Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 14

Оглавление

7

Pretoria, 1977

Die inhoud van die bruin vensterkoevert wat deur die pos arriveer, waarsku dat mejuffrou J.C. du Plooy nie haar eerste jaar durf faal met die swaard van studieskuld wat aan ’n perdehaar bokant haar kop hang nie.

U moet sorg dat u toetsreekspunte ’n stewige akademiese grondslag lê. Maak seker u doen daagliks hersiening.

Dit verg kophou om die realiteit van die koevert in te haal.

Haar pa is nie bereid om geld voor te skiet vir die weggeslyte motorfietsbande nie. “Jy kan klas toe loop, Johanna. Waarheen wil jy ry? Jy mors petrol,” ongeduldig oor die plaaslyn. “Die boerdery vat baie geld.”

Jo beskou haar finansiële krisis as ’n vingerwysing na die smalle weg. Die pad na die kunstenaar se glashuis lê met dubbeltjies besaai.

Sy hoor en sien niks van Muriel Weber nie. Dis of Muriel van die aardbol weggevee is. Gerugte doen die ronde dat die huiskomiteelid vir kuns en kultuur uit die koshuis geskors is. Niemand weet waarom nie.

Party dae bly Jo heeldag in die bed, met die handboeke om haar uitgepak. Teen aandete staan sy op om sente bymekaar te skraap, sigarette te gaan koop.

Sy slaag nie daarin om die huishoudkundestudent te ontduik nie. Dit is Lara Cloete se gewoonte om by ’n kamer in te stap sonder om te klop, om sigaretwalms weg te waai asof sy radioaktiewe wolke by die venster wil uithelp, om ongenooid te gaan sit. Lara is rasend van selfvertroue en selde in ’n slegte bui. Aan haar polse klingel armbande.

“Wat dink jy eet ons vanaand?”

Die gedagte aan kos wil Jo laat braak. “Wat kom maak jy hier as jy rook so verpes?”

“Seker jou magnetiese persoonlikheid.” Stikkend.

Jo suig die sigaretrook dieper in. “Het jy nie ’n werkopdrag of ’n eksperiment om te doen nie?”

“Wil jy môre saamkom rioolplaas toe?” vra Lara ongesteurd.

“Om te wat?”

“Die lesing gaan oor watersuiwering. Daar dryf vieslike goed in die water rond, tussen die drolle.”

“Jy wou dit nie dalk ’n bietjie kruer stel nie?”

Lara tuit haar lippe. “Jy moet my nog sê waarheen jy in die groot wit kar verdwyn.”

“Ek verdwyn nie meer nie.”

“Ek wonder.”

“Jo du Plooy, telefoon in hokkie vier, oosgang,” onderbreek die interkomstem.

Jo vlieg orent, gretig om aan die interrogasie te ontsnap.

“Jy beter die sigaret dooddruk. Jy weet jy mag nie in die telefoonhokkie rook nie!” skree Lara agterna.

Anna wil hoor hoe dit gaan. Hoe vorder die studies? Leer jy darem hard, my kind? Jy moenie jou pa nou met motorfietsbande pla nie.

“Pa sê so, ja. Wat is nuus, Ma?”

“Die koeël is deur die kerk,” sê Anna ná ’n kort stilte.

“Wat bedoel Ma die koeël is deur die kerk?” aap Jo agterna. “Is die koster gekwes?”

“Ai, kind, watse nonsens praat jy?”

“Nou vir wat praat Ma nie reguit nie?”

Anna se sug sidder met die telefoonlyn langs. “Dis Hendrik. Hy het vir Bokkie van ta’ Riana en oom Thys de Beer swanger gemaak.”

