Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 6

Оглавление

PROLOOG

Verlorenkoppe, Noord-Natal, 1962

Die familieplaas se tuin is soos die elemente van ’n natuurleweskildery – ’n helling in terrasse uitgelê. Heel agter teen die horison die strak krone van die swartwattelplantasies, gevolg deur ’n ruigte wildegras waarin bloukraanvoëls broei. Boorde vol kwepers, taaipitperskes en ander vrugtebome, sterk draers wat inlêvrugte lewer. Daarna die niefunksionele, mindere struike soos die blomgranate, die katjiepierings, die karlienblomme, en die giftige Brunfelsia pauciflora, die verbleikblom. In die Retiefs se Afrikaans onweerlegbaar die yesterday-today-and-tomorrow.

In die middel, in ’n kamp weg van die snaterende makoue en die eende en die hoenders, lê die blomtuin: deurkruis met looppaaie en beddings vol strandrose, ridderspore, pelargoniums en dahlias, besoek deur die vlindervlerke van hluhluwebloutjies.

Die Retiefs se stammoeder Delores het altyd gesê daar bly niks oor waar ’n hoender geskrop het nie.

Die draadomheinde fyntuin is ’n geheimenis. Daar kan die Zoeloe-oppasster Makoti vir klein Johanna en haar kinds oumagroot Delores veilig inkamp om hulle onder haar voete uit te hou. Wanneer die eerste werkskof van die oggend voltooi is, die opstal tot rus kom en die geklingel van teelepels in pierings van die stoep af opklink, dan kan die twee gevangenes in die draadkamp behoorlik kwaaddoen.

Op die helder Natalse somermôre loop Oumagroot die stele van die reuse- swartrooi dahlias en afknik, en só loop klein Johanna agterna en breek die kleiner geel pom-pomdahlias se stele af.

Johanna sien hoe Oumagroot in een van die dahliabeddings gaan hurk, haar bloemer aftrek en in die bedding skyt, en soos die oue kloek en die jonge piep, só trek Johanna haar broekie af en probeer langsaan skyt. Sy druk hard, maar daar kom net ’n bietjie pie.

Oumagroot Delores trek sommer haar bloemer af en hurk waar sy wil, anders staan sy wydsbeen en pie deur die gaatjie in die bloemer. Johanna het nooit geweet bloemers het gate tussen die bene sodat oumas maklik daardeur kan pie nie. Dis eintlik net die ouma wat in die tuinkamp gebêre word wat deur ’n gat in haar bloemer oor die dooie dahliakoppe staan en pie. Dis sover Johanna van hurkende oumas weet.

Die walm van die kasteel wat die onheilige vennootskap uit die gevolg van hul hurkery bou, kan jy wie weet waar ruik. Tot Makoti, wat gestuur is om die stilte te ondersoek, die reuk kry en die draadogie oor die hekpaaltjie oopruk en die kamp binnestorm. Die hekkie sjier op sy veer agter haar toe.

Haar gille onderbreek die suisende stemme van die stoep af.

“Hau, mantombazanendini! Nenzani? Julle twee stouterds, wat maak julle?” Die shweshwe-rok ’n siedende blou dwarrel wat opsteek en huis se kant toe tol.

Met die terugkom skep Makoti die asgrafie vol los sand, gooi die stink bouwerk toe en jaag die kwaaddoeners al swetsende aan sinkbad toe.

Daar is ’n skoppelmaai aan een van die ou lukwartboom se takke. Johanna en Oumagroot kan saam daarop sit, of op die houtbankie wat oupa Knol self gemaak het.

Só kon die twee in hulle eie wêreld wees. Die een in die wêreld van voorkennis, die ander in die wêreld van nakennis: in die gelyk gebied wat vir ’n wyle hul alleengebied was.

Toe wis Jo nog nie van die godsonmoontlike keuses wat Delores Retief aan haar nasate gestel het lank voor sy seniel geraak het nie. Dit is waarom alzheimer vroeg vir Oumagroot opgeëis het. Dit was haar straf, het Jo eenmaal in haar dagboek geskryf en gewag dat ’n bliksemflits haar tref. Toe die hemele swyg, het sy dit as ’n teken beskou om die storie enduit te vertel, al was dit aan ’n swart leergebinde dagboek wat nie kon terugpraat nie.

Verlorenkop

Подняться наверх