Читать книгу Verlorenkop - Celesté Fritze - Страница 9

Оглавление

2

Noord-Natal, 1984

Christine Retief het haar sterwensdag beplan. Verlorenkoppe se plaasbestuurder Jabu Ndlovu was op sy pos. Die laaste hond het afgesterf, die grysbaardkat het ’n parallelle universum ingesluip. Die nagmaalgordyne was skoon en gestryk, die vrieskas volgepak met beesagterkwart, ’n halwe lam. Biltong en droëwors klam vir die eetslag, die whiskyfles gevul met J&B. Die koekblikke in die spens tot oorlopens toe met konfyttertjies, vlakoekies, melktertdoppe. Daar was drie sakke mieliemeel in die ou safe op die agterstoep.

Dit was asof Christine selfs die weer beplan het: mooiweer, maar deksels warm op die Novemberdag.

Sy verlang nie ’n kerkdiens nie, nee, dankie, lui die opdragbrief wat Christine aan haar prokureur gedikteer het. Saam met die kerk loop sy lankal nie meer nie. Vandat sy die kerk gelos het, het sy begin verstaan wat “verlossing van die bose” beteken. Die kerk bied skuiling aan eenvoudiges van gees en waar mense saambondel, is daar ’n gesamentlike gevoel van meerderwaardigheid en geregtigheid, aldus Christine Retief.

Die “volk”, al die werkers van Verlorenkoppe, moet partytjie hou by die rivier. Jo en Anna du Plooy moet die gasvroue wees, namens haar, asseblief. Uit dankbaarheid. Deur hard te werk het sy vooruitgekom. Sy het ’n goeie lewe gehad, maar die Vader weet sy wat Christine is, sou dit nie alleen kon doen nie. Hulle moet die afskeidsaffêre op ’n Saterdagmiddag hou. Klein-Knol Retief, uit haar broer se tweede huwelik, en Jabu Ndlovu kon haar as later op ’n gepaste afstand van die piekniekplek af by die rivier uitstrooi.

Sorg dat my as nie in iemand se oë waai nie, sluit Christine haar skrywe af.

Toe die voorbereidings afgehandel en haar lewe volledig beskryf is, het Christine Retief die lewendes aan hulle take oorgelaat en op die Groot Avontuur, soos sy die dood beskou het, vertrek.

Pretoria, 1984

Op ’n Maandag om middernag, pas ná bladsy een gesak het, lui die subs se foon in die nagkantoor van Die Hoopstad. Met die groetslag kan Jo hoor haar ma se keel is dik van trane. Sy skrik. Sê nou? Die boodskap wat jy die meeste vrees: ’n geliefde se stem op ’n onmenslike tyd, in die nanag. Siekte of dood. Maar wie?

“Dis ta’ Christine. Sy is in haar slaap weg. Sy het geglimlag en dankie gesê vir die pynpil. Ou dokter Stokes het uitgekom huis toe. Dit was haar hart. ’n Diep sug, dis al wat ek gehoor het op die divan langs haar bed. Dood sonder ’n verdere woord. Ek is jammer, my kind. Sy was jou vertroueling.”

Jo laat haar kop sak. “Ek is jammer, Mamma. Sy was soos jou ma.”

“Jy moet kom help, Johanna. Die werkers vra vir ’n nagwaak.”

Later tyd vir huil, vir bid. Eers reëlings tref, bak, slag, rondbel: haar ma se manier van roubeklag.

“Natuurlik, ek sal nog vanoggend probeer ry. Moet dinge gou met Kerneels reël. Hy sal nie kan afkry vir die begrafnis nie. Sy navorsing en noodgevallewerk hou hom byna pal by die hospitaal.”

“Dis jammer, my kind.”

“Het Ma geweet? Ma kuier mos nie oor vendusietyd nie.”

“Ek het gedroom. Toe sê ek vir jou pa ek moet kom.”

Jo krabbel opdragte vir die dagpersoneel neer.