Jo beleef ’n duiwelse drang om hardop te lag. Sy het Hendrik en Buurplaasbokkie met ’n paar weke geklop. Die aweregse drang vra dat sy haar gemoed van ’n kant af opruim. Wie verwag ’n weermagman van drie en twintig, om presies te wees adjudant-offisier Hendrik du Plooy, een van sy bataljon se bestes, gaan sy meisie op die paal sit? Visgraat behoort te geweet het wat jy kry van blindelings skiet. Met hul pa se Cessna in die mielieland neergestort die aand voor haar matriekafskeid. Lê ylend in die waaksaal, die ouers om sy bed geskaar, terwyl sy die aand met verlepte Barend en ’n stywe haredos moet deurwroeg. Klokslag gereed vir drama.

“Ma jok,” wurg sy.

“Johanna? Hierdie verbrande plaaslyn.”

Jo gooi in die oop telefoonboek op, by die letter S. Sy besef die situasie is benard. Hendrik se krisis is van familiebelang, indien nie van landsbelang nie. Die Du Plooys se eer is op die spel. Haar pa sal die manlike linie tot orde moet roep. Oor haar eie swanger staat sal sy moet swyg. Sy sukkel om op die werklikheid te fokus. Wat gaan ’n ongehude studentemeisie met ’n kind doen?

Lara kom haar soek. “Ek is seker jy verwag. Jy sal nie so kan aanhou rook nie, Jo. Dis sleg vir ’n baba.”

Tot haar ergernis gaan Jo aan die tjank. ’n Plaasmeisie weet, jy hoef dit nie uit te spel nie. As sy ’n keuse gehad het, sou sy ’n seun verkies. Nicolas Antoine de Cessart die Vierde. Niks van die dogtertjie-kak, die gemoedskommelings, die emosionele uitbarstings nie.

Lara borduur voort. “Jy weet, my ma het net so aangegaan toe sy swanger was met my kleinsus. Die hele dag op die bed gelê. As sy die keer opstaan, was dit om my pa se lewe te vergal. Pa het ons vir drie maande eiers en witbrood gevoer terwyl Ma haar depressie lê en uitsnik het. Almal was galgeel en verstop, ek moes iets doen. Toe leer ek kook.”

Jo sluk. “Roep vir Lettie, seblief. Ek het gesien sy vee die vierkant. Hoor of sy sal kom skoonmaak. Sê ek is jammer, ek wil ’n voedoe-pop by haar koop. Toe nou, man, ek gaan weer kots as ek daar moet ingaan.”

“Ek ken van kots opvee,” sê die optimis.

“Sterkte. Dis kots van ’n Klein Japies-pastei.”

“Jy moet wegbly van daai kafeetjie. Hulle kos is te vetterig vir jou delikate toestand.”

Op ’n manier het sy haar in die lakens vasgedraai. Sy lê in iets warms en taai. Die neongroen wysers van die wekker op die bedkassie staan op tien oor twee. Jo sit regop, voel rond na die bedlamp. Op die wit skakelaar bly ’n bebloede duimafdruk agter. Die eerste gedagte wat by haar opkom, is hoe sy die bloed uit die groen-en-wit strepe van die koshuismatras gaan kry. Goddank, Sonja Kamermaat is op ’n koorkamp.

Sy draai die badhanddoek om haar lyf, skuifel die gang af om die huishoudkundestudent met enkelkamerregte te gaan opklop.

Lara neem beheer oor van haar skede: “Ek gaan die huismoeder haal, hou vas.”

“Not a hell. Oor ’n paar dae is ek agtien. Ek sal self regkom. Gaan bel vir Kerneels Pieterse, die lang een wat medies swot. Kamermaat se nuutste spyker.”

“Jy moet by ’n regte dokter uitkom,” protesteer Lara.

“Die universiteit sal my skors, asseblief. Bel vir Kerneels. Hy kan my by die waskamer se venster kry. Dè, hier is die nommer. Ek weet hy sal kom, maak gou.”

Jo skuifel terug kamer toe, die handdoek tussen haar bene vasgeknyp. “Ek gaan aantrek!” roep sy agterna.

