Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 8

Оглавление

1

Die Grafton-perdeplaas, Colchester, Chittenden-distrik, VT (die Amerikaanse deelstaat Vermont), 2011

In die witgeverfde houthuis waarin Jo leef, in die uitgestrekte vertrekke van die krakende kasarm, omstoep uit elke windrigting, is die afgeleefde labrador se rasperasem die enigste geluid.

“Wat gaan Ma met Rommel doen?”

Jo stut haar elmboë op die kombuistafel en druk met die koel, dik vleis van haar handpalms teen haar oogbanke, asof sy die gedagte aan die persoon wat oorkant haar sit, wil afweer.

“Los die hond, Christi. Hy is happy.”

Die labrador bevestig sy gemoedstoestand met ’n kwispelstert. Jo skuif in die regop stoel terug. Sy vou haar hande in haar skoot.

Die twee vroue sit by die geelhouttafel en redeneer in die gedempte stemme van mense wat versigtig is om beheer te verloor. Jo laat haar vingers onder die tafelblad ingly, bevoel die groewe wat die miere daarin gevreet het toe die tafel, in beesvel toegedraai, ’n geheim vir die Engelse was.

“Jy lyk moeg, Ma. Wat doen jy heeldag op jou eie?” dwing Christi haar gedagtes terug.

Jo knaag aan haar duimnael. “Ek kan nie oor jou pa se dood kom nie. Ek wil ’n gat in die grond grawe en daarin kruip.”

“Hoe lank nog? Dis al amper vier jaar, Ma. Die plaas gaan agteruit. Hoeveel perde het jy op stal?”

“Net die terapieperde.”

“Hoe leef jy? Met geld wat jy waar kry?”

“Van jou pa se aftreegeld, as jy moet weet.”

Dit kom by Jo op dat Christi na haar kyk of sy ’n las geword het. ’n Onderwerp van kommer. Het haar lewe tot ’n item op ’n ander se doenlys verskraal?

“Wat het van die skildery in die studeerkamer geword, Ma?”

“Vir wat ondervra jy my soos ’n ou moeder? My geldsake is in orde. Die weduwee Pieterse leef hier. So is dit en klaar.” Jo knaag aan die ander duimnael. “Hoe vorder jou studio?”

“Ma dwaal af. Michael wil al hoe lank die plaas koop. Binnekort is jy so arm soos ’n luis op ’n kam.”

Jo soek in haar baadjiesak rond na ’n sigaret. ’n Ou lus wat onder druk vererger. “Michael Moffett is soos sy pa. Stiefoupa Stanley wou ook als koop wat sy oë begeer het. Eenkeer tot ’n warmwaterbron in Noord-Natal, om ouma Molly te beïndruk.”

“Daar gaan Ma weer.”

“Het jy iemand gekry om vir jou planne te teken?”

“Ek het ’n groene gekry, Ma.”

“’n Groen vioolstudio? Sal jy dit moet verf?”

“Nee, Ma. ’n Groenargitek. ’n Omgewingsbewuste.”

“O, maar is hy goed?”

Die jong vrou buk af en streel oor die labrador se grysgeworde kop. “Hou op my vrae omseil, Ma. Hoekom gaan kuier jy nie ’n ruk in Suid-Afrika nie? Dalk kry jy daar helderheid.”

Jo verskuif in die stoel. “Los my. Ek wag. Pa het gesê ek kan die tyd afwag.”

“Nee, dis omdat jy nie vir Boetie hier wil los nie,” sê Christi.

“Wat sal jy weet?”

“Ek weet, Ma. Jy dink ek het jou nog nie uitgefigure nie, maar enige mens kan sien jy weet nie wat om te doen nie.” Christi staan op, omklem die tafelblad, leun vooroor. Soos ’n kat wat regmaak om sy prooi te bespring: “Jy wil ook nie jou lover hier los nie. Jy kan nie met almal doen wat jy met Pa gedoen het nie, Ma. Nie almal loop met oogklappe rond nie.”

Jo staan met moeite op, die stoelpote kras oor die vloer van oregon. Daar is geen gewaarwording van die aksie wat volg nie. Sy het nie beheer oor die klap wat Christi in die gesig tref nie. Later kan sy nie onthou hoe dit gebeur het nie.

Die oë wat uitdrukkingloos terugkyk, die weiering om die merk aan te raak, die opstaan, die omdraai en die trappe een vir een na haar ou kamer in die kasarm uitklim: dit is Christi se verweer.

Die labrador steun orent, trek sy ore plat, gaan sugtend onder die tafel lê. Jo wag tot haar hartklop bedaar voor sy oorstap om die kombuisvenster op ’n skrefie te gaan oopmaak. Sy werk die skuldige hand onder haar oksel in, staar belangeloos na buite.

Misslierte omgewe die perde, ’n surrealistiese beeld waarin die koppe en lywe los van die bene dryf.

Die grootste illusie van menswees is dat jy die argitek van jou eie lot kan wees. Die middaglig het verander terwyl herinneringe deur Jo se kop gemaal het. Sy word bewus van die rekenaarskerm wat blou in die skemer flikker. Sou ou koning Harald Blåtand van Denemarke se bloubessie-bevlekte tande ook so in die volmaan geglinster het? Koning Harald, die ou na wie Bluetoothtegnologie vernoem is. Sy het die beuselagtigheid op ’n keer raakgegoogle toe sy haar perderubriek vir die Burlington Post gesit en tik het.

Kerneels se dood het ’n troosteloosheid aan die gang van die dae op Grafton gebring, ’n bedruktheid wat nie deur susmiddels verlig kan word nie. Jo ignoreer die stapels posstukke uit Suid-Afrika wat op die skryfburo lê en gaan op die trousseaukis van eikehout sit. Wieg heen en weer. Wat het haar besiel om Christi te klap?