“Ek sien Ma teen laatmiddag.”

“Ry veilig, my kind.”

Jo bel vir Kerneels by die akademiese hospitaal HF Verwoerd in Gezina. Kry hom nie in die hande nie.

Sy was te lanklaas in die huis van groottante Christine Retief en nou is dit te laat vir berou. Te laat vir bieg.

Jo trek die lendelam gaasdeur oop. Die draad is op plekke verroes. In die een hoek sit ’n winkelhaak. Verval waarop die eens puntenerige inwoner nie langer kon fokus nie. Sy loer deur die oop bodeur, skuif die onderdeur se knip oop. Met die oopstoot draal die geur van katjiepierings en eau-de-cologne haar tegemoet. Jo verbeel haar ’n gewerskaf in die spens, wip toe die gaasdeur agter haar toeklap. Sy loop deur die skoongeskropte kombuis, streel oor die riwwe en littekens van die geelhouttafel, dwaal in die halfskemer gangaf. Die nagmaalgordyne in die sitkamer is gehang en toegetrek.

Die vloerplanke van haar oorlede groottante se huis kraak op al die plekke wat sy kan onthou. Sy loer by die eetkamer in. Leeg. Aan die end van die gang kom ’n gesnik uit die hoofslaapkamer.

Haar ma sit op die divan langs die oorledene se bed en huil. Jo gee haar ’n vlugtige druk voor sy in die wiegstoel gaan sit. Sy het gekom om haar ma die huis te help opruim, die oorblywende los draadjies van haar groottante se lewe te help vasknoop. Te groet.

Anna skud haar kop. “Wat gaan ek sonder haar doen, my kind? Sy was soveel meer as die ma wat ek nie as kind gehad het nie.”

“Ek weet nie, Ma. G’n mens was soos sy nie. Wanneer kom Pa?”

“Donderdag. Die wild wat Hendrik op die veiling gekoop het, wei nog in die boma. Pa verskuif hulle stuk-stuk kampe toe.”

“Dit klink of dit goed gaan met die wildboerdery?”

“Ja, wat. Bokkie hou die boeke en reël die jagkampe. Ek kyk maar dat daar iets van die beesboerdery oorbly. Die veediefstal maak jou pa moedeloos.”

Anna se stem is dun en afgemat. Sy staan traag op, loop na die donkerhoutkas toe. Gaan deur die klere in Christine Retief se hangkas. Ná ’n gesoek haal sy ’n koningsblou jas uit. Sy gee dit vir Jo aan.

Jo bekyk die jas goed. “Ek het haar dit nooit sien dra nie, Ma.”

“Ta’ Christine het dit al die jare vir jou gebêre. Kyk die fyn naaiwerk van daardie jare. Oumagroot Delores het die jas self gemaak.”

“Dis lieflik. Ek kan nie glo Oumagroot het dit gemaak nie.”

“Maar dis oor jy haar net geken het toe sy al seniel was. Ons het die materiaal in Durban gaan koop. Ek en Oumagroot het baiekeer met die trein afgery Durban toe om lap te gaan koop. Als moes presies reg. Sy het duursame lap gekoop, lap wat kon hou. Goedkoop koop, is duur koop, het die oumense gesê.”

Jo vryf oor die glansende stof. “Dit voel soos angorabokhaar?”

“Egte alpakka, uit Suid-Amerika, gemeng met katoen. Waar Oumagroot aan die idee gekom het, weet ek nie. Seker uit die volk se universiteit.”

Hulle glimlag oor Delores Retief se beskrywing van Die Huisgenoot van haar tyd.

“Ons het ons voete deurgeloop vir hierdie stuk jaslap. Om nie eens van die voering te praat nie. Die jas moes ta’ Christine uit haar swye bring,” sê Anna.

“Ta’ Christine se swye?”

“Sy en Oumagroot was ’n tyd lank haaks. Jy weet mos van die swye wat drie jaar geduur het?”

“Waaroor?”