Oor die geheime reddingspoging raak sy sag met Lara en met Kerneels. Minder bestand teen hulle aansprake op haar tyd.

Kerneels Pieterse het sy oog op haar. Dit weet sy met die instink van ’n uitverkorene.

Jo se vingers is rou gevryf aan die bloedkol in die matras. Sy moet van die gevlekte handdoek ontslae raak.

Lara bring ’n leë Saint Germain-skoendoos wat sy in ’n pakkamer opgespoor het.

“Moenie so aanhou nie, man. Die matrones sal dink jy het gelek, van jou period.”

“Los my.”

Jo sit die slangvelstewels eenkant, haal die horlosie en die bottel parfuum uit die kas. Sy knip ’n stuk van die handdoek af en pak dit saam met die geskenkbordjie met die drie blou skepe daarop in die skoendoos. Die res van die handdoek draai sy in ’n plastieksak toe en gaan gooi dit in die koshuis se grootmaatvullishouer.

Haar eie diep betreurde, liefs vergete tydkapsule los sy op die bed. Sy voel na drama, maar dis als hormone, beweer Kerneels Pieterse.

Die aand ná studietyd gaan haal sy vir Lara. Lara sit agter op die motorfiets, knyp die skoendoos onder haar arm vas. Jo koers sportterrein toe. Vroeër die dag het sy dit in haar kop gekry om die skoendoos in ’n oopte onder die sterre te gaan begrawe. ’n Wydingsdiens vir Nicolas Antoine de Cessart die Vierde, het sy haar verbeel.

“Wil jy hê ons moet bid?” vra Lara in die afklim.

Jo besef sy het die troos van gebed nodig, maar sy is nie seker of jy vir ’n horlosie en ’n bottel parfuum kan bid nie. Ook nie vir ’n stuk handdoek of ’n porseleinbordjie nie. Sy dolwe die klam grassooie om met die knipmes wat aan haar groottante Christine behoort het. Skep die los grond bakhand uit, sit die skoendoos in die uitgegraafde holte in die grond.

Lara plaas die sooie terug, stamp die gras met die hakke van haar stewels vas. Van die groter kluite en klonte druk hulle fyn en strooi dit bo-oor.

“Kom. Nou-nou skraap die kampuspolisie ons,” mor Lara.

“Dis nie of ons ’n donderse bom plant nie.”

Op pad terug koshuis toe dwing ’n groot motorfiets met ’n stroboskopiese blou lig hulle van die pad af.

“En waarheen is julle so skelm op pad?” wil die middeljarige verkeerskonstabel weet wat stywerig van die motorfiets afklim, sy valhelm verwyder en met sy boeteboekie onder die arm aangestryk kom.

Lara klim wetsgehoorsaam af. Sy hou haar romp hoog teen haar bobene opgetrek. Bok vir sonde.

Die konstabel skryf die oortreding puntenerig neer. Van uiterste konsentrasie op die opgelegde taak verskyn daar ’n spoegdruppel in die een mondhoek. Sy tong vee daaroor. Jo deins terug van ’n sweetwalm.

“Moet jy so kwaai wees?” flankeer Lara.

“Jy weet jy mag nie lift sonder ’n helmet nie, Juffrou,” sê die konstabel. Sy oë is bedrywig oor Lara se bene. “En jou bande is glad. Jy beter reguit koshuis toe ry, of ek rapporteer julle,” vir Jo.

Hy oorhandig die boetekaartjie: Pasasier dra nie ’n hell mit nie. R10.

“Ek gaan hom iets gee om oor te kwyl,” mompel Lara met die opklimslag. Sy gryp die kaartjie by Jo, druk dit by haar bra in en trek haar romp verder teen haar dye op.

“Jy gaan help betaal!” skree Jo met die wegtrek.

Die blou lig volg hulle tot voor die koshuis.

