Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 16

Оглавление

9

Pretoria, 1978

Terug in Huis Witklawer vir haar tweedejaarstudie dink Jo ’n week lank aan wegloop. Met die ondervinding wat sy by die Laeveld-motel opgedoen het, kan sy by ’n klein hotel in Johannesburg werk kry. Die hoogswanger een wat op die punt staan om geboorte te skenk sê daar is werk vir jong ontvangsdames in Johannesburg. Jy moet praat, Jo. Ons sal vir jou ’n werk kry. Of sy kan haar eie ryskool begin, slaan haar kop ’n ander rigting in.

Isak wil die perde oorneem vir die wildboerdery. “Jou perde staan. Hulle kry nie genoeg oefening nie, Johanna.”

“Ek sal plan maak, Pa.”

Sy sal eendag net nie daar wees nie wanneer hulle haar kom soek. In die pedagogiese ruimte van ’n voorstedelike klaskamer gaan sy dit nie maak nie. God, sy gaan dit nie maak nie.

Op ’n Sondagmiddag pak Jo haar tas en loop na Kerneels se woonstel toe.

“Ek kom by jou bly.”

Sy kon die trek uit die koshuis amper ’n maand lank vir haar ma wegsteek. Tot haar pa haar een middag voor die woonstelblok inwag, songebrande arms oor die bors gevou. Patrysveer in die hoed, vingers tikkend teen die plaasbakkie se dak.

“Ma het biltong en beskuit gestuur, en die eikehoutkis vir jou boeke.”

“Was Pa by die koshuis?”

“Die juffie by die voordeur sê jy het by jou kêrel ingetrek,” ergerlik. “Waar is die mannetjie?”

“Sy pa-hulle is boere, Pa. Hy swot medies en hy praat van verloof raak.”

“Mens leef nie in sonde nie, Johanna. Wat gaan jou ma sê?”

“Ons spaar geld, Pa.”

Dit neem Kerneels en Isak nie lank om mekaar deur te kyk nie.

“Jy moet haar kortvat, sy loop met haar kop op ’n ander plek,” sê haar pa die oggend ná ontbyt voor hy in sy bakkie klim en die lang pad noorde toe aanpak om die toedrag van sake in ’n beheerste stem aan haar ma te gaan oordra.

Jo kry haar politieke bewussyn in die Afrikaansklas op Tukkies, deur die protesliteratuur van die sewentigers, in. Om presies te wees is dit ’n gedig van Mongane Wally Serote wat haar beetkry en haar nie weer laat los nie. It is a dry white season / dark leaves don’t last / their brief lives dry out. André P. Brink haal die gedig in sy roman ’n Droë wit seisoen aan. Sy voel meestal soos ’n droë blaar in ’n swartgebrande seisoen. Sy diagnoseer haar afwyking as ’n politieke afwyking.

Die SAUK bly ’n seker werktuig van die regering om ’n jongeling se pad mee suiwer te hou, om ’n ontvanklike gemoed reg te plooi, om deur onkunde te verlam en te indoktrineer. Jo is ’n chroniese toeskouer, een wat aan ’n partyafwyking ly, deel van ’n skisofrenie, ’n epidemie wat aangroei tot ’n sindroom onder diegene wat kollektief in die opgeruide Afrikanerlaer ingejaag word. Sy bly ’n swak ingeligte waarnemer, verskrik deur wit se wandade gepleeg teen swart, gewalg deur die geweld wat wit landgenote mekaar aandoen, geteister deur die wandade van swart teenoor swart. Man teenoor vrou, vrou teenoor vrou.

Vir haar is die enigste oorkoepelende waarheid dat SuidAfrikaners mekaar nog gaan uitroei.

Die woonstel lyk ’n ruk na ’n reisagentskap. Sy laat Kerneels glo die brosjures en plakkate is materiaal vir ’n geografieopdrag. Hy is heeltyd moeg, die mediese kursus hel. Sy binnewêreld raak vir haar duister. Hulle word vreemdes vir mekaar, net om die volgende dag weer mekaar se stiltes te gaan opsoek.

Jo hou aan soek na ’n eindbestemming.

