volk. Hulle het reg besluit om van die paranoia weg te stap, dink Jo. Tussen die vreesloses, verlos van die outoritêre mentaliteit – uit onder die pastorale mag – weg van die gedurige spanning, sal sy en Kerneels in vrede kan leef. Sy sou wegdoen met die allerheiligste gebod: Jy mag nie teëpraat nie.

Moenie so huil nie, Ma. Trane prik in Jo se oë. Sy durf nie voor almal tjank nie. Hulle sal die idee kry sy berou die besluit. Ek vat die gedagtes saam wat jy by die tapisserie ingeweef het, Ma. Sodra ons ingeburger is, kom jy kuier.

In haar gedagtes loop sy aanhoudend na die oomblik terug, namate die vliegtuig die hemelruim in spoed.

Totsiens, Muriel, waar jy jou ook al bevind. Have a nice life.

Verlorenkop

Подняться наверх