“Dit weet ek nie. Dalk was dit oor ta’ Christine se treinrit Johannesburg toe, in nege en dertig.”

“Wat het sy in Johannesburg gaan maak, Ma?”

“Daar was dinge waaroor die oumense geswyg het. Jy het selde ’n antwoord gekry as jy probeer uitvis het.”

“Het dit gewerk?”

“Wat?”

“Die jas, Ma.”

“Nee, wat. Ta’ Christine het nooit die jas gedra nie. Of wag, tog die een keer. Op haar ou groot vriend se begrafnis. Ek het alleen hiernatoe gery vir oom Lafras se begrafnis, dit was in die skoolkwartaal.”

Jo trek die jas aan. Dit pas lossies aan haar smal gestalte.

Haar ma snuif hardop. “Die blou pas pragtig by die heuningkleur van jou hare, my kind.”

“Dankie, Mamma.” Jo ondersoek die verbloemde mousome ingedagte. “Ek onthou nie vir Oumagroot as ’n mens wat behoorlik kon dink nie. Vir my was sy soos ’n kleuter.”

“Een jaar het ek en jou pa hier vir Oumagroot kom kuier. Dit was vroeg in die sestigerjare. Ta’ Christine het nog op Verlorenkoppe geboer. Jy onthou mos. Met die jerseys?”

“Ek onthou.”

“Oumagroot het al hier in die huis op die dorp gewoon. Ons het ingery en by die agterdeur stilgehou. Die werf was stil. Die groot hek was oop. Dis hoe ons daardie tyd geleef het. Niks is gesluit nie.” Anna vryf oor haar oë. Sy snuit in ’n wit sakdoekie wat sy onder die goue rekband van haar polshorlosie uithaal. “Wat my gepla het, was die agterdeur wat oopgestaan het. Ek praat van die gaasdeur. Ek het na Oumagroot geroep. Die kombuis was donker en die gordyne dig. Toe ek instap, kon ek skaars vir Oumagroot uitmaak. My oë was halfblind van die helder lig buite en die donker binne. Jy verstaan?”

Jo gaan trek die gordyne weg en gooi die vensters oop. Warm lug van die koppies af roer deur die kamer. Dit skep geringe verligting teen die laatmiddaggloed.

“En toe, Ma?”

“Oumagroot het op ’n stoel in die middel van die vloer gestaan. Sy wou die hanggloeilamp van die kombuislig met ’n vuurhoutjie aansteek. Ek het vir haar gevra wat maak jy, Ouma? Sy het gekla oor die donker. Ek het dadelik vir ta’ Christine Verlorenkoppe toe gebel. Sy het toe gereël dat Makoti hier by Oumagroot kom bly. Later moes hulle weer plaas toe. Makoti kon nie hier alleen regkom met Oumagroot nie. Ta’ Christine het die blomtuin op Verlorenkoppe laat toespan. Jy en Oumagroot het mos graag daar gekwaaddoen.”

“Ek onthou Oumagroot soos mens ’n kind onthou. Sy was daar, maar ook nie. Ons het raas gekry oor die dahliakoppe wat ons afgebreek het. Oumagroot het die blomstele loop en afknik. Dit was die grootste blomkoppe wat ek in my lewe gesien het.”

Anna maak die kasdeur langsaam toe en sluit dit. “Daardie dahliakoppe was so groot soos opskepskottels. Seker van al die ‘bemesting’ wat jy en Oumagroot by die beddings ingewerk het.”

Jo lag. “Weet Ma hoe goed onthou ek daardie dag?”

“Jinne, dit het lank aangegaan, my kind. Vir ewig, het dit vir my gevoel. Vir amper vyftien jaar. Makoti en Oumagroot was altyd saam, en kon die twee baklei. Ek en ta’ Christine het gehelp waar ons kon, maar dit was Makoti wat die groot las van Oumagroot se versorging gedra het. Jy verstaan?”

Jo vroetel in die jassakke. “Haai, hier is iets in die een sak. Mieliepitte!”

