Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 15

Оглавление

8

Laeveld, 1977

Geld is skaars. In die neerdrukkende lang Desembervakansie van haar eerste jaar gaan Jo by die Laeveld-motel se ontvangstoonbank werk.

“Soos jy kan sien, is daar ’n standaardvorm om in te vul, in triplikaat. Die oorspronklike, boonste vorm gee jy vir die kliënt. Die tweede afskrif sit jy vir die rekenmeester in die rooi lêer, en die ander een bly hier in die boek,” verduidelik die hoogswanger ontvangsdame wat vir Jo soos ’n oorgroot stokkielekker in haar helderkleurige tentrok lyk. Jo knik om te wys sy verstaan die stomvervelende taak, terwyl haar linkeroog, die een wat gewoond is om sy eie kykpad te volg, na die blou lug uitreik.

Kerneels is vir die vakansie na sy ouers se plaas in die Roggeveld. Die dramakundestudente sê volgens die vroueprofessor met die driftige stem kan ’n mens die “blom-groot” sterre daar uit die hemel pluk. Jo dink die sterre op Allemansfontein is ewe helder, maar niemand maak so ’n ophef daarvan nie.

Dit is bedompig in die ontvangsarea. Die lugversorger dreun net op die laagste stelling. Sy moet die fout in die klagteboek aanteken sodat die faktotum die “apparaat” kan kom regmaak. Die telefoon se gelui onderbreek die sleur.

“Goeiemiddag, Lowveld Motel, hoe kan ons u van diens wees?” Jo weet nie waarom die Laeveld-motel se naam op Engels uitgespreek moet word nie. Niemand hierlangs kan die taal ordentlik praat nie. Die swanger een wat oor die ontvangstoonbank waak, verdwyn met ’n kopknik op ete.

“Hoe gaan dit?” vra Kerneels.

Jo val hom in die rede. “Ek moet hier wegkom.”

“Wegkom van waar?”

“Van Suid-Afrika, van die manier hoe die mense dink. My ma-hulle se manier van dink. Die selftevredenheid van die hele matriargale linie. Die hele spul opgefokte nasate van die Retiefs. Die gesanik oor Hendrik en Bokkie se koliekbaba, die swartes wat skelmer en luier word, die reën wat wegbly. Die onheil van die skynheiligheid, dit maak my siek. Hoor jy my?”

Ná ’n kort stilte, waarin sy kon sweer sy hoor die ratjies in Kerneels se kop oorskakel: “Ja, dalk moet ons plan maak,” sê hy. “Gaan sien jy eers die dokter, Jo. Jy hou aan uitstel. Hy mag niks vir jou ma-hulle sê nie.”

Sy vererg haar. Wat sal hy weet van die het-jy-gehoor-hulle-sê-kultuur van haar snikhete dorpie?

“Los dit nou, ek het mos gesê ek sal ginekoloog toe gaan in die stad. Hulle kuier bloedskandelik naby op hierdie dorp. Dit gaan by my ma uitkom. Ek sluk die bleddie pille.”

“Goed, maar jy bel my dadelik. Ek moet waai, my pa soek hulp by die voerkraal. Hy raak vergeetagtig,” sê Kerneels.

Sy skuif regop in die stoel. Kerneels se stemtoon pla haar.

“Jy is bekommerd.”

“Ek vermoed dis alzheimer.”

Só het dit begin met Oumagroot. Op ’n dag kon Delores Retief nie meer Kaptein se naam onthou nie, het haar ma haar vertel. Wie se bevlooide brak is dit die? wou Oumagroot van haar lieflingskaaphond weet.

My naam is Jo du Plooy. Ek is nie ’n alzheimerlyer nie, ek het nie die ystervuis nie. Duimpie se maat en langeraat is eweredig en soepel, krabbel sy in potlood in die besprekingsboek.

“Ek verlang na jou,” sê sy vir Kerneels.

Die mediese student het onder haar vel ingekruip sonder dat sy dit agtergekom het.

Smiddags om drie gaan Jo inspeksie doen. Dan kom Giuseppi die kelner haar aflos. Sy loop by al die kamers langs. Kyk met ’n vrou se oë. Hang die spieëls haaks? Tik. Is die asbakkies skoon? Tik. Het ’n dronk ou in die blaargleuwe van die skoonmase-tong gepie? Tik. Werk die donderse elektriese ketel? Tik. Is die bedvere deurgery? Tik, tik, tik. Tik als op die lysie af.

Jo moet haarself tot edele arbeid aanspoor. Hard werk van vroeg tot laat. Só vergeet jy die glimp van die kunsstudent se lyf. Sy tel die minute af tot wanneer sy kan gaan eet. Die motelkos is nie te bad nie.

Op haar af Sondae vat Jo en Ysterberg koers veldin. Sy ry myle en myle. Sy beraam planne, droom terwyl die perd wei. Wanneer die son hoog op die middaguur staan, trek sy die dier op ’n galop dam toe. Sy saal af, lei hom koud, laat hom in die sand rondrol.

Die son brand ongenadig op Allemansfontein neer. Op sulke dae maak die duiwel huis skoon, sê haar pa. Jo stroop haar klere af en lawe haar in die water, gaan in die skadu van ’n tambotiehout lê. Droom.

Sy boer by die perde. Ry, oefen, spring, roskam, vryf spiere. Help die eienaar van die ryskool, maak stalle skoon, vleg maanhare, borsel sterte, versorg hoewe, saals en tome, doen ’n uithourit, skou, ontwerp ’n arena en skuur vir haar perdeplaas.

Verlorenkop

Подняться наверх