Aan Kerneels se praat kan sy hoor hy mis die ooptes van die Karoo. Sy probeer die pratery oor eersgeboortereg verstaan, sy is nie grondgebonde nie. Wat sou Kerneels en sy broer saam op die godverlate Karooplaas doen? Heimlik is sy verlig. Vanweë Kerneels se ongelukkige geboorteorde sal sy hom makliker uit Suid-Afrika wegkry.

Haar kop het nie trek vir Europa toe nie. Die idee daarvan is vir haar te beklemmend. Haar oeroupagrootjie en sy Awendlandse verlede is vir haar ewe onaantreklik as Edith Raidt se Afrikaans- voorgeskrewe boek en haar Germaanse verlede. Sy en Kerneels het ruimte nodig, en water. Koue vir hom. Sy laat alles om haar Amerikaanse ouma wentel. In der waarheid om ouma Mol se Amerikaanse man Stanley Moffett, die welgestelde. Sy skroom nie om haar familiekonneksies te gebruik nie.

Algaande kry sy haar planne agtermekaar. Toe Kerneels een aand van die klas af kom, is Jo gereed met haar besluit. Teen die sitkamermuur pryk ’n plakkaat van rooi en oranje herfsbome. Lara het die New Englandse kookkuns bestudeer. Hulle moet eet wat uit daardie wêreld kom wanneer sy hom vertel. Jo het ’n toespraak voorberei.

In Vermont word die jaar ook ryp in goue blare, soos die ou digter uit jou geweste skryf. Ek weet jy hou nie juis van die Amerikaners nie, daarom het ek gesoek na ’n plek aan die verste grens, die verste punt noordoos, op die grens tussen Kanada en New England. In die dorp Colchester is daar groen berge en ’n diep, helder meer. Die mense sit soos verlate siele op die bevolkingskaart uitgestippel. In die Champlain-meer, sê die mense, leef daar ’n monster – die laaste van die reuseslangkopakkedisse – wat onverwags uit die misterieuse dieptes verrys en plesiosouriërjagters al eeue lank ontglip.

Sy sit Lara aan om peperbiefstuk en kaassous met gebakte aartappels en esdoringstroop te maak, om Kerneels finaal te oortuig. Kerneels het ’n swak vir gebakte aartappels. Vir nagereg lees Jo vir hom die deel oor die Universiteit van Vermont se mediese skool in die nabygeleë stad Burlington voor. Daaroor het sy weke lank in die mediese biblioteek navorsing gedoen.

Vir eers sê sy niks van die perde nie. Met die perde van Colchester sal sy wag. Behalwe vir die adres van die perdeplaas wat sy deur stiefoupa Stanley Moffett kon naspeur, moet sy nog uitwerk presies waar sy al die inligting vandaan gaan haal. As sy iets van haar perde kan saamvat, sal sy tevrede wees.

Kerneels is gewillig om te gaan, maar hy hou by sy wens om in Suid-Afrika begrawe te word. “Lara kan die toebroodjies bedien,” is al wat hy verder oor die onderwerp van sy gebeente te sê het.

“Ek is mal oor jou,” fluister sy.

“Trou dan met my, terwyl jy so mal is. Maar jy sal moet wag, dis nog lank voor ek klaar geswot het. Magnus Malan soek sy pond vleis. Vir die minister van verdediging sê jy nie nee nie.”

Kerneels Pieterse maak onversteurd gereed vir Grensdiens. Niemand kan hom vir ’n dienspligontduiker uitmaak nie.

Die ongeduld met sy studie, die weermagkampe, die navorsing, die aanhoudende gewag, beklem Jo. Die pratery oor alzheimer. Die vrees en onrus in haar. Dit hou aan broei en stoom in haar kop. Sy grappies sink skaars in.

“Knock, knock.”

“Who’s there?”

“Alzheimer.”

“Alzheimer who?”

“Knock, knock.”

Kerneels se ouer broer Dewald stem in dat hulle op die Pieterses se familieplaas naby Skurweberg begrawe kan word. Dit klink nie na soetkoek om in Dewald Pieterse se geselskap op die hiernamaals te lê en wag nie, maar die sterre vergoed vir als, sê Kerneels. Jo stem in, om vredeswil.

Verlorenkop

Подняться наверх