“Met polisiebegeleiding. How fitting,” sê Lara.

Sy kan nie dink met Lara om haar nie. Wil op haar eie gaan tjank.

“Fokken klim net af, dankie.”

“Jy moenie jou ma laat worry nie,” maan Lettie met teetyd die volgende oggend. Die koshuis se hoofskoonmaakster gaan op die flower power-matjie voor die bed sit. Sukkel die slangvelstewels met die hoë platformhakke aan, rits dit toe, staan wankelrig op. “Jy moet skryf jy het my die boots gegee. Hulle sal dink ek het dit gesteel,” kweel die swart watervoël wat op uitheemse stelte die gang af hinkepink.

Jo klem die voedoe-pop met die dikgestopte voëlsaadlyf wat sy vir twee rand by Lettie gekoop het in haar hand vas. Sy stap kas toe, haal ’n speld uit die naaldwerkmandjie wat haar ma vir haar ingepak het. Kobus de Lange se voedoe-pop kry ’n steek in die skrotum.

“Sterk wees, girl,” sê Kerneels Pieterse wat nog pille aandra, meer kom oë wys, wat Kamermaat afsê en Jo een aand ná klas kom vra om met hom uit te gaan. Sy bly hom ’n antwoord skuldig.

“Ek sal wag dat jy tot jou sinne kom,” sê hy.

Snags droom Jo sy ry op ’n uitgekerfde houtperd in ’n vinnig tollende mallemeule. Sy klem ’n baba in haar arms vas. Die baba wat soos ’n voedoe-poppie lyk, het ’n skelrooi mond. Antoine staan langs die ronde platform, sy arms na die kind toe uitgestrek.

Jo dink nie aan ’n ander moontlikheid nie. Skutter Kobus de Lange se voëlsaadpop kry nog ’n speld in die lewer. Wanneer sy aan die verkragter dink, is sy bly sy is ontslae van die kind.

Daar is ’n soort behoudende krag in haar onderwysstudie.

Anna is verheug om die baas van ’n nuwe linnekas te word. Sy help troureëlings tref en gordyne hang, plan maak.

In ’n brief wat Jo van Allemansfontein af kry, skryf haar ma: Ai, dié Hendrik het darem sulke goeie smaak. Hy het vir Bokkie die mooiste oranje sitkamerstel gekoop. Hy kla net sy voer hom vet. Ek hekel en maak trousseau bymekaar. Jy weet mos ta’ Riana is hopeloos met naaiwerk. Arme Bokkie. Ons sien verskriklik uit na die baba se koms. Ma hoop jy leer hard, my kind.

Jo besluit om nie haar kortstondige tienerswangerskap te boekstaaf nie. Dit is nie leesstof vir ’n dagboek nie. Sonja Kamermaat is die hel in oor haar kêrel groener weivelde opsoek. Sy is nuuskierig en agterdogtig. Krap maklik in ’n ander se goed.

Sal die Franse myningenieur haar onthou wanneer hy weer eendag in Suid-Afrika is? Sy dink al hoe minder aan hom en aan Nicolas. Van dink aan die kind kan daar net trane kom, en sy moet leer.

Haar onderwysbeurs betaal uit. Sy koop nuwe motorfietsbande en die digteres Jeanne Goosen se digbundel Orrelpunte.

Muriel Weber is uit die koshuis geskors omdat sy iets met ’n kommunistiese kunstenaar aangevang het, hoor Jo in die koshuisgange.

Dit word ’n roetine. Ná haar laaste klas op ’n Woensdagmiddag kry sy koers na die kunstenaar se huis. Sy wil ry, sy wil bly. Duisternis, bron van onheil en kwaad, prewel sy in die koelte van die valsdoring naby die loervenster, soos dit in die katkisasieklas by haar ingeprent is.

Wanneer dit skemer raak en daar beweging in die ateljee kom, vlug sy.

Verlorenkop

Подняться наверх