Sy sleep die trap op: “Ek is bitter jammer, Chrissi,” by die toe kamerdeur.

Ná ’n rukkie gaan die deur oop.

“Leef Ma, of is Ma dood? Hoeveel pille drink jy presies?” Terug op die aanval.

Daar is ’n stilte waarin sy Christi se kwetsende blik verduur, die aantyging van die opgehewe merk.

Jo trek die uitgerekte truimoue oor haar hande, bondel dit in haar vuiste. “Vergewe my asseblief, Chrissi. Ek is baie moeg. Ons kan later praat.”

Christi ignoreer die verskoning. “Jy sal ’n besluit moet neem oor die perde, Ma. Die plaas verwaarloos.”

“Dink jy ek besef dit nie? Aragon word vyf en twintig. Ek weet. Dis tyd om sy halter af te haal. Met die ander perde sal ek nog plan maak.”

“Gaan Ma nou Suid-Afrika toe of nie?”

“Ek weet wragtig nie. Dis nie so eenvoudig soos klere in ’n tas gooi nie.” Wat sal dit help om te beduie die lewe is haar deesdae ’n paar treë vooruit.

“Jy steek jou kop in die sand, Ma. Soos altyd. Die probleme hier of in Suid-Afrika gaan nie verdwyn omdat jy dit ignoreer nie.”

Jo gee Christi ’n laaste, verskonende kyk. “Ek moet stalle toe.”

“Jaag Ma my weg?”

Teen die tyd dat Jo die perde by die stalblok ingelei het, komberse vervang het, ekstra voer en water gegee het, die verwarmers aangeskakel het, bibberend ingekom het om vir haar en Christi koffie te maak, kom sy agter haar dogter het na haar woonstel in Montpelier vertrek.

Ons sal mekaar nie nou verstaan nie, Chrissi. Elkeen is nog te behep met sy eie vrae, skryf sy laataand in haar dagboek. Jou ma is ’n futlose siel in ’n verlate huis wat in die winterwind ronddryf en na ’n onbereikbare se liggaamshitte verlang. Van afsondering het ek ’n semihermiet geword. God, stuur vir my ’n teken, asseblief.

Sy hoor die labrador opstaan, na asem hyg. Ontspan toe hy rustig raak, in sy mandjie gaan lê.

Voor dagbreek skrik sy uit ’n slegte droom wakker, reik oor die kant van die bed, sleep die mandjie nader. In die oggendskemer voel sy na die slapende liggaam, registreer hoe maer hy geword het.

Die warm tong soek nie soos altyd na haar hand nie.

Vlak in die woud langs die huis val haar stewels in die poeiersneeu vas. Met die loodvrag in haar arms struikel sy, vind haar balans met moeite terug. Sneeu stuif van die boomtoppe af grond toe. Met die opkyk gewaar Jo die swart stippels van breëvlerkvalke wat die hoogtes inskiet, suide toe vertrek. Vlerke gevul met die grys winterwind.

Na verwagting sal ligte storms oor Plattsburgh en Champlain met arktiese lugmassa uit Ontario, Kanada, saamsmelt en teen môreaand stormsterk wind en hoë sneeuval bring, het die weerburo vroegoggend berig. Sy moet aanstoot.

Sy begrawe Rommel in die gat wat sy dae tevore in die bevrore grond vir hom gegrawe het. Naby Christi se speelplek, waar hy hase gejaag het toe hy jonk was. Nie dat Rommel ooit ’n haas sou doodbyt nie.

God het vir haar ’n pynlike teken gestuur, seerder as wat sy kan verduur. Sy knoop haar jas los, sak op haar knieë in die sneeu neer, haar gesig in die deurnat handskoene. Stry geluidloos, tot sy nie meer kan nie, tot haar keel brand en haar bevrore hande pyn: teen die leegheid wat sy hier moet aflê en waarskynlik aan die ander kant sal moet opneem.

In die kombuis gaan sy in ’n stoel langs die houtstofie sit, sprei haar hande voor haar op die tafelblad oop. Die houtgrein soos blindeskrif onder haar ontdooiende vingerpunte. As daar maar ’n antwoord te lees was van die blad van haar kombuistafel af.

Sy moet ’n besluit neem, maar haar gedagtes maal om en om, terug na ’n dag toe sy en die kinders hier in die kombuis wegkruipertjie gespeel het en sy en Benjamin onder die tafel beland het. Jo het met haar vingernael grond van Verlorenkoppe uit die groewe gekrap. Herinneringe het gemaak dat sy nie kon roer nie.

Klein Christi het hulle gou opgespoor: “Ek sien julle. Aispaai! Onder die tafel!” Die kleuterdogtertjie het onder die tafel in gebuk, haar ma en haar boetie geraak, gehardloop om hulle te gaan blok.

“Een, twee, drie, blok vir Boetie. Een, twee, drie, blok vir Mamma!”

“Dis jou skuld, Mamma. Jy is aan,” het Benjamin geraas.

Jo se groottante Christine het haar kombuistafel die biegtafel genoem. Geslagte Retiefs is tot verdoemende keuses en geheime gedwing om die einste tafel wat met die Tweede Vryheidsoorlog tussen Engeland en die Boererepublieke in ’n grot op die familieplaas in die destydse Noord-Natal versteek was.

Sedertdien het ta’ Christine se tafel oseane oorkruis om vir ’n nuwe geslag biegtelinge tot getuie te wees.

Verlorenkop

Подняться наверх