Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 17

Оглавление

10

Die Pieterse-familieplaas, Karoo, Desember 1978

Dewald Pieterse is op proef. Met die voorstelslag het Kerneels beduie sy broer staan in diens van barmhartigheid. Dewald moet vandag sy voordiakenlike plig uitvoer en tydens die heilige nagmaal saam met die gemeente brood breek. Sy oë rus priemend op die sinkplaatpad. Die vaal hare is kort geskeer om die ore. Bo is die hare langer, met ’n kantpaadjie wat die stringe met die uiterste presisie eweredig na links en regs verdeel. Die kam het vore gelaat in die platgekamde hare wat vir Jo soos toutjies seegras lyk. Die sweet gly teen sy slape af.

As teken van sy waardigheid is sy pak stemmig swart en sy das witter as sneeu. Dewald spreek net uit een mond: die Nederduits Hervormde Moedergemeente Voortrekkersrus. Hy is nóg ’n wynvlieg, nóg ’n vuilgewinsoeker, ’n ware Godsman volgens Timótheüs. Sy verloofde is ewe nugter. Om Dewald nie op die weg van versoeking te plaas nie, woon Marinda tot die huweliksnag in ’n losieshuis op die dorp. Die losieshuis het ’n blink reputasie.

“Gaan loop jy bietjie rond, Jo. Kerneels moet my kom help met die brood en die wyn,” ontvang Jo haar opdrag toe hulle in ’n kleinerige stofwolk voor die kerk stilhou.

’n Vlaag kleinrooivalke skrik op uit die naaldbome langs die kerkgebou.

“En gaan Pappie vanmiddag vir ons die vleisies sny?” hoon Jo agter Dewald aan. Hy ignoreer haar.

Sy loop skoorvoet in die stofstraat af, in ’n soort traagheidsmoment wat deur die hitte aangebring word. Vir wat laat sy haar pla deur die Sovereign Prince Rose Croix of Heredom? Een wat geblinddoek loop na sy verligting, wat geen gesprek kan voer sonder geïmpliseerde vergelding of straf nie.

Die dorp is stil. ’n Trop honde kom in die hoofstraat af gedraf, snuffelend van polgras tot polgras. Jo vou haar kerkrok onder haar boude in en gaan op die sementrandsteen sit, steek ’n sigaret aan. Nou soek sy weer kak. Kerneels hou nie van die rokery nie.

“Ek soek ’n stukkie brood,” onderbreek ’n stem.

’n Bruin dogtertjie betrag haar pleitend. ’n Snotelf druppend onder die neus.

“Ek is honger, Juffrou,” bedelhandjie uitgesteek.

Jo kyk om haar rond. ’n Ent verder staan nog ’n groepie kinders. “Is hulle ook honger?”

“Ja, Juffrou.”

“Waar is julle ma’s?”

“Nei, hulle slaap, Juffrou.”

“En julle pa’s?”

“Nei, hulle slaap ook, Juffrou.”

“Wat is jou naam?”

“Priscilla.”

Jo wonder wat sy moet doen. “Priscilla, ek het nie brood nie, net een rand, maar dis vir kollekte. Wil julle die een rand hê?”

Sy haal die groot eenrandstuk uit haar handsak en hou dit in die lug op. Die oggendson reflekteer op Soli Deo Gloria 1978. Sy druk dit in die handjie, vou haar hand om die vuis. “Gaan koop vir julle sweets, Priscilla. ’n Mens kan nie van brood alleen leef nie.”

“Dankie, Juffrou,” met blink oë. “Ma-goed is gesyp, ons kry nie kos nie.”

Jo se oë dwaal na die groepie wat in die bakkende son staan. Almal is een vaal kleur van die stof. ’n Paar brommers hang om stukkende knieë, om die bloed aan die een se bobeen. Vader, sy moet liewer nie kyk nie. Die dronk piele.

Toe sy uit die hitsige vroegmôre binnetoe loop, is die klipkerk koel en versadig aan die geur van nagmaalwyn.

Dewald kyk op toe sy by die konsistorie inkom. “Vroumense mag nie hier wees nie, Jo.”

“Fok jou, Dewald, jy gee my ’n gatkramp.”

“Mens vloek nie in Gods huis nie, Jo. Kerneels, praat met jou verloofde.”

“Jislaaik, broer, hier staan ek gewone mens en help met die wynskinkery. Wil jy hê ons moet help, of kan ons gaan naai?” vra Kerneels geïrriteerd.

Dewald bekyk Kerneels fronsend. “Nee, help, man. Asseblief. Dominee en die ouderlinge is netnoumaar hier. Laat Jo buite gaan sit. Vroumense hoort nie hier binne nie. Ons moet nog die brood breek.”

Sy raak nog meer bebliksem. “Fok tog, van waar is jy? Gaan kyk daar buite in die stofstraat as jy wil sien waar mans hoort.”

Kerneels draf agterna toe sy by die konsistorie uitstorm. “Jo, dis nagmaal. Ons moet die vrede bewaar.”

“Kan julle nie sien die kinders het honger nie? Kan jy nie sien hulle is verniel nie? Gaan haal vir hulle die nagmaalbrode.”

Kerneels gaan op die kerktrappies sit en laat sy kop in sy hande sak.

“Wat? Gaan ons almal ons bekke hou? Iemand het baba Jesus ’n oneer aangedoen,” hou Jo aan.

“Here, Jo. Wat makeer jou?”

“Gaan kyk. Daar is nog een verkrag laas nag, van julle Krismiskonsert, van die soetwyn. Die bloed is nog aan haar.”