“Ja. Dis pitte wat oupa Knol by ’n Vrystaatse boer gekry het. Ta’ Christine het dit vir jou gebêre. Hulle het nooit die pitte geplant nie. Sy het gesê jy moet die jas saamvat Amerika toe en die pitte daar gaan plant. Jy moet die Amerikaners gaan wys hoe mielies lyk. Vrystaatse mielies, dis mos mielies,” sê Anna met ’n skewe glimlag.

“Hoe lank kan mens ’n mieliepit bêre, Ma?” terwyl sy die pitte van naderby bekyk.

Anna klad vars trane droog. Dink ’n ruk: “Ag, tot lank ná die mens vergaan het. As ’n pit nog nooit ontkiem het nie, kan ek nie sien waarom dit nie ná honderd jaar nog kan ontkiem nie. Daar is ’n storie oor mielies wat die Inkas geplant het. Ek kan dit nie nou onthou nie, maar die saad het ’n eeu lank gehou. Dis soos ’n houthanger.”

Haar ma spreek die woord houthanger uit soos Christine Retief dit uitgespreek het: houthênger.

“Ta’ Christine is dood en hier hang die houthangers in die kas. Christine Retief leef voort in haar klerekas. Kyk hier, in haar skrif met blou ink op die hout. Christine Retief,” beduie Anna. “Hoe gering is ’n menselewe, my kind. Geringer as ’n houthanger.”

Jo trek die blou jas stywer om haar vas.

Ná ta’ Christine se “afskeidsaffêre” in die verstikkende Natalse middaghitte bring Anna vir Jo ’n pakkie wat in bruinpapier toegedraai is. Onder die tou kan Jo haar naam in groottante Christine Retief se hoekige skrif uitmaak: Vir Jo.

“Los dit eers. Gee vir my jou hand,” sê Anna. Sy laat ’n sleutelvormige hanger aan ’n kettinkie in Jo se handpalm val. “Dit was vir haar kosbaar. Sy wou hê jy moet dit kry.”

Jo knip die fyn ketting om haar nek vas. “Dankie, Ma. Ek onthou dit goed.”

“Daar is drie verseëlde bokse in die sinkstoor op Verlorenkoppe wat jy glo moet deurgaan wanneer jy eers in Amerika is,” sê Anna, haar stemtoon meer gelate as nuuskierig. “Dit staan so in haar opdragbrief.” Anna dink na, vat die pakkie terug. “Laat ek dit liewer môre in die boks loop bêre. Sover het ons nog als reg gedoen,” asof sy deur haar tante se gees aangespreek is.

“Ek sal die bokse gaan oplaai op Verlorenkoppe voor ek terugry stad toe, Ma.”

Anna stap ketel toe om tee te maak. Draai om asof sy iets vergeet het. “Nee, wag. Klein-Knol kan dit later vir jou aanry. Ek wou jou nog sê.”

“Ja?”

“Jy onthou daardie skoolmaat van Hendrik? Kobus de Lange? Kobus Jongbees?”

Jo loop venster toe, suig die warm lug in. “Wat van hom, Ma?”

“Kobus het ’n ruk terug probeer selfmoord pleeg. Hom aan die papierbasboom op die werf opgehang. Sy pa het glo net betyds op hom afgekom. Ek dag jy sou belangstel om dit te hoor, my kind. Klink my hy het breinskade. Glo net verstand oor vir los werkies op die plaas. Wou mos vir prokureur loop leer. Ai, Kobus is ’n goeie vriend vir Hendrik. Wat sou hom besiel het om dit te doen?”

Jo draai van die venster weg, haal haar skouers op. Sy moet ophou vir wonderwerke vra. Dit het sy nou van spelde in voedoe-poppe se oë steek. Die uiteinde is meer as waarop ’n mens sou kon reken. Sy verstaan buitendien niks van wonderwerke nie.

“Hoe sal mens weet, Ma?”

Verlorenkop

Подняться наверх