“Asseblief, Jo. Dis nie nou die tyd nie.”

“Vir wat? Wat weet julle mans? Waar was jy? Jy wat wil hê ek moet net reg lê. Wat van die kinders?”

“Asseblief, kom in, kom sit. Ek moet vir Dewald help, jy weet dis sy vuurdoop.”

Jo strompel by die hek uit en gaan in die stofpad voor die kerk van kwartssandsteen staan. “Fokkof met julle onderdanigheid aan volk en kerk. Ek is ek. Ek leef nie onder die juk van die voorgeslagte nie, ek voel vere. Ek wil fokkof. Julle moenie dink ek gaan julle almal ’n guns bewys en moederowerste van die linnekas word oor ek nie keuses het nie. Gee die brood vir die kinders!” skree sy.

“Hoe moet die gemeente dan die liggaam van Christus eet, my lief?” vra Kerneels kalm.

“As julle só aangaan, sal julle die heilige nagmaal moet oorslaan,” laat Dewald van die konsistoriedeur af weet.

Jo lag histeries, loop gedrewe by die konsistorie in. Haar houtsandale klap-klap in die loop. Sy loop vir Dewald uit die pad. Gryp die witbrode en stapel dit teen haar bors op. Party breek en val in die stof. Sy skree vir Kerneels om nog brood te bring. Die kinders op die sypaadjie verstom hulle. Hande uitgestrek na die brood.

Dewald bly hulpeloos in die konsistoriedeur staan. Trane blink op sy wange. “Wat maak jy, Jo? Wat gaan die gemeente van Christus eet? Ag, Here, jy is besete. Wat gaan ons met die leë borde maak?”

“Fok dit, ons pak klippe daarin. Laat die gemeente klip vreet,” skeur die woede uit haar los. Sy vlieg by die kerkterrein uit, haar hare slierterig uit die poniestert, haar gesig natgesweet. Sandale en bene asvaal van die Karoostof.

Die gemeente se trekkerige voorsang eggo in die oggendstilte.

“Daarg is geen land, so verg of woes geleë / geen strgand, o Heerg / of wilde watergweë,” dryf dit buitetoe, na waar Jo op die sypaadjie by die kouende kinders sit.

Die woede wat haar van nêrens af kan oorneem, die onbegryplik kokende woede, smeul nog in haar toe Kerneels langs haar stilhou. Hy sleep-dra haar tot by die bakkie, stamp haar hardhandig op die sitplek neer. Trek in ’n stofwolk weg.

Marinda kom in haar rooi Morris by die kerkingang ingery.

“As ek jy was, het ek aanhou ry!” skree Jo agterna.

“Jy is donders oneerbiedig. My familie wil nagmaal hou, en jy maak ’n spektakel daarvan,” sê Kerneels driftig. “Wat makeer jou?”

Toe hulle by die agterdeur stilhou, kom sy ma uitgestap. Fronsend en vraend.

“Jammer, Ma. Jo het moeilikheid gemaak by die kerk. Ek sal later vir Dewald gaan haal. Ek dink sy is swanger. Dis hormone. Laat sy bietjie kalmeer,” sê Kerneels.

Dalena Pieterse prewel ’n frase wat vir Jo klink na “een doorn in het alziende oog van God”. Sy val op Nederlands terug wanneer die geleentheid daarom vra.

Jo kyk hulle swyend aan. Uit die ou man se mond drup speeksel wat die ou vrou met ’n afdrooglap wegvee.

“Ons sal moet slag,” fluister die alzheimerlyer.

Nee, sy is nie swanger nie. Sy het voorsorg getref. Niks sal haar aan die land bind nie, juis nie ’n geboortekoord nie. Sy het klaar besluit. Nie veg nie, vlug.

Buite is dit al donker. Sy wou nie aandete hê nie. Liggeraak, half skaam oor haar oordrewe emosionaliteit. Hoor hoe Kerneels en die oumense mekaar groet, elkeen na sy eie kamer. Badkamerbeurte wat volg. Sy voel soos een wat van ’n selfgemaakte vernedering herstel. Afgejak.

Sy kyk nie reguit na hom toe hy kom nagsê nie.

Hy vryf oor haar arms, stoot haar kuif uit haar oë weg.

“Waarom is jy so ontsteld, Jo?”

Sy klem haar vuiste en byt hard op haar tande. Sy moet leer om Satan se aanvalle af te weer, maar haar wapenrusting is verroes. Amerika sal ver genoeg van Kobus de Lange wees, buite bereik van die kunstenaar se huis. Ver genoeg van fokweetwat. Daar sal sy ook vrede met die wêreld kan hê.

“Oor die kerk niks doen nie. Wat weet die kerk van ander se pyn? Wat gee hulle om?”

“God is nie net in die kerk nie, Jo.”

Sy draai haar gesig weg van sy soen.

Om te ontsnap aan die fantasieë wat haar in die huweliksbed laat rondrol, steun Jo op ’n hipnotikum. Jou snare is te styf gespan, sê Kerneels, die leerlingdokter. Neem ’n barbituraat. Dit sal jou help om te ontspan.

Goed, Kerneels. Hy is die leier, sy is die volger.

In what mirror did I lose my face, krap sy ’n reël uit Fernando Pessoa se digkuns in haar dagboek neer.

Haar liefde vir Kerneels is gerusstellend, maar daar is tyd oor vir ’n afsonderlike lewe. Sy besluit om ’n perdeterapiekursus by ’n ryskool in die stad te doen. Die eienaar is ’n ou man wat meen sy het ’n spesiale band met die perde en die kinders.

Verlorenkop

Подняться наверх